Saterdag 19 Maart

Wys my die pad wat ek moet loop

 

Psalm 143

 

Psalm 143 is ’n klaaglied, maar hierdie psalm is anders as ander klaagliedere. Ons kry dit veral in die eerste twee en die laaste twee verse. In die begin en aan die einde word daar goed gesê wat Psalm 143 anders maak as ander klaagpsalms. Anders as die normale, vertel die digter nie van sy eie goedheid nie. Hy vertel nie van die mooi dinge in sy lewe nie. As hy vir die Here vra om hulp, dan doen hy dit nie soos die ander klaagliedere met ’n lysie van sy goeie dade of sy goeie eienskappe nie. In plaas daarvan vertel hy eerder dat niemand voor die Here onskuldig is nie. Almal is eintlik voor die Here skuldig, ook hy wat hier bid. Hy wat saam met alle mense voor die Here skuldig staan, bid/vra/smeek dat hierdie Here hom juis moet help. Sy hulpgeroep is nie omdat hy op die een of ander manier iets verdien nie. Sy hulpgeroep is omdat die Here getrou en regverdig is. Dis waarom hy vra dat die Here sy gebed moet antwoord.

Ons weet ook dat die Here aan sy beloftes getrou bly. Ons sien dit aan die kruis. Te midde van watter ellende ons ook mag ervaar. Te midde van al die bekommernis, terneergedruktheid en teenslae van die lewe. Ons hou nie vas aan ons eie prestasies of ons eie reg nie, want ons is skuldig voor die Here. Só skuldig dat Jesus Christus aan die kruis vir ons sonde moes betaal. Niemand is sonder sonde nie. Ons hou vas aan die getrouheid van die Here. Daarom sê die digter van Psalm 143 hy stel sy vertroue op die Here, en hy vestig sy hoop op die Here. Maar dit loop uit op ’n baie belangrike gebed: dat die Here ons sal leer om sy wil te doen.

Psalm 143 eindig sonder ’n antwoord van die Here. Die digter bid tot die Here vir uitkoms, maar ons lees nêrens dat die Here wel geantwoord het of uitkoms gegee het nie. Al kry ons nie antwoorde nie, leef ons steeds volgens die wil van die Here. Want ons weet dat Hy getrou bly. En daarom bly ons hoop op Hom gevestig. Ons hou aan met bid en smeek. Ons hou aan om die Here se wil te doen. Ons bly vertrou, want die Here is getrou.

Gesang 512: 1-3

Ds Kobus Celliers

Brits