Genade en vrede!

 

Efesiërs 1: 2

 

Hierdie woorde is vir ons baie bekend. Dalk oorbekend en verloor daarmee hul krag. Dit is die woorde van die seëngroet waarmee die erediens open. Dit is seker van die kosbaarste en kragtigste woorde wat gelowiges ken, want die woorde is gegiet in die smeltkroes van Christus se lyding. Die genade wat met die seëngroet toegesê word, is God se begenadiging van sondaars op grond van Christus se plaasbekledende lyding: Hy neem die oordeel wat ons toekom op Hom. Die toesegging deel as’t ware aan sondaars God se vergifnis mee.

Die tweede toesegging is vrede. Só groet die Jode van die Ou-Testamentiese tye af tot vandag toe. Maar hierdie vredeswens is anders as hulle s’n. Hierdie toesegging van vrede kom ná die toesegging van die genade vanweë Christus se lyding. Hierdie vrede is aan die kruis op Golgota gebore. Dit is die vrede wat Christus aan sondaars skenk: Deur sy plaasbekledende lyding versoen Christus sondaars met God. Op grond daarvan word ons verhouding met God telkens weer herstel – God se vrede met ons dus.

Hierdie groet het krag, want die bron van die genade en vrede is God die Vader en die Here Jesus Christus. Dit is God wat kragtig die menslik onmoontlike laat gebeur. Die beeldspraak van vader en kinders verduidelik die nuwe verhouding. Destyds was ’n vader sy familie se beskermheer. Hy versorg hulle en verteenwoordig en verdedig hul plek in die gemeenskap. In sulke armoedige samelewings met beperkte lewensmiddele en vooruitsigte was eer die kosbaarste besitting. Die familie moes die vader respekteer, vertrou en gehoorsaam. Elkeen moes hard werk sodat almal kon oorleef, en almal moes die familienaam in ere hou deur korrek op te tree.

Só moet gelowiges steeds eerbiedig, verantwoordelik en gehoorsaam aan die Vader diensbaar leef en hul lewens aan God toevertrou. Gelowiges moet Christus dank, want Hy het hierdie verhouding daargestel met sy lyding. Ons dank Hom daarvoor deur self genade en vergifnis aan ander te verleen en in vrede met alle mense te leef. Laat vloei die genade en vrede verder...

Dr Gert Malan

Mosselbaai