Die vreugde van ’n nuwe skildery

 

Romeine 5: 1-11

 

Dit gebeur soms dat ’n skilder ’n skildery moet oordoen aangesien dit nie aan die verwagtinge voldoen het nie. Om ’n skildery oor te doen, verg egter moeite en opofferings. Tog sal ’n skilder die moeite doen sodat die voltooide skildery aan sy verwagtinge kan voldoen. Geen goeie skilder sal ’n swak skildery ten toon stel nie.

Die skildery van die lewe is oorgedoen. Deur Jesus se sterwe en opstanding het Hy moeite met ons kom doen. Hy het sy lewe prysgegee om ons te red. In ons sondetoestand het Christus besluit om ons nie in die toestand van ellende te los nie, maar om juis met ons bemoeienis te maak. Paulus beskryf hierdie proses as vreugdevol, aangesien dit ten spyte van die swaarkry wat ons nou ervaar, lei tot hoop wat die grense van tyd en ruimte oorskry. Die nuwe is soveel beter en vollediger as die oue. As gelowiges is ons hoop en lewe in Christus.

Die swaarkry waarmee ons somtyds worstel, is maar net deel van die groter vorming van die lewe, en dit gaan verby. Die swaarkry is die moeisame oorgang wat ons voorberei op ’n beter lewe. Hoop in Christus is die begin van ’n nuwe skildery en ’n nuwe deel van die lewe. ’n Skildery van versoening en lewe in die teenwoordigheid van God. Nie net lewe ons in die teenwoordigheid van God nie, maar ons lewe ook saam met God en ons ervaar sy omgee en sorg vir ons.

Moenie dat die uitdagings en beproewings van jou aardse bestaan jou moedeloos maak nie. Dit alles is aan die verbygaan. Dit loop vir ons uit op ’n baie beter lewe. ’n Lewe wat getuig van God se liefdevolle teenwoordigheid. Kyk verby die seer en swaarkry van ons aardse sondige lewe en vind jou vrede in Christus. Hierdie lewe is maar tydelik en aan die verbygaan. Die lewe op aarde is soos ’n skildery wat aandag nodig het. Christus het vir ons die nuwe skildery van die lewe kom wys. Dit is ’n skildery van ’n hoopvolle lewe.

Gebed

Hemelse Vader, maak ons lewe asseblief oor. Neem asseblief dit weg wat ons vervreem van U, en skenk ons ’n nuwe lewe van vrede en vreugde. Amen.

Ds Martin Jansen van Rensburg

Phalaborwa