Galasiërs 5:22-6:3

Die vrug van die Gees is ook nederigheid/sagmoedigheid (Preek 10)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die vrug van die Gees. as nederigheid, kan miskien beter omskryf word as sagmoedigheid, juis omdat die Griekse woord wat hier in die 1983-vertaling met nederigheid vertaal is, naamlik prautes, ook en miskien eerder, met sagmoedigheid vertaal kan word, om sag in aanslag te wees in plaas van 'n harde houding teenoor ander in te neem.

Daarom miskien is 'n beter keuse sagmoedigheid. Maar wat, op sy beurt weer, bedoel Galasiërs hier met die woordjie sagmoedigheid? Hier help die direkte konteks waarin die woordjie sagmoedigheid in Galasiërs 5:22 gebruik word ons, wanneer Galasiërs 6:1 sê dat ons, wanneer iemand in een of ander sonde val, ons so iemand in sagmoedigheid moet reghelp. Wat dit beteken lees ons in Galasiërs 6:2 raak: dit beteken om mekaar se laste te dra. Met ander woorde: die vrug van die Gees as nederig­heid is eintlik sagmoedigheid, wat beteken om mekaar se laste te dra.

Alle mense, broers en susters, het laste. Omdat ons sondaars is, maar ook omdat ons mense is wat in 'n gebroke wêreld lewe. Hierdie laste wat mense het kan baie dinge wees. Dit kan

  • sonde wees. En dan veral die verwoestende, lewensvernietigende en verskriklike gevolge wat sonde oor mense kan bring;
  • versoekings wees. Versoekings wat dreig om sonde te word en mense se lewens kan versuur, Of dan probleme en sorge wat dreig om versoekings te word, en dan sonde;
  • eensaamheid wees. Teleurstellings, ouderdom, siekte, droefheid. kwellinge, vrees of twyfel;
  • armoede wees, of gebrek, werkloosheid, geweld; of
  • bekommernis wees, met sy talle gesigte.

Ja, mense het laste, mense, ander mense, maar ook ons.

Nou is dit interessant, broers en susters, dat in die vroeë kerk, veral hier rondom die Middeleeue, die kerk 'n bepaalde sonde as 'n ergerlike sonde verklaar het, met die naam askedia, die sonde van traagheid. Die sonde van nie omgee nie. Die sonde van versuim. Van nie belangstel in ander nie, van nie genoeg traak om betrokke te raak nie.

Ons het ook vir hierdie soort traagheid 'n naam in ons tyd in die kerk begin gee, naamlik die sonde van versuim. Daar waar ons ons naaste in die steek laat sonder om dit agter te kom. Omdat ons nie omgee nie, nie oplet nie, nie aandag gee nie. Omdat ons nalaat. Iets wat, broers en susters, miskien 'n simptoom van ons tyd geword het. Almal het laste, almal het probleme, ek het net genoeg krag vir myne, so elkeen moet maar sy eie laste dra, elkeen moet maar self sien en kom klaar.

Die saak is egter nie so eenvoudig nie, broers en susters. Want wanneer jy waag om jouself Christen te noem, wanneer jy dit in die geloof aangryp dat Christus op 'n keer jou laste en sondes aan die kruis gedra het, wanneer jy poog om in die Gees te wandel en by God afsmeek dat sy Gees jou gedrag sal bepaal, dan spring die woordjie sagmoedigheid na vore, 'n woordjie wat sê: Christene kan nie, mag nie so lewe nie. Inteendeel.

Ons het die opdrag om ander se lewenslas ligter te maak. Om ander se laste te dra, deur saam met hulle daaraan te dra. Want gedeelde smart is halwe smart.

Dit is die opdrag. Ons kan daarby nie verbykom nie. Maar hoe doen ons dit? Wat beteken dit prakties? Galasiërs 5:26 sê dit begin by ons selfbeeld, dit wat ons van onsself dink. Ons moet nie soekers van ydele eer wees nie, nie verwaand wees nie. Ons moet ons nie verbeel dat nou juis ons iets is nie, sê Galasiërs 6:3. Met ander woorde, ons begin ons onbetrokkenheid by ander te oorwin wanneer ons lewens nie maar net meer om onsself draai nie.

Wanneer dit gebeur, sê die Woord, wanneer ons lewens nie maar net meer om onsself draai nie, wanneer ons nie meer afgunstig teenoor ander is nie, dan bewerk die Gees in ons 'n gees van prautes, 'n gees van sagmoedigheid, 'n gesindheid waar ek ander se laste wil help dra. Juis omdat ons weet: voor God is ek nie beter as die een langs my of voor my nie. Niks beter nie. Niks belangriker nie. Nie heiliger nie. Nie met minder sonde nie. Ook maar net mens. Ook maar net sondaar. Ook maar net 'n naaste vir ander. En bo alles: ook maar net iemand met sy eie laste.

Hieroor het Augustinus op 'n keer 'n baie mooi uitspraak gemaak. Hy het gesê: as jy 'n mens in sonde sien, weet, dit kon ook jy gewees het, as dit nie vir God was nie. Ook Gregorius die Grote, 'n geestelike leier in die 16de eeu, het hieroor die volgende geskryf: so dikwels as ons sondaars sien, mense met probleme, met laste, met vrae, moet ons eers onsself beween, omdat ook ons in daardie situasie kan beland.

Sagmoedige mense, broers en susters, is dus daardie mens wat sy regte plek voor God ontdek het. Wat weet dat hy net van genade leef. Wie se valse trots en hoogmoed en selfsug gebreek is omdat hy/sy elke dag vir Jesus Christus aan die kruis juis vir hom sien hang. Wat sien hoe sy laste daar weggeneem is, en daarom bereid is om ook ander se laste te dra.

Om sagmoedig te wees. Wat nie 'n papheid, ruggraatloosheid bedoel nie. Die interessante hier is dat in die klassieke Grieks die woordjie prautes veral gebruik is vir wilde diere wat getem is. Hierdie diere was nog net so kragtig, nog net so vurig, tot ewe veel in staat, maar onder beheer gebring. Onder 'n juk, onder die hand van 'n eienaar.

En so behoort sagmoedige mense te wees. Nog net so kragtig, nog net so vurig, nog net so vol ywer en inisiatief. Maar onder beheer van die Gees, in die hand van die Vader, ingebuk onder die juk en die laste van die naaste.

Maar hoekom hierdie die moeilike weg wil stap, broers en susters? Dit is tog baie makliker om nie betrokke te wees nie, om ander nie raak te sien nie, nie te wil help dra aan ander se laste nie. Dit is tog 'n makliker en minder opdraande pad. Hoekom dan hierdie pad wil stap? Gala­siërs 6:2 gee op hierdie vrae 'n glashelder antwoord: omdat ons op hierdie manier uitvoering gee aan die wet van Christus. Omdat dit is wat Christus van ons vra.

Trouens, dit is eintlik al wat Christus van ons vra. Want Hy het dit mos vir ons gedoen. En wie homself/haarself aan Christus verbind, wie onder die hand en uit die hand van die Vader wil leef, moet ook die hand van die Vader word. En die een wat die hand van die Vader word, hy/sy is die sagmoedige, die een wat die ander een se laste help dra. So leef ons die wet uit as die wet van die liefde. En wie sy naaste liefhet, het God lief.
Amen