Psalm 23


Die Here is my herder, ek kom niks kort nie


 

Broers, susters en kinders
Psalm 23 is een van die gedeeltes in die Bybel wat deur sekerlik die meeste mense uit die kop geken en opgesê kan word. Veral die Ou Vertaling is baie bekend en baie bemind. Selfs die klein kindertjies kan hierdie paar verse uit hulle koppe opsê, en wanneer ons by van die ouer mense huisbesoek doen, dan is dit baie gereeld dat hulle versoek dat ons hierdie paar verse moet voorlees.

Hoekom is dit dan so dat hierdie Psalm wat begin met: “Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie”, so baie vir soveel verskillende mense beteken? Waarin lê die trefkrag van die Psalm? Wat maak dat dit die mens in sy hele bestaan, in al die fases van sy/haar lewe aanspreek? Dat dit ons ook aanspreek in alles wat met ons gebeur? Miskien is dit omdat hierdie gedeelte baie realisties oor die lewe praat. Dit praat met ons oor die wêreld soos ons hom ken.

Psalm 23 teken vir ons die wêreld met al sy fasette:

  • Ons sien daarin ons eie voorspoed
  • Ons merk ook ons eie teenspoed op
  • Ons proe daarin die soet en suur van die lewe
  • Ons ervaar in hierdie Psalm ook ons eie pyn en verdriet
  • Maar ons sien ook ons eie vreugde en plesier

Psalm 23 begin op ‘n baie positiewe noot: Alles bruis van oorvloed en geluk. Ons lees in Vers 1: “Ek kom niks kort nie”; Vers 2 en 3: “Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag.

Broers, Susters en Kinders, kan U vir uself hierdie piekniek voorstel? Die lug is blou met enkele wit wolkies wat soos watte lyk. Die gras is lowergroen met die mooiste veldblomme wat wild groei. Die skoenlappers vlieg van blommetjie tot blommetjie. ‘n Stroompie kabbel rustig oor ronde spoelklippe. Verlangs hoor ons die roep van ‘n visarend. Daar heers ‘n atmosfeer van vrede, veiligheid en rustigheid.

Ons wil net ons kombers oopgooi en heerlik ontspan met hierdie heerlike prentjie in ons gedagtes. Ons wil vergeet van die harde naakte werklikheid rondom ons. Vergeet van die lawaai van motors en masjinerie in ons ore. Vergeet van die ontstellende nuusberigte oor die radio en in die koerante. Ons wil vergeet van die trane en snikke rondom siekbeddens en grafte.

Al wat ons in ons ore wil hoor is die sang van die voëls, die water wat kabbel en rus en vrede, geluk en nogmaals, vrede...

En tog is daar nog meer as dit! Hierdie is nie ‘n gewone piekniek nie. Ons is die eregaste by hierdie piekniek, sê Psalm 23. Die gasheer is die Herder. In vers 5 sê Dawid van hierdie Herder: U laat my by ‘n feesmaal aansit. U ontvang my soos ‘n eregas, en ek word met hartlikheid oorlaai. Wanneer ons na die Herder se piekniekmandjie kyk, dan kan ons nie anders as om God te prys vir wat Hy vir ons aanbied nie. Daar is Genade; Liefde; Omgee; Veiligheid; Verlossing; totdat dit vir ons voel asof ons beker oorloop. Ons kan nie anders as om te bely nie: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie”.

Maar hierdie Psalm het ook ‘n ander, donker kant. Vers 5 praat van teenstanders wat toekyk. Dit is die begin van die donker wolk wat die piekniek atmosfeer gaan versteur. Dit gebeur somtyds in ons lewe dat dit vir ons lyk asof al die gawes wat in ons piekniekmandjie is, in ‘n oogwink verdwyn. Daar kom tye in ons lewe dat dit lyk asof die noodlot ons uitgesoek het om ons te tart. Alles denkbaar wat kan verkeerd gaan, gebeur! Waar ons nog die soet smaak van die piekniek in ons mond het, proe ons skielik die suur wat al die lekkerte wegneem. Skielik is die piekniek verby, en in die plek daarvan is daar vrees, hartseer en pyn, eensaamheid. Dit lyk asof ons piekniekmandjie, leeg is.

Die Psalm bereik sy laagtepunt in vers 4. Hier lees ons van die donker dieptes, dit is die donkerte van die dood. Die Ou Vertaling praat van die dal van doodskaduwees. Die mens is nou in die oënskynlik laaste fase van sy menswees – DIE DOOD.

En in hierdie dood, word die mens van alles gestroop, selfs van sy liggaam. Hier gaan ‘n mens die eensaamste van alle plekke binne, sy kis. Die vraag wat ons vir mekaar moet vra is: Sal die goeie Herder sy eregas nou alleen laat? Sal Hy toelaat dat hierdie feesmaal sommer net tot niet gaan? En die antwoord hierop familie en vriende, is ‘n baie eenvoudige NEE! Psalm 23 sê: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my...In U hande is ek veilig”. Dit klink ongelooflik, maar die goeie Herder, God, is selfs in die dood teenwoordig.

In Johannes 10:11 staan daar: “Die goeie herder lê sy lewe af vir sy skape”. Die goeie herder het reeds op Golgota vir ons deur die doodsdal gegaan, sodat ons wat Hom moet volg, dieselfde pad maklik sal vind. Jesus Christus het die dood oorwin en daarom kan die dood ons nou nie meer terughou van die Here af nie. God bly die gasheer. Daarom weet ons dat ons nie alleen in die dood is nie. Jesus Christus, ons goeie herder, is saam met ons.

En omdat hy saam met ons is, weet ons dat ons net soos Hy, ook die bande van die dood sal afgooi. Die dood is glad nie meer die laaste antwoord op die lewe nie. Die doodsdal, is glad nie meer so eensaam nie. Selfs daar waar liefdevolle hande nie meer kan help nie, selfs daar waar die getrouste vriend nie meer kan gaan nie, selfs in die dood se bande, ja oral is my God.

Maar dit is nie waar dit ophou nie. Jesus Christus is nie maar net saam met ons in die dood om ons te troos nie. Nee, Hy het uit die dood opgestaan en daarom sal Hy ons uit die dood uitlei. Hy wat gely, gesterf het en op die derde dag weer opgestaan het uit die dood, Hy is ons goeie herder, en Hy sal sorg dat ons ook uit die dood opstaan. Die doderyk en al die verskrikking wat dit inhou, is deur Jesus Christus vernietig, sodat die dood ons nie meer kan vashou in sy kloue nie. Anderkant die donker onheil van die dood, skyn daar ‘n helder lig. Dit is die lig van die goeie herder wat ons deur die doodsdal gaan lei.

Waarheen lei die Herder ons broers, susters en kinders? In vers 6 lees ons dat ons oppad is na die huis van die Here waar ons tot in lengte van dae sal woon. Ons lees in Johannes 14: “Ek gaan om vir julle plek gereed te maak. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” En dáár familie en vriende, gaan die piekniek voortgesit word.

Ons het in hierdie Psalm gesien dat die lewe somtyds ‘n vreugdevolle piekniek is, maar dat dit ander kere ‘n gevreesde donker doodsdal is. Ons moet God loof en dank en prys dat Hy die gasheer by die piekniek is. Dat dit Hy is wat vir ons geluk en voorspoed en vrede bring. Maar ons moet Hom ook loof en dank en prys, dat Hy ons nie in ons donker tye alleen laat nie. Dat wanneer die vyand kom, Hy steeds soos die ware gasheer, ons ook daarteen sal beskerm. Ons het rede om God te loof en tot sy eer te leef. Ja, selfs op ‘n geleentheid soos hierdie, want ons weet dat daar nie net vir ons ‘n piekniek voorberei word nie, maar dat ons aan die gasheer se tafel sal sit, wanneer Hy ons kom haal na sy woning.

Bedroefde familie, vriende, mag u ook die voorspoed van vele pieknieks saam met die goeie Herder beleef, maar mag u dit ook ervaar, dat wanneer die doodsdal voor u lê, die goeie Herder u daar sal ontmoet, en voor u die donker dieptes sal deurstap. Net soos wat Hy ook voor (NAAM) uitgestap het.
Amen