2 Timoteus 3:14-17

Die Bybel: is dit die enigste Woord van God?

Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Die afgelope maand of twee word daar in die pers, op televisie en op die radio 'n felle debat gevoer oor die Bybel, of kom ons sê want dit is eintlik waaroor dit gaan oor die gesag van die Bybel as die Woord van God. Hierdie publieke debat het eintlik al vroeër, in 1996 begin, toe daar onder Jan-alleman debat gevoer is of die Jona-verhaal nou waar sou wees of nie, en onder teoloë nog vroeër reeds aan die begin van die negentigs 'n felle debat begin voer is oor die historisiteit van die opstanding en maagdelike ontvangenis.

Wat die hele saak op die spits gedryf het, is 'n voordrag wat 'n professor in die Ou Testament aan die begin van September in Stellenbosch gelewer het oor die gesag van die Bybel, en waarin hy onder andere drie stellings gemaak het:

  • Die Bybel is nie God se Woord nie maar, maar God se Woord in mensetaal;
  • die Bybel is daarom nie God se Woord oor Homself nie, maar bestaan uit menslike sienings oor God en menslike interpretasies van God; en
  • daarom is die gesag van die Bybel maar dieselfde as byvoorbeeld die gesag van die Koran (die Bybel van die Moslem) omdat ook die Koran maar net bestaan uit 'n bepaalde menslike interpretasie en beskouing van die een en enigste God (m a w, ons almal aanbid dieselfde god, die Moslem en die Hindoe verstaan hierdie god maar net anders as die Christen).

Ek wil vandag in die prediking, broers en susters, u aandag vra in die bespreking en evaluering van bogenoemde drie stellings, en wil sommer dadelik met die deur in die huis val deur met die eerste stelling te begin. Bygesê, ek gaan in my evaluering veral aandag gee in my verstaan van die Nuwe Testament.

Hierdie stelling, broers en susters, is myns insiens heeltemal korrek, en kom ek verduidelik dadelik hoekom ek so sê. Jesus Christus, die sentrum van die Nuwe Testament, het self geen Bybelboek nagelaat nie, met ander woorde, Jesus het nie self 'n evangelie of brief geskryf nie.

Die ontstaan van byvoorbeeld die evangelies moet ons anders verstaan, en ek meen ons sou dit eenvoudig deur inderdaad van wetenskaplike navorsing en insigte gebruik te maak soos volg kan beskryf.

Jesus het, in sy aardse omwandelinge, bepaalde dinge gesê (bv gelykenisse en kort spreuke) en bepaalde dinge gedoen (bv mense gesond gemaak of duiwels uitgedryf). Hierdie woorde en dade van Jesus is aanvanklik nie neergeskryf nie, maar mondeling oorvertel (onthou: baie min mense kon lees en skryf en die boekdrukkuns is eers baie later uitgevind).

In die oorvertel van Jesus se woorde en dade het sekere tradisies ontstaan (geykte vertellings). Met hierdie vertellings is die eerste gelowiges byvoorbeeld die sendingveld in, en is van hierdie vertellinge dikwels aangepas om by omstandighede te pas (bv kategese, Nagmaal, prediking).

Omtrent 40 jaar later kom Markus dan, en daarna Matteus en Lukas, en deur van hierdie tradisies gebruik te maak, en van mekaar (in die geval van Matteus en Lukas t o v Markus), skryf hulle hulle evangelies.

Ook baie ander evangelies ontstaan, byvoorbeeld die evangelie van Tomas, van die Hebreërs, van die Nasareners, van Petrus, Jakobus (om maar net 'n paar te noem). Wat egter gebeur het, is dat die vier evangelies wat ons ken, al hoe meer en meer in gebruik begin raak het, en die ander (wat ons apokriewe evangelies noem) al hoe meer in onbruik, en teen die einde van die vierde eeu, toe die Nuwe Testament afgerond is, die vier evangelies soos ons dit ken, half `outomaties' in die Bybel opgeneem is.

Hoe moet ons dit alles verstaan, broers en susters? Het die skrywers nou maar gaan skryf soos en wat hulle wou, en in die oorvertel van die woorde en dade van Jesus maar verander soos hulle wou? Is die Nuwe Testament dan nie maar net mensewoorde, menslike interpretasies van God nie?

Ek meen die antwoord op al hierdie vrae is heel eenvoudig. God het mense geroep, en hulle deur die Heilige Gees geïnspireer om die Bybel te skryf. Daarom is die Bybel God se woorde in mensetaal. Ander het egter ook geskryf (die apokriewe boeke), maar dit was mensetaal, nie God se woord in mensetaal nie. En soos die kerk sy loop geneem het, het God deur sy Gees gesorg dat die boeke wat Hy geïnspireer het, die boeke geword het wat deur die kerk al hoe meer gebruik is, en wat teen die einde in die kanon (die Bybel) opgeneem is.

Met ander woorde, inspirasie is nie alleen maar net inspirasie van skrywers deur die Gees toe hulle geskryf het nie, maar loop regdeur die hele ontstaan van byvoorbeeld die Nuwe Testament. Toe die verhale oor Jesus oorvertel is, was die Gees daar, toe dit aangewend is om die evangelie te verkondig was die Gees daar, toe die evangeliste dit op skrif gestel het was die Gees daar, toe die verskillende gemeentes die evangelies begin gebruik het was die Gees daar, en toe die Nuwe Testament teen die einde van die vierde eeu gefinaliseer het, was die Gees daar.

Juis daarom, broers en susters, kan ons nie saamstem met die professor se tweede stelling nie, naamlik dat die Bybel maar net bestaan uit menslike sienings oor God en menslike interpretasies van God nie. Want God, deur sy Gees, was in hierdie hele proses teenwoordig, net soos God se Gees vandag nog teenwoordig is wanneer daar gepreek word en die Bybel gelees word. Want alleen omdat die Gees teenwoordig is, is die woorde vanaf die kansel nie mensewoorde nie, maar God se woorde (God se woord in mensetaal), en is die Bybel, wanneer ons dit lees, nie maar net die Huisgenoot nie. Nee, dit is die Bybel, want die Gees van God oortuig ons wanneer ons die Bybel lees dat hierdie boek 'n besondere boek is, die Woord, en enigste Woord van God.

Dit bring ons by die professor se laaste stelling: Die gesag van die Bybel is maar dieselfde as byvoorbeeld die gesag van die Koran (die Bybel van die Moslem) omdat ook die Koran maar net bestaan uit 'n bepaalde menslike interpretasie en beskouing van die een en enigste God. Dit kan nie, broers en susters. Daar is 'n geweldige verskil tussen godsdiensvryheid en godsdiensgelykheid.

Met godsdiensvryheid word bedoel dat elkeen die reg het om sy eie god te kan aanbid, maar dit beteken nie dat alle godsdienste nou gelyk is nie. Vir die Christen kan dit nooit nie. Ons bely dat ons God die enigste, unieke, ware en ewige God is. En ons kan dit maar opreg bely, broers en susters, want dit is eenvoudig waar. Kom ek verduidelik:

Neem maar enige ander godsdiens as die Christengodsdiens (bv Hindoe-, Moslem-, Joodse en Oosterse godsdiens), en u sal sien daar is wat al hierdie godsdienste betref, een gemeenskaplikheid: jy kan jouself red. Of dit nou deur die hou van die wet en die sabbat is (Joodse geloof), deur reïnkarnasie en toewyding (Hindoe/Moslem), of deur meditasie (Oosterse gelowe). Jy kan dus, met ander woorde, volgens hierdie gelowe, jouself tot in die hemel presteer. Jy kan, met ander woorde, self God word.

Hierteenoor leer die Bybel ons dat die mens alleen van God se kant af gered kan word, deur die gawe van geloof om te kan glo in Jesus Christus. Niks wat ons kan doen kan maak dat ons in die hemel kan kom, self God kan word nie. Nee. Jy is sondaar en daarvoor was 'n kruis nodig, en die man wat aan hierdie kruis gehang het, Jesus Christus, is die enigste weg van verlossing. Daarom sal ons ongelukkig moet sê, broers en susters: die Christelike geloof is uniek, nie een ander godsdiens leer wat die Christendom leer nie. So, die wat nie Christus het nie, het nie die lewe nie. En daarom is sending onder die ander godsdienste so uiters, uiters belangrik en nodig.

En juis daarom is die Bybel die enigste boek van waaruit ons die waarheid kan leer, dwalings kan bestry, verkeerdhede kan regstel en die regte lewenswyse kan aankweek. En oor laasgenoemde wil ek my laaste opmerking maak.

Dit help ons niks, broers en susters, dat ons kom en met oortuiging kom sê dat ons meen/absoluut oortuig is dat die Bybel die enigste ware Woord van God is, dat dit daarom gebruik moet word om dwalings te bestry, en gebruik kan word om die regte lewenswyse aan te kweek en ons doen dit nie!

Dit is dalk waar ons groot swakheid lê: ons sê die Woord van God is die enigste, ware Woord, maar in ons alledaagse omgang tussen ander (en veral tussen ander van ander gelowe), gaan leef ons dit nie uit nie.

Ek kan hoeveel keer sê die Bybel is die enigste ware Woord van God, maar dit sal niks help as ons nie vir die wêreld gaan wys dat hierdie Woord, wat ons sê die enigste ware rigsnoer vir die lewe is, maak dat ons ook so gaan lewe nie.

Deur te sê ons is reg en ander verkeerd, is dus nie genoeg nie. Ons moet ook met ons lewens gaan wys dat ons dit glo. Anders maak ons die Woord van God iets wat maar op dieselfde vlak staan as al die ander boeke van die ander godsdienste.

Dus, broers en susters: Dit help nie ons sê maar net die Bybel is die enigste ware Woord van God, die enigste ware rigsnoer vir sinvolle bestaan in hierdie lewe nie. Dit moet, onder leiding van die Gees, gebruik word om te gaan leef soos dit vra. En is dit nie dalk ons hele probleem nie?

Dat ons met die mond sê ons glo een ding, en dan gaan leef ons iets anders. Daarom, kom ons gaan die week in deur gerus maar gedurende die hele week wat voorlê, vir onsself die volgende vraag af te vra: As ons sê die Woord van God is die enigste, is hierdie woord die enigste rigsnoer in my lewe, of net wanneer dit my pas? Ons vergeet miskien te maklik en te gou dat 'n belydenis oor die Bybel, as God se Woord, nog niks sê as dit nie werklik in my lewe die deurslag is nie.

Want wie homself deur die Woord aan God in die geloof verbind, en nie leef soos God in hierdie Woord vra nie, hoef nie verder oor die Bybel as enigste Woord van God of nie bekommerd te wees nie. Want dan maak dit mos in elk geval nie saak of die Bybel God se woord of mensewoorde is nie. Want ons leef dan asof die Bybel in elk geval nie bestaan nie.
Amen