Psalm 34


Die Here is naby die gebrokenes


 

Vers 19: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses”.

Kinders, familie en vriende
In ‘n tyd soos hierdie is dit somtyds onvermydelik om te voel asof God ons verlaat het. Voel dit baie keer of ons Vader sy rug op ons keer en nie omgee vir ons hartseer en gebrokenheid nie. Hoeveel gebede het nie opgegaan tot Hom waarin gevra is dat (NAAM) gespaar moet word nie? En dan lees ons nog in ‘n Psalm soos hierdie en hoor ons in die prediking dat God die gebed van sy kinders sal verhoor.

Die vraag wat onvermydelik in ons gedagtes op kom is hoekom God nie in (NAAM) se geval, ons gebede verhoor het nie? Vanaf dag een wat sy geweet het dat sy siek is het sy met haar probleem na God gegaan, met die verwagting dat Hy die uitkoms sal bied waarna sy so naarstigtelik soek. Tot aan die einde het sy volhard met die gedagte dat God haar enigste redder en hoop is. Ons kan vanoggend tereg vir mekaar vra of Hy getrou was aan sy beloftes wat Hy gemaak het, ja ook sy beloftes aan haar en of haar dood dalk die bewys is dat God nie sy beloftes nakom nie?

Hierdie gedeelte is ‘n Psalm waarin Dawid iets wil sê van God wat goed is en vir sy kinders sorg. Met ‘n eerste deurlees wil dit voorkom asof die boodskap baie eenvoudig is: Bid en Glo en God sal vir die res sorg. Ongelukkig weet ons dat dit nie so eenvoudig werk nie. Want nie almal wat vanuit ‘n siekbed bid ontvang genesing nie. Nie elkeen wat werkloos is ontvang noodwendig weer ‘n werk nie. Somtyds lyk dit asof God doof en blind vir ons nood is. Baie belangrik van hierdie gedeelte is dat God nie sê dat dit met almal voorspoedig móét gaan nie. Die sorg van die Here lê nie in voorspoed en welvaart nie, maar eerder in die troos en krag wat God bied midde ons swaarkry. Bid en glo dat God saam met jou binne jou lyding of krisis is, dat jy nie alleen is nie, dat Hy jou die krag sal gee.

In vers 6 lees ons: “Die wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap”, Vers 8: “Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom die wat Hom dien, en red hulle”, Vers 9: “Kom ondervind dit en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil”, Vers 16: “Die Here sorg vir die regverdiges en luister na hulle hulpgeroep” en Vers 19: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses”. Al hierdie verse dui daarop dat ‘n mens in jou swaar kry na God moet gaan en dat Hy dan vir jou sal sorg. Hierdie sorg hou natuurlik nie noodwendig ‘n belofte van aardse voorspoed in nie.

En juis hierin het (NAAM) haar vrede gevind. Sy het besef dat sy nie hierdie pad alleen sal kan stap nie en daarom het sy tot aan die einde, waar dit nog moontlik was, tot God genader. Het sy telkens bevestig dat sy haar aan sy wil oorgee. Was sy bereid om haar te skik na dit wat God dink die beste is. En dít volgens Dawid is waarin ‘n gelowige se lewe sin en betekenis vind. Alleenlik wanneer ons besef dat ons hele bestaan moet draai rondom God se wil, alleenlik dan sal ons lewe ‘n sinvolle bestaan wees. Wanneer ons besef dat dit vir God nie noodwendig gaan om die voorspoed van hierdie lewe nie, kan ons tot die besef kom dat ons bestaan hier, nie noodwendig ‘n aardse lyding uitsluit nie. En met hierdie wete het (NAAM) tot aan die einde volhard.

Ons kan tereg vir mekaar vra nou maar wat presies is die wil van God? En om die antwoord hierop te vind moet ons uit Johannes 6:38 en 39 gaan saamlees: “Ek het van die hemel af gekom nie om My wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan”. Wanneer ons dus na die wil van ons Vader vra, dan kry ons die antwoord dat sy wil geskied het in die sterwe en opstanding van sy Seun, want daardeur kry elkeen van ons ook deel aan dieselfde opstanding.

En dit is alleenlik wanneer ons dit begryp, dat dit moontlik is om ‘n sinvolle bestaan binne lyding te ervaar. Eers wanneer dit nie meer vir ons saak maak oor ons eie geluk en voorspoed nie, wanneer ons oog nie meer gevestig is op alles wat mooi is in hierdie wêreld nie, maar wanneer die dinge van die hiernamaals vir ons belangriker word, eers dan kan ons ‘n sinvolle bestaan binne in lyding beleef. Dan kom ons tot die besef dat ons wil en God se wil nie noodwendig dieselfde is nie. Vir ons is dit belangrik om ‘n oudag te beleef, ‘n familie te hê, ‘n goeie betrekking, onafhanklikheid ens...Maar vir God is dit belangriker dat ek my lewe so sal inrig dat ek kan deel kry aan die ewige lewe.

En tot daardie besef het (NAAM) gekom. Die gelese gedeelte is een van die Psalms wat sy gelees het en waarin sy haar vertroosting gesoek het. Wie weet wat het alles in haar gedagtes gemaal terwyl sy aan die naderkomende dood gedink het. Hoe sou u en ek gevoel het? Sou ons dieselfde mate van berusting kon vind waarmee sy haar dood afgewag het? En die van u wat bevoorreg was om op die einde by haar te wees, het self gesien dat sy werklik rus gevind het. Daar was ‘n absolute uitrukking van vrede op haar gelaat. Daar kan geen twyfel bestaan oor die feit dat sy die belofte ontvang het wat onder andere Psalm 34 aan haar belowe het nie. En dieselfde belofte word vanoggend ook aan elkeen van ons voorgehou.

Vers 19 lees: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses”. En gebroke en moedeloos was sy, en gebroke en moedeloos is ons vanoggend. Sommige meer as ander, maar elkeen wat hier is, is geraak deur die afsterwe van (NAAM). Elkeen worstel met sy/haar eie vrae. Wat maak ons daarmee? Gaan ons toelaat dat dit ons vasvang totdat ons naderhand wil versmoor in die maalkolk? Of gaan ons hierdie vrae en hierdie probleem na God neem? Is ons bereid om aan sy beloftes vas te hou?

Jesus Christus het na die wêreld gekom sodat ons hemelse Vader se wil geskied, en daarin moet vir ons elkeen ‘n geweldige troos lê. Hy ken die nood van mense. Hy weet wat dit beteken om in die kake van jou eie dood te verkeer. Hy weet wat dit beteken om ‘n helse lyding deur te maak. Daarom weet God ook hoe dit vir (NAAM) gevoel het, wat sy ervaar het, wat sy gedink het. Daarom ken die Vader ook die hartseer en gebrokenheid wat elkeen vanoggend ervaar. Weet Hy dat ons ook verslae staan, gebroke voel, en verlatenheid ervaar.

Jesus Christus is vir ons gebore. Daarom bring Hy ook vanoggend vir ons ‘n nuwe realiteit. Niks kan meer soos vroeër wees nie, want Jesus het alles nuutgemaak. In Hom het ons nou ‘n nuwe lewe. ‘n Gelowige se lewe word nie langer by die graf afgesluit nie. Nee, dit is alleenlik maar ‘n nuwe fase wat jy betree, ‘n deurgang na die nuwe lewe. Dit is soos om deur ‘n deur te stap en verwonderd te staan oor die glans en glorie waarbinne jy jou bevind.

Wanneer ons hartseer is, dan is dit vir onsself, omdat ons alleen moet agterbly. Maar vir (NAAM) wat nie meer met ons is nie, is ons bly. God is groter as die dood. By Hom kom ons tuis en oor hierdie waarheid is ons vanoggend bly. (NAAM) het tuisgekom. En ons kan dit weet omdat ons die vrede op haar gesig gesien het. Sy het iets ervaar van die belofte wat sy in Psalm 34 gelees het.

Die lewe kan nou reeds vir ons sinvol wees, selfs al beleef ons ook hartseer en ellende. Ons pyn is van korte duur, ons vermoei ons nie tevergeefs nie. Geen ramp kan tussen ons en die Here kom nie. Selfs die dood het dan nie eens meer die finale sê nie. Want deur God se Gees, is Hy nou altyd naby ons. Die Gees begelei elkeen van ons na ons ewige tuiste.

Kom ons wend ons tot die Here. Ons het niks anders om te doen nie. Niks wat ons probeer of sê of dink sal (NAAM) se dood omkeer nie. Laat ons onsself tot God wend en by die Trooster gaan aanklop vir troos. En ons kan seker wees dat Hy dit sal gee, want Hy sien ons nood raak en is ‘n Vader wat wil help. Hy beloof immers vir ons: “Ek is naby die gebrokenes, Ek help die moedeloses”.

God het haar deur hierdie donker uur gedra. Sy het tot Hom geroep en Hy het geantwoord. Kom ons gaan met ons eie hartseer en pyn na Hom, want vanuit onsself kan ons dit nie wegneem nie.
Amen