Jesaja 65: 17-25


Die Here maak nuut


 

Vers 18: “Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep”.

Broers en susters, familie en vriende:
‘n Mens is sprakeloos in ‘n situasie soos hierdie. Is daar iets wat ons kan doen om die pyn en hartseer draagliker te maak? Is ons werklik so uitgelewer en blootgestel dat ons magteloos staan? Ongelukkig is die realiteit dat ons vanuit onsself nie die gebeure kan verander of makliker maak nie. Wanneer dit by die dood kom is ‘n mens se hande afgekap en staan jy magteloos. Niks wat jy kan sê of probeer kan die dood omkeer nie.

Ons kan egter wel een ding doen en dit is om te luister na wat ons Hemelse Vader sê. Hy wat alles geskep het en dit onderhou, Hy gee ook vir ons antwoorde in tye soos hierdie. Jesaja, ‘n profeet van God het dit besef toe hy in gebed genader het tot God.

Hy staan met leë hande voor God. Sy land en sy mense se lewens is in wanorde gedompel. Die dood het gemaai onder die volk van die Here. Jerusalem lê verwoes en verlam. Die mure is afgebreek en lê verstrooi. Met ‘n gekerm loop mense tussen die puin en oorblyfsels rond. Die eens trotse stad is verniel en verneder. Die volk is in rou.

Wat meer is, die heilige berg is onteer. Die tempel is verwoes en bestaan nie meer nie. In hulle denkraamwerk beteken dit dat God sélf nie meer teenwoordig is nie. ‘n Gees van wanhoop het oor die stad en die agtergeblewenes gespoel. Daar was geen hoop of toekomsverwagting nie. Vir hulle voel dit of God dood is.

Kinders het jonk gesterf. Daar was min oumense. Die wat agtergebly het is platgeslaan. Vreemdelinge het hulle huise en grond in besit geneem. Hulle vee en wingerde is van hulle af gesteel. Dit lyk asof alles tevergeefs is. Met ‘n ramp het alles en almal tot stilstand gekom. Dit wil voorkom asof God ‘n wrede God is. Hy is ver en kan nie hulle smartkrete hoor nie.

Maar die profeet van die Here wend hom in die uur van nood en smart tot sy God. Want God het in die verlede gehelp en daarom sal Hy sy volk in hierdie dae weer help. Hy bid en pleit by God totdat hy ‘n antwoord ontvang. En die gelese gedeelte van vanoggend is deel van hierdie antwoord van die Here. Hy sal sy kinders nie in die steek laat nie. Hy sal hulle nie vir altyd in sak en as laat sit nie, Hy sal hulle red vanuit die kake van die dood.

Hy gee aan Jesaja en aan die volk weer ‘n toekomsvisie. Al die swaarkry sal verdwyn. Die wêreldse, die tydelike, die pynlike sal verbygaan. Dit sal nie eens meer onthou word nie. God self sal ingryp. Hy sê in vers 17: “aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie”.

Daar sal ‘n nuwe Jerusalem en ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wees. God self sal die lig wees wat weer oor Sion skyn. Daar sal weer ‘n nuwe gees, ‘n nuwe blydskap wees. Mense sal weer jubel en vol vreugde wees. Kinders sal nie meer onnodig sterf nie. Alles sal nie tevergeefs wees nie. God sal self sy kinders van rampe bewaar. Hulle sal weer ‘n volk wees wat deur God geseën word.

Wat meer is, God sal naby sy kinders wees. Vers 24 sê: “Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor”. Hulle sal weer die volkome vrede van God ken. En dít is die wonder boodskap wat Jesaja in sy uur van nood van God ontvang. Miskien het die profeet nie die omvang van hierdie redding van God besef nie. Moontlik kon hy nie in sy wildste drome indink wat dit sou beteken dat God weer naby sy kinders sou wees nie. Selfs hy sou verstom gestaan het voor die uitkoms wat God in Jesus Christus gebring het.

Die troos van God het gekom in die vorm van sy Seun. Gebore in Betlehem. Grootgeword in Nasaret. Wonderwerke verrig vanaf Judea tot in Samaria. Jesaja se profesie in Jesaja 3, het in vervulling gekom. God het by sy beloftes gehou, en die bewys daarvan is die geboorte en lewe van Jesus Christus.

Jesus Christus is ook vanoggend elkeen van ons se troos. Hy ken die nood van mense. Hy weet wat dit beteken om in die kake van jou eie dood te verkeer. Hy weet wat dit beteken om ‘n helse lyding deur te maak. Daarom weet God ook hoe dit vir (NAAM) gevoel het, wat sy ervaar het, wat sy gedink het. Daarom ken die Vader ook die hartseer en gebrokenheid wat elkeen vanoggend ervaar. Ons voel dalk ook soos die volk toe alles rondom hulle inmekaar gestort het. Die verslaenheid, die gebrokenheid, die gevoel van verlatenheid. Maar God is getrou. Hy het in die verlede uitkoms gebied en daarom kan ons weet sal Hy ook vandag heelmaking bring.

Jesus Christus is ook vir ons gebore. Daarom neem Hy ook deur sy kruis ons swaarkry op Hom. Soos wat God ‘n nuwe visie vir sy volk gebring het, bring Hy ook vanoggend vir ons ‘n nuwe realiteit. Niks kan meer soos vroeër wees nie, want Jesus het alles nuutgemaak. In Hom het ons nou ‘n nuwe lewe. ‘n Gelowige se lewe word nie langer by die graf afgesluit nie. Nee, dit is alleenlik maar ‘n nuwe fase wat jy betree, ‘n deurgang na die nuwe lewe. Dit is soos om deur ‘n deur te stap en verwonderd te staan oor die feesmaal wat vir jou voorberei is.

Wanneer ons hartseer is, dan is dit vir onsself, omdat ons alleen moet agterbly. Maar vir (NAAM) wat nie meer met ons is nie, is ons bly. God is groter as die dood. By Hom kom ons tuis en oor hierdie waarheid is ons vanoggend bly. (NAAM) het tuisgekom. Die nuwe Jerusalem, ons Hemelse stad, is nou vir God se kinders toeganklik, en daarom weet ons is (NAAM) ook tuis in die hemelse woning wat God vir haar voorberei het.

(NAAM) is aan hierdie wêreld geleen vir ‘n kort rukkie. Dit was net genade en goedheid van God wat haar deel van elkeen hier teenwoordig, se lewe gemaak het. Vanoggend beloof Hy egter vir elkeen van ons nog meer. Hy sal vir ons jare sonder tal gee in sy koninkryk. En ons kry nie eers eendag deel aan hierdie koninkryk nie, dit word nou reeds aan ons geskenk. Die lewe kan nou reeds vir ons sinvol wees, selfs al beleef ons ook hartseer en ellende. Ons pyn is van korte duur, ons vermoei ons nie tevergeefs nie. Geen ramp kan tussen ons en die Here kom nie. Selfs die dood het dan nie eens meer die finale sê nie. Want deur God se Gees, is Hy nou altyd naby ons. Die Gees begelei elkeen van ons na ons ewige tuiste.

Laat ons nou soos die profeet in sy uur van nood maak. Kom ons wend ons tot die Here. Ons het niks anders om te doen nie. Niks wat ons probeer of sê of dink sal (NAAM) se dood omkeer nie. Laat ons onsself tot God wend en by die Trooster gaan aanklop vir troos. En ons kan seker wees dat Hy dit sal gee, want Hy sien ons nood raak en is ‘n Vader wat wil help. Voordat ons Hom aanroep, voordat ons ons eie nood kan verwoord, is Hy reeds daar. Antwoord Hy ons, streel Hy ons wonde. Terwyl ons nog bid verhoor Hy reeds ons gebede. So goed is Hy vir ons.

Jesaja praat van God wat red, wat alles weer nuutmaak. In die Nuwe Testament lees ons van die Verlosser wat mens geword het en ons swaarkry op Hom geneem het. Jesaja se profesie is vervul. Die Here het gekom. Ons verlossing en uitkoms is hier. Hy is ook nou by ons teenwoordig deur Sy Gees. Die Gees wat bekend staan as die Vertrooster.

God se wil het geskied en dit was goed. Want my lewe is in sy hande. En in sy hande is ek veilig, sal ek lewe, ja tot in ewigheid.
Amen