1 Johannes 4:7-21


Die Liefde verdryf alle vrees


 

Broers en susters in onse Here Jesus Christus

God is groot.  Dit leer die Bybel ons op baie plekke.  En op net soveel plekke leer die Bybel ons wat God se grootheid alles beteken: Hy is genadig, Hy versorg, Hy bly getrou aan sy beloftes, Hy is regverdig, Hy is goed, Hy is geduldig.  Soos geen pa sy kinders kan versorg nie, so versorg God.

En by dit alles, het ons vanoggend gelees, is God liefde.  En as ons dit sê, broers en susters, moet ons onmiddellik baie versigtig wees.  Hoekom?  Want die liefde wat God is, en hoe ons soms oor die liefde dink, is nie dieselfde nie.

Hoe dink ons dikwels oor die liefde?  Ons dink dat die liefde iets is wat ons voel.  Dit is soms net dit wat maak dat ons tot ander aangetrokke voel.  Dit maak dat ons van ander hou.

God as liefde, sê ons gedeelte vanoggend, is nie alleen meer as dit nie, dit is eintlik glad nie dit nie.  Die liefde wat God is, sê vers 9 en 10, is juis nie iets soos die liefde wat mense het en dit wat mense onder liefde verstaan nie.  Dit is nie eers iets soos die gevoel of liefde wat ons vir God het nie.

Nee, dit is veel meer.  Dit is iets tasbaars.  Dit is iets sigbaars.  Dit is iets wat ons presies ons vinger op kan lê.  Dit is, sê vers 9 en 10, is ‘n daad.  ‘n Daad waarin God sy Seun vir ons na die wêreld toe stuur sodat ons die lewe kan hê.  Dit is dus ‘n daad met ‘n gevolg.  God gee, en ons ontvang.

Hy gee die liefde, en ons ontvang versoening vir ons sonde.  Hy gee die liefde, en ons ontvang die lewe.  God sterf sodat ons kan lewe.  God gee Homself weg aan ‘n kruis, sodat ons vir altyd kan lewe.

Hoe weet ons, broers en susters, dat ons elkeen, persoonlik, hierdie liefde van God ontvang het?  Of, soos vers 13 dit stel: hoe weet ons dat ons in God bly, dat ons aan Hom behoort, en dat Hy daarom ook aan ons hierdie liefde gegee het?  As bewys daarvan, sê vers 13, het Hy aan ons elkeen sy Gees gegee.  Met ander woorde: om seker te maak dat ons nooit hoef te twyfel of ons werklik aan God behoort of nie, gee God aan ons ‘n waarborg — sy Gees.  So amper asof God vir ons wil sê: twyfel julle of julle werklik aan My behoort, wonder julle of julle werklik my kinders?  Kyk, Ek gee my Gees aan julle, en elke keer wanneer my Gees in julle werk (oortuig van sonde, lei om die regte besluit te neem) kan julle weet: julle behoort aan My.

Dus: God het ons lief, daarom gee Hy aan ons sy Seun, en om seker te maak dat ons nooit hoef te twyfel dat ons ook deel van sy mense, sy kinders, is nie, gee Hy ons ook ons Gees.  Sodat dit ‘n bepaalde gevolg in ons lewe sal hê.

Wat is hierdie gevolg?  Johannes noem hier ‘n paar dinge:

  • Omdat God sy liefde aan ons gee, moet ons nou ook ander liefhê;
  • as ons dit doen, maak ons God sigbaar in hierdie wêreld;
  • wanneer dit gebeur het God sy doel met ons in hierdie wêreld bereik;
  • wat meer is, as hierdie liefde werklik in ons is, sal ons nie bang wees vir die oordeelsdag nie, ons sal nie bang wees om God eendag te ontmoet nie, of dit nou is wanneer ons sterf of wanneer Jesus Christus eendag weer gaan kom.

Met ander woorde: God se liefde vir ons, Jesus Christus, is genoeg dat ons rustig kan lewe, en rustig kan sterwe.  Dat ons kan weet: in hierdie lewe sal God ons nie straf oor hoe ons lewe nie.  Inteendeel.  Hy vergewe.  Dat ons kan weet: wat die lewe hierna betref, sal ons nie geoordeel word nie, want ook daar is God se liefde.  God se liefde — Jesus Christus — is juis aan ons gegee sodat ons daar, na hierdie lewe, ewig by God kan wees.  En dat ons nie hoef te vrees dat dit nie so sal wees nie.

Want so werklik as wat Jesus Christus was, so werklik is hierdie liefde van God.  Want Jesus Christus is sy liefde aan ons.  Watter wonderlike troos is dit alles nie!

In my laaste gesprekke met N het dit dan ook vir my duidelik geword dat hierdie liefde ook aan hom deur God gegee is.  Ons het soms baie lank gepraat oor die lewe, oor sy lewe, en oor ons verhouding met God.

Uit hierdie gesprekke het dit vir my duidelik geword dat daar in die laaste jaar van N se lewe ‘n diepgaande verdieping in die geloof plaasgevind het.  Soveel keer het hy vir my gesê: ek sou nog graag lank wil lewe as dit God se wil is, maar as ek moet sterf, is ek reg.  Want God se Gees getuig in my lewe dat Hy liefde is, dat Hy sy Seun ook vir my gegee het.  En daarom vrees ek nie die dag en die oomblik wanneer ek God moet ontmoet nie.

En dit geld ook vir ons: die van ons wat bely dat Jesus die Seun van God is, God bly in ons, en ons in God.  En as God werklik in ons bly, sal ons daarom ook nie bang wees om God te ontmoet nie.  Want die liefde — Jesus Christus — verdryf die vrees.

(Eggenote), ons bid dat hierdie Gees wat so in ons harte getuig dat ons aan God behoort, veral vandag in julle harte ook die aanraking van troos sal wees.  Ons kan rustig van N afskeid neem.  Sonder vrees.  Want God se liefde was/is in Hom, en in ons.

En daarom kan ons in wese rustig voortlewe.  Deur mekaar, almal rondom ons, lief te hê omdat God ons eerste liefgehad het.  So sal God sy doel ook met ons volkome bereik.  Maar nog meer: so sal ons meer en meer ervaar dat die Gees in ons lewens werk, en daarom net meer en meer seker word dat ons aan God behoort.  En daarom, ook aan die einde van ons lewe — soos dit die geval met N was — geen vrees vir ons einde sal hê nie.

Want God se liefde is Christus.  En so werklik soos Hy gelewe en opgestaan het, so werklik is God se liefde.  Ons hoef nooit daaraan te twyfel nie.  Ons kan dit glo, en omdat ons dit glo, sal ons lewe.  Sonder vrees.

God seën julle.  Mag sy liefde, genade en vrede elke oomblik by julle wees.
Amen