Psalm 91


God alleen is ons bergvesting


 

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Wanneer ons met die dood van ‘n geliefde — iemand naby aan ons — gekonfronteer word, raak ons weer intens bewus nie alleen van die finaliteit van die dood nie, maar ook van die feit dat hierdie ongenooide gas, die dood, ook eendag aan ons elkeen se deur sal kom klop. Niemand kan hierdie gas ontwyk nie.

Soms, broers en susters, is ons wat agterbly bevoorreg. Bevoorreg in die opsig dat ons, as gevolg van byvoorbeeld siekte, onsself kan voorberei op die moontlikheid dat God iemand naby aan ons gaan neem. Ander kere weer, soos in die geval van ****, handel God skielik. En ja, dit maak die hartseer groter. So vinnig gebeur alles, so vinnig word ons harte deur smart en herinnering en verlange uitmekaar geruk, dat ons op ‘n oggend soos vanoggend nie vir onsself kan dink hoe ons weer met vreugde sal kan lewe nie.

Om so te voel, broers en susters, is doodeenvoudig menslik. Want voel ons dikwels nie maar, broers en susters, dat ons aan hierdie lewe en wêreld uitgelewer is nie? Nie alleen wat die dood betref nie, maar ook wat feitlik ons lewe elke dag betref. Hoeveel probleme is daar nie ons tyd nie? Met hoeveel kommer leef ons soms nie, en dan wel met rede? En hoe sukkel ons nie soms om ‘n sinvolle bestaan vir ons in ons wêreld uit te kap nie? Want die lewe spoel oor ons. Ons kry ekonomies swaar, by die meeste van ons se werkplek word die eise al hoe meer, ons kinders word al hoe moeiliker in ‘n veranderende wêreld grootgemaak, ja, ons voel soms dat mense rondom ons maar net besluite en besluite neem wat ons lewenskwaliteit intens negatief raak. En al wat ons kan doen, is om maar net te probeer om te oorleef. En dit vra krag, dit vra toewyding, dit maak ons moeg, so moeg dat ons dikwels hoor dat mense sê: die lewe is nie meer wat dit was nie, die lewe is nie meer lekker nie, die lewe is nie meer die moeite werd nie.

Wanneer ons egter Psalm 91 lees, broers en susters, kom ‘n mens gou agter dat ons nie altyd maar net met nostalgie na `vroeër dae’ moet terugdink asof daardie dae beter as vandag sou wees nie. Want ook die mens van die ou tyd, die mense van wie ons in hierdie Psalm lees, het hulle probleme gehad. Hulle vrese. Miskien selfs meer as ons vandag. En kom ek verduidelik.

Die skrywer van Psalm 91, en die mense van sy tyd, is mense wat gebuk gegaan het onder veral ‘n hele klomp bygelowe. Van hierdie bygelowe lees ons in verse 1, 4 en 5. Hulle het onder andere geglo, hoe belaglik dit ook al vir ons mag klink, dat die maan en die son jou siek kon maak. Nie alleen siek nie, maar selfs dood. Die maan is gesien as ‘n pes, iets wat, as jy te lank in die weerkaatsing van die maan sou wees, jou siek en dood kon maak. Dit was soos ‘n pes, sê vers 6, ‘n pes wat in die donker wandel. Dieselfde was geglo van die son. Ook die son kon siek maak en die dood bring. Dit was, soos vers 6 sê, die siekte wat op die middag verwoes. Die son en maan was, soos vers 10 sê, soos plae wat jou, terwyl jy daar in die veld in jou tent was, kon bekruip en dood.

Die skrywer van Psalm 91, broers en susters, kom in sy tyd, in sy tyd waarin hierdie bygelowe hoogty gevier het, egter met ‘n kragtige boodskap. ‘n Boodskap oor die almag van God, ‘n boodskap van geloof in die Een wat alleen mag het in hierdie wêreld.

Want, sê hy in vers 1, die wat op God vertrou, sal vernag in die skaduwee van God, sal bedags in die skaduwee van sy vlerke vertoef (vers 4), sal deur God gered word van die pes wat op die middag verwoes. Daarom, sê hy, is God ‘n toevlug, Hy is ‘n bergvesting, Hy is ons beskutting. Hy red ons van die dood.

Ook ons, broers en susters, kan en behoort vandag saam met hierdie Psalmskrywer hierdie selfde belydenis te kan maak. Want ook vir ons, soos dit maar vir die mense van die ou tyd was, bly die dood seker maar die grootste vrees in ons lewe. Veral omdat die dood vir ons die onbekende is, omdat dit so finaal is, omdat dit soveel hartseer veroorsaak, omdat dit finale skeiding tussen geliefdes beteken. Ook, dat ons afskeid moet neem van hierdie wêreld waaraan ons soms maar net te verknog is, asof hierdie wêreld die enigste lewe is wat God aan ons bied.

Maar is God nie ook vir ons ‘n bergvesting nie? En dan nie alleen wat betref die sorge, kommer, swaarkry en seer van elke dag nie, maar veral juis vir dit wat so finaal is, die dood. Want op ‘n berg, Golgota, het Hy ons bergvesting geword, het Hy ons met God versoen, die pes van die donker, die dood het Hy oorwin deur uit die donker op te staan sodat ons weer kan lewe, sodat ons nooit weer sonder God hoef te wees nie.

Wie, broers en susters, is hierdie ons? Wie is hierdie ons vir wie God in Jesus Christus ‘n bergvesting geword het? Vers 14 sê dit duidelik: dit is hulle wie vir God liefhet, dit is hulle wat sy Naam ken, dit is hulle wat glo. Dit is hulle, soos ****, wat hulle in die geloof aan God deur Jesus Christus verbind het. Dit is hulle wat God aangeroep het en steeds aanroep in hulle nood, soos ons vanoggend God aanroep in ons nood en seer.

Wat, broers en susters, is ons waarborg dat dit werklik so is. Dat God ons werklik hoor, dat God ons werklik uitred, dat God ons ook sal red van die dood? Vers 14 sê dit pragtig: omdat God dit belowe. Omdat God so gesê het. God het gesê: omdat jy My liefhet, omdat jy my Naam ken, sal Ek jou red, sal Ek jou beskerm, sal Ek jou my heil laat sien.

Ons waarborg dat ons elke dag, en eendag, God se redding sal ontvang, berus dus op niks anders as God se belofte nie, op God se trou, op God self nie. En ons weet mos, God is getrou, Hy doen wat Hy beloof het.

Laat dit vandag ons troos wees. Die wonderlike troos dat ons heil, ons welwese, ons lewe, die sinvolheid daarvan, ons elke daagse lewe, ons ewige verlossing, veilig in die hand van God lê. Vas en veilig, met God se belofte as die pand daarvan.

Voorwaar, God is ons bergvesting, onder sy vlerke kan ons skuil. Hy is ons toevlug. Vir almal van ons, almal wat Hom liefhet, wat sy Naam aanroep, wie in Hom glo. Julle, sê God, sal Ek beskerm, sal Ek red, sal Ek my ewige heil laat sien.
Amen