Job 5: 17-26 |
Liewe familie en vriendekring Die boek Job gee vir ons verskillende persone se sienings oor lyding:
Wat moet ons hieruit aflei? Wie is nou reg? Wat is die antwoord op die vraag rondom lyding? Die skokkende is dat dit wat Satan gesê het, wél somtyds waar is in mense se lewens: Daar is baie mense wat hulleself gelowiges noem nét solank dit met hulle goed gaan. Maar Satan was egter verkeerd in Job se geval – Job het nie die Here vervloek toe hy lyding ervaar het nie. Job het wél ’n worstelstryd gehad met die Here – maar hy het die heeltyd aan God vasgehou! Die verklaring van Job se vriende was ook nie in die kol nie: Hulle het buite rekening gelaat dat lyding in gelowige, gehoorsame én in ongelowige, ongehoorsame mense se lewens voorkom. Hulle moes ook in die proses leer dat slegte dinge met goeie én slegte mense gebeur. Hulle moes leer dat die lyding wat Job deurgemaak het, niks met straf op sonde te doene gehad het nie. Die eintlike les wat die Here vir Satan, vir Job se vriende, vir Job én vir ons leer, is: God is soewerein. Dit beteken: God is só groot dat Hy enige iets – voorspoed en/of teëspoed – kan gebruik om Sy mag en heerskappy bekend te maak. God laat dikwels dinge in mense se lewens toe om te gebeur met die doel dat Sy skepsele opnuut oorweldig sal word deur Sy grootheid en Sy almag sodat mense hulleself opnuut sonder voorwaardes in Sy Vaderarms sal werp. Job kry nie ’n definitiewe antwoord op die vraag waarom lyding in ’n gelowige se lewe voorkom nie. In plaas van ’n antwoord, gebeur daar egter iets baie besonders: Ná ’n lang worsteling met die Here, gebeur dit dat Job in totale afhanklikheid en belydenis voor God buig. In vers 6 van hoofstuk 42 staan daar dat Job sê hy verag homself en hy sit vol berou in sak en as. Hiermee wil Job sê:
Ja, geliefdes, God het vir Job deur dit wat met hom gebeur het, tot die besef gebring dat God, almagtig is én dat God vrymagtig is: God is goed en dit wat Hy doen en toelaat staan altyd bó verdenking en dit het altyd ’n verhewe doel in Sy besig wees met Sy skepsele, naamlik, om mense tot geloof in Hom te bring en om mense te lei en te begelei tot ’n lewende verhouding met God. ’n Verhouding wat stand hou in lewe en in sterwe, ’n verhouding wat gekenmerk word deur afhanklikheid van God; wat gekenmerk word deur lewensblye vreugde en dankbaarheid teenoor God in voorspoed én teëspoed omdat net God vertrou kan word en Hom nooit wegdraai van diegene wat hulle vertroue op Hom alleen stel nie! U sal onthou dat ek aan die begin gesê het dat die raad en leiding wat Job se vriende vir hom gegee het, verkeerde raad was. Ja, hulle het fouteer met hulle siening oor lyding. Maar nie alles wat hulle gesê het, was verkeerd nie! Elifas sê vir Job dat hy op rype leeftyd na die graf sal gaan soos ’n koringgerf ingebring word op sy tyd. ’n Beeld wat vir ons wil sê - dat die dood nie ’n bedreiging inhou vir die gelowige kinders van die Here nie. Die dood oorval ’n mens ook nie sommer maar net nie. Rype leeftyd beteken hier in die Job verhaal: ’n lewe wat sy funksie vervul het, ’n lewe wat sy doel bereik het en net God weet wanneer dit is, net soos die landbouer weet wanneer die koring ryp is. Geen oestyd vind plaas voordat die koringaar ryp geword het en sy funksie op die landery vervul het nie! Net so besluit God ook as hemelse landbouer oor elke koringaar op Sy land! Hierdie waarheid is bedoel om elkeen wat aan God behoort, te troos met die boodskap dat Hy in beheer is en Hom oor elke koringplantjie ontferm. Dis bedoel om elkeen wat met God worstel tot berusting te bring in die wete dat God almagtig is en vrymagtig om met Sy eiendom te maak soos Hy goeddink. Mag die Here deur die werking van Sy Gees hierdie waarheid in elkeen van ons se lewens bewerk! |