Lukas 7:11-17


Jesus Christus beteken die verskil tussen lewe en dood


 

Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ek het N en sy gesin – om presies te wees – op (datum) ontmoet tydens huisbesoek, vergesel deur hulle ouderling (naam).  Toe ek en hulle ouderling by hulle arriveer, het hulle ons in die sitkamer ingewag: pa en ma, en al vyf kinders.  Dit was aan die begin maar ‘n voel-voel gesprek, wat te verstane is, maar later was dit ‘n baie aangename saamwees.

Gedurende ons saamwees het ‘n paar dinge gou vir my duidelik geword: hier was ‘n gesin wat die Here ken en Hom dien.  Hier was ‘n pa en ma wat in voorbeeld hulle kinders pragtig voorgeleef het.  Die kinders was spontaan, en vol lewenslus.  Ma was soos die spreekwoordelike hen wat al die kuiken veilig onder die vlerk gehou het.  En daar was duidelike respek vir die pa van die huisgesin.  Hier was ‘n gesin wat dinge saam beleef het, saam gedoen het, en duidelik vir mekaar omgegee het.  En twee ouers wat vir hulle kinders enige iets moontlik sou doen.

Ek het besluit om uit 1 Johannes 4:7-12 vir die gesin te lees, en op grond van die gedeelte iets gesê oor God se liefde vir ons, dat God se liefde altyd dade is, en dat ons (as God se mense) daarom ook, wanneer ons ander liefhet, vir mekaar moet doen.  Dat ons moet wys dat ons vir ander omgee.  Dit het nie veel verduideliking gekos om die kinders te laat verstaan wat dit gedeelte vir ons wou sê nie, en hulle het spontaan aan die gesprek deelgeneem.  N het nie veel gesê nie.  Aan die einde van die gesprek het ek vir N gevra of hy met my saamstem oor wat ek oor die gedeelte gesê het.  Sy antwoord was kort en bondig: “dit is mos wat die Bybel van ons vra, en dan doen ‘n mens dit mos”.

In die motor, op pad na die volgende gesin, het ek die opmerking teenoor die ouderling gemaak dat ek die gesin baie positief beleef het, dat die liefde tussen hulle en hulle omgee vir mekaar duidelik sigbaar is, dat hierdie ‘n besondere gesin is.  Al probleem, het ek gesê, was dat N nie veel praat nie.  Hy is maar aan die stillerige kant.  Waarop die ouderling geantwoord het: “jy sal N nog leer ken, hy is die sout van die aarde, daar is min soos hy.  Hy praat deur te doen, deur te leef wat hy glo”.

Dit het nie lank geneem om te verstaan presies wat die ouderling met hierdie woorde bedoel het nie.  Hier was ‘n man wat werklik sout van die aarde was, ‘n soort mens wat min kere in ‘n mens se lewe jou pad kruis.  Ek kan nie een dag onthou wat N nie vriendelik en vol lewenslus was nie.  Altyd positief.  Altyd bereid om in te val en te help.  En later, toe die kinders hulle vlerke begin sprei het, en die kleinkinders hulle opwagting begin maak het, was N ‘n trotse oupa wat nie kon wag wanneer die kinders op pad was om te kom kuier nie.

Ek, broers en susters, gaan N mis.  Wat hom nie eers so goed, soos baie ander van julle hier, geken het nie.  En ek kan my maar net indink, (eggenote), hoe julle hom gaan mis.  Hy was eintlik nog so jonk.  Julle kon nog so baie saamdoen.  Eintlik het daar vir julle miskien nog die mooiste deel van julle lewe saam voorgelê.  Maar nou is N nie meer hier nie.  Die Here het anders besluit.  En die dood is so finaal.  Dit laat ‘n leë plek agter.  Maar ook leë harte.  Seer.  Stukkendheid.  Verlange.  Meer nog: dood bring dood.  Want dit laat ons wat agter bly so dood in die hart en gees voel, al is ons nie.  En ons voel of ons nooit weer werklik sal kan lewe nie.

Die Here, (eggenote), los ons nooit alleen nie.  Soos N nou die voorreg het om God se volle teenwoordigheid te kan beleef, wil God ook by julle wees wat agterbly.  Want aan sy liefde is daar geen einde nie.  En die gedeelte wat ons saamgelees het, sê dit vir ons pragtig.

Lukas vertel vir ons dat Jesus by geleentheid in die dorpie Nain gekom het.  Toe Hy die dorpie ingaan, was byna die hele dorp uit die dorp uit op pad na die begraafplaas.  ‘n Seun het gesterf, die enigste kind van sy weduwee-ma.

En hierdie opmerking van Lukas is belangrik.  In Jesus se tyd het dit beteken dat hierdie vrou geen versorging meer gehad het nie.  Haar man is dood, haar enigste seun is dood, en sonder ‘n manlike familielid in haar lewe was sy nou weerloos in ‘n wêreld waar vrouens eintlik niks was nie.  Die vrou se plek was binne, en die mans se plek was buite.  Binne (in haar huis) kon sy egter nie vir haarself sorg nie.  Sy sou na buite moes beweeg, en sou sy dit doen, sou sy moeilik in ‘n manswêreld oorleef.  Daarom die baie uitsprake in die Bybel dat God verwag het dat (veral die tempel en sy personeel) na die weduwees moes omsien.

Wanneer ons dan lees dat Jesus haar innig jammer kry en haar seun uit die dood opwek, is dit nie net ‘n jammerte omdat sy haar seun aan die dood afgestaan het nie – dit is ook ‘n jammerte gebore uit die wete dat hierdie vrou totaal uitgelewer was aan baie slegte omstandighede waaraan sy niks kon doen nie.  Haar lewe het verander in ‘n doodsbestaan.  Daar was niemand meer wat vir haar kon sorg of haar beskerm nie.  In kort: sy kon maar net sowel dood gewees – soos haar seun.

En wat maak Jesus?  Hy wek haar seun uit die dood op.  Hy gee hom aan sy ma terug.  En deur dit te doen, gee Hy twee keer lewe terug: die seun lewe weer, maar ook sy ma.  Skielik is sy nie meer die uitgelewerde en weerlose weduwee wat haar enigste seun begrawe nie – sy ontvang haar seun terug, en sy ontvang haar eie lewe terug.

Wat wil hierdie gebeure, (eggenote), vandag vir julle (en ons) sê?  Ek noem net enkele sake:

Jesus het altyd medelye (deernis) met mense in hulle nood en hulle droefheid.  Wanneer Jesus die vrou in haar droefheid en krisisuur ontmoet, het Hy onmiddellik oneindige liefde en deernis vir haar.  Hy kry haar innig jammer.  Soos God met elkeen van ons, in elke omstandigheid van seer en verlies, deernis het.  Hy sien ons nood raak, Hy troos, en Hy gee uitkoms.   Wat Hy ook vir julle sal doen.  Die troos en berusting sal kom, Heleen, al is dit vandag hoe dood en seer in julle.  Want God doen dit vir sy mense.  Ons bid dat dit gou sal gebeur.  Tot dan, wees verseker van ons ondersteuning.  Waar ons Jesus se hande vir julle kan wees, wil ons dit graag wees.

Die vertelling, in die tweede plek, sê iets oor God se mag oor die dood.  Die dood is nie groter as God nie.  Niks is groter as God nie.  Daarom is die dood nie vir ons die einde nie.  Wie glo in Christus sterf nie alleen saam met Jesus Christus nie, maar staan ook saam met Hom op.  En daar bestaan by my geen twyfel dat hierdie geloof werklik in N was nie.  En in daardie geloof staan ons vandag hier – N is by sy Here wat hy sy lewe lank met oorgawe gedien het.

Derdens sê hierdie gedeelte vir ons dat ons weer moet hoor dat Jesus Christus die verskil is tussen lewe en dood is.  Wie glo, sal lewe.  Nie alleen in die lewe hierna nie, maar ook in die lewe hier en nou.  Jesus wek nie net die seun uit die dood op nie, Hy gee ook aan die vrou sinvolle lewe terug.  En omdat Jesus alleen lewe gee, behoort ons die lewe wat Hy gee so te gaan lewe soos Hy van ons vra.  Behoort ons, om dit meer presies te sê, ons lewens te gaan lewe soos N sy lewe gelewe het.  Dankbaar vir alles wat ons uit die hand van die Here ontvang, vol vreugde omdat God altyd by ons is, en vol vrede omdat ons weet ons behoort aan die lewende God.  By wie daar altyd lewe is – of dit nou in hierdie lewe of in die lewe hierna is.

(Eggenote), broers en susters: kom ons eer ons gedagtenis aan N deur ook so te gaan lewe.  Kom ons hou sy gedagtenis lewend deur sy voorbeeld na te leef.  Anders gesê: kom ons gaan doek ook na God in ons lewens soos hy daarna gesoek het.  Dan sal ander sien dat ons werklik ‘n Vader in die hemel het.

(Eggenote), mag jy en die kinders in hierdie tyd God se teenwoordigheid intens beleef.  God gee lewe.  God is vol deernis.  God raak aan waar dit nodig is.  Soos Hy daardie dag in Nain langs die pad gestop het om aan te raak en te versorg, sal Hy ook op elke van julle se lewenspaaie stop om aan te raak en te versorg.  Wag op die Here.  Wag op sy aanraking.  Wag op die ervaring van sy wonderlike teenwoordigheid.  En Hy sal julle aanraak.  Hy sal weer vreugdevolle lewe gee.

Dit is ons gebed vandag vir julle.  Maar ook ons aanbod.  Ons is daar vir julle.  Ons wil saam met julle hierdie pad van rou en gesond word stap.  Ons harte gaan uit na julle toe.  Ons kan niks aan N se dood verander nie.  Want dit is God se besluit.  Maar soos God van ons verwag, kan ons nie anders as om op julle lewenspaaie te stop en aan te raak nie.  Mag ons teenwoordigheid in julle lewens daarom deur God as ‘n stuk troos in julle lewens gebruik word.

Ons ly saam met julle.  Ons is seer saam met julle.  En ons hoop om iewers vorentoe ook weer saam met julle bly te kan wees.  Al klink dit vandag vir julle hoe onmoontlik.  Maar by God is alles moontlik.  Hy verander dood in lewe nie, in die lewe hierna, maar ook in die lewe hier.  Mag julle Hom so teenwoordig in julle lewens aanvaar.

Dit was en bly ‘n voorreg om N te ken.  Julle verlies is ook ons verlies.  Daarom is ons harte vandag saam met julle seer.  Baie sterkte vir julle dae wat voorlê.  Ons bid vir julle, en staan by julle.
Amen