Jesaja 55:1-11


My gedagtes is nie julle gedagtes nie


 

Broers en susters in onse Here Jesus Christus

“My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is My optrede verhewe bo julle optrede en My gedagtes bo julle gedagtes”.

God se manier van dink en doen verskil dikwels drasties van ons eie gedagtes en idees. Die planne wat ons maak lyk vir ons logies, werkbaar en na die beste oplossing. Tog ervaar ons dikwels tot ons teleurstelling dat God se planne anders is as ons gedagtes.

Ons verstaan dit nie, waarom kies God soms ‘n ompad, ‘n moeiliker weg as wat ons self bedink het? Dit is op hierdie punt waar ons as mense dikwels ons eie gevolgtrekkings begin maak, wat gewoonlik op een vraag afstuur: As God liefde is, waarom doen Hy dit dan? Dit is ‘n eeu oue vraag in die lewe van gelowiges en in die teologie van die Kerk.

***** het op sy manier oor dieselfde vrae nagedink. Terwyl ek hom in die hospitaal besoek het, terwyl hy ernstig siek was, het hy die vraag gevra: “Hoekom kom God my nie haal nie?” Dit is tog die maklikste oplossing, sou ons saamstem, want dan is daar geen verdere lyding en swaarkry nie. ***** se volgende logiese uitspraak was: “Dalk het God my nie lief nie!”

Voor sy dood het hy self ‘n dokument opgestel waarin sy begrafnisreëlings getref is en waarin hy vra dat die teksvers by sy begrafnis Jesaja 55 vers 6 en 9 moet wees. Soos ons ***** leer ken het as ‘n diep gelowige mens, iemand wat God en sy Woord geken het, kan ons aanvaar dat hy in die woorde van die teks vir homself ‘n antwoord gekry het op sy versugting. Aan God en sy Woord het hy blindelings vasgehou tot die einde en die woorde van ons teks het seker dikwels deur sy gedagtes gemaal: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie en julle optrede nie soos Myne nie…” In ‘n sekere sin is dit God se antwoord op die raaisels en waaroms van ons lewe.

‘n Mens kan egter eers hierdie woorde ten volle verstaan teen die agtergrond waarin die profeet Jesaja met die volk Israel praat. Hulle is in ballingskap in ‘n vreemde land onder vreemde oorheersing. Jerusalem en die tempel is verwoes. Hulle is moedeloos en hopeloos, want dit lyk of die God van die verbond hulle in die steek gelaat het. Wat het geword van sy beloftes aan Abraham en sy nageslag; wat het geword van sy beloftes aan koning Dawid? Hulle is dan Sy uitverkore volk aan wie die beloofde land toegesê is. Hy was altyd in hulle midde teenwoordig in die tempel. Hy het dan gesê dat Dawid se troon as koning tot in ewigheid sal bestaan. Nou lyk dit asof al God se planne en gedagtes misluk het, van sy verbond en beloftes het niks oorgebly nie.

In die eerste deel van Jesaja lees ‘n mens van die verwagting wat daar by die volk geheers het. God sal hulle vyande straf, die heidense owerhede vernietig en ‘n leier uit hulle midde stuur om hulle te verlos. Die enigste logiese weg uit hulle ellende was deur militêre oorwinnings van die vyand. Alleenlik so kan Israel, Jerusalem, die tempel en hulle verlore glorie weer in ere herstel word.

In die tweede en derde dele van die boek Jesaja, kom daar ‘n skielike wending. Die profeet verkondig dat God hulle inderdaad gaan verlos, hulle swaarkry is verby, daar is weer troos en hoop (Jesaja 40). Hier in hoofstuk 55 word daar weer verder vertel van hierdie verlossing wat kom. Dit word vergelyk met die beeld van ‘n feesmaal wat God voorberei vir sy volk, waar hulle kan eet en drink sonder om te koop of te betaal. By monde van die profeet bevestig God dat Hy trou bly aan sy Ewige verbond, sy beloftes en liefde sal stand hou tot in ewigheid!

Die verrassende en tegelyk die teleurstellende is dat God hierdie verlossing op ‘n totale ander manier gaan bewerk as wat hulle gedink en beplan het. God rig hom tot koning Kores van die Perse. Hy gaan die instrument in God se hand word om Sy doel te bereik. Hy wat oor baie volke regeer, word nou God se dienskneg. Die volk kan terugkeer na Jerusalem, die tempel sal herbou word, maar dit gebeur nie deur middel van ‘n groot militêre leier en die vernietiging van hulle vyande nie. Hulle sal steeds in hulle land onder vreemde oorheersing wees met die goedgunstigheid van hulle oorheersers. Die belangrikste van die hele verhaal is egter dat God getrou bly; Hy maak sy beloftes waar; die tempel sal herstel word; hulle en alle mense sal in sy teenwoordigheid kan lewe en Hom kan dien; Hy sal inderdaad sorg vir ‘n ewige koning.

Hierdie gedagtes van God en sy optrede, was vir baie Jode nie aanvaarbaar nie. Sommige het nie kans gesien vir die opoffering om hulle land weer op te bou nie. Baie het verkies om in die vreemde agter te bly. By monde van die profeet nooi God weer sy volk uit om na sy wil te vra en die pad van die Here te volg. Hulle moet Hom soek, want Hy is naby aan hulle.

‘n Mens kan aanvoel hoe groot die kloof is tussen hulle gedagtes en planne en God se gedagtes. God weet dit, daarom sê hy in ons teksvers deur middel van die beeld van die afstand tussen hemel en aarde dat dit vir ons onmoontlik is om sy gedagtes te peil of te verstaan. Daar is ‘n kwalitatiewe verskil tussen God en mens. God is God en mens is mens. Met ons beperkte menslike verstand kan ons sy gedagtes en optrede nooit verstaan nie. Sy gedagtes is so ver verhewe bo ons gedagtes, soos wat die hemel hoër is as die aarde. Die teksvers roep ons as gelowiges op tot ‘n heilige eerbied vir God in die wete dat ons sy gedagtes nooit sal kan verklaar nie. Hierdie heilige eerbied vir God is egter nie ‘n vertroue in ‘n blinde noodlot nie. Hierdie gedeelte wil ons juis daarvan verseker dat al kan ons God se gedagtes nie verstaan nie, weet ons dat sy optrede nooit sal misluk nie. Die skrywer gebruik ‘n tweede beeld om ons te verseker dat ons vir geen oomblik hoef te twyfel aan God se gedagtes en optrede nie. Dit is soos reën wat uit die hemel op die aarde val, dit kan nie weer daarheen terugkeer nie. Waar die reën val, verkwik dit die aarde en bring groei en vrugte voort. Net so kan God se Woord nie gestuit word nie.

“My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is My optrede verhewe bo julle optrede en My gedagtes bo julle gedagtes”. Hierdie besef bring by ‘n mens rustigheid omdat jy weet dat God groter is as mense. Al kan ons God se gedagtes nooit met ons beperkte menslike verstand verstaan of verklaar nie, weet ons dat God sy beloftes sal hou en niks sy optrede sal stuit nie.

Ons is ook vandag by hierdie begrafnis met gemengde gevoelens. Volgens ons planne en gedagtes is dit tog die logiese antwoord dat ***** verdien het. Hy was ‘n diep gelowige mens. Sy lewe het getuig van ‘n toegewyde geloof. God kon hom maklik die lyding gespaar het deur hom gouer weg te neem, of nog beter, God kon hom gesond gemaak het.

“My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is My optrede verhewe bo julle optrede en My gedagtes bo julle gedagtes”. Dit is God se antwoord! ‘n Mens wat in die geloof iets begin begryp van die andersheid van God - dat God God is – begin dit in die geloof nasê. Dit is nie ‘n uitspraak wat ‘n mens daartoe bring om jou lewe aan die noodlot of toeval toe te vertrou nie; dit is ook nie ‘n uitspraak waardeur ‘n mens God tot die outeur van swaarkry en lyding wil verklaar nie; dit is nie ‘n uitspraak wat ‘n mens wil bring tot die blindelingse aanvaarding van lyding en dood nie; inteendeel, dit word ‘n geloofsbelydenis wat in ‘n mens se lewe kalmte en rustigheid bring! Ek weet dat ek nooit God se gedagtes met my menslike logika kan probeer uitredeneer nie, net so min as wat ek die afstand tussen hemel en aarde kan oorbrug! Juis omdat God God is hoef ek nooit aan sy liefde en trou te twyfel nie. Daar is niks wat my van sy liefde kan skei nie!

Ons sou graag wou hê dat God se gedagtes en optrede soos ons sin moes wees, want ons sou dit anders wou hê. Kom ons aanvaar vir ‘n oomblik dat God soos ons moes dink en doen – dit sou verskriklik wees, dan sou daar vir ons geen hoop wees nie! Sê nou net God het soos ons opgetree. As iemand ons kwaad aangedoen, of seergemaak, of beledig het, weet ons mos maar alte goed wat ons gedagtes en planne is: ” ek sal jou terugkry; ek gaan jou ignoreer; ek gaan my vriendskap met jou verbreek; ek wil niks meer met jou te doen hê nie!” Ons weet mos almal hoe moeilik dit is om iemand te vergewe, ons sukkel om los te kom van die wrok en die woede. Dis hoe mense dink en doen – God is nie so nie, Hy is God: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is My optrede verhewe bo julle optrede en My gedagtes bo julle gedagtes”.

Goddank dat God se gedagtes en optrede anders is as ons sin. Ons kan dit nooit begryp of verklaar nie, tog het ons iets daarvan gesien en beleef toe God in Jesus Christus na ons toe gekom het. In Jesus sien ons hoe radikaal anders God is. Hy het Hom in liefde kom bemoei en was besorgd oor persone wat in die oë van die mense van hulle tyd die uitgeworpenes was: eenvoudiges, sondaars, onreines - oor hulle het Hy Hom ontferm. In Hom het ons as sondaars God se kinders geword. Hy het in ons plek ons sonde aan die kruis gedra; in ons plek die Godverlatenheid van die hel beleef; vir ons die dood oorwin en ‘n plek in die Vaderhuis gereedgemaak. Ons verdien dit nie – dit is net genade! Sy liefde is onbegryplik groot, ons sal sy gedagtes nooit kan verstaan nie.

“My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is My optrede verhewe bo julle optrede en My gedagtes bo julle gedagtes”. As ons nou ‘n geliefde gaan begrawe, mag hierdie belydenis in ons ore naklink. Dit bring by ons rustigheid en troos en kalmte en hoop. Hierdie belydenis laat mense vreemd optree. By ‘n oop graf kan ons met sekerheid en geloof sing van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, van God wat al die trane van ons oë sal afdroog, van ‘n toekoms waarin daar geen dood en droefheid meer sal wees nie. Dit is alles ‘n werklikheid omdat ons weet dat God se gedagtes en optrede so verhewe is bo ons soos wat die hemel hoër is as die aarde.
Amen