Filippense 1: 27-30


‘n Voorreg om die Here te ken


 

Broers en susters in ons Here Jesus Christus

Kan dit waar wees soos wat Paulus hier skryf, dat dit ‘n voorreg is om vir Christus te ly? Wanneer ons in terme van ‘n martelaars lyding dink, kan daar sekerlik ietwat van ‘n waarheid in steek. Dit sal sekerlik ‘n wonderlike voorreg wees indien God my die krag en genade skenk om lyding namens Hom te weerstaan. Dit sê tog sekerlik iets van my standvastige geloof. Die prentjie lyk egter ietwat anders as dit om liggaamlike lyding en emosionele aftakeling gaan as gevolg van siekte of ‘n ander vermoeienis. Kan daar werklik vir iemand wat liggaamlik moeg is en meer en meer uitgemergel raak enige voorreg in wees om so te ly? Op die oog af wil dit nie vir ons so voorkom nie.

Die lyding wat (NAAM) ervaar het, is nie dieselfde tipe lyding waarvan Paulus hier skryf nie. Sy het ‘n liggaamlike en emosionele lyding gehad waarin mense nie ‘n aandeel gehad het nie. In die gemeente in Filippi was daar eerder sprake daarvan dat die lidmate gely het ter wille van die verkondiging van die evangelie. Waarskynlik is hulle gemartel en sommiges selfs doodgemaak vir hulle geloof. Dit is dus ‘n ander tipe lyding as byvoorbeeld die lyding as gevolg van ‘n siekte. Die feit bly egter staan, dit maak nie saak van watter vorm van lyding hier sprake is nie, of dit nou deur die hand van ‘n mens geskied of deur ‘n mag of invloed van buite, lyding is deel van ons lewe. Geen mens of jy nou jonk is en of jy oud is, of jy maer is en of jy vet is, of jy mooi is en of jy minder mooi is, of jy ryk is of arm, van lyding kan niemand ontsnap nie. Elkeen wat leef is een of ander tyd uitgelewer aan lyding. Die vraag is dus nie wie lyding ervaar en wie nie, die belangrike vraag is eerder hoe elkeen sy/haar lyding hanteer?

‘n Vertrekpunt om hierdie vraag te beantwoord sal seer sekerlik wees by die vraag waarin lyding sy oorsprong het? Dit is ‘n vraag waarmee die Kerk en gelowiges al vir baie eeue worstel. Job is sekerlik die bekendste verhaal waarin die soeke na die oorsprong van lyding hanteer word. Waarom laat ‘n God van liefde toe dat sy kinders se paaie somtyds besaai lê met lyding en smart? Kan dit moontlik wees dat God sélf daaraan uitgelewer is en magteloos is om die situasie te verander? Is dit dalk omdat God sy kinders wil straf? Steek daar dalk waarheid in die gedagte dat die Satan agter die mens se lyding sit? Al hierdie vrae het arme Job ook gevra. sy vriende het met raad gekom, hy het waarskynlik iets vreeslik teenoor God gesondig, hy moet dit by God gaan bely. Sy vrou het voorgestel dat Hy God moet vervloek sodat God hom sal straf en doodmaak. Maar Job het volgehou met sy eie onskuld. Hy het niks gedoen om dit te verdien nie. Die oorsaak van sy lyding is nie by homself nie, dit moet eerder by God gesoek word.

Deur al hierdie soeke en verwyte het God eenkant op die spreekwoordelike kantlyn gesit. Ek glo as ons Hom kon sien sou Hy moontlik gesit en lag het oor die vreemde gedagtes en voorstelle van Job se vrou en vriende. Moontlik het Hy gesit en treur omdat sy kinders Hom so verkeerd verstaan en swak ken. God het stilgebly en geluister.

Maar dan, broers en susters, dan breek God sy stilswye. Ek wil amper sê: na 37 hoofstukke het God nou genoeg gehad van al die gepraat. En skaars het God begin praat, of Job besef dat hy eintlik liewers moes stilgebly het. Maak jou reg vir die stryd Job, die stryd wat jy begin het met al jou gepraat. Wat dink jy weet jy van My af? Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Wie, dink jy, het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het die maatlyn oor die aarde gespan? Waarop is die aarde se voetstukke gesit? Wys dit ‘n bietjie vir My, jy wat so baie praat en tog so slim is?
 
Waar is die plek waar die lig woon? En die donkerte, waar bly dit? Was jy al daar waar die sneeu gebêre word? Wie gee die reën? Het die reën ‘n vader? Wie bring die ryp en ys te voorskyn? Wie beheer die sterre? Weet jy hoe die sterre werk? Kan jy die wolke se stem laat praat? Kan jy donder en weerligstrale uitstuur? En so gaan God aan.
 
God vul Job se kop met vrae, en Job kan nie anders as om die boodskap te kry nie: net God ken Homself. Net God kan God definieer. Job kry skaars kans om sy kop te skud voor die volgende vraag kom. Maar Job kry die boodskap: jy moet die alfabet ken voor jy kan lees. En jy Job, jy wat nie eers die ABC van die hemel ken nie, hoe kan jy iets oor My wil sê?
 
Of anders gesê: Sodra jy, ou Job, in staat is om eenvoudige ou dingetjies te doen soos om die sterre op hulle plek te hou, dit te laat reën, die volstruis sy vlerke te laat klap, dan kan ons begin praat oor die sin of rede agter pyn en lyding.

Ook Job, soos soveel ander voor hom en nog meer ná hom, moes tot die gevolgtrekking kom dat die mens nie ‘n antwoord het op die oorsprong van lyding nie. Die vraag oor hoekom mense, ja selfs die grootste gelowiges, somtyds blootgestel is aan lyding nie. En selfs vandag met al ons wetenskaplike tegnieke en nog meer geleerde mense, kan ons nie hierdie eenvoudige vraag beantwoord nie. Hoekom is daar lyding?

Beteken dit dat die mens uitgelewer is aan ‘n sinloosheid waarin lyding die laaste sê in jou lewe het? ‘n Lewe waarin elke mens uitgelewer is aan ‘n bestaan gevul met lyding? Wanneer iets geen betekenis het nie, dan is dit volgens die woordeboek sinloos. Lyding is dus sinloos indien dit geen betekenis het nie. Dit bring ons terug na die vraag wat ons in die begin gevra het, naamlik: Hoe om lyding te hanteer. Die Bybel gee wel nie antwoorde op die oorsprong van lyding nie, maar op hierdie vraag is daar wel enkele opmerkings waarna ons kan kyk. Wanneer ons hierdie vraag beantwoord het, dan sal ons sien dat lyding in sommige gevalle sin en betekenis het, maar in ander gevalle ‘n sinlose gebeurtenis is. Paulus is van mening dat dit wel in ‘n Christen se lewe, betekenis kan en moet hê.

Hy maan die gemeente dat hulle te midde van die gevaar en onderdrukking, standvastig moet bly. Hierdie woord standvastig het in die Griekse teks die betekenis van ‘n perd wat op sy agterpote vasstaan wanneer dit skrik. Die gemeente moet nie weghardloop vir hulle probleme nie, maar dit eerder vierkantig in die oog kyk en dit trotseer. Hulle moet nie afgeskrik word deur hulle onderdrukkers of ander gevare nie, selfs al dink die res van die wêreld dit is dwaas. Juis in hierdie standvastigheid, lê hulle oorwinning. Juis hierin kry die lewe vir hulle betekenis en sin. Hulle verduur lyding ter wille van die evangelie van Jesus Christus.

Paulus het waarskynlik ‘n gedeelte in Romeine 5 in gedagte gehad: Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Swaarkry en lyding kweek ‘n egtheid in geloof, en geloof gee weer hoop, hoop op die ewige lewe. Vir Paulus is dit dus ‘n voorreg om ter wille van God te mag ly. Hy sien dit as ‘n geleentheid waarin sy geloof gelouter en sterkgemaak word.

En dít sê Paulus is die manier hoe ons lyding en swaarkry moet hanteer. Ons moet dit sien as ‘n geleentheid wat aan ons gegun word om ons geloof te laat groei. Hoeveel keer het dit nie al gebeur in u en my lewe dat ons werklik platgeslaan is teen die planke om net weer op te staan nie. En wanneer ons terugkyk na hierdie tyd, dan vind ons dat dit die tyd is waarin ons die naaste aan God geleef het. Dat dit God self is wat ons weer opgehelp het en krag gegee het om aan te gaan. Beproewing is ‘n geleentheid wat ons moet gebruik om ons verhouding met God in oënskou te neem. En dít, volgens Paulus, is genade.

In 1 Petrus 4 vind ons dieselfde gedagte: Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid.

Die Bybel gee nie vir ons antwoorde oor waar lyding vandaan kom nie, maar dit bied wel antwoorde op hoe ‘n Christen dit moet verstaan en gebruik. ‘n Christen sal altyd na ‘n lydensgebeure kyk en vra: Wat is dit wat God vir my wil leer of sê? ‘n Ongelowige sal na dieselfde gebeure kyk en net die sinloosheid raaksien. Vir ‘n goddelose is hierdie wêreld en hierdie lewe die enigste wat hy ken, maar vir ‘n gelowige kind van God, is daar ook ‘n ander lewe, ‘n ander wêreld. En ons leef nou reeds as kinders van die lig, as mense van die nuwe bedeling. Ons aanvaar die lyding wat op ons pad kom, want ons weet dat dit net tydelik is. Dit is vir ons ‘n voorreg om lyding te ervaar, want daardeur word ‘n geleentheid geskep om God te verheerlik en te dien.

En so ‘n geleentheid is ook (N) se lyding en sterwe. In haar lyding en die manier hoe sy dit hanteer het, het ons wat agterbly diep onder die indruk gekom van haar volharding en sekerheid in die geloof. Daar was nie ‘n oomblik dat sy getwyfel het in God of in sy beloftes nie. Wanneer jy gevra het hoe dit gaan, was daar tekens van ‘n glimlag en die antwoord iets soos: Nie goed nie, maar tog goed. Die lyding is nie lekker nie, maar dit is ‘n voorreg, want dit is die wil van my hemelse Vader. En so sal die wat agterbly vir (NAAM) onthou. ‘n Vrou wat tot op die laaste standvastig gebly het in geloof, iemand wat haar kruis met ‘n glimlag gedra het, selfs die laaste tree daarvan.

En ons wat agterbly? Ervaar ons dit dieselfde? Vir ons mag haar dood en lyding dalk sinloos lyk, maar dit hoef nie te wees nie. As ons iets kon leer uit haar lyding, uit die manier hoe sy dit hanteer het, dán alleenlik kan ons die sinvolheid van haar lyding en dood raaksien. Dan kry haar swaarkry betekenis, want dan was haar lewe en geloof ook soos ‘n lewende brief. ‘n Brief gerig aan elkeen van ons waarin ons opgeroep word om sélf te volhard in geloof. As ons haar dood en lyding sien as ‘n manier waardeur God ook met ons praat, dan glo ek sal (NAAM) met ‘n groot glimlag sit en sê: “God het my die voorreg gegee om Hom te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly”.

Familie en vriende, kom ons gebruik hierdie, op die oog af, sinlose gebeurtenis, en maak dit ‘n gebeure vol sin. Laat ons die vertroue en geloof waarmee (N) haar eie naderende dood ervaar het, deel maak van ons eie herinnering en deel maak van ons eie lewe. So gesien, wéét ek sou dit vir (N) ‘n voorreg gewees het om hierdie laaste lydensweg te bewandel.
Amen