2 Korintiërs 4:5-15


Ons het ‘n Skat in ons


 

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons was vroeër vanoggend saam om **** aan die Here terug te gee. Nou wil ons ons laaste hulde aan hom bring. Vir amper een en twintig jaar was hy vir julle, **** en ****, ‘n kind, ‘n gawe uit die hand van God, vir ander was hy ‘n familielid, vir ons was hy iemand wat mooi voor ons grootgeword het, ‘n geliefde seun van die gemeente, iemand by wie dit altyd ‘n plesier was, en vir ander van ons ‘n vriend.

Die dood, broers en susters, bring met hom saam ‘n groot stuk hartseer, finale afskeid, maar dit konfronteer ook: dit konfronteer ons wat agterbly elkeen met ons dood wat ook kom. Dit laat ons dink oor die lewe, dit laat ons dink oor die mens. En veral, dit wat die mens voor God is.

Om ‘n prentjie van wat die mens voor God is in die Bybel te vind, is nie moeilik nie. Aan die een kant is die Woord van God uiters positief oor dit wat die mens voor God is:

  • Genesis 1: mens word laaste geskape, is die kroon van God se skepping;
  • Genesis 2: God skep die mens eerste, die mens is God se belangrikste skepping;
  • Ook lees ons in Genesis se eerste hoofstukke dat die mens aanvanklik na God se beeld geskape was;
  • In Psalm 8 lees ons dat God die mens as kroon van die skepping sien, en dat ons vir Hom so belangrik is dat Hy elke dag, elke oomblik aan ons dink.

Maar aan die ander kant, broers en susters, teken die Woord van God die mens ook minder positief, soms negatief:

  • In Genesis 5 lees ons dat die mens, na die sondeval, nie meer na die beeld van God in die wêreld kom nie, maar na die beeld van die mens, die sondaarmens;
  • Daarom dat Romeine 3 die mensdom beskryf bestaande uit mense wat nie een verstandig en regverdig is nie, almal het afgedwaal, nie een is goed of soek na die wil van God nie.;
  • Verder is die Woord ook duidelik oor die tydelikheid van die mens: die mens is soos ‘n blom van die veld, sê Psalm 103, pragtig kom dit op en blom, maar sodra die son opkom, verwelk dit en vergaan. Of, sê Paulus in 2 Korintiërs 5, die mens se lewe is soos ‘n tent(woning), ‘n tent wat verwoes en verrinneweer word, en later finaal afgebreek word;
  • Of dan, die beskrywing in ons teksgedeelte: die mens is soos ‘n kleipot, ‘n kleipot wat maar alte maklik breek en vergaan.

Dus, wat wil die Woord ons oor die mens en oor die mens voor God leer: Dat die mens, al is hy God se hoogste skepping, se lewe tydelik is. Dat ons lewe kortstondig is. En dat ons, as gevolg van ons sondige aard, as ‘t ware na ons elkeen se dood gedryf word.

Beteken dit, broers en susters, dat daar vir ons as sondaarmense geen toekoms is nie? Dat ons as ‘t ware gebore word om te sterwe, dat ons maar net sal vergaan, want dit is ons lot? Dat ons as stof begin, en dat ons, as die kleipot klaar gebreek het, maar net weer stof word?

Nee. ‘n Honderd maal nee! Daar is vir ons as God se kinders, vir ons wat aan God behoort (en dus ook vir **** wat ook aan God behoort het en tog ook sy kind was) baie meer weggelê. 2 Korintiërs 4:7 sê dit pragtig: ons wat God se kinders is, ja, ons is maar net kleipotte. Kleipotte vol sonde, vol krake, vol tekortkominge, kleipotte wat sal vergaan, maar kleipotte wat ‘n skat in ons het. ‘n Geweldige skat wat alles oortref, ‘n skat wat selfs kleipotte wat breek oorskry. ‘n Krag, sê Paulus, in ons, in ons as kleipotte, wat van God af kom.

Hierdie krag, hierdie skat, is Jesus Christus. Dit kan ons baie maklik uit ons gelese gedeelte aflei. Dit oortref alles, die tydelikheid van die mens, ons sonde, ons hartseer. Ja, dit verander ons lewe, in hierdie lewe, en in die lewe hierna.

Soos dit ook **** se lewe verander het. Soos dit sy lewe sigbaar verander het. Hoe sal ons hom onthou? Die een wat altyd vriendelik was, die een wat altyd hulp aangebied het. Die een wat altyd kans gesien het vir nog. Om nog meer te help, om nog hier of daar ‘n bydrae te lewer.

Die een wat vir sy ouers ‘n wonderlike getuigskrif was. Wat in die geloof onder sy maats voorgeloop het. Wat as diaken onberispelike werk gelewer het. Altyd getrou op sy pos, daar in die diakensbank, en daar by die deur. Altyd met die glimlag op die gesig. Altyd gereed met die stukkie humor. En so sal ons nog baie meer kon sê.

Maar nou, broers en susters, het sy kleipot gebreek. Hy kon nie meer nie. Die krake het gekom, hulle was daar, ons het hulle net nie gesien nie. Krake wat later so groot geword het dat hy nie meer die stukkies van sy pot bymekaar kon hou nie. En toe breek die pot uitmekaar. Die werklike rede vir die finale breek van die pot sal ons nooit weet nie. Die hoekom- en waarom-vraag sal ook altyd daar wees.

Maar tog, die antwoorde hierop is nie so belangrik nie. Want een saak is baie belangriker: die feit dat, toe daardie pot finaal gebreek het, dit nie die einde was nie. Want toe daardie pot breek, het die skat binne hom sigbaar geword. Jesus Christus. Die krag wat alles oortref, ja, selfs ‘n pot wat finaal uitmekaar breek.

Die krag wat selfs die dood oortref. Die skat, die krag wat ons potte weer aanmekaar sit, volmaak aanmekaar sit, waar ons ewig by God kan lewe sonder juis daardie dinge wat ons potte in hierdie lewe kraak.

****, ****, broers en susters: ons is ook maar kleipotte. Ons elkeen se kleipot sal ook eendag breek. Maar omdat ook ons, ook ons wat glo, hierdie skat in ons het, stap ons nie more tegemoet sonder hoop en sonder hoop vir nuwe lewe nie.

Want, juis omdat ons hierdie skat in ons het, daardie krag wat alles oortref, is ons vandag, al word ons verdruk deur ons omstandighede, nie hopeloos terneergedruk nie, al is ons oor raad verleë, is ons nie radeloos nie, al voel ons op die grond neergegooi, is ons nie vernietig nie.

Want ons behoort aan God. Sy Seun, hierdie skat, leef in ons. ‘n Skat wat ons weer die krag sal gee om die stukkies van ons lewens bymekaar te sit, om die stukke waarin ons harte gebreek is, te heel, om die vrede van God weer in ons lewens in te giet, en ons die krag te gee om na buite weer met vreugde te leef.

Dit doen God vir ons, dit sal Hy, ook vir julle doen. Want Hy is die krag wat alles oortref, ja selfs daardie rou en seer wat julle vandag ervaar.

En laat dit ons troos wees. **** het hierdie skat in hom gehad. Ja, sy kleipot het gebreek, maar hy het hierdie skat in sy pot gehad. En daarom leef hy voort.

En moet ons voortleef. Kan ons voortleef. Met ons gemis, met ons verlies. Want God is groter as alles. Ook ons verliese. Ook ons hartseer.

**** en ****: ons bid vir julle. Ons bid dat God julle heel sal maak. Ons bid dat God julle lewens weer mooi sal maak. En dat deel van julle mooi lewe juis die herinneringe aan julle pragtige kind sal wees. Koester al daardie mooi herinneringe in julle harte. Sê elke dag vir die Here dankie dat julle hom tog ‘n rukkie by julle kon hê.

En laat God toe om deur sy Gees julle te troos. Te troos tot nuwe lewe en nuwe sin. Hierdie pad lyk vandag miskien nie moontlik nie. Hierdie pad lyk vandag baie lank met steil opdraandes. Maar onthou: ook in julle is daar hierdie Skat, ‘n krag wat alles oortref. Ook ons pyn en hartseer.

Ons bid dat God vir julle goed sal wees.
Amen