Romeine 8:18-32


Ons is te laat vir hierdie aarde en te vroeg vir die hemel


 

Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Voor die sondeval het Adam en Eva in vrede en rustigheid gelewe.  Hulle was na die beeld van God geskape, sonder enige sonde.  Daarom het hulle die ongelooflike voorreg beleef om elke oomblik van hulle dae in die volle teenwoordigheid van God te kon lewe.  Die aarde (hele skepping) was daar tot hulle voordeel.  Ons kan selfs uit Genesis 3 aflei dat God, laat in die dag (vroegaand) wanneer die aandwindjie begin waai het, in die tuin saam met die mens kom wandel het.  En hulle sonder ophou geseën het.  Dit was die perfekte lewe: vrede met mekaar en vrede met God.

Dit was ‘n aarde sonder hartseer, sonder die maak van ‘n moeilike bestaan, sonder kommer, sonder verlange, sonder herinneringe as die enigste iets van dit wat ek gehad het, sonder wanhoop, sonder moedeloosheid, sonder sinloosheid, sonder stukkende en gebreekte harte.  Ja, dit was ‘n aarde sonder strate, en hoeke van strate waar robotte staan, dit was ‘n aarde sonder die jaar (jaartal), sonder ‘n (dag), sonder ‘n (tyd).  Dit was ‘n aarde waar dood, die tragiese dood van God se mense, nie moontlik was nie.

In Matteus 19:28 vertel Jesus ons dat daar eendag weer so ‘n aarde sal wees.  Die aarde sal weer met ons wees wanneer God ‘alles’ nuut sal maak.  Hierdie aarde wat eendag weer sal kom, noem ons graag die hemel.  Miskien beter gesê: daar sal ons elke oomblik in die volle teenwoordigheid van God wees.  En soos dit voor die sondeval was, so sal dit daar wees: geen hartseer, geen trane, geen ure van kommer oor waar my kind is nie, geen oomblikke van slegte nuus wat my hart stukkend breek nie, geen oomblikke van verlies nie.  Geen ongenaakbare oomblikke van afskeid soos vandag nie.  Geen finale totsiens nie, geen leë plekke en leë kamers nie.

Ons wat vanmiddag hier saam is, broers en susters, is egter te laat vir hierdie aarde wat was, en te vroeg vir hierdie hemel wat kom.  Want ons leef in die tyd tussen die aarde wat was, en die hemel wat kom.  Ons is gebore na die sondeval, en leef voor die hemel wat gaan aanbreek.  Ons lewe op ‘n aarde wat swaar dra aan sy verlede, wat in elke opsig gebroke is.  Wat stukkend is, en die mense wat daarop woon, stukkend kan breek.

Dit is ‘n aarde vol dorings, distels, oorstromings, hongersnood, hartseer, kommer, en die dood.  ‘n Aarde waar ons bekommerd is oor more, waarin baie bekommerd is of daar more iets gaan wees om te eet of te drink, bekommerd is oor ons kinders, wat van hulle gaan word en of hulle veilig is.  Ons lewe op ‘n aarde waar tyd so ongelooflik belangrik is.  Waar daar ‘n tyd is om gebore te word, en om te sterwe,  ‘n tyd om te huil, en ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te huil, en ‘n tyd om van blydskap te dans, ‘n tyd om te omhels, en ‘n tyd waar omhelsing verby is, waar tyd opraak, en ons afskeid moet neem.

Ja, ons lewe op ‘n aarde waar die bewoners van hierdie aarde met hulle verstand wonderlike dinge kan uitdink.  En met daardie wonderlike dinge wat ons uitgedink het, die aarde waarop ons woon verwoes, en mekaar ook mee verwoes.

Dit is daarom, sê Paulus, dat hierdie aarde waarop ons woon sug.  Sug om van hierdie verydeling waaraan dit onderwerp is, verlos te word.  Sug om van hierdie gebrokenheid verlos te word.  Sug om weer nuutgemaak te word.  Om weer te word wat dit was, om weer die aarde te word voor ons almal gebore is, ‘n aarde waarop God weer kan wandel in die aand wanneer die aandwindjie begin waai.  En waar God dan weer sal kan sê dat alles goed en reg is.

Maar ook ons sug, broers en susters.  Om baie redes.  Ons sug omdat ons weet hoe hierdie aarde was.  Ons sug omdat ons swaarkry.  Ons sug omdat ons soms so ongelooflik seerkry, ons sug omdat twee van God se mense tragies van ons weggeruk is, ons sug omdat ons so finaal afskeid moet neem, ons sug omdat ons harte gebreek is, ons sug omdat ons geen raad meer het nie, ons sug omdat al wat ons oor het net herinneringe is, ons sug omdat twee kamers leeg is, omdat twee glimlagte nie meer gesien en twee laggies nie meer gehoor word nie.  Ja, ons sug omdat daar strate is, en hoeke van strate, omdat ons sirenes hoor, en tyding kry wat ons harte stukkend breek en ons nog meer gebroke maak as die aarde waarop ons woon.  Ons sug omdat ons niks hiervan verstaan nie.  Ons sug omdat ons so seer is.

Maar, broers en susters, en hierdie is die baie belangrike maar, ons sug nie soos mense sonder hoop nie.  Want al is hierdie aarde hoe stukkend, al is ons lewe vandag, en baie ander dae, ongelooflik stukkend, is ons nie alleen in ons swaarkry nie.  Want op ‘n dag het God, wat ons ongelooflik liefhet, na ons toe gekom deur sy Seun, en Homself met ons en hierdie aarde kom versoen.  Deur vir ons te wys hoe ons op hierdie aarde met ander behoort saam te leef, deur vir ons die dood wat deel van hierdie aarde is te oorwin, en vir ons sy Gees te gee dat ons nooit weer alleen sal wees nie.

Dat sy Gees ons hier, op hierdie aarde, in ons seer en stukkend wees en swakheid, kan bystaan.  Veral in oomblikke soos hierdie.  In oomblikke soos hierdie waarin ons nie weet waarheen nou nie, in oomblikke soos hierdie waarin ons nie eers weet hoe ons moet voel nie, in oomblikke soos hierdie waarin ons nie weet hoe ons netnou by ‘n graf dit gaan regkry om so finaal afskeid te neem nie, in oomblikke soos hierdie waarin ons nie eers wat ons moet voel en wat ons moet sê nie.

In sulke oomblikke, sê God se Woord vir ons, is die Gees nog meer by ons.  Want dan sug die Gees, dan sug God saam met ons.  Oor al die seer, oor al die gebreektheid.  Dan raak die Gees ons aan, so aan, dat ons ‘n vrede kry wat alle verstand te bowe gaan, dan bid die Gees namens ons dit wat ons nie weet om te bid nie.  En dan weet ons: alles is reg, al is alles nie reg nie.

Hoekom?  Want God het sy mense lank tevore deur die lewe en dood van sy Seun uitgekies om weer te word soos daardie eerste mense was, gelykvormig aan sy Seun.  Hy het ons vrygespreek, gered, en belowe dat ons eendag weer by Hom sal wees.  Op ‘n aarde waarin stukkendheid nie sal wees nie.  Geen trane, geen verlange, geen hartseer.

God, sê vers 30, roep ons na hierdie nuwe aarde toe.  Op sy tyd, wat dikwels nie ons tyd is nie.  Ons verstaan dit nie, maar ons kan een ding weet: God roep op sy tyd omdat Hy vir ons alles ten goede laat meewerk.  Party roep Hy vroeër, ander later.  Sommiges roep hy so skielik, so onverwags.

En ons bly agter.  Stukkend, vol hartseer, en vol van baie ander emosies.  Ons bly agter tussen ‘n wêreld wat was, en ‘n wêreld wat kom.  Maar ons is nie alleen nie.  En juis dit maak hierdie aarde, tussen daardie aarde wat was en die aarde wat kom, die moeite werd.  Sy Gees, God self, is by ons.  Ons is nog hier, maar is op pad na beter.  Daarom sê ons soms ‘eina’, maar ook ‘amen’.  Want hierdie aarde maak soms so seer, maar ons weet ook van dit wat kom.

Ja, broers en susters: ons is te vroeg vir die hemel maar te laat vir aarde.  Wat vir ons wag is baie beter, maar nou is ons nog deel van hierdie aarde.  Ons is nog op pad na hierdie nuwe aarde.  Op hierdie pad gebeur baie dinge met ons.  Op hierdie pad is daar soms hoeke waar ander paaie ons pad kruis.  Maar ons is op pad.  Na die nuwe aarde.  Waar God vir ons wag.  Op hierdie pad kan ons die aarde hoor sug om verlos te word van al die geweld, dorings, distels en seer.  Ook ons sug op hierdie pad na die nuwe aarde.

Maar ons mag maar.  Want die Gees sug saam met ons.  Die Gees sug namens ons.  God weet van ons.  Hy weet wat ons nodig het.  En daarom kan ons hoop.  Nie alleen omdat ons weet God elkeen van ons eendag ook gaan roep na daar waar dit beter is nie, maar ook omdat ons weet dat terwyl ons hier is, God elke dag by ons is.  Al verstaan ons nie alles nie.

Mag God vandag so by julle wees, nader aan julle wees as wat julle eie harte kan wees, soos Augustinus op ‘n keer gesê het, dat iets van dit wat kom reeds vandag in julle harte deurbreek.  Dat julle ook die ervaring sal hê om te weet dat dit wat julle nou verduur, nie opweeg teen dit wat kom nie.

God leef, al sterf ons.  God leef, daarom sal ons ook eendag vir altyd leef, soos (gestorwene) en (gestorwene) nou leef.  God leef, daarom kan ons ook op hierdie aarde leef.  Al moet ons soms eina sê.  Want ons kan ook amen sê.  Dit is waar en seker.  Dit is waar en seker dat ons aan God behoort, en dat niks ons van God se liefde vir ons kan skei nie.  Nie eers die dood nie.  Inteendeel.  Die dood is deel van hierdie wêreld.  Die dood is om deur God geroep te word, om te kan wees waar Hy is.

En tot dan sê ons ook amen omdat ons weet ons hier in God se hande leef.  Nie alleen nie.  Saam met Hom.  Mag julle sy teenwoordigheid so intens beleef, dat julle ook weer, saam met die Gees sal kan sê: ons weet alles is reg, al is alles nie reg nie.
Amen