Klaagliedere 3:21-33


Ons kan hoop


 

Broers en susters:
Israel was 'n volk wat voorspoed geniet het. Alles het goed gegaan. Hulle het so pas al die volke om hulle verslaan, dit het ekonomies met hulle goed gegaan. Daar was net nie probleme nie. Wat meer is, hulle het elke dag in die tempel gehoor dat God aan hulle kant is, dat Hy hulle nooit in die steek sal laat nie. En hulle was oortuig dat dit waar was: dit was hulle land, hulle tempel en hulle koning was aan bestuur van sake. Alles was pragtig, mooi en reg en in plek.

Maar toe gebeur 'n ramp. Nebukadnesar se oorlogsmasjien kom en oorwin die stad. Die tempel word afgebreek en hulle koning word in boeie weggevoer. Dit was 'n nasionale ramp. Van alles hê wat hulle wou gehad het, het hulle nou skielik niks gehad nie: geen land, geen stad, geen tempel, en geen koning.

En, het hulle gesê: daar was ook geen God meer nie. God was nie meer aan hulle kant nie. Want as God aan hulle kant was, dan sou hierdie dinge nie met hulle gebeur het nie. Dan sou daar nie soveel smart, hartseer, stukkende harte, verlange na wat was, gewees het nie. God, sê hulle, het teen hulle gedraai. Alles is verlore, niks sal ooit weer regkom nie. Daar is geen toekoms nie. Want sal hulle ooit weer geluk en voorspoed kan hê sonder al die dinge wat hulle verloor het?

Hierdie gevoel wat in die volk se harte geleef het, is miskien die gevoel, wat vanoggend in julle harte leef. Ook julle kan sê dat alles goed gegaan het. Ons het gewerk, geleef, was besig met die elke dag se dinge. Alles was, sê ons mos dikwels, so normaal.

Maar toe kom **** se siekte. Dit was 'n skok, maar daar was hoop. Dag vir dag het julle die saak hanteer. Daar was terugslae, maar ook vordering. Daarom was daar hoop. Uiteindelik het julle gehoor dat die siekte sy loop geneem het. Daar was weer hoop. Daar was blydskap.

Maar toe kom ook julle ramp. Julle groot stuk hartseer. Die Here besluit dat **** klaar aan ons geleen was. Ewe skielik was hy net weg. En daarmee saam baie ander dinge. Dit wat julle nog saam wou doen. Saam kon beleef. Daardie toekoms was daar nie nou meer nie. En in die plek van hoop het hartseer gekom. In die plek van 'n toekoms saam het herinneringe oor die verlede gekom. En in die plek van juigende harte oor genesing het stukkende seer harte gekom. En die vraag: hoe nou gemaak? Wat nou van vorentoe?

Jeremia, broers en susters, die skrywer van Klaagliedere, het dieselfde gevoel in sy tyd soos julle, vandag voel. Wat, het hy gevra, wat nou gemaak? Hy het vorentoe gekyk, en al wat hy gesien het was ellende en ballingskap. Net donker, net nag. En die donker wolk het nie eers 'n silwer randjie gehad nie.

Maar gelukkig, was hy egter ook gelowige mens. Want toe hy vorentoe kyk en nie eers 'n skrefie lig in die donker sien nie, het hy nie ophou glo of hoop nie, nee, hy het besluit om om te draai en terug te kyk.

En wat sien hy toe hy na die verlede terugkyk? Uit ons gelese gedeelte kan ons dit baie duidelik aflei, al staan dit nie so direk daar nie: hy sien die volk net na die episode met die goue kalf, toe die Here sy volk oor al hulle sonde wou uitwis. Iets, besef hy toe, wat uiteindelik nie gebeur het nie, al het God die volste reg gehad om dit te doen. God het gespaar, en nie gestraf nie.

Daarom breek Jeremia hier in 'n loflied voor die Here uit. Deur die liefde van die Here, sê hy, al is ons nou sonder land, sonder stad, sonder tempel, sonder koning, sal ons ook nie vergaan nie. Want daar is geen einde aan sy ont­ferming nie. Dit het God reeds bewys teenoor die volk. Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie, maar behoue gebly. Want dit is die Here se aard om medelye te hê met mense in wanhoop.

Wat meer is, God het nie verander nie. Daarom, sê Jeremia, is dit nie klaar met sy hoop op die Here nie. Inteendeel, daar is rede vir hoop. Want in die verlede het God sy volk nie uitgewis nie, maar eerder uitgered. En Hy sal nou weer dieselfde doen.

Daarom kan hy hoop, al moet hy wag vir die uitkoms van sy volk. Want, sê hy: die Here is goed vir die wat geduldig op Hom wag, vir wie bly hoop. Sy liefde is groot. Wat meer is: dit is teen sy sin dat sy mense vir lank in ellende en beproewing moet verkeer.

Mag hierdie gesindheid, ****, en hierdie geloofsbelyde­nis vandag ook in julle harte leef! Mag julle ook terugkyk vandag, op julle lewenspad, en soos Jeremia raaksien hoeveel keer in die verlede God ook julle uitgered het. Vir julle goed was. En dit daarom weer sal wees. Dat Hy, soos Hy die volk se verlies en hartseer in blydskap en hoop omgesit het, dit vir julle ook sal doen.

Maar nog meer: mag julle, as julle terug kyk, ook Hom sien wat daar op 'n heuwel aan 'n kruis gehang het. Vir ons. Vir ons sonde. Sodat daar nooit weer afstand tussen ons en God sou wees nie. Nooit weer 'n onoorkombare brug tussen God en ons nie. Dat Hy, na die kruis, die graf oorwin het, die angel uit die dood getrek het. Sodat ons wat glo, altyd by Hom sal wees, daar waar **** vandag is.

Ja, daar is geen einde aan God se ontferming nie. Hy gee ons selfs sy Seun, Hy oorwin selfs die graf. Daar is geen einde aan sy ontferming nie, want sy trou is groot. Daar is geen einde aan sy ontferming nie, want sy liefde vergaan nooit nie. Daar is geen einde aan sy ontferming nie, want die Here verstoot nie vir altyd nie. Ja, daar is geen einde aan sy ontferming nie, want as God beproewing oor die mens gebring het, ontferm Hy Hom vinnig weer.

Mag hierdie lied, vandag in julle harte leef. Mag julle glo dat God ook op sy tyd julle hartseer weer vreugde sal maak, julle verlies 'n wins, julle ellende en beproewing weer voorspoed.

Dit is goed om geduldig op die Here te wag om hierdie dinge vir julle te doen, sê die Woord, want God verstoot nie altyd nie, Hy bly nie beproef nie, dit is teen sy sin dat ons swaar moet kry.

Daarom: hoop. Hoop op beter dae. Hoop op voorspoed. Maar bo alles: hoop om ook eendag te kom en te wees waar **** nou is. En hierdie hoop is nie maar net 'n valse hoop nie. Want deur die liefde van God sal ons nie vergaan nie. Sy liefde wat eenmaal finaal op daardie heuwel aan 'n kruis vir ons duidelik bewys is. Liefde wat ons vandag kan laat sê, saam met Jeremia: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.
Amen