2 Korintiërs 4:16-5:10


Ons swaarkry sal eindig in heerlikheid


 

Geliefdes van die Here Jesus Christus
Wanneer ons met die dood te doene kry, sê ons gewoonlik - dit is verby, die lewe is afgebreek, alles het so onherroeplik verander en my lewe sal nooit weer dieselfde wees nie!

Dis in sulke omstandighede wat ons ook sekere emosies ervaar: ‘n mens voel partykeer so troosteloos, so eensaam en verlate en hartseer oorweldig ‘n mens sommer maar net!

Wanneer die apostel Paulus in ons teksvers na ons lewe hier op aarde kyk, sien hy hierdie dinge ook raak. hy sê: ons is uiterlik besig om te vergaan en om afgebreek te word want ons liggame is vatbaar vir lyding en siekte en dood.

As ons na die hele brief gaan kyk wat hy geskryf het, sien ons dat hy nie net oor hierdie dinge praat omdat dit ander mense oorkom nie nee, hyself; as dienskneg van Jesus Christus, het hierdie lyding en afbreekproses aan sy eie lyf ervaar. In hoofstuk 1 lees ons dat hy die groot verdrukking in Asië beleef het soveel so dat hy aan sy eie lewe gewanhoop het. In hoofstuk 11 lees ons van die herhaalde beproewings wat hy moes deurmaak net omdat hy die evangelie van Jesus Christus verkondig het. In hfst 12 lees ons van die “doring in die vlees” - ‘n bepaalde probleem wat hy ervaar het en wat gemaak het dat hy elke dag gesukkel het om sy werk as verkondiger te doen. ons lees daar dat hy hieroor herhaalde kere in gesprek was met die Here.

Paulus het self ervaar dat die mens van dag tot dag gesloop word. Daarom vergelyk hy ons lewe hier op aarde met ‘n tent om daarmee te sê: ‘n tent is ‘n tydelike woonplek en dit is nie die beste en stewigste woonplek om in te bly nie. ‘n Tent is die woonplek van ‘n swerwer en só is ons lewe hier op aarde.
Ons is swerwers! Ons liggame is soos ‘n tent wat tydelik, onvas en verganklik is. Dinge soos swaarkry, siekte en lyding maak deel uit van die slopingsproses wat uiteindelik met die dood voltooi word.

Maar geliefdes, vir die mens wat deur die genade van God, tot geloof in Jesus Christus gekom het, is die feit dat ons swerwers is en ons lewens soos ‘n tent is wat afgebreek word van dag een af, nie die eindpunt nie, nie ‘n doodloopstraat nie! Hierdie aftakeling is nie net negatief nie, dis ook positief!

Paulus sê vir ons in ons skrifgedeelte: ons het nie net ‘n uiterlike nie maar ook ‘n innerlike en ons noem dit dikwels siel of gees. ek praat graag van lewensasem en dan bedoel ek daarmee - dit wat my laat leef en ‘n bewustelike bestaan voer. Dit behoort aan die Here en die Here ontferm hom ook oor hierdie deel van ons bestaan omdat Hy ons liefhet en omdat die kruis op Golgota en die opstanding uit die dood liefdesdade in ons belang was!

Hy werk en bewerk deur Sy Heilige Hees en deur die woordverkondiging dat u en ek iets begryp van die heerlikheid van God en van Sy almag. dit is as gevolg van die werking van God die Heilige Gees dat mense soos u en ek die Here Jesus se beloftes van vergifnis en versoening met God, glo en as waar aanvaar. Dit bring mee dat ons verby die aardse kan kyk, die kleipot wat maklik breek en kan vashou aan dit wat ewig is. Só maak Hy ons van dag tot dag nuut!

Hierdie vermoë is die skat wat in ons is. Dis ons innerlike wat van dag tot dag vernuwe word sodat ons - of ons leef en of ons sterf - getroos kan leef en sterf, omdat ons aan die Here behoort, en omdat Hy te midde van ons gebrokenheid, ons kleipot wees, juis Sy almag en heerskappy bevestig deur by ons betrokke te bly en ons nuwe mense te maak wat in swaarkry en leed en pyn deur Sy woord en gees opgebou word.

Ons as mense wil dit dikwels op ‘n ander manier laat plaasvind. Ons is geneig om aan die aardse vas te hou, dit wat in elk geval tot niks kom nie! Maar ons Here ken die weg via die tydelike na die vaste, ewige woonplek. Omdat Hy liefde is en almagtig is, wil Hy dat ons deur geloof heen hierdie weg sal wandel, die weg wat hyself bewandel en oorwin het!

Wat ‘n wonderlike troos om in die geloof te kan bely en om van dag tot dag gesterk te word in dié geloof dat met die dood, alles nie totaal verby is nie! Dat ons juis in die geloof kan uitroep: dit sal nooit weer wees soos vroeër nie! Deur God se genade en die werking van die Heilige Gees is Hy met ons; deur ons slopingsproses heen, met sy vernuwingsproses besig, ’n vernuwing wat deur die dood heen uitloop op die “vaste gebou in die hemel, die woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God self”!

Hoe anders lyk ons lewe nie in die lig hiervan nie. Hoe anders lyk ons pyn en leed en ons swaarkry nie? Ja geliefdes, hoe anders lyk die dood nie in die lig hiervan nie!

Die oorledene was iemand wat deur God se genadewerk; deur swaarkry en pyn heen, steeds getuienis afgelê het van hierdie skat wat ook in haar was. Die troos dat sy aan Jesus behoort het, die troos en versekering dat Hy ook vir haar nie as weeskind op aarde en met die oog op die ewige heerlikheid, alleen gelaat het nie. Die troos wat daarin geleë is om te leef in afhanklikheid van dié Here wat sorg dra en lief is vir elkeen wat aan Hom behoort en deur die aardse lewe heen, voorberei vir die ewige heerlikheid saam met Hom!

Kom ons neem die Here en Sy wil vir ons lewe opnuut ernstig, Hy trek niemand voor nie. Dit wat aan die oorledene krag en motivering gebied het is vandag steeds vir elkeen van ons ook beskikbaar, omdat die Here wat dit bied, lewe en regeer. Kom ons kyk dan deur die slopingsproses heen en vertrou op die woord van die Here wat via die apostel Paulus tot ons spreek as hy sê: “om hierdie rede word ons nie moedeloos nie al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.” (2 Korintiërs 4:16-17)

Mag u deur die genade wat ons Here Jesus ons bied, juis dit ervaar en getroos daaruit leef en sterf!
Amen