Filippense 1:20–26; 2 Korintiërs 5:6–10; Romeine 14:7-8


Vier die lewe!


 

Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Tannie (eggenote), vergun my om vanoggend te begin met ‘n baie persoonlike opmerking.  Daar kom tye en geleenthede in enige predikant se lewe waar ‘n mens nie eintlik kans sien om te doen wat voorhande lê nie.  Vanoggend is so ‘n geleentheid.  Dit is ‘n geleentheid waar jy wens jy die konsulent kon bel en vra om namens jou die taak te verrig.  Enersyds omdat jy nie daarvoor kans sien nie, en andersyds omdat jy nie onbetrokke kan wees nie, veral wat jou emosies betref.

En die redes hiervoor is baie eenvoudig.  Om oom N te begrawe is amper soos om jou eie pa te begrawe.  Hy was nie alleen vir 23 jaar my voorganger in hierdie gemeente nie, maar vir soveel jare was hy vir my ‘n bron van wysheid, het hy my ondersteun, met raad bedien en opreg belang gestel.  Jy kan dus nie onbetrokke wees nie.  Meer nog, as ek vanoggend kyk wie almal hier in die kerk sit, besef ek een ding baie goed: hy was vir baie hier dieselfde as vir my.

Tannie (eggenote) het gevra dat ons nie vanoggend oor hartseer sal preek nie.  Maar ek, en al die ander hier, is hartseer.  Ons beleef ‘n verlies.  Ons sal oom N mis.  Hy sal nie meer daar wees, altyd gewillig om te preek nie.  Hy sal nie meer elke Woensdagoggend by die Bybelstudie insit met soveel wyse opmerkings nie.  Sy lag sal ons mis, die oorgawe waarmee hy die lewe geleef het, al was hy vir die laaste paar jaar siek en eintlik net sieker en sieker.  En terwyl ons dit sê, besef ons maar te goed: dit moet vir julle as gesin baie meer intens wees, want julle verlies is soveel groter.

Daarom, tannie (eggenote), wil ek nie vanoggend preek nie.  Ek wil sommer net praat.  Kom ons wees maar met mekaar eerlik: in tye soos hierdie kan niemand werklik iets sê, of ‘n towervers lees wat die hartseer en verlange en finaliteit van alles wegvat nie. Oor oom N se dood is daar niks wat ons kan sê wat dit beter of anders sal maak nie.  Want om te sterf is deel van die lewe.

Daarom tannie (eggenote), kom ons maak soos tannie en die kinders Dinsdagaand gevra het: kom ons praat liewers oor die lewe.  Of, nog nader, kom ons vier oom N se lewe!

En eintlik, tannie (eggenote), het ek die afgelope drie dae besef, is dit eintlik maklik om te doen.  Om die waarheid te sê, eintlik maak oom N self dit vir ons maklik.  En kom ek verduidelik: by geleentheid in die hospitaal, toe hy na daardie operasie so geweldig siek geword het, ‘n opmerking gemaak wat my altyd sal bybly.  ‘Nt’, het hy gesê, ‘ons is hier op aarde nie besig is om dood te gaan nie, ons is besig om te lewe en ons moet dié lewe sien as 'n gawe uit van God, 'n gawe wat ons kan geniet, 'n gawe wat ons voluit moet benut!  Ons moet die lewe vier!’

En is dit nie presies wat die drie gedeeltes wat ons saamgelees het vir ons wil sê nie?  In die drie gedeeltes wat ek gelees het, word die woorde ‘sterf’ en ‘sterwe’ 'n hele klomp keer gebruik, maar as ons mooi na die gedeeltes kyk, sien ons dat die gedeeltes vir ons eintlik baie meer sê oor die lewe as oor die dood, baie meer vir ons sê oor hoe ons moet lewe, en wat ons moet doen terwyl ons lewe!

Kom ons kyk weer na hierdie drie gedeeltes (ek vertaal dit so ‘n bietjie vryer en interpreteer).  In Filippense 1 sê Paulus dat hy nie bang is om dood te gaan nie, dit sal nie vir hom sleg wees nie.  Want om te leef beteken om vir Christus te leef.  Om te sterf, aan die ander kant, sê Paulus, sal ook nie sleg wees nie.  Om die waarheid te sê, as ek tussen lewe en dood moet kies, sê Paulus, weet hy nie watter een hy sal kies nie.

So ook 2 Korintiërs 5: Natuurlik sou ons sommer graag dadelik hier wil padgee en by de Here gaan bly.  Hoe anders?  Maar op die ou end maak dit nie saak nie, want al wat saak maak is dat ons doen wat God van ons vra, of ons nou hier bly of daar bly.

Hoor ons mooi wat Paulus in albei hierdie gedeeltes sê?: Al wat saak maak, is dat ons doen wat God van ons vra en Om te leef, beteken vir my om vir Christus te leef.

En hoekom sê hy so?: Hoor weer wat sê Rom 14: Onthou, nie een van ons leef of sterf vir onsself nie.  Nee, ons almal staan in voltydse diens van die Here.  Daarom moet ons voluit vir Hom leef en doodgaan.  Letterlik alles wat ons vir Hom doen, moet tot eer van die Here gedoen word, want ons behoort aan Hom, geheel en al.

Die 1983 vertaling sê dit eintlik so mooi:

As ons lewe, leef ons tot eer
   van die Here;
en as ons sterwe, sterf ons tot eer
van die Here.


Of ons dan lewe en of ons sterwe,
ons behoort aan die Here.

9Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword:
om Here te wees van die dooies en die lewendes.

Hierdie laaste vers is die sleutel!  Ons kan voluit lewe, want ons behoort aan die Here; ons behoort aan die Here, omdat Jesus deur sy lewe en sterwe dit vir ons moontlik gemaak het om aan die Here te kan behoort.

Daar is mense wat so bang is vir die dood, dat hulle bang is om te lewe, en dan is die tragiese dat hulle uiteindelik doodgaan sonder dat hulle ooit werklik voluit gelewe het.

Oom N was nie so iemand nie.  Hy het voluit gelewe en die lewe geniet en hy het gemaak dat almal om hom ook die lewe geniet.  Ja, hy het ons geleer om die lewe voluit te lewe, vir Christus te lewe, maar ook: dat ook wanneer ‘n mens sterf, jy ook dit voluit vir die Here doen.  Met ander woorde, dit maak eintlik nie saak of ons lewe of sterwe nie, wat saak maak is dat ons doen wat God van ons vra.

Dit, broers en susters, vra geloof.  En ek sê dit met die grootste oortuiging: dit is die geloof wat in oom N geleef het, dit is wat hy verkondig het, dit is wat hy geleef het.  Hy het ons geleer die lewe is ‘n fees, dit is iets wat gevier moet word.

Daarom, dat ons hartseer is vanoggend, is waar.  Dat hierdie hartseer en verlange nooit werklik sal oorgaan nie, is ewe waar.  Maar nog meer waar is die volgende: oom N se lewe sê vir ons:  moet nie treur oor die dood nie, vier die lewe.  Lewe die lewe.

Dit is, tannie (eggenote), hoe ek oom N graag altyd sal onthou.  Nie om te dink dat hy nie meer hier is nie, maar om te onthou hoe hy geglo het die lewe gevier moet word.  Of anders gesê: daar is net een manier, glo ek, hoe ons sy nagedagtenis kan eer: deur die lewe te gaan leef soos hy dit geleef het.

Deur nie te lewe asof ons besig is om dood te  gaan nie, maar dat ons die lewe LEWE; elke dag voluit, so dat ook ons sal kan sê : want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.

Ons gaan oom N mis.  Dit is logies.  Maar kom ons eer sy gedagtenis deur elkeen, so goed ons kan, elke dag voluit te leef tot eer van God.

Tannie (eggenote), mag die Here vir julle baie goed wees.
Amen