Efesiërs 4:17-24


Bekering — een groot stuk vreugde


Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Die bekende in die lewe is dikwels die gevaarlike. Ek kan byvoorbeeld my werk so goed doen, werklik so goed ken, dat ek dit later onnadenkend kan begin doen, begin doen sonder om werklik elke stap te oorweeg, te doen sonder om te dink waarmee ek besig is, en ('n) groot fout(e) begaan. Kom ons neem die huwelik as voorbeeld: ek kan so gewoond raak aan my huwelik, dit kan so normaal, bekend, outomaties word, elke dag dieselfde word dat, voor ek dit werklik raaksien, ek eintlik nie meer 'n huwelik het nie. Met ander woorde: die bekende het die gevaarlike geword.

Dieselfde, broers en susters, geld vir die geloof. So maklik word 'n mens se geloofsbelewing, 'n mens se geloofsuitlewing, iets baie maklik, baie eenvoudig, stereotiep, iets bekends, bestaande uit (kom ons sê maar) kerkbesoek, Bybellees, gebed, en die eerlike poging om my daagliks tot die Here te bekeer. En voor ek sien kom ek skielik agter dat, al is ek hoe godsdienstig, hoe eerlik godsdienstig, al het ek die godsdiens as besitting, ek het lankal nie meer 'n werklike, persoonlike verhouding met God nie.

Kom ons wees nog meer spesifiek. Hierbo het ek die woord bekering gebruik. Almal van ons, broers en susters, ken hierdie woord. Die meeste van ons, en ek is daarvan vas oortuig, maak erns met die woord. Erns in dié opsig dat die meeste van ons onsself daagliks tot die Here bekeer of dan ten minste probeer bekeer. Ons is tog kinders van God.

Maar kom ons vra onsself die vraag af, broers en susters: wat beteken bekering werklik? Het die bekende nie vir ons hier ook die gevaarlike geword nie? Want wat verstaan ons onder die woord bekering? Wat beteken dit om jou daagliks werklik tot die Here te bekeer? Is dit 'n ommekeer (soos die Bybel dikwels die Griekse woord wat vir bekering gebruik word, te wete metanoia, vertaal), dit wil sê, letterlik, ek het eers soontoe geloop, en nou loop ek soontoe, beteken dit inkeer, of beteken dit ek moet verander? Of dan, as Efesiërs 4:22 sê dat dit beteken om met die`ou mens te breek', wat beteken dit presies? Kom ons gaan kyk 'n bietjie na al hierdie moontlikhede, en kyk of ons miskien meer duidelikheid oor hierdie saak kan kry.

Bekering, meen sommiges, is om tot inkeer te kom. Om weer jouself te word. Diegene wat so dink, redeneer min of meer soos volg: ons leef elke dag in 'n koorsagtige drukte, ons word as`t ware deur die lewe op sleeptou geneem. So baie dinge word vir ons gereël. As dit nie ons beroepe is nie, is dit ons huislike verantwoordelikhede, of ons verpligtinge in die gemeente. Of by die skool waar ons kinders is. Alles word 'n gejaag na die nakom van afsprake en teenwoordig wees by geleenthede waartoe ons opgeroep word. Met die gevolg: jy verloor jouself in al hierdie sake. Jy het niks meer aan jouself nie. Jy leef ook eintlik nie meer vir jouself nie. Jy leef vir ander, vir verantwoordelikhede, vir die nakom van afsprake. Jy word eenvoudig net meegeneem.

Daarom: inkeer beteken om jouself weer te vind. Om rustigheid in jou lewe tekry. Om te leer ontspan. Om tyd te maak vir jouself. Om weer vrede, rustigheid en rus te kry. En so weer die oog vir God in my lewe te kry.

Hierop sal ander weer antwoord. Nee, dit kan tog nie bekering wees nie. Bekering het tog im­mers te make met 'n mens se verkeerde lewe. Die verkeerde dinge wat ons doen, bedink en bedryf. Bekering het te make met verkeerde gesindhede. Daarom, ware bekering is geleë dat jy die houding van gelowigheid sal inneem. Dat jy sal doen wat die Woord van jou vra en sal vermy dit waarteen die Woord waarsku.

Weereens, broers en susters: ook hier, meen ek, geld ons eerste uitspraak— die bekende word so maklik die gevaarlike. Want so maklik,verloor ons uit die oog dat bekering nie maar net te make het met my lewe wat anders moet word omdat dit eenvoudig van 'n gelowige verwag word nie. Vergeet ons dat bekering tog seker ook in die eerste plek iets te make het met die lewende God en met my naaste.

Met die gevolg? Bekering word niks anders as 'n bekering tot die regtedinge, 'n lewenshouding, 'n stuk gelowigheid nie. Dit word 'n goeiewerk, dit bepaal of jy gelowig is of nie. Dit word iets wat staan in die spanning tussen jouself, die wêreld, en of jy dit regkry of nie. As jy slaag, is jy 'n goeie gelowige, as jy nie slaag nie, is jy 'n minder goeie gelowige. Dus: dit gaan om jouself, dit gaan om die daad van bekering op sigself, of ek dit regkry of nie, of ek goedvaar of nie. Of ek dit doen of nie.

Kom ons neem nog 'n laaste moontlikheid. Op grond van bogenoemde verstaan van bekering, te wete, dat bekering gaan oor die daad opsigself, dat ek dit moet doen, omdat dit van my verwag word, dat bekering daar is om van my 'n beter mens te maak, sal ander weer antwoord: maar julle ken mos die wet van God. Dit lui mos baie duidelik dat jy God moet liefhê en jou naaste moet liefhê. So, as bekering nie te make het met byvoorbeeld die verbetering van my naaste se lewe en hulle omstandighede nie, dan is dit nie ware bekering nie.

Met die gevolg? Ons ken dit so goed, broers en susters: bekering word 'n sosiale, politieke, 'n maatskaplike aangeleentheid. Bekering word: mense wat veronreg was moet nou bevoordeel word, die wêreld moet ophou met oorlog en geweld, ons moet stop om die osoonlaag te vernietig, ons siek samelewing moet gesond gemaak word. Ons moet so leef dat almal uit die samelewing kan voordeel trek, dat almal se omstandighede beter kan word. Ons moet so lewe dat almal ewe veel het, dat niemand veronreg word nie. En gou, sonder dat ons dit besef, word elke denkbare sosiale, maatskaplike of watter herstel program ook al, vir ons heel aanvaarbaar. Want dit het dan so 'n pragtige godsdienstige en Bybelse onderbou. En ons is mos godsdienstig. En ons glo mos die Bybel is God se Woord.

Wat, broers en susters, is gemeenskaplik in al drie die voorbeeld wat ek hierbo genoem het? Kom ek formuleer dit so: bekering is iets wat die mens moet doen, in die sin dat sy/haar dade moet verander. Ons moet anders begin lewe, en hierdie ander lewe is nie onderhandelbaar nie, ons moet dit doen. Hoekom? Want die Bybel vra dit van ons.

Efesiërs, broers en susters, praat egter totaal anders oor bekering. Bekering, sê Paulus hier, het nie in die eerste plek te make met die mens wat verkeerd gelewe het en nou beter moet begin lewe nie. Bekering is nie net daar waar dade verander nie. Bekering is nie net daar waar ek nou beter lewe nie. Nee. Bekering is daar, begin daar, sêPaulus, waar die mens verander. Nie die dade wat die mens doen nie, maar die mens wat die dade doen. Bekering is daar, sê Paulus,waar — in die eerste plek — die mens nuut word, en nie noodwendig sy dade nie.

Kom ek probeer verduidelik. Bekering, sê Paulus, is nie in die eerste plek om jouself weg te keer van dit wat verkeerd was nie. Dit is nie in die eerste plek om weg te kom van die ou lewe nie. Dit is nie in die eerste plek die dade van die mens wat anders moet word nie, dat ons goeie mense moet word nie.

Nee, sê Paulus hier, bekering is, in die eerste plek, eerder om jouself in die hande van die Een te plaas wat goed is. Ek wil ditweer sê: bekering begin nie daar waar ek 'n goeie mens te word nie, maar daar waar ek my in die hande oorgee van die Een wat alleen goed is, naamlik God. En omdat God my dan in sy hande vashou, en ek al sy liefde en goedheid beleef, ek so totaal daardeur oorweldig word, dat ek 'n nuwe mens word.

Kom ons gebruik die bekende gelykenis van die verlore seun, so bekend dat ons nie eers hoef saam te lees om dit te onthou waaroor dit gaan nie, as voorbeeld om te verduidelik wat ek hiermee bedoel.

Hoekom het die seun na sy vaderhuis teruggekeer? Was dit omdat sy geld opgeraak het? Omdat hy honger was? Omdat sy vryheid met al die moontlike keuses wat dit ingehou het ewe skielik vir hom te veelgeword het? Omdat hy die vreemde nie meer kon hanteer nie?

Of was dit die herinnering aan 'n vaderhuis wat altyd vir hom oopgestaan het? Dat daar in die vensters van sy vaderhuis wagtende lampe brand om hom die pad daartoe aan te dui? Dat hy geweet het daar is iemand wat verlangend op hom wag? Dat daar iemand wag wat hom altyd goedgesind was en wat hom tussen al sy vodde en vuilheid sal erken as die seun wat tevore daar gewoon het? Ek dink so.

Daarom, broers en susters, is bekering nie maar net dat dieselfde ou mens sy vorige dade los of verander nie, dat hy/haar sy verlede ontken en as`t ware uit sy/haar verlede vertrek en nou anders gaan lewe nie. Nee. Dit is eerder die vreugdevolle vertrek na dit wat hy/sy voorhom/haar het: 'n Vaderhuis wat altyd oopstaan. Daarom sê die woord bekering niks anders as: Salig hulle wat 'n tuiste het, want hulle mag huis toe kom.

Solank, broers en susters, ons bekering sien as die inkeer tot myself (om bv. rustiger te word), die wegkeer van my ou dade (om so sg 'n beter menste word), of om so te begin lewe dat die wêreld rondom my deur my dade 'n beter wêreld word, sal ons lewens, en veral ons geloofsbelewing dié wees van 'n lewe van opstaan en val, van suksesse en mislukkings, sonder die ervaring dat ons vooruit gaan in die geloof, sonder die gevoel en wete dat ons nader en nader aan God beweeg. Een groot stuk moeite, waarvan ons dikwels sal moet sê: maar ek vorder nie eintlik nie. My lewe verander nie eintlik nie. Al probeer ek hoe hard. Al is my motiewe hoe opreg.

Want dan leef ons nog as die ou mens. Die ou mens sonder God wat probeer om die lewe nuut te maak deur die dade te verander. Paulus sê:word eers die nuwe mens wat jy is, gaan eers weer na die Vaderhuis, ervaar eers weer daar is iemand wat jou werklik liefhet, wat nie na jou uit die hoogtes roep nie, maar vir jou die dood kom deurworstel het, wat jou duur gekoop het, wat jou by Hom wil hê. Voel eers weer wat dit beteken wanneer hierdie Iemand, die Ewige, jou in hierdie lewe vashou.

Net God, geliefdes kan ons nuut maak. Nie onsself nie. Al is ons hoe ernstig oor die bekering van onsself van die verkeerde. Al slaag ons hoe goed daarin. Ons kan nie die beeld van God in ons terugkry deur ons dade te verander nie. As ons dit probeer doen , lap en stop ons maar net aan die ou mens. Dan bly die oproep tot bekering dit wat maar moeilik is.

Die pad na die Vaderhuis kom dus nie in die eerste plek deur bekering nie. My kamer in die huis van my Vader verdien ek nie deur reg te lewe, my daagliks te bekeer nie. Nee. Ek word nuutgemaak, ek kom daar tuis omdat ek weet ek is daar welkom. En wanneer ek daar begin woon, word ek so oorweldig deur die goedheid van die Vader, dat bekering, dit wat so moeilik in die verlede was, nou sommer so iets terloops word, iets baie maklik.

Want, tuisgaande in die Vaderhuis, nuutgemaak, oorweldig deur die teenwoordigheid van die Va­der en toegevou in sy liefde, kan ek nie, en wil ek nie anders as om te wys dat ek 'n hemelse Vader het wat my nuutgemaak het nie. Dan word bekering een groot stuk vreugde.

Is dit so in ons lewens, broers en susters. Of is ons probleem dalk nog steeds dat ons meen dat ons self nuwe mense moet word. Net God kan dit doen. Soek daarom maar eers die koninkryk van God, en die ander dinge sal bygevoeg word.

Amen