2 Samuel 7


Die wesenlike van die verhouding tussen God en die mens


Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Die Ou Testament spreek oor Dawid meer as oor enige ander mens, selfs meer as van Moses. Vir die interessantheid: die naam van Dawid word in die Ou Testament 790 keer genoem, en die van Moses 706 keer. Ook Dawid se lewensverhaal word baie meer noukeurig as dié van Moses vertel, sodat Dawid seker die persoon in die Ou Testament is van wie se lewe, se krag, suksesse en ook swakhede ons die meeste weet.

Wanneer 'n mens dus iets wil sê oor die rol wat geloof in God in die lewe van Dawid gespeel het, het ons so ietwat van 'n probleem, want onmiddellik sou die vraag wees: maar waar begin 'n mens? Moet ons mens begin by die geloof van Dawid wat gemaak het dat hy bereid was om teen Goliat te veg, of van Dawid se geloof wat staande gebly het vir baie jare toe hy deur Saul in die woestyn agtervolg is, of Dawid se geloof wat tot soveel Psalms gelei het?

Die keuse om te besluit waar ons vanaand gaan begin, word egter deur ons teksvers bepaal, 2 Samuel 7:29, waarin die belofte aan Dawid gemaak word dat Jesus Christus uit sy nageslag/huis gebore sal word.

Ek wil egter vanaand nie met Dawid begin nie, maar met Natan van wie ons ook in die teks lees. Die profeet Natan, broers en susters, was inwese Dawid se godsdienstige raadgewer. Wanneer dit nodig was, moes Natan byvoorbeeld Dawid in die naam van God aanspreek indien hy verkeerd so optree, andersins kon hy hom verheug omdat die koning gehoorsaam aan God was.

Soos dié dag waarop Dawid aan Natan gesê het dat dit eintliknie reg is dat hy, wat Dawid is, in 'n huis van sederhout woon, maar dat God (by wyse van sy ark natuurlik) in 'n tent moet woon nie. Daarom wil hy vir God 'n tempel bou, 'n begeerte van Dawid wat Natan kennelik verbly het. Want dit het tog sin gemaak: tydens die rigtertydperk en die omswerwinge in die woestyn was so iets nie moontlik nie. maar nou was dit anders: Dawid was koning in Jerusalem, die koninkryk van Israel was gevestig, en daarom kon daarvir die ark/God 'n mooi tempel gebou word. So het Dawid gedink, en Natan het onmiddellik saamgestem. Dit was immers nie net 'n doodgewone goeie plan nie, maar was tog ook tot eer van God.

Die probleem was egter, broers en susters, dat Natan, toe hy dadelik met Dawid saamgestem het, vergeet het dat hy 'n profeet was. En die taak van die profeet was om eers te spreek nadat God gespreek het. Dus:sonder God se instemming oor Dawid se plan, keur Natan dit onmiddellik goed.

Maar dan sien ons dat in die nag Natan tog 'n Godswoord ontvang. En wat Natan van God hoor, skep 'n probleem. Want God se woord aan Natan is om Dawid se plan teen te staan. God het nie 'n behoefte aan 'n huis wat mense vir Hom wil bou nie. Nie dat God hiermee sy hand van Dawid wou aftrek nie, maar omdat God 'n ander plan gehad het, dit waarvan ons in 2 Samuel 7:11-16 lees: Jy Dawid, sal nie vir My 'n huis bou nie, maar Ek sal vir jou 'n huis bou. 'n Nageslag wat bestendig sal wees. As jy sterf, sal iemand uit jou vlees vir My 'n huis bou (Salomo). Jy is nie volmaak nie, hy sal ook nie wees nie, maar jou nageslag sal vir altyd bestaan. En soos ons weet, broers en susters, uit sy nageslag sal Jesus Christus gebore word.

Hierdie Godswoord aan Natan, broers en susters, openbaar dus dat daar 'n besondere verbondsverhouding tussen God en Dawid se nageslag sou wees. Nie alleen is dit 'n herbevestiging van die verbond wat God met Abraham gesluit het nie, dit is ook 'n verbesondering daarvan. Want in hierdie Godswoord is die kern die Messiaanse belofte, wat nou aan die nageslag van Dawid verbind word. Uit sy nageslag sou Jesus gebore word. En met hierdie belofte moes Dawid tevrede wees. Wat meer is: om die belofte te laat bewaarheid, hy hoef nie iets vir God te doen nie. Eerder: God sal iets vir hom doen.

'n Mens sou dadelik wil reken, broers en susters, dat Dawid seker baie in sy skik met so 'n antwoord sou wees. Maar tog gaan dit so effens teen die neiging van die sondaarmens se hart in. Want wil ons tog nie ook iets vir God doen nie? Dit is tog nie verkeerd nie. God is vir ons so goed, is dit dan so verkeerd om goed vir God te wees deur byvoorbeeld goed vir ander te wees? Of 'n vrome en heilige lewe telei? As ons die vrae so stel, broers en susters, vra ons egter die verkeerde vrae. Want met die afwysing van Dawid se plan om vir God 'n tempel te bou, bestraf God nie vir Dawid nie, maar wil God eensaak weer herbevestig: die wesenlike van die verhouding tussen God en die mens is nie wat die mens doen of wil doen nie, dit is wat God vir die mens doen.

En is dit nie 'n wonderlike insig en wete nie, broers en susters? Dat God die bouer is, en ons niks meer as die stene nie. God bou, en onsword as 't ware ingebou in sy huis, in sy liggaam, in sy gemeente. Hy gee die gawes, ons hoef dit nie te skep nie, ons hoef dit net te gaan uitleef. Hy hou sy kerk en gemeente in stand, ons hoef dit nie te doen nie. Inteendeel. Wanneer ons begin dink dat die kerk, en byvoorbeeld ons gemeente, afhang van wat ek doen, afhang van die bydrae wat ek lewer (wat dit ook al mag wees), dan wil ons God se werk oorneem. Dan wil ons bou, en daarmee sê dat ons ook God wil bou. Dan wil ons sê: nie God se plan nie, maar ons plan. Ons sal die planne optrek, die bouwerk doen, God moet dit net seën.

Wat ek dus wil sê, broers en susters, is dat die mens baie versigtig moet wees om nie, waar ons soms in alle vroomheid, en met soveel goeie bedoelings, iets vir God wil doen, daarmee eintlik in opstand teen God te kom nie. Want so maklik wil die mens homself laat geld, en net so maklik wil die mens soms die eer maar na sy kant toe laat kom.

Of kom ek stel dit anders: solank as wat die sondaarmens dink dat ons 'n deel kan bydra tot die werk van God, het ons nog nie werklik tot geloof gekom nie. Want geloof beteken onder andere dat 'n mens in jou lewe alles aan God oorlaat, dat ons onsself volkome afhanklik voor God moet stel, dat ons net mag staatmaak op die genade van God.

Daarteenoor: solank 'n mens nog gewig aan jou eie prestasies heg, klou jy eintlik vas aan die sigbare en tasbare dinge van hierdie lewe, in plaas daarvan om te waag met net God se beloftes. Sy beloftes dat Hy sal sorg, dat Hy sal lei, dat Hy bekwaam sal maak, dat Hy ons sal bring waar Hy ons wil hê. Nie waar ons dink ons moet wees of waarheen ons wil gaan nie.

En wat maak Dawid toe hy hierdie boodskap van God ontvang? Daar is by hom geen oomblik van teleurstelling, afwysing en ongelukkigheid nie. Wat meer is: hy probeer nie eers by Natan die saak in die regteperspektief bring deur aan Natan weer van sy goeie bedoelings tevertel nie. Nee: hy is 'n absolute voorbeeld in geloof, want met sy hele optrede sê hy: Here, U woord is belangriker as my bedoelings en dade.

Ons, broers en susters, kom dikwels in dieselfde situasie in ons lewens te staan as die situasie waarin Dawid homself hier bevind het. Wanneer ander ons byvoorbeeld te na kom, en ons glo hulle was verkeerd, en ons is heel waarskynlik ook reg in ons oordeel, wil ons so graag veroordeel. Al leer God se Woord ons dat die oordeel God toekom. Wat maak ons dan? Oordeel ons, wil ons self iets doen, of laat ons God se Woord ons lei.

Of 'n ander voorbeeld: ons pak byvoorbeeld iets in die lewe aan. En met ons beplanning beleef ons dat die een na die ander deur vir ons toegaan. Ons ervaar selfs dat die Here deur sy Gees ons op 'n anderweg wil lei. Maar ons besluit: hierdie is my plan, my droom, en nie eers God gaan ons daarvan laat af te sien nie.

Of miskien die beste voorbeeld: Soos Dawid net 'n Godswoord gehad het wat sy toekoms betref, het ons in wese ook net 'n Godswoord wat ons toekoms betref.  'n Godswoord wat sê: glo in Jesus Christus, en jy sal lewe. Sinvol in hierdie lewe, en vir ewig in die volgendel ewe. En wat maak ons soms met hierdie Godswoord, broers en susters?

Met ons lewe, al is dit soms nie eers vir onsself sigbaar nie, besluit ons dat alles tog nie so eenvoudig kan wees nie. Ek moet daarom seker ook iets bydra, sê ons soms onbewustelik vir onsself. Ek was darem te lank gelede in die kerk. Ek moet miskien so 'n bietjie meer die Bybel lees. Ek het lanklaas werklik in die gebed voor die Here gekniel. Almal, broers en susters, goeie bedoelings wat opsigself niks mee verkeerd is nie.

En dan? Dan doen ons dit. Ons kom meer kerk toe, ons lees meer dieBybel, ons bid meer. Dinge wat ook goed en reg is. Maar wat maak ons dan? Dan dink ons: nou gaan dit darem beter. Ek het darem weervir 'n slag so 'n bietjie my kant gebring. wat meer is, my skuldgevoel is nie eers meer daar nie. So, nou gaan dit weer goed?

In wese egter, broers en susters, is so 'n houding 'n houding van ongeloof. Want wie so maak, dink en doen, is nie meer volkome van God afhanklik nie, maak nie meer net op God se genade staat nie, meen dat God se genade belangrik is (natuurlik ja), maar dat my dade darem tog ook nie so onbelangrik is nie.

Menslike grootheid, kinders van God wat hulleelf te ernstig opneem (wil ek amper sê), is 'n gruwel in die oë van God. Al bou sulke mense tempels, en al sê hulle dit is tempels vir God.

Miskien moet ons elkeen onsself weer vir 'n slag toets. Kan ek werklik vanaand sê dat God se genade alleen vir my genoeg is? Glo ek dit as ek dit sê, en lei ek 'n lewe wat by hierdie belydenis pas?

‘n Lewe wat pas by 'n belydenis wat sê: die wesenlike van die verhouding tussen God en mens is dit wat God in Christus vir die mens gedoen het, en nog steeds elke dag vir ons doen. Watter wonderlike genadewoord is dit nie!

Amen