Genesis 4:2-26; Lukas 23:32-33, 39-43


Kain: van Fariseër tot moordenaar


Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:

Om die Bybel reg te verstaan is nie altyd so moeilik nie. Ons het soms egter die manier om die Bybel se boodskap baie moeilik verstaanbaar te maak deur die verkeerde vrae aan die Bybel stel. Vrae waarop ons soms ten alle koste 'n antwoord wil hê,  en as ons die antwoorde nie kry nie, dan sê ons dadelik: die Bybel is moeilik te verstane.

Neem nou maar die bekende verhaal van Kain en Abel. Oor die stukkie geskiedenis is al baie slim vrae gevra, vrae soos: Hoekom was Kain bang dat die mense hom sou doodmaak? Hy was tog die eerste seun van Adam en Eva, dus, waar sou die ander mense vandaan kom? Of: waar het hy 'n vrou gekry? Of: Hoe het hy geweet dat die Here Abel se offer aanvaar het en nie syne nie? 'n Vernuftige dominee sou seker antwoorde op al hierdie vrae kon uitdink, maar dit sou ons niks verder bring nie, juis omdat antwoorde op hierdie soort van vrae ons geen werklike insig bied in hierdie stukkie geskiedenis nie.

So, kom ons vra liewer 'n ander vraag, 'n vraag wat 'n mens nie alleen aan hierdie gedeelte behoort te vra nie, maar ook 'n vraag waarvan die antwoord vir ons duidelik sal maak waaroor dit werklik in hierdie stukkie geskiedenis gaan: waarom het God Abel se offer genadig aangesien, en nie vir Kain en sy offer nie?

Baie sal sê: dit is omdat Kain 'n slegte man was en Abel 'n goeieman. Kain was gemeen, onverskillig, en Abel was vredeliewend en innemend. En omdat God die goeie beloon en die slegte afkeur, aanvaar Hy die offer van Abel en keur dié van Kain af. Die probleem met hierdie antwoord is net: hiervan staan daar niks in hierdie gedeelte nie. Inteendeel. Die gedeelte sê dat wanneer Kain en Abel offer is hulle heeltemal gelyk. Wat meer is, van Kain word gesê dat hy 'n gelowige man was, want hy het telkens van die vrugte van die land aan God geoffer.

Maar tog word sy offer nie deur God aanvaar nie. Hoekom dan? Is dit omdat God sommer net moedswillig was, of gesien moet word as wispelturig? Dit kan ook nie. Want die hele Bybel leer ons nie van 'n God wat — by wyse van spreuke — vol grille en giere is, en sommer net willekeurig optree nie.

So, wat kan dan nou die antwoord op hierdie vraag wees? Ek meen ons kan begin in die antwoord van hierdie vraag — waarom het God Abel se offer genadig aangesien, en nie vir Kain en sy offer nie — deur te kyk wat werklik in die teks staan. In die wêreld waarin die Bybel geskryf is, was mense se name baie belangrik. So noem Eva haar eerste seun, wanneer hy gebore word, Kain, wat beteken: `om te verkry', en in vers 1 sê sy: `Ek het 'n man in die wêreldgebring met die hulp van die Here!'

Hier uit, broers en susters, spreek 'n moeder trots wat 'n mens amper net kan verstaan as jy self een van daardie mense was. Want vir hulle was 'n seun baie belangriker as 'n dogter. As eersteling sou Kain twee derdes van sy vader se boedel erf, want hy was die eerste en oudste seun, dus eintlik 'n baie belangrike persoon in die familie. Deur hom sou Adam se familie voortbestaan.

Met Abel was dit anders: hy was nie die oudste nie, dus minder belangrik. So sê sy naam ook, Abel, wat luggie/tevergeefs/nietig/verganklik beteken. Dus: reeds in hulle name sien ons iets raak — Kain was belangriker gereken as Abel, en van hom was ook meer verwag as sy jonger broer.

Wanneer albei dan op 'n dag gaan offer, moet ons goed verstaan, doen Kain iets wat van hom verwag is. Want hy was die oudste, en van hom was verwag om, in sekere tye, as plaasvervanger vir sy vader, voor tegaan wat betref die godsdiens in die huis. Om te offer was dus sy plig, maar ook sy reg. En op grond van hierdie reg, aanvaar Kain dan ook dat God sy offer moet aanneem.

Met Abel was dit anders. Sy offer berus nie op 'n reg nie, want hy was nommer twee in die huis. Maar tog offer hy. Nie omdat dit sy plig en reg was nie, ook nie met die gedagte dat dit sy reg is dat God sy offer moet aanvaar nie.

En juis hierin lê die verskil tussen die offers van Kain en Abel. Kain offer in die besef van sy reg en meerderwaardigheid as oudste seun. Abel, daarenteen, offer in die geloof dat God uit genade alleen sy offer kan aanvaar. Daarom sê die skrywer van Hebreërs 11 dan ook dat Abel deur die geloof 'n beter offer as Kain gebring het.

En dan gebeur die onverwagte: God aanvaar die offer van Abel en die van Kain verwerp Hy. En Kain se verontwaardigheid kan ons eintlik, of behoort ons eintlik, baie goed te verstaan: ons weet mos hoe dit voel as iets waarop jy 'n reg het, van jou af weggehou word.

Maar nou die interessante: God is nie klaar met Kain, soos ons sou verwag,nie. Nee. Nou begin Hy eers met Kain. Want God wil vir Kain leer dat die mens, al meen hy dat hy hoeveel regte in die lewe het, wanneer dit by God kom, op geen reg kan aanspraak maak nie. By God, moes Kain leer, kan 'n mens net van genade leef.

 En dit is 'n harde les vir Kain. Want Kain moet hier by God hoor: na die sondeval is ons nie meer vennote nie. Jy kan nie God wees wat self wil besluit wat ek wil hê of nie wil hê nie. Al is jy kind van Adam. Jy is sondaar, anders as God. En by God kan jy nog lewe, maar dan net van genade. Van niks anders nie. By My word jy nie voorgetrek nie. Ek het nie witbroodjies nie. Voor my is almal gelyk.

Maar Kain, sien ons, broers en susters, wil hiervan niks weet nie. As oudste seun, as bevoorregte, weier hy om so behandel te word. Hy het dan bepaalde regte. Hy is dan die belangrikste. En so word Kain dan 'n soort mens wat ons goed ken, hy word 'n Fariseër: 'n mens wat reken en staatmaak op sy eie waarde en prestasies. En doen hy die sonde wat ons ook baie keer doen: hy wil nie erken dat hy ook sonde het nie, en omdat hy dit nie wil erken nie, verstaan hy van God se genade niks.

Wat volgende in die lewe van Kain gebeur, is dan ook iets wat ons in die res van die Bybel sien gebeur: dié Kain wat God en sy genade verwerp, verwerp terselfdertyd sy naaste. Daarom kan Kain dit nie verdra dat God vir Abel sogenaamd voortrek nie. En omdat hy Abel haat, haat hy ook God. En sommer baie vinnig word Kain die Fariseër Kain die moordenaar. Soos die Fariseërs wat op die een sabbat vir Jesus berispe omdat Hy op die sabbat siekes genees, en op 'n volgende sabbat planne maak om Hom dood te maak. En so dan, broers en susters, word dit telkens in die geskiedenis van die wêreld:dit is 'n verhaal van mense wat nie van God se genade wil leef nie, en daarom mekaar — op verskillende maniere — doodslaan.

Tog, broers en susters, sien ons egter dat God ook nie hier met Kain ophou nie. Kain het wel vir God losgelaat, maar nie God vir Kain nie. Kain is teen God, maar God is nie teen Kain nie. Daarom stel God Hom voor Kain. Voor die moord op Abel en na die moord. `Is ek my broer se wagter', sê hy vir God. Dit is nie my skuld nie, dit is eintlik U skuld, want U wou mos vir Abel voortrek. En God se woorde? `Vervloek is jy dan!'

Maar dan kom daar 'n wending. Kain hou op om Fariseër te wees. Want as God hom vervloek, besef hy wat hy is: weerlose, blootgestelde mens met 'n geweldige angs vir 'n toekoms sonder God. En ewe skielik beteken al sy regte en aansprake vir hom niks. En roep hy uit: `My skuld is te groot, my straf is te swaar om te dra'. Woorde waaruit ons nie iets anders kan aflei as om te sê dat Kain besef het dat hy hom vasgeloop het nie. Daar is nou nêrens waarheen hy kan vlug nie.

Of kom ons sê dit anders: God wen sy geveg met Kain. En natuurlik wen God, want daarop is God ingestel. Ingestel in die sin dat God met ons worstel, totdat ons onsself vasloop in ons selfhandhawing en so verstrik raak in ons eie onmag, reserwes, vermoëns, deugde onfeilbaarheid, dat ons geen uitweg meer sien nie, en dan begin raaksien watter rykdom en krag daar in God vir ons opgesluit lê. Dan, geliefdes, dan sê God vir Kain: moenie bang wees nie. Ek sal jou vashou, Ek sal jou beskerm, niemand sal jou doodslaan nie.

Ek sluit af: Baie later in die Bybel, ontmoet ons weer vir Kain en Abel. Op Golgota. Want aan die kruis hang — by wyse van vergelyking —die opvolger van Abel, Jesus, ook deur onder andere die Fariseër vermoor, en langs Hom hang 'n Kain, 'n moordenaar. Net 'n ander Kain as aan Jesus se ander kant, want hierdie Kain is 'n vasgeloopte mens. Dink aan my, sê hy, wanneer U in die koninkryk kom. En dan antwoord die tweede Abel: voorwaar, Ek sê vir jou, vasgeloopte mens, Ek hou jou vas. Vandag sal jy saam met my in die paradys wees.

Dit sê Jesus, wel die vermoorde, maar die vermoorde wie se bloed nie wraak roep nie, maar om vergewing. En juis daarom het Jesus aan die kruis vir alle Kains gebid: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En Hy bid so, want Hy het mens geword om moordenaars, eiegeregtiges, verwaandes, die wat dink hulle het nie ook skuld en sonde aan wat ook al nie, om Kains te bevry en ewig te laat lewe.

Alleen by Hom, broers en susters, is daar 'n uitweg vir die vasgeloopte mens. Wie hierdie uitweg nie vind, glo en gehoorsaam nie, is soos Kain op 'n pad van selfvernietiging. Word eers Fariseër (eiegeregtig), en dan moordenaar. Want wie God nie werklik liefhet nie kan diegene rondom hom nie liefhê nie. En ook nie later hom- of haarself nie.

Amen