Lukas 13:1-5


Ons almal het bekering nodig


Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Dat lyding ‘n vorm van straf op sonde is, is nou maar een maal ‘n diep gewortelde idee by ons. Ons weet maar te goed dat ‘n mens nie sommer maar net kan sê dat siekte, ongeluk, teenspoed of rampe straf op sonde is wat ons gedoen het nie. Maar tog, laat ons nou maar net in daardie situasie beland, vra ons ons tog maar self so heimlik af of die ongeluk wat ons nou beleef nie dalk tog maar die gevolg is van een of ander iets wat ons verkeerd gedoen het nie.

Die Jode, in elk geval, was oortuig daarvan dat ongeluk of teenspoed straf op gedane sonde was. Daar was dit byvoorbeeld een van die take van die skrifgeleerdes en die fariseërs om, wanneer hulle byvoorbeeld verby ‘n lam of blinde persoon geloop het, saggies te prewel: ‘Loof die betroubare regter’. Bedoelende: hy of sy het sy of haar regte straf gekry, en laat dit tog asseblief net nie met my gebeur nie.

Die val van die toring by Siloam het hierdie verstaan van straf en sonde net verder versterk. Pilatus het die Siloamtoring met gesteelde tempelgeld laat bou. Vir die Jode was dit ‘n vergrype teen God, en almal wat gehelp het om die toring te bou, is gesien as mense wat gedeel het in die sonde van Pilatus. Toe die toring val, en agttien mense gedood word, was dit vir hulle ‘n duidelike teken dat God hierdie mense se sonde gestraf het.

Dit was egter vir die Jode moeiliker om Pilatus se gruweldade teen ander Jode as straf op sonde te sien. Veral die gerug dat Pilatus Jode, wat besig was om te offer, doodgemaak het. Blykbaar was dit ‘n geweldige gruweldaad, soos dit dan ook opgeteken is: Pilatus het die Galileërs se bloed met hulle offers gemeng.

Wat hierdie daad van Pilatus nog meer onaanvaarbaar vir die Jode gemaak het is dat dit vir hulle ongehoord was dat ‘n mens persone, wat besig is om te offer, sou kon doodmaak. In die Ou Testament het mense byvoorbeeld, wanneer hulle vir hulle lewens gevlug het, aan die horings van die altaar gaan vasklou, waarop niemand hulle daar by die altaar sou mog doodmaak nie. Indien so ‘n persoon byvoorbeeld ‘n opsetlike moord gepleeg het, moes hy eers van die altaar af weggeneem word, voordat daar met hom afgereken was.

Pilatus het egter nie geskroom om die Jode se bloed sommer daar by die altaar met hulle offers te meng nie. Juis daarom die geweldige verontwaardiging, beskuldiging en veroordeling in die woorde van die Jode aan Jesus in Lukas 13:1.

Die feit van die saak is egter, broers en susters, dat hierdie mededeling van die Jode aan Jesus oor Pilatus se beweerde gruweldaad niks meer as net ‘n gerug was nie. Daar was geen bewyse dat dit werklik plaasgevind het nie. Historiese bewyse kan ook nie daarvoor gevind word nie. Josefus, byvoorbeeld, ‘n geskiedskrywer in die tyd van Pilatus, was baie lief om al Pilatus se gruweldade neer te skryf. In al sy werke kan ons egter niks van hierdie gebeure vind nie. Dit was dus maar ‘n gerug, ‘n gerug wat die gevolg was van hoe dit maar met gerugte gaan: as ‘n persoon eers in diskrediet is, las ons maar aan. As Pilatus geld uit die tempel kon steel, daarmee ‘n toring vir afgode kon bou, kon hy net sowel ook Jode by die altaar vermoor.

Dink maar gerus, broers en susters, hoe gerugte ook maar onder ons versprei. Een sê: ‘dit is moontlik’. Die volgende een sê:‘Jy kon dit verwag het’. En ‘n derde een sê: ‘Dit gaan maar altyd so!’.

Op hierdie selfde wyse, heel waarskynlik, het hierdie gerug oor Pilatus se vergryp by die altaar onder die Jode versprei. Die vertellers en oorvertellers van hierdie gerug het die mense met emosie belaaide woorde teen Pilatus opgesweep. Heel waarskynlik met die hoop dat iemand met opgesweepte gevoelens dalk iets aan Pilatus sou doen. Dat iemand dalk kans sou sien om wraak te neem.

Dit is dan heel waarskynlik teen hierdie agtergrond dat hierdie mense in ons teks na Jesus toe gegaan het en aan Hom die gebeure oorvertel het. Nie dat ons nou moet dink dat hulle dalk gehoop het dat Jesus iets aan Pilatus sou doen nie, maar heel waarskynlik om te bepaal waar Jesus se lojaliteite gelê het. Want vir sommige van die Jode was dit nie so duidelik waar Jesus in die magstryd tussen die Jode en die Romeine gestaan het nie.

Een rede hiervoor was die samestelling van die dissipels van Jesus. Simon Petrus was deur sommiges beskou as komende van die Selote party. Die Selote party was sterk nasionalisties georiënteer en wou die Romeine met geweld oorwin. Wat hulle dan ook in 66-70 n.C. probeer het met die beleg van die tempel. Levi, aan die ander kant weer, was ‘n tollenaar, en dus ‘n Romeinse amptenaar. En Judas Iskariot, soos sy naam sê, was heel waarskynlik vroeër lid van die Iskari’s. Hulle was mense wat teen vergoeding enige persoon sou vermoor (gewoonlik met ‘n kort dolk).

Jesus se reaksie op Pilatus se gruweldaad sou dus, volgens hulle, duidelik laat blyk waar Hy staan. As Hy vir Pilatus oordeel, sou Hy aan hulle kant wees, en as Hy Pilatus nie sou veroordeel nie, sou hulle presies weet waar sy simpatie lê.

Jesus se antwoord op hulle vraag, broers en susters, is egter verrassend:‘Dink julle dat hierdie Galileërs (of dan, toringbouers) groter sondaars was as al die ander ... omdat dit met hulle gebeur het? Nee, Ek sê vir julle, as julle julle nie bekeer nie, sal julle ook soos hulle almal omkom.

Wat impliseer Jesus met hierdie antwoord? Dat vir Hom nie iets bestaan soos groot sonde en klein sonde nie. Verder is Jesus nie bereid om net die sonde van een groep raak te sien en die sonde van ‘n andergroep mis te kyk nie. Nee. Jesus sien breër. Hy sien die sonde raak van Pilatus wat verdruk en steel, maar Hy sien ook die sonde raak van diegene wat on ware stories versprei, asook die sonde van diegene wat sulke stories maar te graag opsluk en verder versprei.

Jesus sien egter ook dieper. Hy sien dat al die optredes van hierdie mense eintlik maar net die vrug is van hulle totale verdorwenheid voor God. Dat die mens nie alleen sonde doen nie, maar in sy wese, in sy menswees,sondig is. Ons doen nie alleen sonde nie, ons is sondaars. Daarom het die mens behoefte aan verlossing. En daarom roep Jesus almal weer op om hulleself te bekeer. Ook ons.

Hierdie oproep tot bekering, broers en susters, moet ons raaksien, is nie gerig tot ander mense omdat ons ons reeds tot die Here bekeer het nie. Dit is ‘n oproep wat telkens weer na ons toe kom, juis omdat ons maar telkens weer vasval in die groewe van hierdie lewe.

Is dit waar, broers en susters, dat ons telkens sien, weer en weer, keerop keer — en soms met ‘n groot skok — dat ons huweliksmaats,ons kinders, ons kollegas, ons vriende, ons opponente, ja selfs ons vyande, nie noodwendig groter sondaars as ons is nie? Voor God staan ons almal veroordeel. En daarom, sê Jesus, verdien niemand eintlik iets beters as dit wat met die toringbouers gebeur het nie.

Ons is dikwels, broers en susters, so negatief teenoor die woordjie bekering. Dit is nou nie eintlik ‘n woordjie wat werklik deel is van ons Kerk se tradisie en teologie nie. Daar word nie werklik baie daaroor gepreek nie. Veral nie in terme van ‘n oproep dat mense hulle moet bekeer nie. Nee. Dit hoort by die Metodisme, by die charismatiese.

Dit hoef nie, broers en susters. Ons moet weer hieroor gaan dink. Want in wese is bekering ‘n vreugdevolle ontdekking. Dit is om raak te sien dat alle mense voor God as veroordeeldes staan, maar as verloste/vergewe veroordeeldes, omdat Jesus reeds vir ons, in ons plek, die straf daarvoor gedra het.

Daarom is bekering nie ‘n las nie, dit is nie moeite nie, nee, dit is en begin by vreugde. Dit is nie werk nie. Dit is ‘n ontdekking. Dit is om te ontdek dat God my in liefde aansien, my in liefde ontmoet, in liefde ontvang. Dat Hy ewig my Vader is en wil wees.

En wanneer ‘n mens so verras staan voor die liefde van God, wie telkens weer en weer ontdek dat God werklik vryspreek, kyk met ander oë na die swakhede en tekorte van die mense rondom hulle. En praat sagter oor die foute en tekorte van ander.

Hoe staan u en ek, broers en susters, voor God en ander en mekaar? Met ‘n beskuldigde vinger na ander? Of met die hand op die bors? Glo ons net ander het sonde, en ons wel, maar darem so ‘n bietjie minder?

Dit kan nie! Ons almal het bekering nodig. Bekering wat nie alleen vir ons almal elke dag, noodsaaklik is nie, maar wat in wese ‘n stuk vreugde behoort te wees. Vreugde omdat bekering eintlik dit is om weer en weer te ontdek dat God my in liefde aansien. En ek daarom behoort te gaan lewe waar ek vrugte dra wat by bekering pas.

Amen