Hebreërs 11:1-3; 8-12; Psalm 32:1-5


Trek weg uit die huis van sonde!


Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

'n Rukkie gelede het ek, tydens 'n besoek aan nuwe intrekkers in die gemeente, 'n gesprek gehad wat my lank laat nadink het. Die inhoud van die gesprek het gegaan oor die implikasie van om van een plek na 'n ander te trek.

Die betrokke persoon was baie negatief oor sy besluit om van 'n dorp in die platteland na die stad te verhuis. As hy geweet het wat hy nou weet, was sy opmerking, sou hy nooit verhuis het nie. Want hieraan gekom, was sy hele ondersteuningsisteem ewe skielik weg. Syj arelange kollegas, sy vriende, was ewe skielik nie meer daar nie. Daardie mense wat deel geword het van sy eie stuk geskiedenis.

Daardie mense wie, toe sy kind baie siek was, hulle ondersteun het. Daardie mense, toe hy op 'n keer 'n baie dom fout gemaak het, hom en sy gesin ondersteun het. Daardie mense, op wie hy deur dik en dun kon staatmaak, is nou nie meer daar nie. Wat meer is, die gemeente waaraan hy so lank verbonde was, is nou ook nie meer daar nie. Daar het hy al die mense wat rondom hom gesit het geken. Om in die kerk in te stap, sê hy, was om soos by 'n groot gesin in te stap. Maar nou het hy verhuis. Hy ken niemand nie. Ook nie in die kerk nie. Hier voel hy soos 'n vreemdeling.

Om te verhuis, het hy gesê, is om sonder 'n geskiedenis, 'n verlede te word. En as hy dit vooraf mooi besef het, sou hy nooit verhuis het nie. Interessant is dat ek so 'n week gelede by wyse van e-pos dieselfde soort boodskap van 'n vriend ontvang het wat intussen geïmmigreer het.

Hierdie gesprek en brief, broers en susters, het my 'n paar dae later aan die verhaal van Abraham laat dink. Want ook Abraham moes wegtrek van sy eie familiekring, sy eie dorp, wat meer is, sy eie land. Maar nog meer: die persone na wie ek verwys het, het immers geweet waarheen hulle gaan, daar was 'n adres van bestemming. Maar nie by Abraham nie. Hy het getrek sonder om te wees wat sy nuwe adres gaan wees.

Dit is daarom broers en susters, meen ek, dat Hebreërs 11 onder andere na Abraham se verhuising verwys as 'n geloofsdaad. Want om weg te trek uit jou geskieden is, sonder 'n nuwe adres waar jy weer kan begin, is veel erger as om te trek na 'n spesifieke straat adres in 'n nuwe dorp. Want om sonder met 'n nuwe adres weg te trek is meer as om maar net jou sekuriteit, vriendekring en geskiedenis agter te laat. Dit is om jou sekerheid oor die toekoms op te gee. Want, lees die Ou Vertaling: Abraham het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom.

Hierdie geloofsdaad van Abraham, broers en susters, wil egter baie meer sê as maar net om in geloof van een plek na 'n ander te trek. Dit wil ook, en veral, sê: 'n mens se geskiedenis saam met God is nie iets wat maar net verbygaan nie. Want as jou vorige ondersteuningsbasis weggeneem word, as jou ou vriende nie meer daar is nie, jou ou gemeente, dit wat vir jou bekend was, dan kry 'n mensse geskiedenis saam met God, die pad wat jy saam met God tot hiertoe geloop het, 'n nuwe dimensie. Hoekom? Want dan is 'n mens se geskiedenis saam met God eintlik al wat oorbly.

Meer nog: toe Abraham die onbekende moes ingaan, was dit met 'n seënende opdrag. Daar in die nuwe omgewing, waar hy saam met Isak en Jakob in tente gewoon het, moes hy vir ander tot ondersteuning en seën wees. Waar hy vroeër op ander kon steun, moes ander nou op hom kon steun. Sy wegtrek was dus nie net verlies nie, maar ook opdrag en taak: 'n taak om vir ander tot seën te wees. En om hierdie opdrag te aanvaar, verg nog meer geloof.

Daar is egter ook 'n ander saak wat hier van groot belang is. Om van 'n mens se geskiedenis weg te trek, kan ook 'n verlossing wees. Want jy kan al jou domhede en mislukkings van die verlede mooi in 'n pakkie toe maak en in die asblik gooi wanneer die meubelvervoerwa wegtrek, en van voor af begin asof jy geen geskiedenis het nie.

Om te verhuis, broers en susters, kan 'n mens iets baie mooi leer van wat die vergiffenis van God werklik beteken. As God 'n mens vergewe, gee Hy ons 'n nuwe adres — so asof jy geen vorige blyplek, foute, domhede en veroordelings het nie. Dit is asof jy weer gebore word om van voor af te begin. Sonder medaljes en prestasies, maar ook sonder skuldbriewe. Jy begin as 't ware met 'n nuwe stuk geskiedenis waar jy jou kop kan optel, nuut kan begin, en met God, saam met jou, 'n nuwe mens in Christus kan word.

Dit is juis hierdie nuwe mens word en wees waarvan Psalm 32 so mooi praat. Toe hy by sy ou blyplek gewoon het (by wyse van spreke), sê die psalmskrywer, het dit gevoel of die hand van God dag en nag swaar op hom druk. Hy het gevoel of God sy vyand was. Maar toe het hy sy sonde bely. Hy het verhuis van vêr van God af tot by God. En God het hom aanvaar. Hy het hom sy sonde vergewe. En daarom, sê hy, gaan dit nou met hom goed.

Maar nog meer: wat was die uiteinde van Abraham se verhaal? Omdat hy bereid was om te verhuis, het kinders uit sy nageslag na vore gekom, 'n nageslag vir wie God Vader was en is, omdat Abraham bereid was om God op sy woord te neem.

Goue geleenthede, broers en susters, geleenthede vir werk, om iets te begin, om 'n kans gegun te word wat jy altyd nog wou gehad het, kom nie dikwels na ons toe nie. En heel dikwels kom daardie geleenthede, wanneer hulle miskien kom, net een keer na 'n mens se kant toe. Wat meer is, as 'n mens dit nie dadelik aangryp nie, al twyfel jy hoe oor jou besluit, gaan sulke geleenthede dikwels 'n mens verby.

Hoe wonderlik is dit nie dat dit by God en met God nooit so is nie. Ons het die geleentheid om elke dag, elke oomblik, voor God te verhuis van 'n lewe vol sonde na 'n lewe tot eer van God. Elke dag kan ons al ons foute in 'n pakkie toedraai en dit voor God se voete neerlê. En elke keer, daar waar ons opreg in ons bedoelings met God is, sal God daardie pakkie wegneem, en ons 'n nuwe adres en nuwe naam gee. Die naam: vergewe sondaar, die plek, by God, in sy huis. Waar ons, omdat ons naby God, voor God en by God, en daarom deur God se Gees gelei word, vir ander tot seën kan wees. Vir ander daar kan wees.

As ons egter verknog bly aan ons ou blyplekkie, daardie blyplekkie waar die sonde saam met ons woon en voor op die grasperk geil aan die groei is, sal ons nooit, soos die skrywer van Psalm 32 sê, kan sê dat dit met ons goed gaan nie. Want dan leef ons sonder God. En wie sonder God lewe, of selfs wil lewe, sal nooit werklik gelukkig kan wees nie. Want wanneer so iemand eendag wel gedwing sal word om te trek, nie van een plek na 'n ander nie, maar van hierdie lewe na 'n ander lewe, sal dit nie wees na die stad wat nie vaste fondamente het en deur God self gebou is nie.

Dit is die oordeel wat die woord uitspreek oor hulle, en ons, wat altyd maar net vêr van God af wil bly, en nie wil verhuis na daar waar ons by God, in die skaduwee van die kruis kan lewe nie.

Amen