1 Johannes 4:7-21


Die lewe kan anders wees


Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Wanneer ‘n mens vir ander mense sê dat God liefde is, gebeur dit dikwels dat mense baie sinies en verbitterd reageer teenoor so ‘n uitspraak. Kyk gerus maar na die wêreld, sê hulle. Getuig dit werklik van ‘n liefdevolle God? Want in die wêreld gebeur daar verskriklike dinge: daar is siektes wat met die mees onmenslike lyding gepaard gaan, daar is gesinne wat verskriklik lei onder die verkeerde keuses van maar net een van die lede van daardie gesin, soveel kinders word gemolesteer en verwaarloos, daar is mense wat mekaar in verhoudings vernietig, daar is die eensaamheid van mense wat alleen sit met hulle vrese, angs en pyn. Waar, sê hierdie mense, sien jy die sogenaamde liefde van God raak in hierdie omstandighede?

Verder, sê sommiges, is dit ook so dat al is daar nie ‘n spesifieke tragedie op ‘n bepaalde oomblik in ‘n mens se lewe nie, is diel ewe oor die algemeen ook nie juis ‘n bron van vreugde nie. Soveel mense ly onder die elke dag se vrees dat hulle nie sal oorleef nie, aangerand sal word, verkrag sal word, besteel/geroof sal word. Boonop, broers en susters, kan die lewe soms so sinneloos lyk. Met ‘n vervelige roetine van verantwoordelikhede. Dikwels voel ons ook so onseker van onsself. As hierdie negatiewe gevoelens ‘n mens begin ry, sit jy sommer gou in ‘n soort van depressie.

En ons weet maar te goed, broers en susters: deur hierdie skynbare sinneloosheid en gevoelens te probeer ontvlug deur te werk, deur plesier na te jaag, of wat ook al, werk nie. Miskien tydelik. Feit is: na ‘n ruk is al die gevoelens weer terug. En moet ons erken: die probleem bly. Hy lê nog steeds grootoog vir ons en loer.

Is dit enigsins moontlik, broers en susters, om uit hierdie bose kringloop van negatiewe gevoelens te breek en werklik die kwaliteitvan die lewe te verbeter? Baie sal sê nee, die Woord van God egter, sê ja! God kan die lewe vir ‘n mens nuut maak en anders maak. God kan die lewe vir ‘n mens ‘n moeite-werd-lewe maak. Hy doen dit deur Jesus Christus en deur die werk van die Heilige Gees in ‘n mens se lewe. ‘n Lewe saam met God is anders.

Dit, sal u sê, het u al baie gehoor. Hierdie redenasie dat God die lewe anders kan maak. Daarom, sê ‘n bietjie vir my: hoe anders kan God die lewe maak? Want moenie vir my kom vertel dat hulle wat glo nie ook maar kwellings, hartseer, ellende, vrees en basiese lewensangs het nie.

Die verskil, broers en susters, lê in wat ons perspektief kan noem,of miskien makliker gesê, in hoe ‘n mens kyk. Want iets wat ‘n mens anders kan sien, kan jy anders verstaan, wat dikwels die gevolg het dat jy ook anders daaroor voel. Kom ek verduidelik wat ek bedoel met ‘n voorbeeld.

Indien ‘n mens op ‘n wit bord ‘n blou vierkant so ooghoogte sou teken,en jy laat iemand reg teen die bord staan, en jy sal vra wat die persoon sien, sal die antwoord wees: blou. As jy egter die persoon vra om terug te staan en dan te sê wat gesien woord, sal die antwoord wees: ek sien ‘n blou vierkant op ‘n wit bord.

Dieselfde geld vir die lewe waarvan ons deel is. Wanneer ons in ellende verkeer, swaar kry, angs het, moedeloos is, teenspoed het, sien ons net hierdie dinge raak. Ons sien net blou. En die golwe spoel bo-oor ons. Alles lyk en voel verlore. Wanneer ons egter so bietjie terugstaan en afstand kry oor ten opsigte van ons omstandighede, dan is ons daar waar ons die blou vierkant op die wit bord sien. Dan sien ons daar is ander dinge ook in die lewe behalwe net ellende: daar is ook God, ook nog sy vergifnis, sy liefde, sy genade, sy trou. En daar is ook ander mense. Wat dikwels vir ons lief is. Miskien wil ons hulle net nie ‘n kans gee om dit vir ons te wys nie. Ja,ons kom agter dat ons klein ou wêreldjie toe nie die hele wêreld was nie, en ons tydperk van hartseer nie ons hele lewe nie.

Maar hoe doen ‘n mens dit, broers en susters? Hoe kry ‘n mens dit reg om by hierdie ander perspektief uit te kom? Dit is ‘n kuns. Want aan die een kant het ons die vrye wil om God uit ons lewe te skakel. Ons kan besluit dat ons self wil swem. Dat ons self wil regkom. Of ons kan God binne nooi in ons lewe. Deel maak van ons lewe. Dan lewe ons nie alleen nie. Hoef ons nie op eie krag staat te maak nie. Twee verskillende perspektiewe, twee verskillende wyses van kyk in die lewe. En helaas, twee stelle gevoelens wat daarmee saam gaan.

As ons vir God kies, kom die liefde van God saam met God ons lewe binne,want God is liefde. En die liefde, broers en susters, verander baie dinge. Dit sien ons seker die beste wanneer twee mense op mekaar verlief raak. Aanvanklik is alles net pragtig en reg, alles is mooi, niks is verkeerd nie. Geen foute of verskille maak saak nie. Moeilike mense word so mak soos lammetjies. Ongeduldiges word uiters geduldig. Alles word opgeoffer. Niks is te veel gevra nie. Hierdie gevoel van verliefdheid duur egter nie lank nie. En heel gou is almal terug waar hulle was.

Die effek van God se liefde duur egter voort in ons lewe. Dit hou nie op nie. Want God se groot Liefde, Jesus, het een keer aan daardie kruis gesterf, een keer vir altyd. Sy liefde vir ons hou nie op nie. Sy liefde vir ons is volmaak. Altyd teenwoordig. Wat meer is, sê Johannes, waar God se liefde is, is daar geen vrees nie, want volmaakte liefde dryf die vrees uit. Vrees vir oorlewing, vrees vir die dood, vrees vir alleen wees, die vrees om siek te word, die vrees om verlies te ly. Dit alles verdwyn, word uitgedryf, want die kind van God weet: al gebeur wat met my, niks kan my van hierdie liefde van God skei nie. Al kom ek wat oor, niks kan eintlik met my gebeur nie, want selfs wanneer ek sterf, is God se liefde daar. Dit het selfs die graf oorwin.

Wat meer is, sê Johannes, wanneer iemand God se liefde so ervaar,dan word die toon van sy lewe ook die liefde. Eintlik kan dit nie anders nie, sê Johannes, want elkeen wat God ken sal liefhê,want God is liefde. Wie nie die liefde het nie, ken God nie. Angsvallige mense, broers en susters, mense wat negatief oor alles is, mense wat alles en nog wat in die lewe vrees, is dikwels mense wat ‘n alleen bestaan voer, Want dikwels is hulle bo alles bang vir ander mense ook.

WanneerGod se liefde egter ons vrees verdryf, kry ons die moed van dieoortuiging om ons gemoed vir God oop te stel. Ons gee die Gees vanGod kans om meer en meer in ons lewens te werk So leer ons God beterken. En wie God beter leer ken, sê Johannes, sal meer en meerkan liefhê. Want God is liefde. Dit kan net nie anders nie.

Wat meer is, broers en susters, en hier sê Johannes ‘n baie interessante ding, niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons. Wat wil Johannes hier sê? Kom ek verduidelik dit ook met ‘n voorbeeld. Niemand het nog ooit die wind of elektrisiteit gesien nie. Ons twyfel egter nie aan die bestaan van die wind of elektrisiteit nie, want ons kan hulle uitwerking sien. Almal het al gesien hoe die wind ‘n boom kan ontwortel, of ‘n huis se dak kan afwaai. Al sien ons nie fisies hoe wind lyk nie, kan ons dit aan die bome sien. Daarom weet ons wind bestaan.

Dieselfde geld vir elektrisiteit. Wanneer ons die lig se skakelaar druk, sien ons niks nie behalwe dat die lig aangaan. En omdat die lig brand, weet ons elektrisiteit bestaan.

Dit is dieselfde met God, sê Johannes. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, omdat God ons liefgehad het en lief het, dan kan ander die uitwerking sien van God se liefde vir ons en in ons. En dan kan hulle nie meer twyfel aan die feit dat God bestaan nie.

Die lewe, broers en susters, is maar wat dit is. Dit is eenvoudig so. En omdat hierdie bedeling waarin ons lewe gebroke is, vol van die sonde wat ons en ander doen, vol van die bose en allerhande ander booshede, sal hierdie lewe nie verander nie. In elk geval nie voor Christus weer gekom het om alles nuut te kom maak nie.

Dit beteken egter nie die einde nie. Want al is die lewe wat dit is, en al kan dit nie verander nie, ons perspektief op die lewe kan verander.

Wat meer is: dit is ons elkeen se keuse oor hoe ons na die lewe gaan kyk, hoe ons na ons lewensomstandighede gaan kyk. Jy kan of kies vir ‘n alleen lewe met angs, waar jy net blou sien, waar jy net alles wat negatief is wil raaksien.

Of jy kan kies vir ‘n lewe saam met God, ‘n lewe waarin God met sy liefde die mens nuut maak, en elke dag nuwer wil maak. ‘n Lewe waarin die liefde van God ‘n mens so oorneem, so bestuur, so dwing,dat hy nie alleen die liefde teenoor ander gaan leef nie, maar ook raaksien dat God tog op een of ander manier in sy lewe teenwoordigis.

Wat meer is, die perspektief wat ‘n mens kies, sal ook bepaal wat jou gevoelens oor die lewe sal wees. En ons almal weet dat ‘n mens se gevoel baie kragtig is. Net so kragtig soos God se lewe. Dit is in elk geval my eie persoonlike oortuiging: wie een keer werklik God se liefde ervaar het, sy vergifnis, sy geduld, sy versorging, watter gawe van God wat ons ook al kan opnoem, kan nooit weer dieselfde wees nie. En laat ook sy omgewing nie onaangeraak nie. Want iemand wat werklik die liefde leef, sal ander God laat sien. En wie kan, broers en susters, wat God regtig gesien het, ooit weer dieselfde wees?

Amen