Genesis 28:10-22


Verstaan ons God se genade en troos?


Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:

Die Bybel is weliswaar  'n heilige boek, maar die mense van wie daarin vertel word, is heel dikwels redelik onheilige mense. Trouens, soos ons verlede week gesien het, was sommer die eerste mensepaar geen engele nie. Gelukkig ook maar dat hierdie heilige boek ons van onheilige mense vertel. Anders sou die Bybel nie veel vir ons te sê gehad het nie, want ook ons is nie altyd te heilig nie. Laat staan nog dat dit ons sou kon troos. Want slegs onheilige mense, wat soveel keer voor God op hulle knieë moet gaan staan juis asgevolg van hulle onheiligheid, het troos nodig. Soos dit ook metJ akob die geval was.

Jakob,broers en susters, oor wie hierdie gedeelte gaan, lees ons het uit 'n gewone huis gekom:

  • 'n huis met sy gebruiklike familie rusies en onenighede;
  • 'n huis waarin twee broers van tyd tot tyd, soos die jongmense onder ons sal sê, goed vasgesit het;
  • 'n huis waarin die een broer die ma en die ander broer die pa se witbroodjie was;
  • 'n huis waarin die kinders nie altyd die waarheid aan hulle ouers vertel het nie. Ons ken mos die verhaal: `Watter seun is jy?' `Ek is Esau, Pa..', het Jakob benoud velletjies-om-die-arm geantwoord;en
  • laastens:'n huis waarin ouers ook nie altyd reg opgetree het teenoor hulle kinders nie.

Jakob, lees ons, was maar niks meer as  'n tienerseun toe hy sy tasse moespak, omdat hy sy broer Esau bedrieg het, en daarom voor Esau se wraak weg na Haran moes vlug om  'n nuwe lewe te begin nie. Jakob was egter vol bravade. Hy was immers, as  'n mens sy hele verhaal lees, altyd iemand met  'n sak vol planne. Hy kon dan selfs met  'n blote pot lensiesop  'n hele erfporsie opkoop.

Waar ons hom in vanoggend se verhaal ontmoet, staan hy, by wyse van spreke, tasse-in-die-hand by  'n plek met die naam Lus. Aan die eenkant is hy bly dat hy uit die huis kon kom — soos die meeste jongmense ook maar gewoonlik bly is dat hulle nou hulle eie koers kan gaan. Maar, aan die ander kant, sien ons, is sy bravade ook maar so 'n bietjie weg. Want hy is nou alleen. Voor hom lê  'n goeie duisend kilometer tot by Haran. Sal hy die pad kry? En hoe gaan hy weet waar om sy oom Laban te vind daar in Haran, by gesê, as hy wel Haran haal? En Jakob se hart begin so  'n bietjie te bons.

En omdat dit al aand is, lei ons uit die vertelling af, besluit Jakob om maar daar by Lus te oornag. En pleks van sy lekker warm bed by die huis, druk hy op die harde grond  'n klip onder sy kop in en raak aan die slaap. En toe droom hy. Hy droom van  'n hoë kliptrap wat van die grond af tot bo in die hemel staan en van engele wat op en neer teen die kliptrap klim. En toe kom die nagmerrie deel. Hy sien God staan aan die bopunt van die trap (dit is ook hoe ons die `langs Jakob' van die NAV kan vertaal). Watter vreeslike benoudheid moes Jakob nie beetgepak het nie? Want vir  'n Ou-Testamentiese mens het God net vir een rede van sy troon af opgestaan: om te oordeel en testraf. (Dieselfde gedagte kry ons ten opsigte van die wederkomsbeeld in die Nuwe Testament.)

Jakobs e droom, broers en susters, moet ons raaksien is die droom van 'n slegte gewete. Hy het sy broer bedrieg en sy pa belieg. En nou dat hy onder sy ma, wat hom altyd beskerm het en altyd sy part gevat het,s e vlerk uit is, net toe hy dink dat dit alles agter hom is, loop hy hom in God vas. Wat sal sy lot wees, het hy seker gewonder.

Tot dusver, broers en susters, is hierdie verhaal so tipies, so eie aan die mens. Want net soos in die geval van Jakob, kom daar  'n tyd in elkeen se lewe dat die dinge wat jy aangevang het, jou inhaal. En seker het Jakob hier gedink: dit het nou met my gebeur. `Hoe skrikwekkend is hierdie plek', roep Jakob daarom in sy nagmerrie uit toe hy vir God so aan die bopunt van die leer sien staan.

En nou wil 'n mens amper sê, broers en susters, natuurlik met alle respek, dat daar seker 'n vonkel in God se oog was toe Hy vir Jakob daar op sy klipkussing sien sweet het. Hoekom? Want, hoe ongelooflik dit ook al mag klink, God was nie van plan om Jakob te veroordeel nie. Nee. Daarvoor het Hy nog te veel planne met hom gehad. En daarom, wanneer Hy met Jakob praat, sê God: Ek ken jou oupa (Abraham) en jou pa (Isak). Ek gaan saam met jou waarheen jy ook al op pad is (Gen 28:15).

Met ander woorde, broers en susters, God het toe al die tyd van sy troon opgestaan, nie om te oordeel en te straf nie, maar om Jakob te seën en hom te vertel dat Hy saam met hom die onbekende sal ingaan.

Wat 'n verrassing is dit nie, broers en susters. Maar ook watter troos, nie alleen vir Jakob nie, maar ook vir ons. Want dit laat ons weer verstom staan voor die een groot feit: God bly altyd die getroue Verbondsgod, Hy bly altyd die God wat al by ons doop vir ons gesê het dat ons Syne is en dat Hy daarom altyd na ons sal omsien. Ja, selfs wanneer ons dit hoegenaamd nie meer verdien of verwag nie. Want Jakob verdien dit beslis nie hier nie.

So, kom ons sê: Dit is die eerste iets wat Jakob se ervaring daar by Lus vir ons wil sê: God gaan altyd met ons saam. Hy is altyd by ons. Al dink ons nie altyd so nie, om watter rede ook al.

Maar, broers en susters, daar is nog  'n verrassing, nog  'n groter verrassing, in die verhaal. Jakob, en kom ons sê dit baie eenvoudig om die verhaal ook vir ons bruikbaar en van toepassing te maak, was diep in die moeilikheid toe hy die aand daar by Lus die klip onder sy kop ingedruk het:

  • by die huis was sy pa hartseer oor sy optrede;
  • sy ma was seker dood van bekommernis oor waar hy die aand sou slaap en of hy kos gehad het om te eet; en
  • sy broer het met wraak en geweld in die hart oral na hom gesoek om hom by te kom omdat hy hom so bedrieg het.

En daar, in sy groot benoudheid en onsekerheid droom hy dat hy aan die voet van die kliptrap lê wat tot in die hemel reik. Toe hy die volgende môre opstaan, sê hy: Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.... Dit is die poort na die hemel! Die plek waar hy hom nou bevind, daar is God. En waar hy ook al sal gaan, daar sal God wees. Dus: Oral sal God nie alleen by hom wees nie, maar oral sal hy ook by die hemelpoort wees. Want, desondanks alles in sy verlede, het God opgestaan van sy troon af om tot by hom te kom. Hy hoef dus nie na God te soek nie. God is altyd daar, die poort na die hemel is altyd oop.

Kom ons dink prakties, broers en susters, ook vanuit ons eie ervaring. Juis op daardie plek waar Jakob met  'n slegte gewete doodsbenoud lêen rondrol, daar waar hy dink God wil niks van hom weet nie, dat hy sonder God is, juis daar is die ingang van die hemel.

Daarom, broers en susters, en dit is die tweede saak wat hierdie verhaal ons wil laat insien, selfs al is ons onheilige mense wat soms diep in die moeilikheid is by ander, diep in die moeilikheid is wat ons omstandighede betref, maar ook in die moeilikheid by God is, is God altyd by ons.

Daarom, kyk gerus maar na jou grootste ellende, probleme of moeilikheid, kyk na jou grootste angs, nie as  'n verleentheid nie, maar asof dit die ingang van die hemel is. Hoekom? Want waar God is, daar is tog die hemel. En Hy het mos beloof dat Hy altyd saam met ons sal gaan. Dat Hy altyd met ons besig sal wees. En wanneer ons moeilikheid groot is, is God nie alleen daar nie, maar hy is daar om so met ons te werk dat ons so tot Hom terugdraai dat die hemel se poorte weer oopgaan.

Ons kan daarom glo: soos God vir Jakob, toe hy meen hy sou geoordeel word, verras het, so sal God, en wil God, ons ook elke dag verras. En wel op soveel maniere dat ons nie anders as Jakob sal kan sê nie: Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie. God is hier by my, al wou ek dit nie glo nie.

Ek sluit af: U en ek moet dit aanvaar, broers en susters: moeilikheid, teleurstellings en benoudheid sal daar altyd in die lewe wees. Of dit nou die gevolg is van die gebroke aard van die wêreld, of die gevolg van ons eie dade. Maar ook kan ons aanvaar: God gaan met ons saam. En omdat Hy met ons saamgaan, is die mees onwaarskynlike plekke — ook die plekke waar ons in vertwyfeling sit oor ons verlede en daarom selfs probeer om vir God weg te kruip —  'n poort tot die hemel. Want waar God ons in sulke plekke besoek, het Hy net een rede: om ons te seën, om ons tot insig en terugkeer te bring. Al wat God van ons vra, is dat ons hierdie versekering van God in die geloof sal toeëien.

God is nooit vêr nie. Selfs daar op ons elkeen se ashoop sal ons, as ons mooi kyk, goed nadink oor God se beloftes, goed nadink oor God se beloftes tydens ons doop, by wyse van spreke  'n kliptrap met duisend engele sien wat ons met God en die hemel verbind. En bo op die trap sal ons God sien staan, gereed om saam met ons te gaan. Selfs al is ons onheilige verbondsmense.

Terwyl God egter ook vir ons vra: En jy, wat gaan jy doen? Ek sal by jou wees. Maar waar sal jy wees?  'n Navolger van Christus, of navolgers wat gereed is om die onheilige pad te loop?

Indien ons, broers en susters, die aard van God se genade en troos in hierdie gedeelte verstaan, sal hierdie keuse vir ons baie maklik wees!

Amen