Jeremia 15:10-18; 17:5-13


Erediens as opening van die Predikantevergadering van 11 September 2002


ONS TREE TOE TOT DIE ONTMOETING

Voorspel en dan direk Gesang 171:1,2 (staande en bly staan tot na lofsange)

Ons wag in stilte vir die begin van die ontmoeting met God…

 

ONS ROEP U AAN

As Votum: Gesang 272 deur die soliste.

 

Gemeente, genade en vrede vir julle kom van God ons Vader, van Jesus Christus ons Here, deur die kragtige werking van die Heilige Gees.

 

Gesang: 204 in kanon vorm:

1 maal almal saam.

Regterkant van saal sing 3 maal

Linkerkant van saal sing 2 en ‘n half maal

 

ONS LOOF U

Ps111

Gesang:  201

 

ONS AANBID U

Terwyl ons net so bly sit, kom ons bid saam:

Ons Vader wat in die hemel is, ons weet en glo dat daar geen ander gode is wat langs U geplaas kan word nie. U is die enigste ware God; die God wat die hele grote kosmos geskep het en dit tot vandag in U hande hou. U is die God wat beheer uitoefen – al verstaan ons niks van hoe U dit doen nie. U is die God wie se liefde nooit vir ‘n oomblik ophou nie – al verstaan ons nie dat so ‘n oneindige liefde moontlik is nie. U is die God wat met ons ook vanoggend ‘n ontmoeting wil hê – al verstaan ons nie hoe dit moontlik is dat die ewige God op so ‘n manier in die tyd intree nie.

Ons erken vanoggend ons afhanklikheid van U; ons totale gerigtheid op U. Ons weet Here dat ons geen enkele tree kan gee sonder U nie. En ons bely dat ons ook geen enkele tree wil gee sonder U nie. In Jesus Christus het U vir ons die Herder gegee wat ons lei, wat ons voed met die brood van die lewe en wat vir ons as Oorwinnaar oor die dood die lewe gebring het.

O Here, U weet wat alles in ons wêreld en in ons land gebeur. U sien die onreg en die liefdeloosheid. Hoor ons tog as ons so vir ons land en vir ons volk by U intree…

Sing as deel van die gebed: Gesang 282:1,3,4 (sittend)

En ons moet erken, O Here, dat die omstandighede wat ons soms in die gesig moet staar ons in ons geloof laat wankel. Daar is ook in ons, wat die bedienaars van U Woord moet wees, soveel wisselvalligheid en soms te min toewyding vir die roeping wat U op ons geplaas het. Hoor ons tog O Here as ons voor U bely dat ons geloof klein is. Hoor ons wanneer ons bid vir gehoorsaamheid en krag vir die taak wat in hierdie wêreld vir ons wag. So bely ons ook ons afhanklikheid van U vir alles…

As deel van die gebed: Gesang 285:1,2 deur soliste

Ons weet dat ons vir geen enkele oomblik in ons lewe alleen is nie. Deur U Gees is U by ons, is u so naby dat ons glo dat U in ons woon. Ons besef egter Here dat ons nie U Woord in ons omstandighede kan hoor soos dit U wil is nie – behalwe as die Heilige Gees U Woord vir ons oopmaak nie. Voor ons dan vanoggend U Woord gaan lees vra ons van Uom U Woord vir ons verstaanbaar te maak en dat U ons deur U woord sal heilig vir ons bediening. Hoor ons as ons van U vra dat U ook in die erediens vanoggend, ons deur U Gees sal vul en ons sal omvorm tot U eer…

Sing as deel van die gebed: Gesang 442:1 (soliste) en 2 (gemeente)(sittend)

Alles wat ons hier gevra het en gesing het bid ons in die naam van ons Here Jesus Christus. Soos Hy ons geleer bid het, so kom ons na U toe. Soos Jesus Hom op U gerig het, so rig ons onsself op U. In sy Naam vra ons dat U ons gebed sal hoor…

Sluit die gebed af met sing van Gesang 278 (twee maal voor Amen; sittend)

 

ONS LUISTER AS U MET ONS PRAAT

Die akteur, Woody Allen, wat sover ek weet uit ‘n Joodse agtergrond kom, het op ‘n stadium die volgende uitspraak gemaak: As daar ‘n God is en Hy is almagtig, dan is daar een ding wat oor Hom gesê moet word: Hy is ‘n ontsettende onderpresteerder. Dan het Hy die vermoë om baie meer te doen en baie meer in te gryp in die wêreld as wat ‘n mens om jou sien. En die eerste gevoel wat in ‘n mens opkom as jy die woorde hoor is om summier kwaad te word vir die afvallige jood, maar as jy ‘n bietjie daaroor dink, dan word sy opmerking iets wat jy nie so maklik van die tafelafgooi nie. Veral as jy al in jou eie lewe met sinlose dinge –baie keer sinlose swaarkry - gekonfronteer is, dan voel ‘n mens baie maklik dat God darem hier of daar meer kon ingegryp het; meer sy almag ten toon kon stel; meer van ‘n verskil kon maak. Hy sou mos baie meer eer ontvang het as mense kon getuig dat God op ‘n bonatuurlike manier in hulle lewe ingegryp het en hulle situasie verander het.

Neem nou maar net wat die afgelope week gebeur het:

 ‘n Man en vrou wat probeer vir jare om ‘n kindjie te hê en dan word die vrou swanger. Net om vyf maande later haar baba te voel sterf nadat sy deur aanvallers met bakstene aangerand word. Waar sou daar ‘n beter plek gewees het vir die almag van God om na vore tekom en ‘n verskil te maak?

 Enkele dae gelede word nog ‘n paar honderd boere van hulle plase in Zimbabwe gedwing. Daar het waarskynlik der duisende gebede van oor die hele wêreld opgegaan om God te vra vir sy ingrype in daardie omstandighede. Daar was soveel geleentheid vir Hom om in tegryp; soveel geleentheid om die hartseer en die onreg wat Hy sê Hy haat oor gelowige mense te keer. En tog sien ons op die TV hoe verdwaasde mense alles agterlaat en met ‘n bakkievrag of twee vol besittings moet oor begin.

 Vandag is 11 September. ‘n Jaar gelede was ons almal geruk deur wat in New York gebeur het. 1000’e onskuldige mense – waarvan baie Christene was – word deur mense wat deur haat gedryf is vermoor. Hoekom het God daar nie ingegryp nie? Is dit dan nie waar dat God ‘n onderpresteerder is, dat Hy tot soveel meer in staat is as wat Hy doen nie?

‘n Mens is bang om selfs die vrae te vra. ‘n Mens is bang om selfs opmerkings soos hierdie te oordink, maar tog is daar baie van ons wat met tye al daarmee geworstel het. Ek lees nou die dag dat ‘n teoloog skryf dat daar drie vrae is wat waaroor gelowiges baie keer wonder, maar huiwerig is om te verwoord: Hoekom lyk dit so baie asof God nie regverdig is nie? Hoekom is God so stil? Hoekom is God so moeilik om te vind?

En miskien is die vrae en die ontnugtering wat uit daardie vrae straal, miskien is dit een van die redes waarom ons as dominees, as pastoriegesinne baie keer so moedeloos voel. Ons het in ons gemeentes en in ons eie lewens met soveel hartseer te doen, met soveel onbeantwoorde gebede te doen dat ons hierdie ontnugtering soms self beleef. Miskien is dit dalk selfs een van die redes waarom so baie van ons kollegas die kerk vaarwel roep en op ‘n ander plek gaan heenkome soek: hulle voel ontnugter met God, met die kerk. Hulle het iets anders verwag, iets meer verwag. Dalk is daardie drie vrae ook ons vrae.

Is God nie onregverdig teenoor ons en ander gelowiges nie – veral as ons dink dat ons ons hele lewe gee om sy Woord te verkondig. Ons gee ons tyd, ons energie, ons lewe en in die proses offer ons ons gesinne op, welvaart van ‘n ander beroep op en wat gebeur? Ons kry swaar. Ons vrouens kry swaar. Ons kinders kan nie hanteer wat alles gebeur nie. Ons gemeentes krimp. Al hoe meer van ons moet deelsorg standplase oorweeg. Maar dit alles sou draaglik gewees het as dit al was.

Maar nou is God nog stil ook met ons. Daar is soveel keuses wat ons moet maak – ook in ons bediening - waarvoor ons God se leiding afsmeek en dan hoor ons nie wat God vir ons wil sê nie. En as ons dan nog dink dat ons seker is van God se wil, dan eindig daardie paadjie in ‘n fiasko. As God dan ‘n plan vir my en my lewe het, waarom sê Hy dit nie net vir my en ek sal die paadjie loop nie? 

En dan gebeur dit so maklik dat ‘n mens begin wonder maar waar is God dan? Sondag na Sondag moet ek op die kansel staan en dit word net al hoe swaarder; ek voel ek het al minder om te sê. Vir my wat so na God soek, wat dit so nodig het om iets van sy ingrype in my lewe en my bediening te beleef, waarom voel Hy so afwesig?

En dis vrae soos die wat ‘n mens aan die binnekant opvreet, wat jou in jou werk en jou geloof verlam. Die sanger Bruce Springsteen het in ‘n liedjie gesing: God have mercy on the man who doubts what he’s sure of… En dit sê iets van die ingrypende gevolge as ‘n mens begin twyfel in iets waarvan jy seker is. Dis wat gebeur as jy as predikant/vrou ontnugtering met God, met die kerk beleef.

En dan is dit ongelooflik om die Bybel oop te maak en te sien dat ons nie die eerste sterflinge is wat hierdie tipe van vrae vra nie. Ons is nie die eerste gelowiges wat voel dat hulle iets anders, iets meer van God verwag het nie. Ons is nie die eerstes wat soms twyfel oordie dinge waarvan ons so seker is nie.

In Jeremia 15 lees ons van die skokkendste woorde wat daar in die Bybel opgeteken is – woorde wat ons dood eenvoudig nie in die Woord van God sou verwag nie. Ons lees daar, in verse 10, en 11: Ellende het my getref , toe ma my in die wêreld gebring het. Ek is ‘n man wat dwars deur die land mense moet beskuldig en met hulle moet twis. Ek het aan niemand iets geleen nie en by niemand geleen nie, tog vervloek almal my. Die Here het belowe: Ek laat jou op die volk los, maar ten goede; Ek sal vir jou by jou vyande voorspraak doen in tyd van nood en rampe.

Indie verse vervloek die profeet sy geboortedag. Oral waar hy gaan word hy snaaks aangekyk deur die mense en word hy verag. En dis so anders as wat hy die beloftes van God verstaan het. Hy het verwag dat sy werk iets ten goede gaan meebring, dat God vir hom voorspraak sal doen, maar dis nie wat gebeur nie.

En dan lees ons in vers 16 weer iets van wat sy aanvanklike gedagtes was met sy roeping en hoe dit uitgewerk het: Ek het U woorde verslind toe hulle gekom het; hulle was vir my ‘n vreugde. Ek was bly daaroor dat U Naam oor my uitgeroep is, Here almagtige God. Ek kon nie sit waar daar gesels en gelag word en dit saam geniet nie; U het my in besit geneem en ek moes alleen sit, vol van die verontwaardiging wat van U af kom.

Vir baie van ons is die woorde dalk ongelooflik na aan ons eie situasie: Daar was die onkeerbare vreugde in ons harte toe ons besef het dat God ons in sy diens wil gebruik. Daar was entoesiasme by ons, want ons kan diensbaar wees. Ons kan help om ‘n verskil te maak. En daarvoor sal ons ons lewe gee.

En dan slaan die ontnugtering so hard deur in vers 18: Waarom is daar nie ‘n einde aan my pyn nie? Waarom is my wond ongeneeslik en wil dit nie gesond word nie? Ek kan nie op U reken nie, net so min as op ‘n stroom wat nie standhoudend is nie. 

Waarom gryp U nie in nie, Here? Waarom maak U nie gesond nie? Het U dit dan nie belowe nie? En die gevolgtrekking op die antwoordlose vrae van Jeremia? Ek kan nie op God staatmaak nie, net so min as wat ‘n mens in die woestyn kan seker wees, kan vertrou dat daar water sal wees in ‘n rivierloop wat net water het na groot reëns, net so min kan ‘n mens jou op God verlaat.

En dalk voel ons nou dat ons maar vir die jong Jeremia langs Woody Allen moet laat staan voor die vuurpeloton. Of dalk hoor ons iets van ons eie ontnugtering en ons eie emosies as bedienaars van die woord, as profete van God in die 21steeeu. Maar as ons hier die verhaal van Jeremia ophou lees, dan is ons met ‘n halwe waarheid besig. Na Jeremia 15 kom Jeremia 17 – ‘n hoofstuk wat baie eksegete sê dat ons daar ‘n stuk geloofsbelydenis het van Jeremia. Daar het iets in Jeremia se lewe gebeur wat hom met ander oë laat kyk het na God en na sy eie roeping en in Jeremia 17 vind ons iets van sy nadenke daaroor. Hier is ‘n gelowige aan die woord wat deur sy droë tydperk gekom het – heel en nader aan God.

En hoor dan hoe hy sy geloof verwoord en let op die verwysings na water teenoor droogte en woestyn. Van te vore het hy God beleef as ‘n droë rivierloop waar daar nie water te vinde was nie, maar hierkom iets anders na vore:

Lees Jeremia 17:5b-8 en 13: Daar rus ‘n vloek op die mens wat sy vertroue in mense stel, wat sy krag soek by sterflike mense en van My af wegdraai; hy is soos ‘n kaalbossie in die droë wêreld wat nooit water kry nie; ‘n bossie wat in ‘n klipwoestyn staan, in ‘n brak wêreld waar niemand woon nie. Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is; so iemand is soos ‘n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, wat nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ‘n droëjaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie. Here, Hoop van Israel, wie van U af weggaan, kom bedroë daarvan af; wie van U af wegdraai is vir die dood opgeskryf, want hulle verlaat die Here, die bron van die lewe.

Met woorde wat ons aan Psalm 1 herinner bely die profeet dat die enigste mense wat werklik droogte beleef, is die wat hulle vertroue op mense stel. Maar hulle wat op God vertrou, hulle wat hulle wortels na God toe uitstoot, hulle ervaar alles behalwe droogte. Hy betig homself as’ t ware dat hy ooit kon dink dat God hom sal verlaat. Vir ‘noomblik het hy sy rug op God gedraai, en toe het hy iets van droogte beleef. Hy het beleef dat hy sy rug draai op die fontein van Lewende water. God is op geen manier ‘n droë rivierloop waarop ‘n mens eerder nie jou vertroue moet stel nie. Miskien kan dit so lyk as ‘n mens te vinnig met menslike oë kyk wat net die oppervlak raaksien – dis wat hy van te vore gedoen het, maar die water is dalk nie bo die grond nie. In die woestyn sien ‘n mens die onderaardse waterstrome (en dis presies waarvan gepraat word) juis aan die groen plante wat in die dorre woestyn staan, maar hulle wortels is in die water. Oppervlakkige kyk met menslike oë sê vir jou daar is nie water nie – niks kan lewe en groei nie. Maar die gelowige wat sy wortels na God toe uitstoot, wat daar by God vasgemaak is en geanker is; wat hom in alles op God rig, beleef water, oorvloed, lewe – selfs in die dorre woestyn.

Nou wat het gemaak dat die man so ‘n reg omkeer gemaak het? Wat het hom die nuwe oë wat dieper as die oppervlakte kyk, gegee? Wat het gebeur om hom te verander van die ontnugterde jong man tot die doelgerigte profeet wat hierdie geloofswaarhede met die koning deel? Daar moes seker ‘n ongelooflike groot wonderwerk plaasgevind het,want ek sal ook my ontnugtering laat staan as God in my lewe met ‘n wonderwerk ingryp. Nee, dis nie wat gebeur het nie. Geen bonatuurlike ingrype nie. Geen donderslae nie. Geen stormwinde wat waai nie. Al wat gebeur het is dat Jeremia die Here ontmoet het. God het met hom gepraat. En in die gesprek het God eintlik maar net vir hom gesê dat wat hy in sy tyd van ontnugtering gevoel het, nie waar was nie. Hy verseker vir Jeremia dat ‘n mens wel op Hom kan reken; dat Hy die fontein van heil is, die bron van alle lewe. Toe Jeremia met die woorde van God gekonfronteer is, het alles verander.

En miskien is daar iemand wat dink: maar my ontnugtering en soeke sal ook ophou as ek God net kan ontmoet, as ek hom net kan hoor praat, as God so kan ingryp. Daar was nie vir Jeremia bonatuurlike ingrype nie– net woorde, maar vir Elia selfs nog iets minder indrukwekkend. Die profeet Elia, toe hy ‘n swaar tyd in sy bediening beleef het, ‘n insinking beleef het, droogte beleef het en God hom wou ontmoet, het hy ook vir sy ontmoeting met God verwag om God in die rukwind, in ‘n aardbewing of vuur te sien – alles tekens van God se bonatuurlike in grype in die wêreld. Maar van sy verwagting om God daar in daardie dinge te ontmoet kom niks. In die alledaagsheid van die fluistering van die windstilte ontmoet God hom. Daar is niemand wat ‘n windstilte as bonatuurlike ingrype sal beskryf nie, maar dis juis in daardie nie-opspraak-wekkende gebeure waar God daardie profeet ontmoet, hom weer op sy voete tel en ‘n visie gee vir sy bediening wat voorlê.

Ons as nuwe Testamentiese gelowiges weet selfs nog beter as Jeremia dat ons, as ons oor God praat, nie bloot na die oppervlakte met menslike oë kan kyk nie. Ons weet dan dat op die oomblik toe die wêreld die meeste van God verlate gelyk het, toe alles op sy hopeloosste gelyk het, daar op Golgota, juis daar was God nader en meer besig om kragtig in te gryp as op enige stadium voor dit. Maar dis net ons geloofsoë wat daardie visie moontlik maak. As ons met geloofs oë kyk, dan sal ons sien dat God besig is om te werk – selfs daar waar dit op die oppervlakte na niks spesiaals lyk nie – selfs in die niksheid van stiltes.

Broers en susters, dit wat met Elia en Jeremia gebeur het is niks meer indrukwekkend as wat met ons gebeur in ‘n erediens soos onderandere vanoggend nie. Die Drie-enige God is ook vanoggend hier om met ons ‘n ontmoeting te hê – ook met die van ons wat ontnugterd voel. En elke erediens, elke liturgie is niks anders as ‘n nie-opspraakwekkende ontmoeting met God nie. Van buite af lykdit nie of enige iets bonatuurliks gebeur nie, asof die Heilige Gees nie eers hier is nie, maar gewone sterflinge kom in God se teenwoordigheid en praat met Hom, lê hulle harte voor Hom oop, ook hulle vrese en hopeloosheid, ook hulle ontnugtering. Maar die erediens is ook die geleentheid waar ons na God kan luister, waar ons weer vrede en berusting kan kry, waar ons kan hoor van sy liefde in Jesus Christus. Dis ‘n geleentheid waar ons ons geloof in die fontein van lewende water kan bevestig. Dis die geleentheid waar ons kan ophou praat en kan luister – ook na die stiltes.

Die ontnugtering wat ons soms beleef, dring ons om met meer as net menslike oë te kyk na ons lewe, ons omstandighede, ons bediening. Om God te ontmoet in gewone alledaagse dinge vra van ons om meer as net oppervlakkig te kyk en te luister na waar ons God kan vind. Om God deur die liturgie in ‘n erediens te ontmoet vra dat ons met geloofsoë kan kyk en met geloofsore kan luister – na alles wat in die erediens gebeur. En dis op die nie-opspraakwekkende manier wat ons ook vanoggend met ons God in ontmoeting kon tree. En dalk kon van ons ook in ons ontmoeting met God vanoggend weer nuwe visie kry vir ons bediening van die evangelie van Jesus Christus; kan ons aangeraak voel, omdat ons God ontmoet het en Hy weer ons geloofsoë op ons omstandighede en ons wêreld oopgemaak het. Maar Hy het ons ook weer belowe dat ons op Hom kan reken; dat Hy ook vir ons ‘n fontein van heil en die bron van lewende water is wat ons aan die lewe sal hou in die woestyn land waar ons moet deur.

En in wat ons nou gaan sing, gaan ons ook ons geloof verwoord soos Jeremia, dat ons ook in ons donker tye God se nabyheid en vrede beleef en dat God se liefde altyd by ons is. Maar ons gaan terselfdertyd dit van God afbid dat Hy ons ook in ons lewe en ons bediening sal lei, sal behoed en bewaar.

Amen

 

ONS ANTWOORD  U

Sing as antwoord op God se Woord: Gesang 581:1-3 en Gesang 281:1-3(staande)

 

ONS GAANUIT

Broeders en susters, ons kan vandag hier uitmekaar gaan met die vaste wete dat God oor ons sy seënende hand hou…

 

Gesang 311:1,2 (Staande; gedeelte deur voorsanger word deur soliste gesing en gedeelte deur gemeente word deur die vergadering gesing.)

 

Die genade van ons Here Jesus Christus en die liefde van God sal byelkeen van julle wees en bly, saam met die teenwoordigheid van die Heilige Gees in julle lewe – elke oomblik van elke dag.

 

Gesang 314 (twee maal die hele lied; staande)