Jeremia 45, Openbaring 5:1-7


God luister fyn


Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:

Wanneer laas kon 'n mens die nuus op televisie of op die radio hoor sonder dat daar onthullings was van een bedrogspul op die ander, die een moord erger as die ander? Dit is bankrotskappe en afdankings, werkloosheid en geldloosheid en stygende inflasie en belastings. 'n Mens voel soms of die lewe heen en weer voor jou verbystap en die slegte nuus teen so 'n spoed die lewe dikteer dat jy nie eers meer kans kry om alles wat jy hoor, te registreer nie, wat nog te sê dit alles te verwerk. Jy voel maar net om eerder hande in die lug tegooi.

Jeremia 45 vertel van iemand in wie se tyd dit nie veel beter gegaan het nie. Baruk, die sekretaris van Jeremia, het al dié profeet se profesieë op 'n boekrol neergeskryf. Dit is toe aan koning Jojakim, die regeerder van die dag, gestuur. Maar die koning wou nie daarop ag slaan en dit hoor nie. Daar waar hy voor die kaggel in sy paleis sit, sny hy die boekrol stukkie vir stukkie stukkend en gooi dit in die vuur.

In Jeremia 36:27-28 staan daar: `Nadat die koning die boekrol verbrand het met alles daarop wat Jeremia vir Baruk gedikteer het om te skryf, het die woord van die Here tot Jeremia gekom: vat vir jou 'n ander boekrol en skryf daarop al die woorde van die vorige rol wat deur koning Jojakim verbrand is'.

En daar begin Jeremia weer heen en weer in die vertrek te stap en Baruk skryf van voor af: Voor die geluid van die ruiters en boogskutters uit slaan elke stad op vlug; hulle hardloop die bosse in, hulle klim tussen die rotse in. Elke stad lê verlate, sonder 'n enkele inwoner...Wie sal vir jou jammer wees Jerusalem, wie sal met jou medelye hê? Wie sal afdraai en kom vra hoe gaan dit met jou?...Ja, elke broer is 'n onderkruiper en elke vriend 'n kwaadsteker. Hulle bedrieg mekaar...hulle is gewoond om te lieg...Moet hulle nie vertrou as hulle vriendelik met jou praat nie. Ek het my volk verlaat, hulle wat aan my behoort het, prys gegee....

So dreun Jeremia se stem deur die vertrek totdat Baruk dié slegte nuus net nie meer kan hanteer nie. Terwyl hy so skryf sug hy by homself: dit is klaar met my. Die Here voeg net nog lyding by my smart. Ek is al uitgeput van al die kla. Ek soek net 'n bietjie rus (Jer 45:3). Jeremia hoor nie eers sy sekretaris se sug nie. Sy stem dreun maar voort. Maar dan, ewe skielik, bly Jeremia stil.

Hy ontvang 'n nuwe boodskap — dié een wat Jeremia 45 geword het: `n Woord van die profeet Jeremia aan Baruk seun van Nerija, toe Baruk opgeteken het wat Jeremia vir hom gedikteer het. So sê die Here die God van Israel oor jóu, Baruk...'.

Jeremia het sy sekretaris se gesug nie gehoor nie, maar God het wel. Natuurlik het God gehoor, broers en susters, want om te hoor wanneer mense sug, wil ek amper sê, is God se spesialiteit. Het Hy dan nie Hagar se gekerm in die wye Arabiese woestyn gehoor toe Ismael wou doodgaan van dors nie? En het Hy nie die gekreun van die Israeliete in hulle Egiptiese slawerny gehoor nie? En het Hy nie ook die smekende Hanna in die tempel, die sugtende Elia onder die besembos en die swetsende Jona onder sy wonderstruik gehoor nie? God, broers en susters, en dit kan u en ek maar sonder enige voorbehoud glo, hoor waar mense sug, hoor waar mense smeek, ja, hoor selfs waar mense nie eers meer die krag oor het om te sug nie.

Laat ons daarom maar met oorgawe sug as die slegte nuus op die televisie of oor die radio op ons afkom. Die bekende Nederlandse digter was verkeerd toe hy gesê het:

Snik maar

want van hier tot God

denkt om ons lot

niemand, niemand!

God, broers en susters, dink aan ons lot. Hy hoor ons sugte. Maar Hy hoor nie net nie — God antwoord ook ons sugte. Hoekom? Want God weet wat 'n sug beteken. Sê Paulus dan nie in Romeine 8:26 dat die Heilige Gees die goddelike Boodskap draer is wat ons onuitspreekbare sugte tot in die hemel dra en dit dan in hemeltaal verander nie?

Ook in die geval van Baruk. Want wat hier besig is om te gebeur is dat God Jeremia se diktaat onderbreek om eers vir Baruk 'n boodskap te stuur. Met ander woorde, God onderbreek 'n diktaat oor nasionale en internasionale politiek en ekonomie om na 'n enkeling om te sien: `Die Here sê ek moet vir jou sê...Wat Ek gebou het, slaan Ek plat, en wat Ek geplant het, ruk Ek uit'.

Ek weet hoe jy voel Baruk, sê God. Maar weet jy hoe voel Ek? Wat Jeremia vir jou dikteer en jy daar neerskryf, gaan oor die vernietiging van my eie handewerk. Wat my 700 jaar geneem het om te laat wortelskiet, moet Ek nou laat uitruk.

En voor ons vra, broers en susters, en voor ons sê: Handel God nie hier 'n bietjie te kras en drasties nie, kom ons vra ook: Is dit nie wat die mense nog al die eeue aan God gedoen het nie? Wat God op die sesde dag as die pronkstuk van sy skepping gemaak het, moes Hy, as gevolg van die mens se optrede, uit die paradys jaag. Daarna was dit die sondvloed, toe die toring van Babel, toe Sodom en Gomorra. En later Jesus wat aan 'n kruis gespyker word omdat die mens nie God se boodskap wou hoor nie. En nou is dit God se eie volk, wat Hy juis vanweë hulle sugte uit Egipte verlos het, wat uitgeruk moet word.

Die ellende, broers en susters, wat op die aarde aangaan, al die bedrog en onderkruipery en kwaadstekery waarvan Jeremia praat en wat maar ook deel van ons wêreld is, gaan egter nie agter God se rug of langs Hom verby nie. God sê nie maar ook soos ons soms sê,`Ag sies tog', en kyk dan ander pad nie. Nee. God het meer as maar net oppervlakkige meegevoel. Hy het ook medelye. Letterlik, medelye. Want God is betrokke in ons lyding en by alle lyding. So betrokke dat Hy bereid was om sy hemelse woning te verlaat en in sy Seun 'n blote nommer te word op die sensuslys van keiser Augustus. Om as 'n gewone hande arbeider tussen die blikplate en houtsnysels in 'n Nasareense timmermanswinkel te gaan werk. So betrokke was Hy by menslike ellende, dat hulle sonder God was op grond van hulle sonde, dat gewone mense Hom aan 'n kruis kon vasspyker.

Daarom, broers en susters, maak nie saak hoe u voel nie. Maak nie saak hoe oor u bekommernis en ellendes voel nie. Maak nie saak hoe u oor die wêreld voel waarin u moet leef nie. Die gesukkel en gespartel om elke dag sinvol te kan bestaan, die geweld en die sinlose moorde van ons tyd, die korrupsie en bedrog, die werkloosheid en die stygende pryse, inflasie en rentekoerse — niks gaan ongesiens agter God se rug verby nie.

Toe die apostel Johannes na Patmos verban is, waarvan ons in Openbaring lees, omdat gewone gelowiges in die Romeinse ryk nie eens meer hulle godsdiens kon beoefen nie, wou hy ook, soos Baruk, hande in die luggooi. Maar toe sien hy 'n visioen. Daar lê 'n sewevoudigeverseëlde boekrol waarin die toekomstige geskiedenis van die wêreld opgeteken staan. En hy brand om te weet wat daarin staan. Want wie weet, miskien is daar tog êrens 'n tikkie hoop.

Maar dan kan niemand in die hemel of op die aarde gevind word wat die boekrolle kan oopmaak om 'n blik op die toekoms te gee nie. En Johannes gaan aan die huil van moedeloosheid. Maar dan sê een van die ouderlinge in sy droom vir hom: `Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda...kan die boek met die sewe seëlsoopmaak (Op 5:5). En toe Johannes deur sy trane opkyk om die Leeu te sien, sien hy 'n geslagde Lam wat daar staan.

'n Geslagde Lam. 'n Lam verwond deur die wêreldgeskiedenis. Deur 'n geskiedenis van oorloë, magsmisbruik, massamoorde. Wat ook nie opgehou het , soos dit hierdie afgelope twee weke weer en weer op ons televisieskerms die hoofnuus was nie. En die Lam se hande, het spykermerke en bloei. Sy lippe is gebars van dors en dit vorm  'n kreet: `My God, my God, waarom het U my verlaat?' En sy voete, waarmee Hy op stofpaaie en nogmaals stofpaaie geloop het om iets te verkondig wat die wêreld 'n ander plek sou maak, is stukkend.

God, broers en susters, ken angs. Hy ken geweld. Hy ken verraad en korrupsie. Want in sy Seun het Hy dit alles as mens kom deurmaak. Hy weet wat dit beteken om alleen in die hele wêreld te wees. Hy weet wat dit beteken om verwerp te word, selfs deur jou eie familie. Hy weet wat dit beteken om die sondebok gemaak te word vir alles. Hy weet wat dit beteken om nêrens welkom te wees met 'n boodskap wat alles kan verander nie. En in al hierdie dinge is Hy by ons, in al ons ellendes en die ellendes wat oor ons gebring word of nog oor ons mag kom, al is dit nie deur sy toedoen nie. Hy is tussen ons in dit alles, besig om die geskiedenis te stuur in die rigting van die sewende seël, waar alles volmaak, sonder ellende en hartseer en sugte en bekommernisse, sal wees.

Die sewe lydensweke vroeg elke jaar, broers en susters, die sewe Sondae voor Goeie Vrydag waarin ons aandag gee aan die lyding van Jesus Christus, wat elke jaar tragies so ongesiens by ons verbygaan, sê vir ons: Julle is nie alleen in hierdie wêreld en in al julle sugte en ellendes nie. Kyk, daar staan tussen julle 'n geslagde Lam. Maar as julle mooi kyk, sal julle sien daardie Lam is in werklikheid die Leeu van Juda, die Een wat in en deur die graf die magte van die chaos reeds oorwin het.. En daardie oorwinning is besig om gestalte aan te neem midde-in die chaos waarin ons lewe. Dit is die perspektief wat Johannes aan sy lesers wil gee. God sal finaal kom, en God sal finaal aan al hierdie dinge 'n einde bring.

Nou lees ons in Openbaring 5, broers en susters, dat toe hierdie perspektief oopgemaak is, die groot menigte engele in Johannes se droom 'n nuwe lied begin sing het. En terwyl hulle nog die laaste akkoorde van hierdie lied sing, bars die hele skepping in 'n loflied uit, alles in die hemel en op die aarde en op die see, 'n loflied te midde van al die chaos en ten spyte van al die ellendes en lyding wat die hele wêreld beleef — om solank die oorwinning te begin vier.

Ons kan ook dieselfde doen, broers en susters, te midde van al die dinge wat ons op die nuus hoor en in ons eie lewens persoonlik beleef. Ook ons kan 'n voortydse loflied sing, omdat ons weet dat God ons angs ken, ons bekommernis en alles wat daarmee gepaard gaan. Want ook vir ons geld Johannes se boodskap: Al lyk dit nie so nie, God is in beheer. En al voel ek dalk nie nou so nie, God hoor my sugte, want God is 'n spesialis in die hoor daarvan. Gaan lees maar u Bybel as u nog nie oortuig is nie.

Ek wil afsluit met 'n laaste saak, en probeer om net ook 'n ander perspektief op hierdie hele saak te gee. Jesus, tydens sy omwandelinge op aarde, het ons reeds gesê, het op talle wyses self lyding, swaarkry en ellendes beleef. Dit het Jesus nie onaangeraak gelaat nie. Inteendeel. Juis omdat hy verwerping beleef het, het Hy die opgesoek en getroos wat verwerping van die samelewing beleef het. Juis omdat hy gesmag het na God se teenwoordigheid in sy lewe, het Hy God by almal teenwoordig verklaar. En juis omdat Hy ook ander se verkeerde en selfsugtige dade teenoor Homself beleef het, het Hy onvoorwaardelik vergewe. Sy ervaring van lyding dus, sy eiesugte, het Hom gebring dat Hy nie anders kon om by ander se lyding betrokke te raak nie.

En dieselfde geld vir God. Juis omdat God ly onder wat ons soms aan onsself, aan ander en ook aan Hom doen, omdat God dus weet wat dit beteken om te ly, soos Hy byvoorbeeld gely het onder sy volk se ongehoorsaamheid hier in Jeremia 45, raak God betrokke by ander se lyding. Al ly Hyself, doen Hy alles om ander in hulle lyding by te staan. Juis omdat Hy weet wat dit beteken, en hoe dit voel, om te ly onder dit wat sy kinders aan Hom doen.

Dieselfde behoort vir ons te geld, as ons dan sê ons is kinders van God en broers en susters van Jesus Christus. Die oomblik wat ons begin tel onder diegene wat getroos word deur die feit dat God met alles in hierdie wêreld tog op pad is na die einde, 'n einde wat beter sal wees, volmaak sal wees, dat God tog in beheer is, al dui niks in die wêreld vir ons daarop nie, moet ons ook soos God en Jesus in hierdie verband word.

Wie ervaar dat God sy/hy se sugte hoor, wie ervaar dat God in die grootste hartseer en eensaamheid tog teenwoordig is, se ore en oë moet dus oopgaan om ook die sugte van ander te hoor, moet ook ander se wonde begin raaksien. Daarvan is Jeremia, Baruk, God en Christus vir ons voorbeelde.

Met ander woorde, getrooste mense, mense wie se sugte gehoor is, behoort mense te word wat uiteindelik self troosters word waar bedrog op bedrog volg en moord op moord, waar stygende pryse en belastings nie ophou nie. Waar mense in eensaamheid vergaan en gebuk gaan onder allerhande laste wat ons soms nie eers kan beskryf nie.

Die vraag is dus: Is ons sulke troosters? Of bly ons maar net sug? Dalk, as ons by ander se sugte betrokke raak, dit begin hoor, sal ons agterkom dat ons eie sugte sagter behoort te wees.

Amen