Job 38:1-9


Dit is die Here wat die gesindheid toets


Geliefdes van ons Here Jesus, die teksvers vir ons prediking kom uit Spreuke 17vers 3: “Silwer word in ’n smeltkroes gelouter en goud in ’n oond, maar dit is die Here wat die gesindheid toets.”

Broers en susters, ek is seker dat die meeste van ons al die nuutste gier -eintlik is dit ook nie meer so nuut nie — gesien het. Ek praat nou eintlik van rolskaatse. Nie daardie goed waarmee ons aanvanklik oor die weg gekom het nie. Nee, dié goed word Rollerblades genoem, en glo my, dit is regte nekbrekers, iets waarmee jy baie vinnig ’n lewenspolis kan laat uitkeer. Het julle al probeer om met daardie goed oor die weg te kom? Wel, jou eerste probeerslag eindig gewoonlik pynlik, vol blou kolle en ’n gekrenkte eer! Het julle al gesien hoe lyk iemand wat vir die eerste keer met dié goed probeer skaats? Sjoe, so ’n persoon is vol bravade as hy vir die eerste keer sy rolskaatse aantrek! Immers, wat kan nou so moeilik daaraan wees om te skaats? Maar net as daardie persoon gedink het dat hy nou die tegniek bemeester het, koop hy vir hom ’n stukkie aarde. Tog, dit is darem nie heeltemal so erg nie, want hy staan weer op. Vir ’n lang ruk gaan dit goed, maar dan ... net as dit vir jou lyk of jy die kuns bemeester het, gebeur daar weer iets en dan lê jy weer pens-en-pootjies in die lug. Wat nou?! Wel, jy tel jouself nog ’n keer op ... skraap die moed bymekaar, en vertrou steeds dat dit mettertyd beter sal gaan. Ag, jy is nog nie eers behoorlik op jou voete nie, dan doen jy weer ’n ander akrobatiese toertjie waarvoor jy aanvanklik nie beplan het nie! Nou lê jy eers so ’n bietjie om asem te skep. Kyk,  aan die begin staan ’n mens maklik op, maar na so ’n paar harde valle, is dit nie meer so maklik om op te staan nie. Dan begin ’n mens wonder of dit ooit die moeite werd is om weer op te staan en weer eens te probeer. Moet jy nie maar eerder jou rolskaatse uittrek en moed opgee nie?

Ag, gemeente, dit is presies hoe jou eie lewe vandag ook is. Ja, ons lewe is net soos die eerste probeerslag van iemand met rolskaats aan. Ons lewensverhaal klink byna net soos hierdie skaatser wie se bene wankelrig is; wie telkens pens-en-pootjies in die lug lê; en elke keer as hy moet opstaan, word dit al hoe moeiliker. Soms word ons werklik moeg daarvan om weer oor te begin. Iewers moet daar darem ’n perk wees! As jy eers so ’n paar terugslae in die lewe gehad het, is jy beslis nie meer lus om voort te gaan nie. Nee, jy voel sommer lus en pak jou goedjies op en verkas na ’n beter heenkome!

Dit is juis dáár as ons so platgeslaan is, dat ons met al daardie “Waarom?” en “Hoekom?”-vrae begin. “Waarom,Here? Hoekom ek, Here?” Klink dit nie dalk bekend nie? Ja, hoe baie keer het sommige van ons nie ook so gevoel nie? Maar hierdie is egter nie net ’n tendens van ons tyd nie. Nee, ons hoef net te gaan kyk na die verhaal van Job om te sien dat dit so oud soos die berge is. Ook vir Job, die vroom en opregte man, het hierdie lewensverloop sekere implikasies ingehou. Ons is tog almal bekend met die verhaal van Job. Later het sy drie vriende, Elifas, Bildaden Sofar gekom om hom te vertroos. Job en sy drie vriende het toe met mekaar begin redeneer oor God en oor Job se teëspoed. Verdien hy hierdie rampe of nie? Volgens sy vriende moes hy wel iets verkeerd gedoen het, want God straf die mens nie verniet nie. Job antwoord met ’n besliste “NEE!” Job gaan selfs so ver om vir God te roep as getuie. Hy smeek van God om net iemand te stuur om vir sy vriende te wys dat hy, wat Job is, onskuldig gestraf word. Job kry egter geen antwoord nie. Keer op keer bid hy en smeek hy dat God Homself tog net moet bewys as regverdig.

Broers en susters, hier in hoofstukke 38 en 40 kom God uiteindelik aan die woord. Ná alles wat Job en sy vriende gesê het oor God, antwoord God uiteindelik. En hét Job nie hierna uitgesien nie! Nou sal God mos sy kant van die saak voor sy vriende regstel, en hulle wys dat hy onskuldig ly!

Maar Job was nie gereed vir wat toe met hom gebeur het nie! ’n Mens sou kon verwag dat God nou vir Job alles moes verduidelik. Dink net hoe bly sou Job gewees het as hy besef het dat hy, onwetend, hom vroom voor God gedra het. Dan sou hy al sy krisisse en ellendes kon begryp het. Nee, so maklik is dit darem ook nie. Inteendeel, dit is nog erger vir die arme Job. God gee geen verklaring vir sy optredes nie ... nog minder maak Hy verskonings vir sy handelinge. Job het juis gebid dat God sy hand moes wegtrek van hom af, en dat God moes rekenskap gee oor waarom hy so moes ly! Maar wat doen God egter? As ons hier lees, dan lyk dit vir ons asof God eerder sarkasties met Job is. God bestook Job ook so met vrae, dat Job kwalik kans kry om Hom daarop te antwoord.

Ons moet egter begryp dat binne die raamwerk van die regstryd tussen God en Job, God eintlik vir Job iets wil leer oor Homself as God, en oor sy raadsplan met die mens. God wil vir Job wys dat Hy almagtig is, terwyl Job eintlik nietig is, en dat hy nie die reg het om God se raadsplan te bevraagteken nie. God se raadsplanne is heilig, met ander woordedaar is geen gebrek of tekortkoming nie; geen byvoeging of weglatingte kort nie; niks daarin is te veel of te min nie. Juis daarom is die raadsbesluite van God vir die beperkte en sondige verstand van die mens so onbegryplik. Durf ’n nietige mens dit dan bevraagteken? Job was juis besig om God se bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie. Daarom beveel God ook vir Job om gereed te maak vir die stryd: “Ek sal vra, antwoord jy My.” Ja, God daag Job as’ t ware uit om Hom verkeerd te bewys!

Geliefde gemeente, sommer die heel eerste vraag wat God aan Job stel, vee sy argumente van die tafel af. God begin met vrae oor sy skeppingswerke, en sy eerste vraag: “Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?” werp al Job se argumente omvêr. Wysheid gaan immers saam met ouderdom! As Job wou antwoord op Godse vrae aangaande die skepping, dan moes hy by die skepping aanwesig gewees het. Maar Job was toe nog nie eers gebore nie. Daarmee is die saak al eintlik beslis, maar God gaan onversteurbaar voort met sy vrae.

In hierdie gedeeltes sien ons dat God Hom nou regstreeks tot Job wend, en hom vra of hy werklik ’n saak teen die Almagtige wil maak, want as hy wil, dan het hy nou die geleentheid om te antwoord op God se antwoorde. Job was egter so diep onder die indruk van God se grootheid en wysheid, dat hy eintlik stom geslaan is. Al wat hy kon uitkry was: “Ek sal liewer stilbly.”

Eintlik het Job geweet dat hy nie opgewasse sal wees teen God se vrae nie, want reeds in hoofstuk 9 vers 3 lees ons dat hy sê:As jy ’n saak teen Hom sou wou voer, sou jy Hom nie eers op een vraag uit ’n duisend kan antwoord nie.” En, dit is juis wat God nou met Job doen. Hy laat hom voel dat dit wél so is. En dít maak vir Job baie klein. Hy kry nie eers kans om God te antwoord nie. Nee, hy bly maar eerder stil. Stilswye is egter nie ’n skulderkenning nie, en Job trek ook nie sy saak terug nie. God soek egter iets meer van Job as bloot stilswye, en daarom gaan Hy voort om Job te stoomroller met Sy grootheid en almag.

Broers en susters, weer eens sê God vir Job om homself gereed te maak vir die stryd. Die vrae waarmee Hy nou vir Job stoomroller is van ’n heeltemal ander aard. Hierdie keer gaan dit nie oor die grootheid en almag van God nie, maar oor Job se verwyte dat God onregverdig met hom gehandel het. God vra van hom of hy vir God skuldig wil verklaar sodat hy vrygespreek kan word. Het Job dan vir God veroordeel? Beslis! Hoor net so ’n bietjie hier wat sê hy in hoofstuk 19 vers 6: “Weet dan dat dit God is wat my die onreg aandoen ...”,en in hoofstuk 9 vers 22: “...of ’n mens skuldig of onskuldig is, God vernietig jou tog”, en in vers 23 sê hy: “...God lag oor die wanhoop van die onskuldiges.”

Dit is ernstige beskuldigings, en nou vra God aan Job of hy die mag het wat God het. Job weet dat hy nie die mag het wat God het nie. Inteendeel, vir hom is dit geen kwessie nie, maar wat hy eintlik wil weet is of God met Sy almag reg laat geskied. En dit is ’n egmenslike bedenking, want by mense is besit van mag nie ’n waarborg van regverdigheid nie. Nou doen God aan Job ’n ironiese voorstel. God stel voor dat hulle hulle rolle omruil. Hy sê as’ t ware vir Job om regter te speel: “Maak asof jy God is, Job!” Indien Job dan so magtig soos God kan wees dat hy trotse en goddelose mense kon vernietig, sou God vir Job as die oorwinnaar in hulle stryd beskou. Indien Job wel hierdie rol sou kon vervul, sou dit egter impliseer dat hy homself ook moes vernietig, want hy is juis ook eenvan dié wat homself teen God verhef. Ja, Job se oorwinning in die stryd sou impliseer dat hy homself moes vernietig, en dit kan tog nie! Om aanmerkings te maak oor God se werk, is een ding, maar omdit self beter te doen, is iets heeltemal anders.

Geliefdes van ons Here, Jesus Christus, nadat God Job so gestoomroller het met Sy almag en soewereiniteit, het Job geen ander keuse gehad as om God daarop te antwoord nie. Sy houding tot God het nou in twee opsigte verander: eerstens, Job besef dat hy verkeerd en sonder insig gepraat het van God se raadsplan, en tweedens, hy besef ook nou dat dit eintlik fataal is om met God swaarde te kruis.

Toe Job dít besef, kon hy ook bely: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as.” As Job sê dat hy God ontmoet het, dan bedoel hy daarmee dat hy God ontmoet het soos wat God Homself geopenbaar het. Sy insig oor God het verdiep. Hy het die soewereine God ontmoet! Dié God wat nie nodig het om rekenskap te gee vir Sy optredes nie. Dié God wat Skepper en Regeerder van alles en almal is. God is vrymagtig ... Hy kan maak soos Hy wil ... Hy hoef ook nie antwoorde te verskaf op Job se baie vrae nie.

Julle sal ook onthou dat Job aanvanklik stil gebly het toe hy God se almag in die eerste gesprek besef het, maar dat God meer wou gehad het. God wou hê dat Job Hom moes ontmoet as die soewereine Skeppergod. En Hy kry dit toe ook reg. Job bely: “Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp nie: U wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie.”

U weet, broers en susters, Job het goed geweet dat God die soewereine God is. Hy het dit dan selfs aan die begin bely toe hy in hoofstuk 1 vers 21 gesê het: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.” Nou wat het dan verkeerd gegaan dat hy begin twyfel het?

Miskien moet ek die vraag anders stel. Hoekom begin ons twyfel aan God se almag en wysheid as dinge regtig begin skeef loop vir ons? Ons weet tog dat Hy die enigste lewende God is. Ons bely dit immers Sondag na Sondag in die eredienste. Ons sê maklik vir ander mense: “Ag,man, vertrou net op God.” Dit is egter makliker gesê as gedaan! Job het ook maklik die woorde geuiter in die begin, tog ...later het hy selfs vir God beskuldig as onregverdig. Hoekom?

Gemeente, die oplossing van Job se probleme het nie gelê in ’n verklaring deur God oor hoekom hy so moes ly nie, maar in sy persoonlike ontmoeting met die soewereine God. Nou hoe ontmoet ons, as moderne gelowiges, dan vir God in ons tye van teëspoed en rampe? Nêrens anders as juis hier in die erediens en in sy Woord nie!

En dit help ook nie dat ons net oor God praat nie, maar ons het nie self ’n persoonlike verhouding met Hom nie. Vir 37 hoofstukke van hierdie boek word daar deur Job en sy vier vriende oor God geredeneer, oor God gepraat en oor God gedink. Die mooiste, die opregste en van die beste teologie word in hierdie 37 hoofstukke gesê, en tog ... tog het Job nie ’n antwoord op sy probleme gekry nie. Hoekom nie?

Wel, eers in hoofstukke 38, en verder, word daar vir die eerste keer direk met God gepraat,  en ’n persoonlike verhouding met God opgebou. Net soos wat dit absoluut niks vir Job gehelp het om met sy drie vriende te redeneer oor God se grootheid, Sy wonderlike dade en Sy almag nie, net so min gaan dit vir ons help om net oor God te praat. Ons kan al die mooiste en wonderlikste dinge van God sê, maar dit gaan ons nie ’n oplossing vir ons probleme gee nie. Nee, ons moet eerder met God praat as oor God! Eers toe Job met God in direkte gesprek gekom het en ’n persoonlike verhouding opgebou het, het hy ’n antwoord op al sy probleme gekry!

Geliefdes van ons Here Jesus, in hierdie deurmekaar en verwarde wêreld soek die mens juis na sekerheid. Nou watter groter en beter sekerheid kan ons dan hê as ons geloof in Christus?! Geloof is tog juis die antwoord van die mens op God se eis dat ons moet antwoord op sy Seun, Jesus Christus, se roepstem. In en deur Jesus Christus bou ons tog ook vir ons ’n persoonlike verhouding op met God. En die sekerheid van ons geloof lê daarin dat,  niks watoor ons kom of wat met ons gebeur, ons van die liefde van God kan skei nie. Ons geloof in Christus is meer as genoeg wat ons nodig het vir ons saligheid.

En daarmee wil die boek Job elke gelowige oproep om op ’n ander manier na hulle verdriet, hulle lyding, en hulle teleurstellings te kyk - om nie te vra “Waarom?” nie, maar eerder “Waarnatoe?”. Ja,waarnatoe is God met my op pad heen?

Broers en susters, mag ieder en elk van ons vandag die wete in ons harte saamdra dat God sy skepping só volgens Sy heilige wil bestuur en regeer, dat in hierdie wêreld niks sonder Sy beskikking sal gebeur nie. En mag ons ook besef dat die antwoorde vir ons baie vrae en probleme nie geleë is in menslike redenasies en antwoorde nie, maar in ons persoonlike verhouding met God.

Amen