Johannes 6:16-21; Markus 6:45-52


Wonderwerke gebeur dikwels na middernag


Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Dit is een ding om swaar te kry as jy weet dat jy iets verkeerd gedoen het, as jou swaarkry of ellende die direkte gevolg van jou eie ongehoorsaamheid of verkeerde dade is. Dit is egter  'n heel andersaak om swaar te kry, juis omdat jy die regte ding gedoen het.

Die dissipels, broers en susters, het daardie aand op die bootjie in die middel van die onstuimige see, glo, ek presies so gevoel. Want het hulle nie maar net presies gedoen wat Jesus vir hulle gesê het nie? Jesus het gesê: klim in die skuit, en toe maak hulle so.

Hulle het sy opdrag nie bevraagteken nie, hulle het dit eenvoudig gehoorsaam. Hulle kon eintlik regtig beswaar gemaak het. Dit was per slot van rekening reeds aand en donker. Verder het die wind al begin waai, wat sou beteken dat die see heel waarskynlik later onstuimig sou word. Maar toe Jesus sê hulle moet in die skuit klim, het hulle gemaak soos Hy sê.

Met die gevolg waarvan ons in ons gelese gedeelte gelees het: die wind het harder en harder gewaai, die see het al hoe onstuimiger geword, vir ses kilometer het hulle teen die see met die roeispane gestoei en, vertel Johannes, Jesus was weg, `Hy was nog steeds nie by hulle terug nie'.

Presies het hulle gemaak soos Jesus gesê het, en kyk waar het dit hulle laat beland: in die donker nag in die middel van  'n stormsee met Jesus nêrens te sien nie. En dit alles, nie omdat hulle ongehoorsaam was of verkeerd gedoen het, maar omdat hulle gehoorsaam was en presies gemaak het soos Jesus gesê het.

Hierdie soort van situasie gebeur dikwels ook in ons lewens. Want wanneer dinge in ons lewens soms ook skeef loop, en dit vir ons lyk of alles om ons onbeheerbaar uitmekaar begin bars, dit alles terwyl ons nie verkeerd gedoen het nie, dan besef ons ook soos die dissipels daardie aand op die oop see, dat reg doen en gehoorsaam wees nie beteken dat ook ek nooit in my lewe sal swaarkry nie.

Vra dit maar gerus vir die egpaar wat jare al sukkel om  'n kind te hê, maar dit gebeur eenvoudig net nie. Of vra dit gerus vir die eerbare boer wat sy oes op die mark aflaai om maar net te hoor die mark was oorskot en sy groente het gelê en vrot word. Of vra dit aan die jongmens wat die regte standpunt ingeneem het, om maar net daarvoor gespot te bly word. Of die man wat sy vriend vergewe het, om maar net weer ingeloop en bedrieg te word. Almal het die regte ding gedoen, die regte ding wat nie vrede en rus gebring het nie, maar swaarkry en moeilikheid.

So was dit daardie aand met die dissipels op die see. Hulle het die regte ding gedoen, maar die wind het bly waai, en die skuit het bly skommel. En bo alles, Jesus was weg.  'n Mens kan jou maar net voorstel hoeveel keer hulle in die donker ingetuur het, hoeveel keer hulle na Hom geroep het, hoeveel keer hulle gewonder het hoekom Hy solank vat om na hulle toe te kom.

Hoekom doen God dit soms aan ons ? Die antwoord is eintlik eenvoudig: omdat God ons liefhet. En kom ons gaan dink vanoggend 'n bietjie dieper oor hierdie vraag en antwoord. In sy weergawe van hierdie gebeurtenis, vertel Markus aan ons (in Mark 6:48), dat Jesus gesien het dat sy dissipels baie swaar teen die wind geroei het. Dwarsdeur die nag, vertel Markus ons, het Hy hulle gesien. Deur die storm het Hy hulle gesien.

Maar nog het Jesus bly wag. Het Hy bly wag om na hulle te gaan, omdat Hy die regte tyd wou kies om hulle uit hulle situasie te verlos. En toe Hy besluit het nou was die regte tyd, het Hy na hulle gegaan.

Wat het dit die regte tyd gemaak? Ek wil eerlik wees: ek weet nie. Waarom was dagbreek beter as die middel van die nag? Ek ken die antwoord nie.

Ook nie die antwoorde op die volgende vrae nie. Hoekom wag God tot al ons geld op is? Hoekom wag Hy tot die siekte al ver heen is? Hoekom wag Hy tot iemand al op sy sterfbed lê, voor hy gebede om genesing verhoor? Hoekom wag Hy om in te gryp nadat iemand al soveel skade aan ander gedoen het? Hoekom rek Hy sekere dinge uit, voordat Hy dit laat gebeur?

Ek weet nie, broers en susters. Maar wat ek wel weet, is dat God se tydsberekening altyd reg is. En dat God altyd vir ons gee wat vir ons die beste is. Lukas 18:7 stel dit pragtig: `Sal God dan nie aan sy kinders, wat dag en nag na Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag?'

Al hoor ons soms niks, God is besig om te praat. En al sien ons soms niks, op een of ander manier is Hy besig om te handel. Wat meer is: by God gebeur niks per ongeluk nie. Want alles wat met ons gebeur, is daarop gemik om ons nader aan Hom te bring.

En hiervan wil ek vanoggend net een voorbeeld noem: Die direkte roete vanaf Egipte tot in Israel neem net elf dae per voet. God het egter besluit om die volkie Israel met so 'n effens langer pad soontoe teneem, 'n pad wat maar net veertig jaar lank was. Waarom het Hy dit gedoen? Deuteronomium 8:2-4, meen ek, antwoord hierdie vraag baie duidelik: `Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te maak en op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie. Hy het jou laat swaarkry, jou laat honger kry en jou toe met manna gevoed…. Hy het dit gedoen om jou te leer dat 'n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.'

Kom ons dink net  'n bietjie wat God in die woestyn alles met en aan Israel gedoen het. Hy het hulle trots weggeneem. Hulle ongeduld. Hulle opstandigheid. Hy het hulle harte getoets. Maar ook het Hy voorsien, Vergewe. Ongelooflike geduld betoon. Wou Hy hê dat hulle die beloofde land moes bereik? Natuurlik! Maar Hy was meer begaan daaroor dat hulle voorbereid daar moes aankom as dat hulle gou daar moes kom.

God is dus altyd met ons besig in ons swaarkry. En heel dikwels is dit vir Hom belangriker hoe ons by die einde van ons moeilikheid kom, as dat ons vinnig daarby kom. Wat meer is, God doen vir ons verder iets baie besonders terwyl ons so in ons swaarkry en bekommernis leef: En dalk sal u baie verbaas wees as u hoor wat Hy ook vir ons doen: Hy bid vir ons.

Dit sê Markus 6:46 baie duidelik: Jesus was nie in die skuit saammet die dissipels nie omdat Hy teen die berg opgegaan het om te bid. En toe die dissipels begin sukkel, het Hy nie opgehou om te bid nie. En toe Hy hulle hoor roep, het Hy bly bid. Wat meer is, is dat Jesus nie verander het nie. want kyk wat lees ons in Hebreërs7:24-25: `Omdat Jesus vir ewig bly…kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in tetree.'

Waar laat dit ons ? Wat verwag God van ons? Wat staan ons te doen terwyl Hy besig is om vir ons te bid en ons in een of ander lewens storm vasgevang is? Die antwoord is maklik. Ons moet maar net doen wat die dissipels gedoen het. Ons moet roei. Al is dit hoe swaar, hoe aanmekaar.

En roei ons nie ook maar elke dag in ons lewens nie ? Ons staan op. Ons sit in die verkeer vas. Ons maak kos. Ons handel takies af. Ons betaal ons rekeninge. Party van ons ruil doeke om. Ander doen weer huiswerk saam met die kinders. Alles roetine, oor en oor. Soms met meer gesukkel as sukses. Met meer geworstel as rus. Met meer teleurstelling as sukses.

'n Christen se lewe, broers en susters, en dit weet ons reeds teen hierdie tyd, is nie net bekoring en vol betowering, sonder moeite en gesukkel, net omdat ons God se kinders is nie. En dit leer ons soms op harde maniere. Baie van ons het byvoorbeeld gedink die huwelik is niks anders as  'n lang afspraak met my meisie nie. Of gedink dat om kinders te hê soos baba oppas is. Of dalk gedink die maatskappy wat my in diens geneem het alles sal wil hoor wat ek vir my kwalifikasie geleer het. En wat gebeur toe?

Toe vind ons uit dat die lewe nie so eenvoudig en net rooskleurig is nie. Want die wittebrood was gou verby. My baba het  'n tiener in die volste sin van die woord geword. En my werkgewer laat my al die sleur takies doen. Dit, broers en susters, is roei. Harde roei.

Natuurlik is daar ook tye van voorspoed en blydskap in ons lewens. Ons kry soms ook deel van die vrolikheid, maar ons kry ook ons deel van droë toebroodjies. En dit is wat hierdie gedeelte vir ons wil sê: om eersgenoemde te kan kry, om die beloofde land te kan ingaan, moet ons soms eers laasgenoemde verduur, sodat ons voorbereid die land in besit kan neem.

Ek sluit af: God kom nie altyd na ons toe wanneer ons wil hê Hy moet nie. Hy gee heel dikwels die uitkoms lank nadat ons meen dit al moes gebeur het. God kom egter op die regte tyd. Al gebeur die wonderwerk in my lewe eers na middernag, na diepe donker.

Daarom moet ons nie tou opgooi nie. Nooit ophou roei nie. Want God is te wys om ons te vergeet, te vol liefde om ons seer te maak. Wanneer ons Hom nie sien nie, moet ons nie ophou vertrou en hoop nie. Want al sien ons Hom dikwels nie, soos die dissipels daardie aand op die see, en al lyk ons omstandighede stikdonker, Hy is besig om  'n gebed vir ons te bid,  'n gebed wat Hy later self gaan verhoor.

Amen