Johannes 18:1-11


Lesse uit die tuin


Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

 'n Tuin was nog altyd vir my  'n simbool van lewe. Dit is  'n plek waar blomknoppe oopbars, wat plante uit die grond oopstoot, wat heel eerste met sy bloeisels die lente aankondig,  'n plek wat nuwe lewe gee.  'n Plek wat die moeite werd is om lief te hê en te beskerm. Want blomme is broos, en plante is kosbaar. Daarom trek ons gereeld die bossies uit,  beheer die peste en insekte, en maak soms selfs  'n voëlverskrikker in die tuin staan.

Bo alles, broers en susters, en beslis nie aangename woorde vir ons kinders om te hoor nie, verbied ons dikwels ons kinders die tuin met al hulle balle, krieketkolwe of wat ook al. Hulle mag speel, maar nie verwoes nie, hulle mag uitbundig wees, maar net nie met die tuin lol nie. En net so, broers en susters, moes Satan dieselfde les leer: moenie met  'n tuin lol nie — veral nie  'n tuin wat aan die Vader behoort nie.

En kom ek verduidelik dadelik wat ek hiermee bedoel. In  'n sekere sin is die verhaal van die Bybel  'n verhaal van twee tuine: die tuin Eden en die tuin Getsemane. In Eden het Adam tot  'n val gekom. In Getsemane het Jesus egter standpunt ingeneem. In Eden het God na Adam gesoek, in Getsemane het Jesus na God gesoek. In Eden het Adam vir God probeer wegkruip, in Getsemane het Jesus uit die graf te voorskyn gekom. In Eden het Satan Adam na  'n boom geneem wat tot sy dood gelei het, in Getsemane het Jesus na die kruis gegaan wat tot ons lewe gelei het.

Satan, broers en susters, was nooit na die tuin van Eden genooi nie. Hy het nie daar gehoort nie. Niemand wou hom daar hê nie. Maar hy het soos 'n slang in God se tuin ingeseil om God se kinders te vergiftig. En wat meer is, dit is al wat hy van toe af tot vandag toe nog doen. Want het hy nie maar ook al in  'n paar van ons heilige tuine ingeseil nie, broers en susters?

Ons noem byvoorbeeld die huwelik heilig,  'n heilige tuin, by wyse van spreke. Ons praat van die huweliksaltaar, wat God se teenwoordigheid in elkeen van ons huwelike impliseer. Maar praat ons byvoorbeeld altyd in die huwelik met mekaar op so  'n manier asof God daar teenwoordig is? Het ons as huweliksmaats altyd met mekaar die nodige geduld soos God met ons het?

Verder, broers en susters, het ons die manier om heilige ede af te lê en plegtige beloftes te maak. Veral in die kerk, seker God se mooiste tuin (of altans, so behoort te dit wees). Wanneer ons ons kinders doop, maak ons beloftes om  'n goeie ouer te wees. Of wanneer ons belydenis van geloof aflê, belowe ons om ware kind van God te wees. Of ons belowe om broers en susters van mekaar en vir mekaar te wees, of dalk  'n lojale vriend vir iemand. Maar Satan spits sy ore as hy hierdie beloftes hoor. `Ons sal sien', gryns die vader van die leuen as hy ons op hierdie oomblikke toekyk en aanhoor.

 'n Laaste voorbeeld.  'n Kind is heilig in God se oë. Die onskuld van die jeug, die vreugde van kindwees. En gaan lees maar gerus weer die evangelies: in  'n wêreld waarin kinders geen waarde en status gehad het nie, waar oorbodige kinders op ashope agtergelaat is, in die strate uitgestoot is, het Jesus nooit, maar nooit, sy rug 'n enkele keer op een kind gedraai nie.

Maar Satan, broers en susters, verag kinders. Hy het babas om die lewel aat bring om Moses dood te kry. Hy het suigelinge laat vermoor om Jesus te probeer vernietig. En sy taktiek het nog nie verander nie. Miljoene babas word jaarliks geaborteer, en duisende kinders word feitlik daagliks misbruik, gemolesteer of mishandel.

Hierdie voorbeelde, broers en susters, wil  'n mens amper half outomaties die vraag laat vra: is daar een tuin in hierdie lewe, een plek, wat Satan nog nie bygekom het nie? Is daar een terrein in hierdie lewe waar hy nog nie soos 'n ongewenste slang ingeseil het nie? Noem maar op: hy is in die kerk, sy teiken is ons kinders, ons morele waardes, ons gemeenskap, ons reinheid, ons beloftes, ja, selfs al ons eerlike en opreg bedoelde voornemens.

Maar ook ons, broers en susters, u en ek. Ons is ook sy teiken. Ons wat geroep is om heilig te wees. Ons wat geskape is om heilig te wees. Ons wat een kant gehou word om God se goeie werke te doen. Ons wat niks minder as die spogblomme in God se tuin is nie. Wie van ons, broers en susters, het nog nie die voet van die indringer Satan in ons lewens gehoor en gevoel nie?

Met ander woorde, wat Satan in Eden gedoen het, doen hy vandag nog. Maar gelukkig ook, broers en susters, en dit is die belangrikste wat en vanoggend nog gesê het, moet ons een ding baie goed weet: net soos die Satan vandag nog doen wat hy in Eden gedoen het, doen Jesus vandag nog wat Hy in Getsemane gedoen het. Hy eis wat heilig is, weer op, Hy sal nie maar net in stilte toekyk terwyl Satan dit wat heilig, dit wat aan God behoort, ondermyn nie. Want op die regte oomblik staan Jesus altyd op, praat hy, neem Hy beheer oor, en dan struikel en val Satan.

Presies soos wat in Getsemane gebeur het. Kyk goed wat Johannes ons hier vertel. Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte indiens van die priesterhoofde en die Fariseërs, en hulle het daaraan gekom met lanterns, fakkels en wapens. Dit wil sê: die magtiges uit elke mag wat daar bestaan het, die mag van die Romeine, van die tempel, van die gemeenskap, van die Jode en selfs van die dissipels.

Bymekaar getel, meen sommiges, was hulle dus nie alleen meer as tweehonderd nie, maar die beste wat Israel kon oplewer.  'n Afdeling soldate (die Griekse woord wat hier gebruik word is speira) was altyd meer as 200 man, die tempelpolisie was van die beste — hulle wat die tempel tydens die besigste tyd van die jaar moes beskerm. Dus, Satan het sy werk goed gedoen: meer as 200 man om met  'n enkele Timmerman en sy elf vriende af te reken. Die hel het seker gejuig. Daar was geen manier vir Jesus om te ontsnap nie. Satan het elke uitgang verseël. Sy luitenante was enige gebeurlikheid te wagte.

Maar, vertel Johannes ons, elke uitgang was bewaak behalwe een. Want Jesus het geen begeerte gehad om te probeer ontsnap nie. Want Hy het nie na Getsemane gekom om terug te val nie. En wat die soldate in die tuin gekry het was nie  'n lafaard nie, maar  'n oorwinnaar.

`Wie soek julle’, het Jesus gevra, vertel Johannes ons. En toe hulle antwoord: `Jesus van Nasaret’, is Jesus se antwoord eenvoudig en duidelik: `Dit is Ek!’. En wat gebeur toe? Almal het teruggedeins en op die grond neergeval. En weer vra Jesus: `Wie soek julle?. En weer sê hulle: `Jesus van Nasaret’. En dan antwoord Jesus:`Ek het julle mos gesê dit is Ek. Vat my maar as julle wil, maar laat die mense wat by my is toe om weg te gaan’.

Hierdie toneeltjie, broers en susters, is myns insiens niks anders as ongelooflik merkwaardig nie. Hoekom? Die vyand staan  'n paar tree van Jesus af maar herken Hom nie. Nie eers Judas weet dat dit Jesus is wat voor hom staan nie. Ook nie vreemd nie, broers en susters. Want om Jesus in die lewe raak te sien is veel meer as maar net 'n kwessie van die oë; dit is eerder  'n saak van die hart.

Die toneeltjie in die tuin is egter nog meer merkwaardig. Ek wil amper sê: as dit nie so plegtig was nie, sou dit eintlik baie komies gewees het. Want net een woord uit die mond van Jesus en meer as twee honderd soldate val op die grond neer met 'n geroesmoes van skilde, swaarde en fakkels.

Maar die belangrikste. Die merkwaardigheid van hierdie toneel in die tuin moet nie maak dat ons die boodskap/simboliek/les daarvan miskyk nie:as Jesus spreek, val Satan. Verder: as Jesus spreek, praat Hy nie net nie — Hy beveel. Neem my maar, maar laat die ander gaan.

Stel uself dit voor.  'n Jood, ongewapen, wat meer as 200 Romeine met swaarde opdrag gee.  'n Afvallige uit Nasaret in Galilea wat die tempelwag in Jerusalem hiet en gebied. En geen woord kom uit hulle monde nie. Niemand sê: `Jy is hier nie in bevel nie, Nasarener!’. Niemand sê: `Bly jy stil, ons sal vat wie ons wil nie!’. Inteendeel. Die dissipels word vrygelaat.

Want as God spreek, val Satan. Kruip hy druipstert weg. Daar is baie spelers op die verhoog in Getsemane. Judas en sy verraad. Petrus en sy swaard. Die dissipels en hulle vrees. Die soldate en hulle wapens. En hoewel hulle belangrik vir die toneel is, gaan dit nie oor hulle nie. Hoekom? Want die ontmoeting in die tuin van Getsemane het nie plaasgevind tussen Jesus en die soldate nie, maar tussen God en Satan.

Ja, soos in Eden, waag die Satan dit weer in die tuin, maar God staan op, God spreek, en Satan het geen kans nie. Satan val om in die teenwoordigheid van Christus. Net soos Satan wyk wanneer Jesus Christus geproklameer word. Ja, voor Christus het die Satan niks te sê nie. Of soos Johannes 18:9 dit stel: `Van dié wat U my gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie’.

Wanneer Jesus ons hier belowe, broers en susters, dat Hy ons sal bewaar, bedoel Hy dit. Want wanneer Hy praat, swyg Satan. Waar Hy teenwoordig is, is daar nie plek vir Satan in al sy gewade nie. Wanneer Jesus sê Hy sal ons nie verlore laat gaan nie, sal die hel eers by Hom moet verbykom voor dit by ons uitkom. Sal hooploosheid en hopeloosheid eers by Hom moet verbykom voordat dit onbeheerbaar oor ons toesak. Ja, sal die dood eers by Hom moet verbykom voordat dit by ons uitkom. Want Hy is in beheer, ook in beheer van die bose en verleiding.

Maar kom ek sluit vanoggend af, broers en susters, met  'n kardinale vraag,miskien  'n bietjie te persoonlik sou sommige van u meen, maar  'n baie belangrike vraag: ons is die tuin van die Here. Ons is die mooiste rose in sy tuin. Maar het ons nie dalk toegelaat dat Satan een of ander belangrike tuin van ons lewens inneem nie? Dalk die tuin van geduld, dalk ons tuin van reinheid? Dalk selfs die tuin van ons huwelik of gesin? Of dalk die tuin van ons menseverhoudinge, of selfs, en ja, dit is moontlik, seker die heiligste tuin van God, sy kerk?

Het die Satan, die bose, verleiding, die wêreld, vader voorspoed, vader geld, vader status (of watter manifestasie daar van die Satan ook al bestaan) nie dalk  'n roos van ons weggeneem wat God vir ons gegee het nie? Kyk mooi, staan die onkruid nie dalk welig in ons tuin wat ons God se tuin noem nie?

Indien wel, laat Christus toe om dit vandag weer vir u op te eis. Maak vir God weer die hek van u tuin oop. Laat God weer inkom. Want dan sal die Satan vlug. Die onkruid sal verdwyn. Ja, maak oop die hek van u tuin, en Christus sal vir u kom doen wat Hy in Getsemane gedoen het. Hy sal vir ons intree by die Vader. Hy sal ons vergewe. Hy sal die onkruid uittrek. Hy sal beskerm. Hy sal die voëlverskrikker opdie regte plek in die tuin inplant. Hy sal al die peste en goggas bestry. Hy sal weer beheer oor die instandhouding van die tuin oorneem.

Maar dan, broers en susters, dan moet ons Hom  'n kans gee. Dan moet ons sy Tuinier, die Heilige Gees (om die beeld hier so te gebruik), se raad volg. Moet ons spit waar Hy sê ons moet spit, moet ons plant waar Hy sê ons moet plant, natgooi waar Hy sê ons moet, en snoei en uittrek waar Hy sê ons moet.

Dan sal ons tuin geil groei en vooruitgaan. Want waar Christus in beheer is, waar Hy spreek, waar Hy die woord voer, kan niks anders bestaan nie, nie eers Satan in al sy gewade nie.

As God vandag u en my tuin kom besoek, die tuin van ons lewens, wat sal Hy vind?

Amen