Lukas 12:22-34


Die lewe is ...Hoe voltooi ons hierdie sin?


Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:

Die eerste drie woorde van Lukas 12:23 lees: die lewe is. En dan gaan Lukas aan en hy sê: tog belangriker as kos en die liggaam as klere. Hoe sou u aangaan, broers en susters? Hoe sou u hierdie sin voltooi? Die lewe is ...? Wat sê u van die lewe, of, nog belangriker, van u eie lewe?

Mense oordeel verskillend oor die lewe. Party sê dit is 'n fees, ander sê dit is 'n fout. Party sê: die lewe is wonderlik, mag daar geen einde aan kom nie. Ander weer maak 'n einde daaraan. Of, die een na die ander advertensie nooi ons uit: kom geniet die lewe, geniet jou plesier, klink 'n glasie op die lewe, die lekker lewe. Maar 'n gewilde Afrikaanse liedjie weer, som die lewe totaal anders op: ons is maar net almal kinders van die wind, swerwers sonder rigting, soekers wat nooit vind.

'n Bietjie somber, sou u miskien sê. Maar tog vanaand ter sake. Want dit is juis met soekers wie Jesus hier in Lukas 12:30-31 praat. Want hier verwys Hy eers na die dinge waarna die heidene soek, en dan na die dinge waarna die Christen behoort te soek.

Die opskrif van ons gedeelte vanaand, is die sorge van die lewe. En so met die eerste lees slag wil dit lyk of Jesus inderdaad hier net oor sorge en kwellinge wil praat. En Hy praat inderdaad daaroor, want ons sorge gaan Hom nooit verby nie, Hy dra dit op die hart. As ons egter goed oplet, broers en susters, sal ons sien dat Jesus egter hier van die lewe ook praat. En nie sommer maar net van lewe nie, maar van die lewe, die ware lewe.

In die onmiddellik voorafgaande gelykenis, die gelykenis van die rykdwaas, praat Jesus byvoorbeeld oor die lewe. Gemeet aan menslike standaarde was hierdie boer 'n ryk man, 'n suksesmens. Sy boerdery het gefloreer, sy grond het goed gedra, sy skure het vol geword. Trouens, dit het te klein geword sodat hy dit moes afbreek om groteres in die plek daarvan te bou.

Ja, 'n suksesmens — maar tog 'n dwaas. Waarom? Kom ons vra liewer: waarom vertel Jesus hierdie gelykenis? Hy sê self: om ons teen hebsug en gierigheid te waarsku (die besit van meer en meer). Maar waarom ag Jesus dit nodig om ons daarteen te waarsku? Want, sê Hy in Lukas 12:15, die lewe van die mens — daar is die woord weer —die lewe van die mens bestaan nie uit die oorvloed van besittings nie.

Jesus vind nie fout met die man se rekord oeste en vol skure nie. Nee, Jesus vind fout met die feit dat sy groot skure tussen hom en God kom staan het, dat hy as 't ware hierdie skure tussen hom en God gebou het en toe begin spog het: Mens, jy het baie goed. Eet, drink, weesvrolik, leef lekker! Want dit is die lewe.

Jou dwaas, sê Jesus egter, dit is nie die lewe nie. Wie so leef, leef heidens/soos ongelowiges. Want na al hierdie dinge — wat sal ek eet, drink en aantrek — soek die ongelowiges (Lukas 12:29-30).

Ek gee toe, broers en susters, dat dit eintlik moeilik is om te verstaan wat Jesus hier sê. Want dit is mos nie net heidene wat moet eet en aantrek nie. Ons, Christene moet ook. Ons het nie 'n ander keuse nie. En mag die Christen nie ook maar bekommerd wees oor môre as inflasie aan 'n mens se sak vreet, en die pryse net styg en styg nie?

As u so redeneer, broers en susters, gee ek u gelyk. Ons kan nie, omdat ons Christene is, meen dat ons nou sonder die basiese lewensmiddele kan klaarkom nie. Maar Jesus ontken dit ook nie. Inteendeel! Hy sê wel dat ongelowiges na hierdie dinge soek, maar voeg dan ook onmiddellik by: `julle het 'n Vader wat weet dat julle dit nodig het’. Julle Vader weet. Meer nog: Hy wil dit ook gee (Lukas12:28-30).

Maar, sê Jesus, 'n mens se lewe word heidens wanneer dit al is waarom dit vir jou gaan. Jou lewe word heidens wanneer hierdie aardse lewe al is wat vir jou saak maak. Wanneer dit vir jou in die lewe van begin tot einde gaan om wat jy vir jouself kan inpalm, in jou hand kan vasgryp, in jou vuis kan opvang, in jou skure kan wegbêre —dan, sê Jesus, dan leef jy heidens. Want die lewe is meer as net dit.

En daarmee glo ek, broers en susters, stem u saam. Bloot die feit dat ons onsself Christene noem, is 'n belydenis, 'n belydenis dat die lewe in Christus vir ons belangriker is as die aardse, tydelike dinge. Belangriker as voedsel en klere, 'n huis, kwalifikasies, geleerdheid, status, plesier, jolyt. Of dalk nie?

Maar kom ons sê/vra liewer, broers en susters: Jesus sê: die Christen soek liewers die koninkryk. Maar wat is hierdie koninkryk? Gewoonlik, broers en susters, dink ons aan 'n koninkryk in terme van 'n bepaalde gebied wat ons geografies kan afgrens, soos die destydse Persiese Ryk of die Romeinse Ryk.

Godse koninkryk is egter nie beperk tot 'n geografiese gebied nie. Met God se koninkryk word bedoel die koningsheerskappy van God. Met ander woorde, God se koninkryk is daar waar sy heerskappy gestalte aanneem, of dan, heel eenvoudig gesê: dit is daar waar Hy as God aanbid, erken en gedien word. Hoor byvoorbeeld wat die volgende digter (sekulêr — maar heeltemal korrek) van die koninkryk sê:

Gods koninkryk is nie waar ons dink dit lê —

Dit is so naby soos die dinge wat ons doen en sê.

Ja, mense bring soms die hemel nader —

met 'n duideliker beeld van die Vader.

Ons almal, broers en susters, vra een of ander tyd na die sin en doel van die lewe. Waarvoor leef ek? Waarvoor en waarom is ek hier? Dit is die vrae. En natuurlik het ons almal korttermyn doelwitte. Inteendeel. Ek persoonlik sou daarsonder nie kon bestaan nie, en ek meen u ook nie. Ons wil take afhandel, nuwe projekte aanpak, besondere take afhandel. Maar die vraag bly: wat is die uiteindelike doel van hierdie dinge? Of, dalk nog beter gestel: hoekom behoort ons al hierdie dinge te doen?

Om in dit alles die koninkryk sigbaar te maak. Dit is die lewe, sê Jesus. Dit behoort vir die Christen die sin van die lewe te wees. Die belangrike vraag, sê Jesus, is nie hoe hoog ons in die lewe uitstyg, hoe goed ons bekend is of hoe lank die mense ons sal onthou nie, maar of ons in ons daaglikse lewe gestalte gegee het aan ons roeping om God te dien, sy koninkryk te bou.

Daarom, broers en susters, sal belangriker vrae wees: op watter wyse het iemand tot bo uitgestyg, waarvoor was die man bekend, hoekom en waarvoor wil ons daardie vrou so lank onthou? Omdat hulle vir die koninkryk gelewe het, omdat die koninkryk naby gekom het in die dinge wat hulle gedoen en gesê het, omdat ons in hulle 'n duideliker beeld van die Vader gekry het.

Ek sluit af: Ons beleef onsekere tye, tye wat, ek meen, al hoe meer onseker word. Wat hou die toekoms in, vra so baie? Waarop stuur alles af, vra miskien nog meer? En is alles nog die moeite werd, vra dalk die meeste?

Miskien het u ook al, broers en susters, nie sommer net so in die alledaagse gesprek nie, maar diepsinnig by uself, oor hierdie vrae gewonder. Of dalk, broers en susters, vra u om totaal ander redes, vir ander onbekende redes, maar vir uself intens belangrik en persoonlik, die vraag oor die sin van die lewe.

Twee dinge, sê Jesus in hierdie gedeelte, hef 'n mens weer op, laat die son weer deur die wolke van kommer en twyfel breek: die troos van God se Vaderskap, en die geleentheid tot diens vir sy koninkryk.

Gaan dink diep hieroor na, broers en susters. Kan u saamstem dat hierdie 'n bevrydende perspektief is? Bevrydend omdat niks ons daarvan kan weerhou dat ons wel aan God behoort nie, en dat niemand ons die geleentheid kan ontneem om te dien nie.

Daarom: die lewe is ... om te kan behoort en te kan dien. Dit is die lewe op sy heel beste. Hoekom is u en my lewe soms alles behalwe die heelbeste? Want ons voltooi die sinnetjie `die lewe is ...' op 'n ander manier.

Amen