Matteus 6:25-34


Het kraaie kommerplooie?


Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Verlede week, terwyl ek hospitaalbesoek gedoen het, het ek  'n wonderwerk gesien. Iets wat  'n mens stom slaan. En laat ek bysê: dit is  'n wonderwerk wat  'n mens maklik kan miskyk, omdat  'n mens so maklik daaraan gewoond kan raak. Want hierdie wonderwerk is orals rondom ons: in tuine, in bakke, in winkels, ja,  'n mens kan dit eintlik oral sien.

Waarvan praat ek? Van  'n blom, en meer spesifiek,  'n lelie.  'n Lelie wat in een van die pasiënte se ruikers was wat hulle in die hospitaal ontvang het. En toe ek, broers en susters, van naby af na die lelie kyk het ek besef: Matteus was reg. Selfs Salomo was in sy grootste uitrustings, gespin en geweef van die beste stof, nie geklee soos die lelie nie. Eerder iets soos  'n vaal tweede viooltjie. So mooi was daardie lelie dat  'n mens dit amper nie kon glo nie. Vir my was dit iets soos  'n wonderwerk.

 'n Tweede iets, broers en susters, wat  'n mens amper ook nie kan glo nie, is die beeld van die kraai wat Matteus ook in ons gedeelte gebruik. Kyk, sê hy: hulle vlieg rond, sit amper nooit stil nie, maar tog: hulle swoeg en sweet nie, hulle het altyd iets om te eet, al plant en oes hulle nie, hulle het altyd kos al bring hulle nie bymekaar in skure nie, gaar hulle nie op nie, bekommer hulle nie oor droogtes en oorstromings nie, ja, hulle betaal nie eers versekeringspremies nie.

Dus, al het hulle niks, gaan hulle fluit-fluit en vlieg-vlieg deur die lewe. So ook die lelies. Hulle bestaan spontaan. Hulle kom so kommervry voor. Hulle is maar net daar. En bo alles: Dit is asof hulle die genot van elke dag indrink. Want het jy al ooit 'n lelie sien huil? Of 'n kraai gesien met kommerplooie?

Nou sou  'n mens miskien dadelik wou protesteer, broers en susters, oor die beeld wat Matteus hier gebruik. Want dit klink nou wel alles baie mooi, maar so  'n kommervrye lewe is dalk moontlik in blommeland (en voëltjieland), maar beslis nie in die harde werklikheid van die mens se lewe nie. En menswees en bekommernis gaan hand aan hand, al vir eeue lank.

Wat meer is, ons leef in  'n wêreld waarin jy vooruit moet dink en beplan, waarin jy dikwels een skuif vooruit moet wees, anders raak jy agter. Ook moet  'n mens tog eet, drink en aantrek. En wie nie bekommerd is as die rentekoerse maar net weer en weer opgaan nie, enwanneer die pryse van alles maar net styg en styg, is nie soos ons ander gewone mense met gewone omstandighede nie. Daarom: moet jou nie bekommer nie, gaan kyk maar net na die lelies en die kraaie? Dit klink net nie reg nie!

Ja, broers en susters, inderdaad mag Jesus se raad hier in Matteus so klink. Wat meer is, gaan lees gerus vir  'n keer die hele bergpredikasie deur. Dan sal ons miskien van die hele gedeelte wou sê: dit klink so  'n bietjie vreemd, so  'n bietjie menslik onmoontlik.

Wat ons egter moet raaksien, broers en susters, al klink dit vir ons hoe onmoontlik, is dat Jesus in die bergrede, en in die besonder in ons gedeelte van vanaand, nie van iets onmoontliks praat nie, maar van iets anders. Nie van 'n onmoontlike lewenswyse nie, maar van 'n ander lewenswyse. Wat is die verskil tussen onmoontlik en anders? Vers 32 sê hierdie verskil tussen onmoontlik en anders is die verskil tussen geloof en ongeloof, of dan, tussen geloof en kleingeloof.

Hoe lyk 'n wêreld van geloof, die wêreld wat anders is? In die eerste plek, sê Matteus, is dit 'n wêreld waarin 'n mens die woordjie en lewenshouding Bekommer met die woordjie en lewenshouding Beywer vervang. Waar angs en bekommernis oor die alledaagse bestaan oorslaan in ywer vir die koninkryk. Of, in gewone taal gesê: jou prioriteite word omgeswaai, jou agenda word herskryf en jou lewens­program word so hergeprogrammeer dat die koninkryk en die wil van God nommer een word in jou lewe, voorop begin staan, allereers word, soos vers 33 dit uitdruk.

En kom ons vra daarom dadelik, broers en susters: wat is allereers in ons lewens? Wat kom eerste? Wat is die dryfveer agter alles wat ons doen? Dit kan natuurlik baie dinge wees: Mammon, die eeue-oue geldgod (kyk vers 24), die strewe na mag, of selfs plesier. Maar dit kan ook edele sake wees: die A-simbool wat jy najaag (of wat jy vir jou kind begeer), die prestasie wat jy ten alle koste wil behaal, die navorsing wat jy doen.

Al hierdie sake, broers en susters, kan een ding in gemeen hê. Dit kan  'n mens se lewe so oorheers, dit kan jou denke en dade so opvul, jou tyd en energie so opslurp, dat dit later  'n afgod word. Soos Dawid immers in Psalm 31:7 agtergekom het toe hy uitgeroep het:`Ek haat mense wat waarde heg aan nikswerd afgode; my vertroue stel ek in die Here'.

Natuurlik, broers en susters, het die Here niks teen navorsing, A-simbole of prestasies nie, ook niks teen die ekonomie, wetenskap, kuns en kultuur nie. Inteendeel. Die koninkryk van God sluit hierdie sake in, nie uit nie. Eerder: die koninkryk van God loop soos  'n gouedraad deur al hierdie dinge, dit maak  'n draai in ons kombuis en in ons klerekas, het te doen met ons ete en ons drinke.

Dit is juis deel van die vreemde en die verrassende van die koninkryk. Want Jesus sê: God sal al hierdie dinge vir julle gee. En dan nie, wil ek amper sê, snoep en suinig nie, maar in oorvloed. Want gaan kyk na die lelies. Let op die kraaie. Is ons nie meer werd as hulle nie? Is ons nie vir God belangriker as die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word nie?

Hoeveel te meer sal Hy daarom nie vir ons sorg nie? Daarom, broers en susters, as daar iemand is wat hom oor ons bekommer, is dit God! Of ons alles het wat ons nodig het om van te lewe. Want kyk wat staan in Hebreërs 2:16: `Want waarlik, Hy (God) bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom'. Met ander woorde, broers en susters: nie alleen wil God hê dat ons bekommernis oor die lewe moet oorslaan in ywer vir sy lewe nie, maar sy bekommernis oor my oortref dit alles!

Daarom, broers en susters, word die woorde van Jesus in vers 32 soms deur sommige mense die mees evangeliese woorde in die Bybel genoem: `Julle hemelse Vader weet tog wat julle nodig het '. En elders (Mat 6:8) sê Hy:`Julle hemelse Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom kan vra '. Juis daarom, sê Ef 3:20 `gee God vir ons oneindig meer as wat ons kan bid of dink '.

Kom ons lees weer mooi, broers en susters: Vers 32 lees: Julle hemelse Vader weet wat julle nodig het. Kyk hoe mooi is die lelies. Kyk die kraaie. Hulle is altyd versorg. Hulle het nie eers kommerplooie nie. En julle, sê God, is baie meer werd as die lelies en die kraaie saam. Sal Ek dan nie vir julle nog veel meer gee nie. En onthou: Ek weet wat julle nodig het.

Daarom:hou op om te bekommer. Begin beywer. Beywer julle om die wil van God te doen. En glo dan dat God in die ander dinge sal voorsien. So 'n houding noem die Woord van God geloof.

Het kraaie kommerplooie? Nee. Want die Here sorg vir hulle. En nog meer vir ons. Hy is selfs bekommerd oor wat ons nodig het. Hoekom moet ons dan kommerplooie hê?

Amen