Matteus 11:2-6; 5:10


God wat sy arms vou


Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Johannes die Doper was eintlik 'n kind van die woestyn, iemand vir die ooptes, maar nou was hy op 'n heel ander plek: in 'n klein vertrekkie in die tronk.

Ons wat Johannes die Doper se geskiedenis ken, sal dadelik saamstem dat Johannes eintlik baie beter verdien het. Is hy nie die een wat die voorloper van Jesus was nie? Die een wat Jesus gedoop het nie? Is hy nie die een wat meedoënloos bekering verkondig het nie, is hy nie die een wat selfs bereid was om iemand so magtig as koning Herodes aan te spreek nie?

En nou is hy in die tronk. Omdat hy sy lewe vir God gegee het. Enl ater, weet ons, gaan hy doodgemaak word deur dieselfde koning Herodes op versoek van Herodias, sy vrou. 'n Verhaal van iemand, wil 'n mens amper sê, deur­spek van onregverdigheid. 'n Verhaal wat 'n mens laat vra: is dit hoe God sy kinders beloon? Is dit hoe God sy getroues vereer? Is dit hoe God sy uitverkorenes kroon? Nie met aansien en eer nie, maar met 'n donker sel en 'n swaard?

Dit alles, lei 'n mens baie eenvoudig uit die verhaal af, was net te veel vir Johannes die Doper. Veral as dit wat hy van Jesus gehoor het, waar was. Hier was Jesus, die Messias, die verwagte Messias, die voorspelde Messias van die Ou Testament, die een wat die Romeinse juk sou kom afgooi, wat juis mense soos Herodes (wat hom so te na gekom het) in die bek moes kom ruk, en daar gebeur niks. Alles is presies dieselfde. Al is Jesus, die Messias hier.

Is dit wat Messiasse doen as sy mense in die moeilikheid is? Of selfs meer: is dit wat God doen wanneer sy kinders in die knyp is?

Johannes, broers en susters, sit met onvervulde verwagtings. Hy het iets anders van Jesus verwag, en dit het nie gebeur nie. En dit het sy geloof begin aanval. Hy het begin twyfel. Is Jesus die Een? Of volg ek nog altyd die verkeerde Een? Ja, gaan vra vir Jesus, laat hy deur sy volgelinge weet, of hy nou werklik die een is wat sou kom, en of hulle nie liewers van Jesus moet vergeet en 'n ander een moet verwag nie?

Voor ons, broers en susters, na Jesus se antwoord kyk, kom ons kyk eers wat Jesus nie geantwoord of gesê het nie: Hy het nie kwaad geword nie, Hy het nie sy hande in die lig gegooi en byvoorbeeld gesê: wat op aarde moet ek nog doen om Johannes tevrede te stel? Het Ek nie 'n mens geword nie, het Ek nie nou al vir meer as 30 jaar nie gesondig nie, het Ek nie elke dag die kerkleiers aangevat oor hulle verkeerde sienings nie, het Ek nie Johannes my laat doop nie? Wat wil hy nog meer hê moet Ek doen? Gaan sê vir daardie sprinkaan eter Ek is geskok deur sy kleingeloof!

Jesus kon hierdie dinge gesê het, broers en susters. Maar Hy het nie. Wat die doodeenvoudige feit onderstreep: God het nog nooit die vrae van 'n opregte soeker afgewys nie: nie Job, Moses, Abraham, Johannes, Koos, Klaas, Jan of u s 'n of myne nie. Daarom sy antwoord: Gaan sê vir Johannes dat alles volgens plan verloop. Want kyk, siekes word gesond gemaak, dooies word opgewek, en die evangelie word aan armes verkondig. 'n Nuwe koninkryk is aan die kom, 'n unieke koninkryk, 'n koninkryk met onsigbare eienskappe,  maar belangrike eienskappe.

En ek wil gou hieraan aandag gee. Die eerste eienskap van die koninkryk, sê Jesus, is dat blindes, lammes, melaatses en dowes gesond gemaak word, gereinig word, weer deur die samelewing aanvaar word. Onthou: hierdie mense was die verstotenes, daar was vir hulle geen plek nie, hulle was half, onrein, nie soos God nie, daarom was God nie by hulle nie (volgens ander). Hulle was die naamloses, die swere van die gemeenskap, die sonder waarde, die oortollige bagasie. Maar wat gebeur met hulle? Dit word alles verander. Hierdie mense het nou waarde. Nie op grond van wat hulle doen nie, wat hulle is nie, maar op grond van die feit dat hulle nou aan God behoort.

Die tweede eienskap van die nuwe koninkryk, sê Jesus, is dat dooies opgewek word. Met ander woorde, die graf het sy krag verloor. Die dood het nie meer die laaste sê nie.

En derdens: die evangelie word aan armes verkondig. Hulle wat arm is aan dinge/eienskappe/werke wat hulle voor God se deur kan lê om aanvaar te word, vir hulle word die koninkryk gegee. Hulle kan dit nooit koop nie, maar hulle kry dit tog. Verniet.

Ons weet nie, broers en susters, wat Johannes gedink het toe Jesus se antwoord by hom uitgekom het nie. Of hy begryp het wat Jesus wou sê nie. Gelukkig, broers en susters, is die antwoord op hierdie vrae nie vir ons belangrik nie. Want wat vir ons belangrik is, is dat ons kan weet wat Jesus met sy antwoord aan Johannes die Doper wou sê. Die probleem lê nie in Jesus se optrede nie, maar by Johannes wat nie reg gekyk het nie. Die probleem lê nie by God se swye nie, maar by die vraag wat Johannes vra. Die fout lê nie by God nie, maar by Johannes wat sekere dinge van God verwag. Johannes wou antwoorde hê op sy aardse probleme, terwyl Jesus besig was om hemelse probleme op te los. Johannes wou 'n oplossing hê vir die situasie hier en nou, terwyl Jesus besig was om 'n oplossing te gee vir nie alleen hier en nou nie, maar veral vir more, oormore, vir volgende jaar, vir ewig.

En juis dit, broers en susters, sal die moeite werd wees om te onthou die volgende keer wanneer ons vra, en net God se stilte hoor. Want Johannes die Doper se vrae, broers en susters, is ook maar ons vrae. Vrae wat gevra word wanneer gelowiges ly onder ongelowiges, wanneer iemand 'n stap in die regte rigting neem net om daarvoor verwyt te word, wanneer iemand 'n goeie daad verrig, en die gevolge daarvan moet dra, wanneer iemand sterk die regte standpunt inneem net om daarvoor verguis te word, wanneer mense vir 'n maat vra maar steeds alleen is, vra vir genesing maar dit kom nie, en so kan ons aangaan.

Dan, broers en susters, dan val die vrae soos reëndruppels neer: as God dan goed is, waarom moet ek seerkry? As God regtig bestaan, en daar vir my is, hoekom is ek hier? Wat het ek gedoen om dit te verdien? Het God nie dalk hierdie keer werklik 'n fout begaan nie? Waarom word die regverdiges vervolg? Ons ken hierdie vrae, broers en susters. Dit is maar net Johannes se vraag in 'n ander vorm, ons gebruik maar net ander woorde.

Wat meer is, ons vra, soos Johannes, nie te veel van die Here wanneer ons hierdie vrae vra nie, ons vra te min. Johannes het gevra vir  'n onmiddellike guns, wat Jesus gegee het, was 'n ewige oplossing. Net so ook ons dikwels: ons wil nou hê God moet ons situasie verander, as God net dit of dat nou vir ons kan doen. Dit, terwyl God eintlik nou met my en 'n baie groter prentjie besig is.

Nie, broers en susters, dat dit beteken dat my situasie hier en nou nie vir God saak maak nie. God draai nie maar net sy gesig weg wanneer onregverdigheid plaasvind, waar mense te na gekom word, waar mense swaarkry nie. Wat meer is, God weet presies hoe dit voel om vir iets gestraf te word vir iets wat hy nie gedoen het nie, waarvoor hy nie skuldig was nie. As daar nou iemand is wat weet wat dit beteken om te sê: `dit is darem regtig nie reg nie’, dan is dit God.

Want dit was nie reg, broers en susters, dat mense in die oë gespoeg het wat vir hulle gehuil het nie. Dat hulle die mond vervloek het waarmee ander se sondes vergewe is nie, dat hulle 'n gat in die sy en rug van God geruk en gesteek het nie. Dat spykers die hande deurboor het wat die aarde gemaak het.

Dit was nie reg nie. Maar dit het gebeur. En wat meer is: terwyl Jesus aan die kruis gehang het, het God met sy arms gevou gesit. Het Hy sy rug gedraai. Het Hy sy ore gesluit vir die noodkreet van sy Seun wat besig was om te sterf. Gemaak asof Hy nie sien terwyl die hele wêreld se sonde op sy Seun gelaai word nie.

Was dit reg? Nee

Was dit regverdig? Nee

Was dit liefde? Ja

Want so het God vir eens en vir altyd die skaal in die guns van hoop laat swaai. Deur met sy arms gevou te sit, het Hy ons deel gemaak van sy koninkryk.

Vir Johannes die Doper was Jesus nie die Messias nie, want wat Jesus volgens hom moes doen, het hy nie. Vir Johannes die Doper het Jesus hande gevou gesit, in plaas van om die moue op te rol. Wat hy gesien het van Jesus, wat hy ervaar het van Jesus het hom laat besluit: maar hierdie kan nie die Messias wees nie.

Laat ons nie dieselfde fout maak nie. As God volgens ons arms gevou sit terwyl ons Hom nodig het, laat ons maar onthou. God het op 'n keer arms gevou gesit. Die gevolg daarvan was dat Hy ons nou altyd in sy arms sal opneem. As ons mooi kyk, sal ons dit raaksien.

God red nie altyd dadelik nie. Johannes die Doper se geval is 'n voorbeeld daarvan. Maar dat God red, op sy tyd, hoef ons nie aan te twyfel nie. Want kyk: die koninkryk het gekom: Alle mense is by God welkom, dooies word weer opgewek, en die evangelie word aan die mensdom verkondig.

Het hierdie koninkryk, broers en susters, van aanvaarding, nuwe lewe en opdrag om dit met woord en daad te verkondig, al in u lewe gekom?

Amen