Psalm 22


Waarom?


Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

In ‘n brief wat ‘n dogter aan haar ma vanuit ‘n hospitaalbed geskryf het, hoor ‘n mens die eeue oue, en menslike vraag `Waarom’ baie skerp opklink. Grepe uit die brief lui só:

As daar ‘n God is, soos ma vir my laas week gesê het, sou Hy my lankal al gesond gemaak het. Ek het vanoggend gehoor dat die dokters besluit het om alle terapie te staak wat my kanker betref. Die kanker het van my maag nou deur my hele liggaam versprei. Die dokter was vanoggend die eerste keer met my werklik eerlik. Ek het nog net ‘n maand oor. Hulle kan niks meer vir my doen nie. Inteendeel. Hulle gaan ook nie eers meer probeer nie.

Waarom moet ek so jonk sterf? Ek glo nie meer dat God goed kan wees nie, dat Hy my liefhet en vir my die beste in die lewe wil gee nie. As dit so was, so my lyding lankal reeds tot ‘n einde gekom het, en sou ek kon voortgaan met ‘n gesonde lewe. Maar nou glo ek nie meer aan God nie, ek glo nie Hy bestaan nie. Ek is jammer om dit so reguit vir ma te stel, maar ma moet nou maar self sien hoe ma met ma se geloof klaarkom. Moet net nie weer met my oor ma se God praat nie. Want Hy is nie meer my God nie.

Miskien het nie een van ons vanoggend hier, broers en susters, al só openlik, op swart en wit, ons uittrede uit die geloof, ons emigrasie uit die koninkryk van God en afskeid met God, so aangekondig nie. Maar die menslike vraag `waarom’ het beslis al in een of ander vorm, op een of ander stadium in ons lewe, óf in ons agterkop gehuiwer óf bitter oor ons lippe gebars: `Waarom Here, waarom swyg u so? U weet tog wat my ellende is. U ken my kommer. Meer nog: U weet tog wat ek begeer nie teen U wil kan wees nie. So waarom antwoord U nie? Waarom swyg U so? U het tog belowe dat U vir my sal sorg. U Woord is vol van sulke beloftes. Waarom? Wat het van U geword?

Nog so ‘n stem is die stem van die digter van Psalm 22. Wat die agtergrond of werklike situasie van sy ellende was, weet ons nie. Dit is egter baie duidelik dat hy emosioneel totaal en al uitgeput is, dat hy fisiek gefolter is — vermoedelik deur sy vyande — dat hy al die dood in die oë gestaar het. Hy is op moedverloor se vlakte, hy het feitlik klaar boedel oorgegee wat die lewe betref.

Maar wat vir hom die ergste is, lei ons uit sy woorde in die psalm af, was sy ervaring dat God ver weg was, meer nog, dat God begin swyg het. Vers 2 en 3 sê dit baie duidelik:

My God, my God

waarom het U my verlaat

en bly U ver as ek om hulp roep?

My God, ek roep bedags

en U antwoord nie.

ook snags, maar ek kry geen rus nie.

Wat alles vir hom nog pynliker maak, is die feit dat hy die God ken wat so ver van hom af staan. Hy weet presies wie die God is wat hy so sonder ophou aanroep: dit is die God wat ‘n geskiedenis met Israel gemaak het, wat vir Abraham, Isak en Jakob so goed was. Wat hulle nooit in die steek gelaat het nie. Wat meer is, lees ons in vers 4,dat hy tot die God roep wat tog veronderstel is om teenwoordig te wees daar waar Israel se lofsange weerklink.

Maar nou, waar is die God nou? Kyk, wil hy amper sê, die afwesigheid van ‘n onbekende god sou dalk nog draaglik kan wees, maar nou is die God wat hy ken, die God wie sy kinders nie alleen laat nie, wat sy kinders antwoord, vir hulle goed is, wat afwesig is, wat hom nie antwoord nie. En hy ken God nie so nie. Sy God maak eenvoudig nie so nie. Daarom: iets klop iewers nie, iewers moet daar ‘n misverstand wees, iewers is iets nie reg nie.

Waarom swyg God soms, broers en susters, ‘n ervaring waarvan baie Bybelskrywers ook getuig? In ‘n antwoord op hierdie vraag, dink ek moet ons versigtig wees met ‘n paar vinnige antwoorde, want hierstaan ons letterlik op heilige grond. Wie in elke geval Psalm 22 wil verstaan, het iemand eendag gesê, moet eers saam met Christus gehang het en saam met Hom deur die hel van Godverlatenheid gegaan het. Maar kom ons gee tog ‘n paar versigtige treetjies in ‘n poging om iets van ‘n antwoord op hierdie `waarom’ vraag te gee.

In die eerste plek, broers en susters, swyg God soms omdat Hy God is. God het nie ons toestemming nodig om dit te doen nie, net so min as wat Hy ons toestemming nodig het om te praat. Jesaja 55:8-9 sê dit tog duidelik: ‘My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede is nie soos Myne nie, sê die Here: soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes Wie ken die bedoeling van die Here?’ Dieselfde soort taal praat Paulus ook in Romeine 11:34-35: ‘Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?’

God, broers en susters, kan nie in formules vasgevang word nie, nog minder kan God ooit onder ons beheer kom of deur ons in ‘n greep vasgevang word. Daarom, as Hy swyg, wat kan ons eintlik anders doen as om ...ook te swyg?

Tweedens, broers en susters, swyg God soms dalk ook omdat Hy toornig is oor ons sonde en oor ons lewe. Dalk het Hy in die verlede met ons oor ons lewe of sekere dade gepraat en gepraat en bly praat, op verskillende maniere. Maar toe wou ons nie hoor nie. Ons wou Hom nie antwoord nie. Ons wou nie ‘n keuse vir Hom maak nie. En daarom swyg Hy nou. Hy het naby aan ons kom staan, maar ons het, uit eie keuse, weg van Hom af gaan staan. En nou staan Hy weg van ons af.

Ek sou graag wou sê, broers en susters, dat hierdie rede vir Godse somtydse swye glad nie waar is nie, of dat dit glad nie in die Bybel voorkom nie, maar ek kan nie. Gaan lees maar net die geskiedenis na van God se volk in die Ou Testament. Oor hulle sonde, oor God se pleitredes deur sy profete, oor die volk se reaksie. En dan: God se swye. God swyg soms omdat Hy toornig is. En weer: moet ons dalk nie dan ook miskien hand op die mond sit en maar stilbly nie?

Derdens, broers en susters, swyg God heel waarskynlik soms omdat Hy weet dat geen antwoord nou vir ons die beste is. Die heel beste. Al verstaan ons dit nie. Omdat God weet ons lyding nou, ons swaarkry nou, later vir ons baie in die lewe beteken. Omdat hy ‘n doel met alles het,‘n doel het met ons swaarkry en sy stilte. En as dit so is, moet ons dan nie miskien ook oorweeg om maar te swyg tot God antwoord nie? En in die geloof te leef tot God weer naby aan ons kom staan nie?

Psalm 22, broers en susters, beantwoord hierdie waarom-vraag egter ook op‘n ander manier, op ‘n baie meer troosryke wyse. Want die Psalm sê ook: al sou God swyg omdat Hy God is, al sou Hy swyg asgevolg van ons sonde, al sou Hy swyg omdat Hy weet dit die beste is, al sou Hy swyg in sy toorn, dit verander nie ‘n enkele greintjie aan sy trou teenoor ons of sy liefde vir ons nie. Want die digter weet, en dit sien ons duidelik uit vers 4: al ervaar Hy God nie naby nie, al ervaar Hy net God se swye, God is die Heilige wat woon waar die lofgesange van sy kinders opklink. God is altyd by ons, en op sy tyd sal Hy ons antwoord.

Presies soos dit in vers 22 van die Psalm gebeur wanneer die digter uitroep:U het my gebed verhoor! God was toe al die tyd daar toe hy gedink het God was nie. God het hom gehoor, toe hy gedink het God het sy gesig van hom weggedraai. In sy ellende het God hom toe al die tyd nie vergeet nie, al het dit so gevoel. En hoe tipies, broers en susters: dit wat ons van God ervaar, wat ons van God dink, is so dikwels presies dit wat God nie is nie. God is genadig, selfs in sy toorn. Al voel dit nie vir ons so nie. God het ons lief, altyd lief, al ervaar ons dit nie altyd so nie. Meer nog: God weet van my, God weet alles van my, selfs dit wat ek die nodigste het, al dink ons nie altyd so nie.

Daarom, broers en susters, wanneer ons — soos hierdie Psalmskrywer — meen dat God ons verlaat het, mag ons — nee — moet ons bid:

Here, al voel dit vir my of ek in ‘n vakuum praat, dan praat ek nogtans met U; al ervaar ek dat U ver is, roep ek nogtans na U; al beleef ek U as my vyand, glo ek nogtans dat U my vriend is; al kom U nou so onbekend voor, bly U nogtans aan my bekend.

Nogtans, dit is die woordjie, broers en susters, wat die verskil maak in tye wanneer ons God ver ervaar. Nogtans is eintlik niks anders as presies dieselfde woordjie geloof nie. Want dit is geloof, nogtans geloof, wat maak dat ons bly glo dat God naby is as ons voel Hy is ver, wat maak dat ons glo dat God ons hoor, al voel dit nie so nie.

Ek sluit af: die antwoorde wat ek vanoggend aan u gebied het op die waaromvraag, broers en susters, is alles behalwe volledig. Moet tog ook net nie dink dat ek self alles verstaan nie. My antwoorde is maar net ‘n poging, ‘n menslike poging.

Maareen ding het ek weer besef: wanneer God swyg, praat Hy dikwels die hardste met ons, wanneer ons voel dat Hy ver van ons staan, staan Hy dikwels die naaste aan ons. Hoekom sê ek so? Hoe was dit met Jesus Christus aan die kruis en in die graf? Ook Hy het hierdie woorde van Psalm 22 hard uitgeroep: My God, my God, waarom het U my verlaat! Ook Hy het ervaar dat God weg was.

Sy ervaring was egter nie net verbeelding nie. God was weg. God het Hom in daardie doodverlate graf laat ingaan. Hoekom? Sodat daaruit lewe kon kom. Vir Hom en vir ons. Swye het gelei tot nuwe lewe, verlatenheid het gelei tot ‘n ewigheid by die Vader.

So is dit dikwels ook met ons. Wanneer God lank geswyg het, en ons daarom met Hom besig was, met Hom geworstel het, en God antwoord dan, dan het ons deur die proses soveel nader aan God gekom. Ek weet nie, my broer en suster, waar u uself tans op die geloofspad bevind nie,ek weet nie hoe u God tans in u lewe ervaar nie. Wat ek egter wel weet, is dat God se swye, soos in die Psalm, soos met Jesus Christus daar aan die kruis en in die graf, ‘n voorspel is van ‘n nuwe Woord van Hom, ‘n voorbereiding is vir ‘n nuwe tydperk van seën in u lewe, die begin is van ‘n nuwe fase in u en my geloofslewe.

Maar laat ons nooit vergeet nie: God is soms ‘n swyende God. Ons sal dit nie altyd verstaan nie. Ons sal nie altyd verstaan hoekom nie. Maar God is alleen God, in sy liefde en trou sal ons altyd vasgevang wees, al ervaar ons dit nie. Hy weet die beste. Elke oomblik van ons lewe.

Wie in geloof aan hierdie oortuiging vashou, al swyg God en bly Hy swyg, sal ons net nader en nader aan God lewe.

Amen