Psalm 90


Moet jy stry teen moeilikhede?


Geliefdes van die Here Jesus Christus

In elkeen van ons se lewens kom daar mos dae, wat jy sit en wonder.

  • Wonder of dit werklik nog nodig is om in die sweet van jou aangesig jou brood te verdien.
  • Dae waarin jy wonder oor jou bestaan, jou bestaan as mens binne  'n bepaalde volk, binne  'n bepaalde kerkverband, binne ‘n bepaalde huisgesin.
  • Dit is gewoonlik ook in hierdie sit-en-wonder-dae, wat ons begin vrae vra oor die beroep wat ons beoefen.
  • Dit is in hierdie dae wat die vier mure van die kantoor, diel aboratorium, die lesingsaal en klaskamer of die kombuis, ons begin vasdruk en maak dat ons daar wil uit.
  • Dit is in sulke dae wat selfs die 1000 morge plaas met sy uitgestrektheid, ook te klein word.
  • Ja, Dit is in hierdie sit-en-wonder-dae; terwyl ons om ons heen kyk en rondkyk, dat die vraag by  'n mens opkom: Is alles nie tog maar net 'n gejaag na wind nie? Waarin lê die sin van die lewe? Is ons nie dalk regtig besig om onsself te bluf nie? Is dié“tevergeefsheid”, wat ons só, en soms so dikwels oorval, nie dalk regtig die enigste werklikheid nie?

Want:

  • U en ek kan so noukeurig as wat ons wil beplan en tog: daar is altyd êrens iets wat skeefloop!
  • Van vroeg tot laat is ons besig en aan die hardloop sonder om ooit werklik rus te vind!
  • As ons na ons lewe kyk en soek na iets wat die moeite werd is en wat werklik blywend is, wat vind ons?

Swaarkry en leed. Ons worstel met teleurstellinge, beleef terugslae en buig onder neerlae. En ás ek geluk vind, dan maak dit my bang, want so maklik kan ek dit dalk môre weer verloor!

Ens ó gebeur dit, terwyl ons om ons heen kyk en rondkyk; terwyl ons sit en wonder oor die sin van alles, dat werkywer afneem, dat ons afgestomp raak, dat alles vir ons sinloos raak, hooploos tevergeefs, nie waar nie?

Geliefdes, as ek met dit wat ek tot dusver gesê het, u ingesluit het, terwyl dit glad nie u belewing en of ondervinding is of ooit was nie, dan vra ek om verskoning. Maar ek vra steeds, dat u dan maar geduldig sal luister na dit wat vir die Psalmdigter en vir my; in diel ewe duskant die graf, dikwels pla en waaroor  'n mens sit en wonder. Dié Psalmdigter het ook die-gaan-stilstaan-dae geken waarvan ek in die begin gepraat het. En in hierdie Psalm kry ons  'n opsomming van die gevolgtrekking waartoe hy gekom het: Hy sê dat, as daar ooit gedink wil word oor die bestaan van die mens, as daar ooit bespiegel word oor die sin van die lewe, dan kan daardie denke nooit anders geskied nie, as teen die agtergrond van wie God is, en wie die mens is. Of anders gestel: die gevaar is en bly altyd dieselfde, dat as die mens net fokus op homself, op sy bestaan, op sy las en leed, op sy moeite en angs, op sy arbeid en sweet. Dan gebeur dit gou-gou, dat die lewe sinloos en hoop-loos word! Dan gebeur dit gou-gou dat alles vir jou die kleed van tevergeefsheid kry en daarvoor, sê die Psalmdigter, is daar  'n baie eenvoudige rede: Die Psalmdigter sê dat hy in die rondkyk en om hom heen kyk in sy eie lewe, dit proefondervindelik ervaar het.

Die mens kan nie kleur gee aan die lewe en aan sy arbeid en aan alles waaraan hy raak, of waaroor hy dink, en waaroor hy praat nie, want:

“Hy is soos gras wat in die môre afgesny word: in die môre is dit nog groen, maar dit word afgesny en teen die aand is dit verlep en dit verdroog.”

Daarom dat alle verhoudinge, alle gesindhede, alle denke, ja, die totale bestaan van die mens nooit tot sy reg kan kom, indien dit los van Hom wat lewe is, en ware lewe gee bedink, bekyk en bepeins word nie!

Wanneer dit gesê word, beteken dit glad nie dat ons nie mag rondkyk en om ons heen kyk nie. Inteendeel, wat daarmee gesê word is net doodeenvoudig dit: wanneer ons só fokus op dit wat ons om ons raaksien, en behep bly net met my en ons, eie wat dit ook al mag wees. Dan gebeur dit baie gou dat ons verwagtinge en vooruitsigte; ons vreugde en ons hoop, vertroebel! Dat ons ankers in die lewe gelig word en daarmee saam vertroebel en verdwyn, gewoonlik ook dit waarin ons die sin van die lewe gesien het, of ons hoop op gebou het, omdat ons, en dit wat saam met ons bestaan, soos gras is. Die Psalm digter se woorde klink helder op al is dit eeue later: Die sin en die betekenis, in en van die lewe, lê nie in rondkyk en om ons heenkyk nie maar in opkyk!

Die haat, die vertwyfeling, die agterdog, die liefdeloosheid en die sommer lus wees om op  'n hoop te gaan sit, of om alles neer te gooi en weg te hardloop, van ons dag, is te wyte aan die feit, dat ook ons vergeet het of dalk eiewillig besluit het ons verbeel het, dat daar niks vas en seker meer is nie!

En dit is presies waarteen die Psalmdigter vir u en my wil waarsku:Wanneer u en ek oor onsself die wêreld waarbinne ons leef, of wat ook al ons doen, beplan, dink en sê, wanneer ons hiermee besig is midde in die deurmekaar van ons dag dan durf ons dit nooit doen deur slegs rond te kyk en om ons heen te kyk nie.

Nee, geliefdes, die Psalmdigter maan ons om dit wat hyself beleef en ervaar het en waaroor hy hier getuig, met oortuiging na te volg:

  • Kyk op sê hy, God is die enigste konstante midde in die tot niet gaan van dit wat ons sigbaar en tasbaar ken en ervaar.
  • Kyk op en bid: skenk ons elke dag U liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees. Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe: hou die werk van ons hande in stand, ja die werk van ons hande, hou dit in stand.

U sien, geliefdes teenoor alles wat ons dikwels só aftakelend sien en beleef

teenoor alles wat ons meesleur in die stroom van vertwyfeling, hooploosheid en uitsigloosheid, tevergeefsheid en watter emosie, gedagte of daad dit ook al mag ontlok staan God self, onbeweeglik sterk. Dit is Hy wat liefde is wat

  • vandag nog leef en regeer,
  • vandag nog steeds, soos in die verlede waaroor heen die Psalmdigter ook maargekyk het, “die toevlug is van geslag tot geslag”,
  • ja, dit is God self wat vir u en my wat opkyk, nooit in die steek sal laat nie.

Want Hy wat liefde is, vir Hom en Hom alleen is dit moontlik om vir u en my, wat midde in die hartseer en die pyn van menswees leef, instaat te stel om ons te kan verheug en met blydskap te leef. Vir Hom alleen is dit moontlik om die werke van ons hande tot seën te laat wees van ons medemens en tot eer van Hom aan wie ons behoort en deur wie ons instand gehou word, anders sou hierdie gedig nie opgeteken gestaan het in die boek wat bekend staan as die woord van God en die woord wat getuig oor God nie!

En dit is omdat ons hierdie waarheid vandag nog steeds wreed vermoor op baie verskuilde maniere en wegstoot uit ons bestaan en denkwyses deur verskillende bedekte oortuigings en handelinge,

  • dat ook ons na die sin van die lewe vra,
  • dat ook ons pessimisties raak en verval in die put van tevergeefsheid!

Kom dan geliefdes, almal van u wat saam met my dikwels bedruk raak en beangs wat u ywer ten opsigte van u werk, u gesin, u Here en Sy kerk verloor. Kom ons gee opnuut gehoor aan dit wat die Psalmdigter vir ons as Godswoord in mensetaal wil leer:

  • kyk op, kyk op en sien u enigste anker raak
  • kyk op en smeek afhanklik, vertrouend om die liefde en die goedheid van God jeens ons want daarin lê ons behoud: nog nooit het God die mens wat sy “soos-gras-wees-aard” erken en bely het, gelaat om te vergaan, of toegelaat dat die werke van Sy hande, tot niet gaan!
  • en terwyl ons dan só opkyk, hoor dan ook terselfdertyd die wonderlike troos en versekering raak:

Die sin van die lewe, lê daarin dat ons diensbaar is in God se kerk, in God se wêreld, want dit is Hy wat ons arbeid, swoeg en sweet, laat gestalte kry as koninkrykswerk! Dit is Hy wat ons, terwyl ons opkyk met dié bede: “skenk ons elke dag U liefde, U goedheid, Here”, ons ook werklik instaat stel om ons in alles te verheug, selfs “al is dit ook nodig dat ons vir kort tye bedroef gemaak word deur allerhande beproewings”

God self bou Sy koninkryk, u en ek wat opkyk, midde in  'n wêreld waarin rondkyk, slegs vertwyfeling en troosteloosheid bring. Dit is óns wat met die oog gerig na bowe, in die sigbare, geen bedreiging meer sal vind. Dit is die mens, wat, al het dit ook  hoe donker geword om jou heen telkens weer met die oog na bowe, jou enigste anker vind, God self vind, wat ook vir u en my deur Sy woord en gees, in dié sekerheid wil laat leef en sterf:

Lees Gesang 576 voor.

Amen