Romeine 8:31-39


Niks kan ons van die liefde van God skei nie


Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Dit is vroeg in die oggend in Rome, hoofstad van die Romeinse ryk. Keiser Nero, die wreedaardige leier van die Romeinse volk, slaap onrustig. Gisteraand het hy weer ‘n vrou ter dood veroordeel. Sy wou hom nie as keiser aanbid nie — eerder ‘n Jood genaamd Jesus. Hy verstaan dit nie –minder as 30 jaar gelede het sy eie mense hierdie Jesus laat kruisig– nou aanbid hulle Hom as God...Dit behoort die skare te vermaak as die wilde leeus môre hierdie vrou tydens die oorwinningsfees verskeur...Met ‘n sug draai hy om en slaap verder.

Stadig aan begin die stadontwaak. In ‘n huis in die agterbuurtes, is daar ‘n klompie mense byeen. Hulle het ingekom deur die kodewoord IGTHUS te gebruik. IGTHUS is ‘n Griekse woord wat “vis” beteken, maar eintlik is dit ‘n kodewoord, wat staan vir JESU CHRISTU THEOS UIS SOTER. In Afrikaans beteken dit: Jesus Christus, Seun van God, Verlosser. Die deure is gesluit. As iemand op hulle afkom sal hulle waarskynlik met hulle lewens daarvoor boet. Eers ‘n verhoor — en as hulle aanhou om vir Jesus Christus te aanbid, die dood!

Die mense luister aandagtig. Die voorganger is besig om uit die middel van ‘n brief voor te lees. Dit is aan hulle gestuur deur ene Paulus, ‘n Jood wat eers die Christene vervolg het, maar nou die evangelie van JesusChristus aan die heidene verkondig. Priscilla en Akwila, wat ook in die huis is, ken hom goed. Hulle het vertel deur hoeveel swaarkry hierdie Paulus is – ter wille van die evangelie van Jesus Christus. Nou skryf hy hierdie brief om hulle voor te berei op sy besoek.

Hierdie gedeelte van die brief is in die vorm van ‘n oorwinningslied geskryf. Dit klink baie soos die lied wat hulle net vanmiddag moes aanhoor. Vir die inwoners van Rome was oorwinningsfeeste met triomf optogte nie ’n nuutjie nie. Dit was elke generaal en elke legioen van die Romeinse weermag se droom om ’n triomf optog deur die strate van Rome te hou. Geen geleentheid om ’n oorwinning te vier, is laat verbygaan nie. Naas optogte het hierdie oorwinningsfeeste dikwels ook gepaardgegaan met die hou van spele en feeste. Op triomfboë (soos die wat ons op die skerm gesien het) is die oorwinnings met inskripsies verewig, amper soos wat ons vandag plakkate gebruik. Toesprake wat ná militêre oorwinnings in die Romeinse senaat (parlement) gehou is, het dikwels daarna verwys dat hierdie of daardie vyand nie meer ’n gevaar vir die Romeinse Ryk inhou nie. Paulus sluit in sý oorwinningslied by hierdie gebruik aan: hy beklemtoon dat niks (geen vyand) jou van die liefde van God kan skei nie (8:35–39). Kom ons gaan lees verder uit hierdie oorwinningslied van Paulus. Ons lees uit Romeine 8 vanaf vers 31 tot en met vers 39.

Broers, susters en kinders, die teksvers vir ons prediking vind ons in Romeine 8, die eerste deel van vers 35: “Wie kan ons van die liefde van Christus skei?”

Elkeen het ‘n sekere idee van hoe dit werk in ‘n hof. Daar is ‘n magdom films en TV-programme wat handel oor hofsake. Die prentjie in almal lyk min of meer dieselfde. Daar is ‘n aanklaer, ‘n verdediger, ‘n regter en, afhangende van die regstelsel, ‘n jurie. Ons vertrou op hierdie stelsel om ‘n regverdige hofsaak te verseker. In baie van die stories is die held die advokaat wat sy kliënt suksesvol verdedig.

In die gelese gedeelte gebruik Paulus ook beelde wat uit die regspraak kom. Daarmee wil hy die gemeente in Rome bemoedig. Dit is beelde wat hierdie gemeente verstaan, want hulle lewe voortdurend in die vrees vir vervolging. Nadat hy hulle in die vorige gedeelte vertel het dat God hulle uitverkies het, stel hy hulle verder gerus. Hulle hoef nie te soek vir ‘n helde-advokaat om hulle saak te behartig nie. God sal as Advokaat optree. Godis vir hulle!

Paulus gaan ook verder,en keer die idee van ‘n hofsaak om. God is nie net ons voorspraak nie, maar dit is ook Hy wat ons vryspreek. Hy is dus tegelyk advokaat en regter. Wie kan dus die uitverkorenes van God aankla, en wie kan ons veroordeel? Die antwoord is eenvoudig: Niemand kan nie. In elk geval geen mens nie, ‘n mens wat foute kan maak, ‘n mens wat somtyds onregverdig is, ‘n mens wat somtyds omkoopbaar is. Nee, die enigste een wat ons kan aankla is God sélf, en God,weet ons, is altyd regverdig. Ons regsaak is dus veilig. In die lig van die heerlikheid wat God vir ons bestem het, verdwyn die invloed van ons teenstanders se aanklagte teen ons soos mis voor die son. Niemand kan keer dat God sy genadewerk ook vir my bedoel nie.

Dit is maklik om te bely dat Jesus vir ons intree by die regterstoel van God, maar die belydenis help niks as mens nie daaruit leef nie. Ons weet dat Christus vir ons intree. Ons weet dus dat ons saak by God reg is. Hoekom leef ons dan steeds asof ons uitgelewer is aan menslike regstelsels? Ons vertroue lê in ons gemeenskap met Christus. God het Jesus Christus ter wille van ons sondes gestuur. Wanneer Paulus skryf dat God alles vir ons saam met Christus sal gee, kom ons tot die besef dat God ons met Christus een gemaak het. Een in sy vernedering, as mens sowel as aan die kruis, maar ook een in sy verheerliking!

Ons moet ook besef dat hierdie intreewerk van Christus nie ten doel het om aanklagte teen ons te verdedig of om God se guns te wen nie. Ons moet dit eerder verstaan as Christus se aanhoudende betrokke wees in ons lewens. Dit spreek van Sy liefde. Dat God vir ons is, is wel ‘n juridiese of ‘n regsbeeld. Maar dit is meer as dit. Dit omvat die hele verlossende, versoenende en verheerlikende heilswerk van God.

En vanaand kan ons ons eie situasie in ‘n groot mate vergelyk met dié van die gemeente in Rome. Weliswaar staar ons nie die gladiators of wildediere in die arena in die gesig nie, maar iets van die onsekerheid of moedeloosheid wat hulle ervaar het, is ook deel van ‘n groot groep van ons lidmate. Dink veral aan Paulus — hierdie brief het hy geskryf redelik naby aan die einde van sy lewe. Teen daardie tyd het hy al soveel leed, hartseer, pyn en vernedering deurgemaak, en hy was al verskeie kere in die tronk. En dan verklaar hy aan die gemeentevan Rome dat daar niks is wat ons van die liefde van Christus kan skei nie! Geen lyding of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard nie – niks! Dit is asof al hierdie dinge in die niet verdwyn as ons die betekenis van die liefde van God in ons lewens besef. Ons kan met hierdie lysie aangaan. Alles wat jou moedeloos of depressief of kwaad of bang maak of jou laat twyfel, kan hierop geplaas word. Siekte, werkloosheid, eensaamheid, geweld (politiese of gesinsgeweld), finansiële laste, ja al ons probleme kan op hierdie lysie geplaas word. Ons het ons eie triomfboog – Die kruis - waarop ons alles kan skryf wat oorwin en verslaan is.

Broers en susters, in Paulus het ons ‘n man wat al swaarkry ter wille van die evangelie in sy eie lewe ervaar het. Hy kan met gesag praat oor hoe om dit te hanteer. Hy sou mooi handleidings kon skryf oor stres hantering, gewilde seminare hou oor hoe om jouself te handhaaf te midde van bedreiging. Boeke kon skryf met die titel: “7 maniere om stres te klop” of “7 wenke vir positiewe denke”. Maar wat doen Paulus? Hy wil die evangelie verder gaan verkondig, ten spyte van vervolging en swaarkry. Hy roem nie in homself nie. Hy prys nie homself omdat hy die oorwinning behaal het nie. Nee, hy gee die lof en eer alles aan God — aan die liefde wat God vir ons het.

Hierdie liefde sien ons die beste in Jesus se offerdood aan die kruis op Golgota. Na die kruis kan ons seker wees van God se liefde vir ons. Ons hoef nie te twyfel aan God se liefde nie, selfs al lyk dit of Hy ons verstoot of vergeet het. Al hierdie ontberinge stel die allesoortreffende liefde van Christus net nog duideliker. Die pad van lyding en ontbering is noodsaaklik en onvermydelik. Die bestaanswyse van die Kerk van Christus is nie maanskyn en rose nie – dit is ‘n lydens bestaan.

Die gemeente in Rome het geleef in ‘n samelewing wat gekenmerk is deur die Griekse filosofie en die Romeinse veelgodedom. Daar was nie sprake van ‘n persoonlike betrokkenheid van ‘n god nie. Nou kom die rewolusionêre en bevrydende gedagte dat niks ons van die liefde van God kan skei nie. Hierdie persoonlike betrokkenheid word nêrens beter gewys as in Jesus se kruisdood nie. Dit is dalk makliker om dit te verstaan as mens kyk na die verhaal van Abraham wat vir Isak moes offer. Dink jouself in ‘n situasie in waar jy jou enigste seun moet laat doodmaak. Ons kan dit nie vir onsself voorstel nie.

God kon nie meer gee as wat Hy in Christus gegee het nie. En hierdie offer is die bewys van al die dinge wat God nog aan ons gaan skenk. Miskien sien ons nie hier en nou wat hierdie dinge is nie, maar ons is daarvan verseker.

Ons het nou al baie oor lyding gesê, net soos Paulus lyding vir die gemeente in Romeuit gespel het. Hy het ‘n doel daarmee gehad – om die sekerheid van die heil sterker te laat uitkom. Eers wanneer ons ons eie lyding sien teen die agtergrond van God se liefde, begin ons dit verstaan. Paulus beskryf dit as ‘n triomf wat alles te bowe gaan.

Die woord wat Paulus vir hierdie oorwinning gebruik, is ‘n woord wat nêrens anders in die Nuwe Testament voorkom nie. Hy stel dit in die oortreffende trap— ons is méér as oorwinnaars! Hierdie oorwinning bestaan daarin, dat die band waarmee ons aan Christus gebind is, nie verbreek word deur die swaarkry in ons lewens nie. Hierdie band groei en triomfeer juis deur die ontberinge wat ons verduur. Die oorwinning bestaan nie ondanks die ontberinge nie, maar dit bestaan daarin. Sonder die ontberinge, sal die oorwinning sy betekenis verloor.

Ons moet egter nie die fout maak om te dink dat dit ons eie voortreflikheid of ons briljantheid of standvastigheid is wat aan ons hierdie oorwinning besorg nie. Sou ons so dink, maak ons ‘n paar foute.

Eerstens dink ons dan dat die oorwinning ‘n toekomsverwagting is, iets wat ons kan behaal as ons lank genoeg hard genoeg probeer. Hierdie is inderdaad een van die mees menslike foute wat gemaak word. ‘n Mens wil mos altyd ook ‘n aandeel in jou eie redding hê – iets waarop jy jouself kan roem! Maar Paulus sê ons is rééds meer as oorwinnaars. Voordat ons iets kon doen waaroor ons onsself op die skouer kon klop, het God aan ons die oorwinning geskenk.

Tweedens maak ons die fout om te dink dat as ons lank genoeg kan uithou en standvastig bly, ons die oorwinning sal behaal. Ons moet hierdie oorwinning nie sien as ‘n gebeurtenis nie. Ons moet dit sien as ‘n proses – ‘n proses waarin ons dag na dag die liefde van Christus ervaar. Ons moet dit nie sien as ‘n einddoel nie – ons moet dit sien as ‘n lewenswyse.

Want, broers en susters, as ons leef soos mense wat reeds oorwinnaars is, hoe kan ons nog moedeloos word? As ons weet dat niks ons van die liefde van Christus kan skei nie, moet hierdie liefde mos in ons lewens sigbaar wees.

Die sekerheid van die oorwinning bereik ‘n hoogtepunt wanneer Paulus sê “Hiervan is ek oortuig”. Hy noem ‘n verdere lys van magte wat ons nie van die liefde van God kan skei nie. Hierdie lys styg uit bo die vorige lys, in die sin dat hierdie magte ‘n bomenslike karakter het. Nie die menslike of die bomenslike kan ons van die liefde van Christus skei nie. Paulus is ten volle oortuig. Wat ‘n bevrydende gedagte is dit nie om te weet dat iemand wat al soveel swaarkry ervaar het, absoluut oortuig is van die liefde van Christus!

Broers en susters, om te ontken dat Christene in ‘n brose posisie in hierdie wêreld is, is om die waarheid te ontken. Om lyding en swaarkry, moedeloosheid en vrees te ontken, is om die wese van ons bestaan as Christene te ontken. Ons moet erken dat die bestaan van Christene op aarde ‘n bestaan van lyding is. Maar ons moet ook erken dat God ‘n plan met ons lewens het. Ons bely dat God ons uitverkies het. Dit beteken dat ons ons lewens volkome in God se hand kan plaas. En as ons dit doen, kan ons die toekoms met optimisme en moed aanpak. Ons weet nou dat wat ookal mag gebeur — in Christus is ons meer as oorwinnaars.

‘n Atleet wat eerste oor die wenstreep hardloop, gooi sy arms in die lug. Hy wys sy blydskap oor sy oorwinning. Ons is oorwinnaars. Ons mag ons blydskap oor ons oorwinning wys. Ons moet ons blydskap oor ons oorwinning wys. Ons wys ons blydskap deur die liefde van Christus, wat Hy aan ons bewys het, ook aan ander mense te bewys.

Die lyding en gevaar gaan nie ophou nie. Mense gaan nog steeds aanklagte teen ons as Christene inbring. Mense gaan nog steeds oordele oor ons uitspreek. Maar niks, absoluut niks, kan ons van die liefde van Christus skei nie!
Amen