Spreuke 8:12-21; Prediker 9:1-10


Hoe gemaak as voorspoed verdwyn?


Broer sen susters en kinders in onse Here Jesus Christus

Dinge rondom ons het, en is steeds besig om dramaties en drasties te verander. Waarvan ons agt of nege jaar gelede nog doodseker was, is nou onseker. Dit geld vir ons politieke omstandighede, ons skole, ons taal, die ekonomie, morele waardes, en noem maar nog op. Dit alles maak, broers en susters, dat waardes en lewenshoudings wat ons byvoorbeeld by ons grootouers en ouers geleer het, ons ewe skielik nie meer so maklik help om besluite te neem en sin te maak van die lewe nie. Daarvoor het te veel dinge verander en verander te veel dinge feitlik elke dag in ons lewens.

Wanneer ou en bekende waardes en lewenstyle wat  'n mens aangehang het, broers en susters, so rondom  'n mens verbrokkel, laat dit  'n mens se geloofslewe ook nie onveranderd nie. Juis ook op godsdienstige gebied lees ons deesdae in die dagpers en in ons eie kerklike tydskrifte hoeveel van ons basiese geloofswaarhede bevraagteken word. In sulke omstandighede maal daar baie vrae in jou kop. En al wil ons hierdie vrae ontken of onderdruk, broers en susters, knaag hulle tog diep binne-in jou gemoed en maak dit jou angstig.

Dit is egter gelukkig so, broers en susters, dat dit nie die eerste keer in die geskiedenis van die wêreld is dat dramatiese veranderinge gelowiges in die gesig staar nie. Talle gedeeltes in die Bybel weerspieël gelowige mense se gestoei om sin te maak uit verbrokkelende sekerhede en waardes.

Iets daarvan sien  'n mens as jy Spreuke 8 met Prediker 9 vergelyk. In Spreuke 8 lees ons van  'n tyd in Israel se geskiedenis toe alles voorspoedig en blink gegaan het, toe hulle  'n selfstandige volk was met  'n eie land en  'n eie regering. En, soos dit duidelik in Spreuke 8:12-21 na vore kom, is dit in sulke tye maklik om te glo en vaste waardes en lewensreëls te hê.

As 'n mens hierdie gedeelte aandagtig lees, broers en susters, is dit asof die wysheidsleraars hier wil vra: Hoe verklaar  'n mens dit dat ons so geseën word met voorspoed en mag? En dan antwoord hulle sommer self die vraag: Eintlik kan dit nie anders nie. Want wie wysheid het, dit wil sê, wie insig het in die wyse waarop God die wêreld bestuur, in daardie God glo en lewe soos daardie God vra, behaal mos sukses en het mag (Spr 8:14). Mense wat die Here ken, het rykdom en eer, en ook duursame en blywende besittings (Spr8:18). En, in Spreuke 8:21: hulle skure is vol. Hulle het geen gebrek nie. Dit is, broers en susters, ongelukkig wat voorspoedgodsdiens vandag nog baie keer preek: Gelowige mense word nie siek nie, treur nie, is nie arm nie, raak nie werkloos nie, het geen probleme nie.

Die voorspoedgodsdiens van Spreuke 8, broers en susters, is die godsdiens van  'n ongekompliseerde, probleemlose, kommervry lewe. Dit is 'n godsdiens wat antwoorde op al jou vrae het,  'n godsdiens waar  'n mens jouself op die skouer kan klop omdat God sogenaamd aan jou kant in die geskiedenis staan. Dit is  'n godsdiens van sekerhede. 'n Maklike godsdiens.  'n Godsdiens wat eintlik niks van jou vra nie, want jy ontvang net.

Die lewe, broers en susters, het egter die manier om skielik te verander. Voorspoed kan die wyk neem, jy kan jou mag verloor en jou moed kan saam met jou besittings verdwyn en jou skure kan leeg raak (om die woorde van die teks te gebruik). Soos byvoorbeeld met Job gebeur het. Of soos dit met Israel die geval was toe eers die Babiloniërs, daarna die Perse en toe weer die Grieke oor hulle geloop het en hulle 'n klein en onbeduidende groepie onderdane van vreemdes geword het.

Dit is dan ook tydens hierdie gebeure, toe die hele Joodse kultuur onderdruk van die Griekse filosofie en lewenstyl gekom het, dat die Prediker geleef en geskryf het. In sy tyd was dit  'n ander storie as in die voorspoed dae van Spreuke 8. Want toe dinge begin skeef loop, het mense se voorspoedgeloof gevou en sekerhede het verdwyn. Ja, ewe skielik het die woordjies God en lot nie meer met mekaar gerym nie.

In sulke tye, broers en susters, gebeur dit dikwels dat mense die geloof— maar ook die kerk en selfs God — afskryf. In die moeilike tye van die Prediker lees ons dat baie Jode deur operasies hulle besnydenis ongedaan gemaak het. Ander weer het die geloof van hulle vaders by die Griekse lewenstyl aangepas. En nog ander het vurige aanhangers van Griekse gode soos Zeus en Artemis geword. In ons tyd, broers en susters, het duisende Duitsers byvoorbeeld na die Tweede Wêreldoorlog hulle bande met die Lutherse kerk met  'n handtekening losgemaak. En op eie bodem is daar dieselfde gevaar: Baie van ons mag vorentoe so teleurgesteld word in ons politieke, ekonomiese en ander omstandighede, dat ook hulle die geloof, die kerk, en God kan afskryf.

Daar is egter ook  'n ander weg,  'n ander moontlikheid, broers en susters, om op veranderende omstandighede te reageer. Naamlik die weg van worstel om tot nuwe insig en tot  'n nuwe geloofsverbintenis met God te kom — soos wat die Prediker gedoen het toe alles rondom hom in duie gestort het en almal se voorspoedgeloof en sogenaamde sekerhede soos mis voor die son verdwyn het.

Lees 'n mens Prediker aandagtig deur, terwyl jy in gedagte hou dat 'wysheid’ destyds beteken het om geloofsinsig in die lewe te hê (d w s, om reg te lewe en om alles te kon verklaar en in sy regte vakkie te kon plaas), val die verskille tussen Prediker en Spreuke baie duidelik op.

  • As Spreuke 8:14 simplisties sê: `Wie wysheid het, behaal sukses ',sê Prediker 7:15 baie versigtiger: ‘Ek het gesien  'n regverdige mens gaan onder, al doen hy reg en  'n goddelose geniet  'n lang lewe, al doen hy verkeerd’, en Prediker 9:2: ‘Een en dieselfde lot tref almal; die regverdige en die goddelose’.
  • As Spreuke 8:15 sê: ‘Met wysheid regeer konings goed’, sê Prediker 10:7: ‘Ek het slawe te perd gesien en vorste te voet op die grond soos slawe’.
  • As Spreuke 8:18 beloof: ‘Wie wysheid het, het rykdom en duur besittings’, antwoord Prediker 5:10: ‘As die besittings baie word, word die eters baie, al wat die eienaar daaraan het, is om dit te aanskou’. En: ‘Ek het in die lewe  'n bitter ding gesien: dat 'n man rykdom opgaar en dit bring vir  hom net ellende; God gee aan iemand rykdom, besittings en eer, maar God laat hom nie daarvan geniet nie en iemand ander gebruik dit’ (Prediker 6:1-2).
  • As die Spreuke digter glo: Waar wysheid is, is geregtigheid, sê die Prediker in Prediker 3:16: ‘Ek het in hierdie wêreld gesien: waar daar reg moet wees, is daar onreg; waar daar geregtigheid moet wees, is daar oortreding’, en ‘As jy sien armes word verdruk, en daar is geen reg of geregtigheid in die gebied nie, moet jy nie jou daaroor verbaas nie’ (Prediker 5:7).

Kortom, broers en susters, die Prediker se eie waarnemings en lewenservaring het nie geklop met die voorspoedgodsdiens van Spreuke 8 nie — net soos ons ook moontlik vorentoe kan ervaar dat hoe ons in die verlede oor voorspoed gedink het, ja selfs hoe ons oor God gedink het, nie klop met ons lewenservaring nie. Of ons nie dalk ook maar net  'n godsdiens geleef het wat niks anders as  'n voorspoedgodsdiens was nie.

Belangriker egter is die vraag, broers en susters, wat die Prediker in hierdie omstandighede gemaak het. Dit is vir ons vanaand baie belangrik om dit raak te sien. Prediker het nie die baba met die badwater weggegooi nie. Hy het nie die geloof, die kerk en vir God afgeskryf toe alles rondom hom verander het nie. Nee. Hy het met God begin worstel, nuut oor sy geloof begin dink, nuut oor God begin dink.

Na hierdie nuwe proses van dink, sien ons, het hy bitter min van Spreuke 8 se sogenaamde sekerhede oorgehou. Dit sien ons duidelik uit Prediker 9:1-2 en 11-12:

  • God regeer oor die wat reg/wysheid het en nie het nie;
  • niemand weet of daar vir hom liefde of haat wag nie;
  • een en dieselfde lot tref almal, die goeies en slegtes;
  • soos dit met die goeie gaan, so gaan dit met die sondaar;
  • dit is nie die vinniges wat die reisies wen nie;
  • nie die sterkes wat die oorlog wen nie;
  • nie die met wysheid wat kos het nie;
  • nie die met kennis met wie dit goed gaan nie.

Wat hy dus agtergekom het, is dat die manier waarop God die wêreldbestuur, nie onder maklike verklarings van God en onder eenvoudige belydenisse tuisgebring kan word nie. Want, sê hy in Prediker7:24 en Prediker 11:5: ‘Die betekenis van alles wat gebeur, lê buite bereik, baie diep, wie kan dit vind?...Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van  'n swanger vrou, net so min kan jy die werk van God verstaan’.

Maar, broers en susters, ten spyte van hierdie uiters negatiewe en siniese gevolgtrekking oor die lewe, het die Prediker nie die geloof, die kerk en God vaarwel geroep nie. Want van al die sekerhede van die geloof waarvan ons in Spreuke 8 lees, het hy net een ding oorgehou: dat  'n mens God met die lewe kan vertrou, al verstaan jy die lewe, en jou lewe, nie altyd nie. Dit lees ons pragtig in Prediker 2:24-25:‘Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit  'n gawe van God is. Wie kan eet, wie kan geniet as God dit nie moontlik maak nie?’

Of, broers en susters, kom ons sê dit totaal anders: Toe die Prediker se geloof arms afgebreek het, het hy baie ver getuimel, maar in die arms van God beland: Want,  sê hy in Prediker 7:13-14: ‘Kyk na die werk van God: wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het? Wees bly op die dag van voorspoed, en as daar  'n dag van teenspoed kom, sien dit so: soos die een het God ook die ander gemaak sonder dat die mens weet wat vir hom voorlê’. Met ander woorde, vir die Prediker bly die hele lewe  'n geskenk van God — of dit nou voorspoed of teenspoed is.

Hierdie insig van die Prediker, broers en susters, is nie  'n negatiewe of morbiede uitkyk op die lewe nie. Nee. Dit is eerder  'n erkenning dat daar in die lewe geen sukses resep is, niks is wat jy kan doen om vir jouself voortdurende of blywende voorspoed te verseker nie. Al wat daar in die lewe is, is gawes uit die hand van God. En niks meer nie. Nie ons vroomheid, ons kerkgang, ons kerklike bydrae, ons sogenaamde konserwatiewe of liberale teologie, ons teorieë oor die politiek, ekonomie of wat ook al, kan ons verseker dat ons lewens voorspoedig sal verloop nie. Al wat oorbly, is: ons is in God se hand. Dit is al sekerheid in hierdie lewe.

Die belangrikste insig waartoe die Prediker gekom het is dus dit: geloof in God is nie bedoel om jou paadjie gelyk te maak nie. Geloof in God is eerder bedoel om jou krag te gee om, wat ook al die omstandighede, vir die lewe te kies, en om die lewe self as Godsgeskenk te waardeer en te geniet. Daarom sê hy in Prediker 9:7-10:

  • eetj ou brood met vreugde;
  • drink jou wyn met  'n bly gemoed;
  • geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet;
  • dra wit klere en versorg jou hare;
  • doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen;
  • dit is wat jou toekom in die lewe.

Predikers e geloof in God, broers en susters, was dus aan geen voorwaardes gekoppel nie. Sy geloof was dankbare aanvaarding van wat God gee, dit het die minimum gevra:  'n stukkie kos,  'n bietjie vreugde,  'n sprankie liefde, en oorgawe aan wat hy doen.

Broers en susters, kom ek begin saam te vat: Die vraag wat Prediker vanaand aan u en my vra is die volgende: As dit so is dat ons geen voordeel uit ons geloof kan trek nie, as ons nie beloon word omdat ons glo nie, as ons geloof ons nie voorspoed waarborg nie — sal ons dan nog steeds kies om gelowige mense te wees en die lewe ten spyte van die dood as sinvol te beskou?

Of, baie korter: Waarom glo ons? Is dit omdat ons bang is ons verloor ons mag, geld, besittings of gesondheid? Of dat ons glo teenspoed plek sal maak vir voorspoed? Of glo ons omdat ons altyd wil lewe? Glo ons dus omdat ons daaruit voordeel wil trek,  'n beloning daarvoor wil ontvang? Is ons geloof dus maar net  'n voorspoedgeloof?

Of, broers en susters, glo ons omdat ons bereid is om die geloofsuitspraak te maak dat die geloof alleen sin in die lewe gee en ons nie sonder God kan lewe nie? Omdat ons weet, soos in die geval van die Prediker: ons is in God se hand, die lewe self is ‘n Godsgeskenk wat waardeer en geniet kan en moet word?

Die vraag wat elkeen van ons dus vanaand vir onsself moet antwoord is die volgende: as ons al ons mag, besittings en gesondheid verloor, wat gaan ons doen? As al ons ou sekerhede van ons weggeneem word, ons in 'n al hoe vreemder en Godsvyandige wêreld moet lewe, as ons as Christene die minderheid word waar ons woon, as dit vir ons lyk of voorspoed plek maak vir teenspoed, wat gaan ons maak?

Gaan ons rouklere aantrek, as op ons koppe strooi, belang in die lewe verloor en die geloof in God vaarwel roep. Of sal ons, soos van gelowiges verwag word — en soos die Prediker gemaak het — elke dag wit klere aantrek, ons hare versorg, liefhê, geniet, en alles wat ons doen met oorgawe doen omdat dit dié deel is wat God vir ons in die lewe gee?

Glo ons dus werklik, broers en susters, dat ons in God se hand is, dat alles wat ons het en ontvang van God kom, en dat ons daarom vir die lewe kan kies, en die lewe as Godsgeskenk kan geniet?

Wie so leef, het in  'n wêreld vol veranderinge en onsekerhede niks meer nodig nie. Want hy/sy weet: Voorspoed beteken om in God se hand te kan wees, en niks meer as dit nie. Want ons nog meer nodig het,sal God vir ons gee!

Amen