Matteus 16:13-28

Die sleutel van die koninkryk lê in ons elkeen se hand!



Broer en susters
Ons lees in die gedeelte dat Jesus in die omgewing van Sesarea-Fillipi was. Sesarea-Fillipi was ‘n stad wat gebou was deur Herodes Filippus, ter ere van keiser Augustus. Vandaar dan ook die naam: Sesarea (caeser) en Filippi, afgelei van Filippus se naam. Maar net so belangrik: dit was gebou met geld wat die Jode as betaling aan die keiser moes betaal. Geld wat hulle eintlik nie gehad het nie, maar by wyse van magsuitoefening van die keiser se kant af, maar net moes betaal. Dus, geld wat met bitterheid en teenkanting betaal is.

 Om hierdie rede was Sesarea-Fillipi vir elke Jood ‘n simbool van die Romeinse heerskappy in Palestina, ‘n simbool van verdrukking, onregverdigheid en onvryheid. ‘n Simbool wat gemaak het dat die Jode net ernstiger en meer intens laat uitsien het na ‘n Messias (verlosser) – wat in die Ou Testament belowe is – wat hierdie Romeinse juk van hulle sou kom afgooi. Daarom was dit heel gepas dat Jesus juis hier, by Sesarea-Fillipi , vir die mense gevra het wie hulle dink Hy is.

Sesarea-Fillipi, broers en susters, was egter ook die simbool van iets anders. Want voordat Filippus die stad herbou het, was Sesarea-Fillipi se naam Panreas, dit wil sê ‘n stad tot eer van die Griekse god Pan. Wat beteken het dat dit ’n stad was tot eer van ‘n mens gemaakte God en tot eer van ’n god gemaakte mens. In wese was hierdie stad dus ’n simbool van die verwerping van God.

Soos bo gesê, broers ensusters, is dit daarom geen wonder dat Jesus juis hier, by hierdie simbool wat ‘n stuk messias verwagting opgewek het, by hierdie simbool van ’n mensgemaakte god en ’n god gemaakte mens, vra: Wiesê julle is ek? Dat juis hier, waar daar soveel gedagtes/opinies bestaan om die komende messias, gode en mense, die dissipels moes besluit: Wie is Jesus? Waar pas Hy in?

Ons sou dan ook kon sê, geliefdes, dat Sesarea-Fillipi tussen twee pole staan: dit wat die mense (dissipels) wou gehad het Jesus vir hulle moes wees, en dit wat Jesus regtig was (dit wat God wou gehad het Hy moes wees).

Aan die een kant was daar Petrus, en aan die ander kant was Jesus. Petrus, die man van die volk wat wou hê dat Jesus hierdie stad moet platvee, en Jesus met die goddelike opdrag om die stad te red. Aan die een kant Petrus met sy wrewel teen die stad, en aan die ander kant Jesus, hartseer en bewoë omdat die stad en sy inwoners so sondig was en God nie geken het nie. Dus, twee standpunte, twee stelle ideale, twee stelle gedagterigtings.

Wanneer Jesus dan vra “Wie sê die mense is Ek”, laai die spanning tussen hierdie twee pole op. Luister maar na die antwoorde: U is Johannes die Doper (wat ernstig gepreek het teen die morele lewe van Herodes Antipas), Elia (wat in ’n voortdurende stryd met koning Agab gewikkel was), en Jeremia (wat die rykes van sy tyd erg aangespreek het oor die onreg wat hulle teenoor die armes gepleeg het). Dit wil sê, stormagtige figure, mense wat bereid was om op te staan teen gesag, mense wat voldoen aan die Messias wat verwag is. Mense wat hierdie stad (as simbool van die mensgemaakte god en godgemaakte mens) sou platvee. Maar dit sien hulle nie van Jesus nie, tog een van die profete (volgens hulle ten minste), want die stad staan nog!

Juis daarom, broers en susters, Jesus se tweede vraag aan die dissipels: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” So amper asof Jesus hulle ‘n antwoord in die mond wil lê: Maar julle, julle ken my mos. Julle is tog anders! En dan kom Petrus se geweldige belydenis: U is die Messias, die Seun van God! Hierdie mense sien iets messiaans in u (iets van die messias wat in die Ou Testament verwag is), maar ons sê U is die ware Messias, die Seun van God. Hulle sê u is maar net nog ’n profeet, ons sê egter U is God.

En dadelik is die spanning weer daar tussen die twee pole. Want Petrus het met hierdie woorde iets anders bedoel as wat dit klink. Want Petrus sê hierdie woord met Sesarea-Fillipi in gedagte, en nie met God nie. Dat Jesus hier as God staan voor ‘n stad van ’n mens gemaakte god en ’n godgemaakte mens verstaan hy nie veel nie, vir hom is dit alleen belangrik dat Jesus vir ‘n slag voor hierdie stad gebring kan word, dat Hy hierdie sweer kan sien. En daarom is dit met Petrus hier soos dit ietwat later telkens met hom sou wees: op die berg van verheerliking wil hy drie hutte, een vir Jesus, een vir Elia en een vir Moses bou omdat Hy nie verstaan wie Jesus werklik is en wat Hy kom doen het nie. Of soos in Markus 8: waar Hy ook Jesus as die Messias bely, en ook daar nie verstaan het wie Jesus werklik was nie.

En juis daarom antwoord Jesus hom: Salig is jy, Simon, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar die Vader wat in die hemel is! Met ander woorde: gelukkig is jy Simon, om hierdie belydenis te kon maak, want dit is nie jyself wat dit uitgedink het nie, jou belydenis kom van God af.

Met ander woorde: sonder ingrype van God kom geen mens tot insig nie. Vlees en bloed, die mens, die sondaarmens, het nodig om deur God voorgelig te word. Vir Simon (en vir ons) om salig gemaak te word, vir vlees en bloed om te verstaan hoekom/hoe Jesus voor Sesarea-Fillipi gestaan het (met bewoënheid, met die behoefte om hierdie stad te red), daarvoor is openbaring, die feit dat God ons moet leer, nodig. Juis daarom is hierdie belydenis nie in die hart van Petrus gebore nie, en juis daarom kan Simon uit sy eie nie Petrus (rots) genoem word nie. Want daarvoor is genade nodig. Genade wat God aan ons elkeen gee.

Geliefdes, kom ons stop eers hier! Kom ons vat saam. U sal met my saamstem dat die gedeelte, die logika van die gedeelte, en dalk ook die wyse waarop ek dit probeer uitlê het, effens moeilik was om te snap en te volg: So, kom ons probeer in kort sê wat die gedeelte tot hier vir ons wil sê:

Die mens van vlees en bloed, die sondaarmens (ons!) kan nie self weet wie God regtig is nie. Die gedeelte is hiervan ‘n bewys (dink gerus weer aan Petrus se belydenis). Maar net so kan die mens nie uit sy eie verstaan hoe God sondaar mense lief kan hê nie (dink gerus weer aan Jesus se houding teenoor Sesarea-Fillipi).

Maar tog wil God ons, sy kinders en sy gemeente gebruik om te werk in sy koninkryk. Wil God u, as ouderling, byvoorbeeld gebruik om opsig oor ander uit te oefen. Te vermaan, te tug. En u as diaken om ander te versorg. By te staan. U as gemeentelid om ander te wys deur u woorde en dade wie God is.Wat Hy vir die sondaarmens wil doen. Maar nog meer. Dat Hy sondaarmense wil gebruik om die Woord van God aan ander te verkondig.

En dit alles terwyl ons nie eers uit onsself kan weet wie God is nie. Uit onsself kan besef hoe God dink/voel oor die sondaarmens nie. Inteendeel! Waar ons so dikwels soos die skare, en Petrus, van God maak wat Hy nie is nie, God net wil gebruik wanneer ons Hom nodig het!

En tog, broers en susters. kan ons dit, al hierdie dinge doen. Tog kan ons weet wie God is. Hoekom? Omdat God Hom aan ons openbaar! Omdat God vir u/my/ons die pad aanwys. Dat Hy ons in staat stel om die belydenis dat God ons God is, te kan verstaan.

Of anders gestel: Dat soos Petrus in sy swakheid en onkunde, met sy verkeerde motiewe deur God gebruik isom te kan sê dat Jesus die Seun van God is, net so kan/wil God ook ons in ons swakheid/onkunde gebruik om vir Hom te leef en dinge te doen.

En hoe? Deur vir ons die belydenis te gee. Deur self die pad aan tewys. Deur Hom aan ons te openbaar. Vir ons, deur die geloof/genade bekend te maak, nie net wie Hy is nie, maar ook hoe ons, en hoe ek(soos Hy), behoort op te tree teenoor die een wat saam met my is, wat by my is (by wyse van spreke Sesarea-Filippi lief kan hê/hulle wat van my verskil/wat vir my ‘n gruwel in die oog is/wat my haat. En Jesus alleen leer ons om dit te doen.

Nie omdat dit ’n opdrag van vlees en bloed is nie, maar van God. Omdat dit, omdat God ons die krag daartoe gee, niks anders as ’n Goddelike opdrag is nie.

Juis daarom is dit heel veilig wanneer God die sleutels van die koninkryk aan ons as sy gemeente (opgrond van die genade/as gevolg van die openbaring) oorhandig. Van Jesus wat vroeër self hierdie sleutel hanteer het. Wat gesêhet: “Jou sonde is vergewe”. “Jy moet glo!” “Jy moet jou lewe verander!” “Jy moet gehoorsaam wees!” Maar nou is Jesus weg. En nou moet ons dit doen!

Moet ons oopsluit en toesluit (’n ou rabbynse spreuk) wat beteken: moet ons, ook vir ander besluit wat goed/nie goed vir die gemeente en die koninkryk is. En dit kan ons doen! Al is ons sondige mense. Moet ons dit doen. Omdat God ons voorgaan. Omdat God in ons monde die woorde sal lê, soos Hy dit in die geval van Petrus gedoen het. Maar dan moet ons alleen leef vanuit die openbaring van God (=Bybel), dit wil sê, op grond van wat God sê. En kan die verkondiging nie alleen gehoor word nie, dit help nie net ons ken dit nie, ons moet die prediking ook oopsluit en toesluit. Ons moet vermaan. Ons moet aanspreek. Al doen ons dit as mense. Al besluit ons as mense wat goed/sleg is. Maar dan moet ons sê wat God sê, en nie wat mense sê nie. Moet ons sê soos God Hom aan ons openbaar.

Wat sê die mense?’ was die eerste vraag van Jesus. `Wat sê julle?’ was sy tweede vraag. Die antwoord op die eerste vraag was ‘n menslike antwoord. Waar mense in ongehoorsaamheid met Jesus (en God) wou maak wat hulle wou.

Die antwoord op die tweede vraag was ‘n goddelike antwoord. ‘n In gegewe antwoord. Waar ek na God luister en dan antwoord. Waar ek eers hoor hoe God wil. En eers danhandel/optree. Soos God wil.

Dit, geliefdes, is die verskil tussen die wêreld/gemeente. Of kom ons stel dit skerper. Dit is die verskil tussen die ongelowige en die gelowige.

Die ongelowige maak van God wat hy wil, die gelowige maak soos God wil. Die ongelowige sondig wanneer hy/sy wil, kom kerk toe wanneer hy/sy wil, lees/bid wanneer hy/sy wil) voed sy kinders op/baklei met almal rondom hom, word kwaad/haat wanneer hy/sy wil. Maar die gelowige doen hierdie dinge nie, want hy/sy maak soos God wil. Nee. Hy/sy luister eers na God,wag eers dat God self sê wie Hy is, wat Hy is en hoe Hy gedien wil word. Met ander woorde, die gelowige lees eers die Woord, luister eers na die Woord, en maak dan soos God wil. Om so met sy lewe, sy woorde/dade te sê: “U is die Messias, die Seun van die lewende God”.

Geliefdes, wat het ek vanoggend vir u probeer sê? Christus is nie meer hier nie. Hy het die sleutels van die koninkryk vasgehou. Hy het besluit wat reg en verkeerd was in die koninkryk. Hy het vergewe, gedien, veroordeel, vermaan, vertroos, tot geloof gebring, aangespreek, die nuwe lewe verkondig.

En nou moet ons dit doen! Al kan ons nie volkome weet wie God werklik is nie. Al kan ons nie altyd verstaan dat Jesus almal, voor die voet, nie alleen oor dieselfde kam geskeer het nie, maar sonder uitsondering almal se sondes vergewe het nie.

En God sal ons help om dit te doen. Hy sal ons wys/leer/gebruik. Soos Hy hier met Petrus gedoen het. Maar dan moet ons na God se Woord luister. Dat ons kan maak soos God wil. En nie soos ons wil, of somtyds van God maak wat Hy nie is nie.

En dit geld vir elkeen van ons. God wil elkeen van ons gebruik. Wat meer is: God het alreeds elkeen van ons die sleutel van die koninkryk gegee. Waar ons indirek bepaal wie ingesluit/uitgesluit gaan word. Hoekom sê ek so?

Bepaal God dit nie? Beslis. Maar ook ons. Al is dit hoe indirek. Want dit is ons wat met ons lewens moet wys (waar ons soms nie eers ‘n woord hoef te sê nie) hoe iemand moet lewe wat in die koninkryk ingesluit wil wees. En reeds is: Omdat ons aan ander wys: ‘n gelowige maak God nie soos hy wil nie. Hy maak soos God wil (interme van die teks: sê nie Jesus is Johannes die Doper, Elia of een van die profete nie, maar die Seun van God).

Wat as ons God maak en lewe soos ons wil hê God moet wees, beteken dit dat God by ons moet aanpas. En ons dus in wese lewe soos ons wil lewe. En om dit aan ander (bewustelik/onbewustelik) voor te hou, is om ‘n voorbeeld te stel wat ander uit die koninkryk uitsluit.

Maar om te maak soos God wil, deur eers te wag dat God my voorgaan en leer om reg te lewe en reg te praat (soos in die geval van Petrus), is om ander in die koninkryk in te sluit. Want dan sê ons met ons hele lewe: Dit is soos God wil.

 Ek sluit af: U sal met my saamstem: Wat ‘n geweldige opdrag! Maar ons kan nie hiervan wegkom nie. Want dit is ‘n Goddelike opdrag. En wat meer is. Dit is ons elkeen se opdrag. Nie een van ons word uitgesluit nie. Maar kom ons pas op dat ons nie ander uit die koninkryk uitsluit nie, deur van God te maak wat Hy nie is nie, of deur verkeerd te lewe.

God sal ons voorgaan/lei/help. Hy het dit met ‘n swakkeling soos Petrus gedoen.

En vanoggend kom Hy weer, en sit in elkeen van ons swakkelinge weer die sleutel wat insluit/ uitsluit. Wat gaan ons met hierdie sleutel maak?
Amen