Genesis 11:1-9

Die torinkies wat ons bou



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Die verhaal van Genesis 11:1-9, meen baie teoloë, het voorheen uit twee losstaande verhale bestaan. Een verhaal sou dan verklaar/vertel waarom die mense van die groot stad Babel so baie tale deurmekaar kon praat. En die ander verhaal het 'n verklaring gebied vir die geweldige groot toring — of soos dit genoem is: die ziggoerat —wat daar in die stad gestaan het, maar wat blykbaar net halfpad voltooi is.

Die feit van die saak is egter, broers en susters, of hierdie mense dit nou reg het of nie, dat ons dit in die Bybel as een verhaal het. En watter verhaal is dit nie! Want iemand het eendag gesê dat dit 'n verhaal is wat eerder in 'n grapboek of  'n boek vir swape tuishoort as in die Bybel.

Want, het hierdie persoon gesê, kyk bietjie presies wat gebeur hier: Kyk, het hierdie mense vir mekaar gesê, ons gaan verstrooid raak oor die wêreld. So kom ons bou vir ons hier 'n stad. Nie los huise van mekaar nie. Want ons is te veel, dan sal ons te vêr uiteen woon. Kom ons lê liewer 'n stewige fondament en maak vir ons harde bakstene van die goeie Sinear klei en bou 'n toringstad,  'n stad wat in wese bestaan uit een groot geweldige toring (want dit is wat die woordjie ziggoerat in die Hebreeus beteken, nie  'n toring in  'n stad nie, maar 'n stad in die vorm van 'n toring). Al moet ons dit later deur die wolke bou om vir almal plek te maak, het hulle vir mekaar gesê. En, bo alles: dink net wat sal die ander mense sê as hulle ons toringstad sien, ons meesterstuk — ons sal vir ons naam maak.

Wanneer 'n mens, broers en susters, vanuit hierdie perspektief na hierdie verhaal kyk, moet  'n mens miskien saamstem dat dit so effens lagwekkend lyk. Dit laat 'n mens ook dink aan die Grieksekomedie skrywer Aristofanus, wat geskryf het oor twee Atheners wat so moeg geraak het vir die Atheense senaat en belastinggaarders dat hulle 'n stad tussen die wolke gaan bou het, weg van alles en almal:die Wolke-Koek-Koek stad het die mense dit genoem.

Maar dit is 'n komedie. En hier staan ons voor 'n nie baie minder soortgelyke verhaal in die Bybel. Is dit 'n verhaal om maar net 'n bietjie oor te lag, soos Aristofanus se komedie. Of wou God hier maar net so 'n bietjie humor hier in die Bybel plaas? Mense wat geen kennis het van gewapende beton en allerlei wette van wrywing en stremming nie: hulle wil 'n toringstad bou! En dan dink hulle nog byvoorbaat aan die aansien wat dit hulle sal besorg!

As ons nou egter gaan, broers en susters, en hierdie toringstad van Genesis 11 vervang met iets soos die Verenigde Nasies (wat sogenaamd wêreldvrede waarborg), of self met Wêreldraad van Kerke (wat ook sogenaamd almal sou bekeer in die `goue sending jare' in1960-1970 en so wêreldvrede daarstel), of selfs met die woordjie staat, of wat ook al, dan verander hierdie verhaal se betekenis egter aansienlik! Dan, wil ek sê, sien ons, en die wêreld, ons gesigte tussen die swape van Sinear.

Want kom ons luister na die volgende (wat ek glo vir u bekend sal wees): Kom, sê party, laat ons vir ons 'n welsynstaat oprig waarin almal gelukkig kan lewe. Kom ons kom saam in die raadsale van die Verenigde Volke, want ons gaan mekaar uitroei. Kom, sê die Marxiste, laat ons tog maar net sorg dat ons almal op een sosiale laag beweeg, geen rykes en armes nie. Dan sal almal gelukkig wees. Kom, sê die verskillende lande in Europa, kom ons stig die Europese Unie met een geldstelsel, geen landsgrense, dan sal niemand niemand kan uitbuit nie. Dan sal ons vir ons naam maak. Dan sal onsmekaar nie vernietig nie.

En kom ons wees maar so 'n bietjie krities oor eie bodem ook, broers en susters. As ons maar net ons meester plan van veelvolkigheid kan deurvoer, dan sal ons vir ons naam maak in die wêreld. Dan sal die buiteland verstom staan. Nee, kom ons wees een groot federasie van volke, sê 'n ander groep. Dan sal ons nie verstrooid raak nie. Nee, sê ander weer, kom ons verenig in  'n gemenebes van nasies, dan sal ons vir ons naam maak. En, nee, sê ander weer,as ons maar net almal en alles kan integreer, dan sal ons vrede hê.

Met ander woorde, kom ons bou vir ons 'n toringstad dat ons nie mekaar uitroei en verstrooid raak nie en vir ons naam maak. En met al ons meesterplanne vir die optrek van ons meesterlike toring raak ons in 'n Babelse spraakverwarring en kom die bouwerk halfpad tot stilstand. En slaan ons stoelpote op mekaar stukkend omdat ons plan verskil van hulle s'n, omdat ander durf waag om te sê hulle kan beter bou as ons. En as ons ooit miskien tog vir ons naam sal maak, sal onsseker ook ernstig verskil oor wat die naam moet wees.

Wat ek hier beskryf het, broers en susters — en dit moet u mooi verstaan — het niks te make met politieke kritiek in die besonder of met iemand in die besonder of op wie of wat ook al nie. Nee. Dit het te make met ons. Want wat ek hierbo beskrywe het gebeur in ons huise, in ons skole, in ons gemeenskap, ja, ook in die politiek en staatsbestuur, en bo alles, en dit is tragies, ook in die kerk, ook in ons kerk.

Wat het gebeur, broers en susters? Hoekom slaag ons meesterplanne nie? Hoekom praat ons in so baie tale, terwyl ons almal tog dieselfde taal praat. Hoekom staan so baie van ons torings halfklaar? Ons het dan sulke goeie klei vir bakstene en sulke uitstekende sement? Genesis 11 antwoord al hierdie vrae, broers en susters. En in die beantwoording van hierdie vrae sê Genesis 11 ook sommer waaroor hierdie verhaaltjie eintlik gaan, wat dit eintlik wil sê. Die mense,sê Genesis 11, het in die dal gekom en die klei gesien en die potensiaal daarvan geskat. Hulle het 'n plan opgetrek en die potensiaal daarvan geskat. Maar hulle het hulle eie vermoë oorskat.

En op 'n dag het God kom kyk wat hulle maak. En God het die oormoed van die mense raakgesien. God het gesien hulle het gedink dat hulle nouself God geword het. Dat hulle, soos God, alles altyd sal kan doen. En toe het God hulle spraak verwar. En toe hulle mekaar nie meer kon verstaan nie, het die bouwerk al hoe stadiger gevorder totdat die toringstad halfpad bly staan het. Want God het 'n einde kom maak aan die mens se menslike plannetjies.

Maar, en dit is gelukkig so broers en susters, hier eindig die verhaal nie. Want nadat God hulle spraak verwar het en hulle so van hulle naam beroof het, het God na 'n ander stad, nie ver van Babel af nie, gegaan. Daar het Hy 'n man met die naam van Tera (wat toring in Aramees beteken) aangespreek. Tera het sy gesin geneem en tot by Haran gevorder. En daar het Hy vir Abraham, seun van Teran, gesê: Gaan jy nou weg hiervandaan na 'n nuwe Sinear. Moenie bekommerd wees nie. Al het jy geen plan nie, Ek sal jou wys waar jy moet gaan. En Ek sal jou seën en jou 'n groot nasie maak, en Ek sal jou naam groot maak. Watter pragtige kontraste tussen hierdie twee verhale!

Wat het God hiermee bedoel, broers en susters? Baie eenvoudig: meesterplanne, sê God, word nie op die aarde uitgewerk nie, maar in die hemel.  'n Groot naam kom nie deur 'n toringbouery nie, maar deur gehoorsaamheid aan My — soos Abraham. Ja, natuurlik moet ons stene maak en dit hard bak. Natuurlik moet ons torinkies bou. Maar nooit tot by die hemel nie. Natuurlik moet ons planne maak. Natuurlik moet ons ook polities betrokke wees, en by die skool, en in die gemeenskap. En natuurlik moet ons in die kerk planne maak, dinge bepraat en strategieë uitwerk. Maar nooit asof ons planne ewigheidswaarde het nie. Asof dit die enigste plan kan wees, dié meesterplan is nie.

En nooit moet ons torinkies bou sonder om te vra of my torinkie gaan oor naammakery of gehoorsaamheid aan God nie. En nooit sonder om in te sien dat my torinkie maar eintlik niks meer kan wees as 'n steentjie in God se toringwerk nie. Want daar is maar net een toring waarvan die spits tot aan die hemel ryk. Daar is maar net een plan waarin almal dieselfde taal praat, daar is net een plek waar almal saam kan woon: in die koninkryk van God. Want daar het almal dieselfde plan, om God te dien, en praat almal dieselfde taal, die taal van die evangelie.

Daarom, broers en susters, mense wat torings bou om naam te maak, mense wat meen dat hulle in so 'n toringbouery en duit dieselfde taal sal bly praat, oorskat nie net die menslike vermoë nie, hulle hoort eintlik in 'n komedie tuis — soos die een geskryf deur Aristofanus. En is hulle eintlik swape — om hierdie swaar woord hier in hierdie konteks met versigtigheid te gebruik.

Want daar is net een plan vir hierdie wêreld wat enduit sal hou, 'n plan wat nie alleen in die hemel gemaak is nie,, maar  'n plan wat nie sal eindig in 'n halwe toring nie. Van hierdie plan het Jesus so vroeg as die vyftiende vers in Markus gepraat: bekeer julle en glo in God, want die koninkryk het naby julle gekom.

In hierdie koninkryk bou die groot Bouer, stuur Hy sy Seun om die plan loop te laat kry, die fondament te lê, die hoeksteen te gee (so stel Paulus dit), en voer Hy dit verder deur 'n kruis en  'n graf, en sal Hy dit end uit voer wanneer die toring die hemel bereik, wanneer Hy weer kom om ons te kom haal.

Daarom: enige plan, hoe stewig sy fondament ook al, hoe hard gebak sy stene ook al, wat nie in gehoorsaamheid inskakel by hierdie toring van God nie, het geen toekoms nie. Die vraag is egter net: wanneer gaan ons leer dat ons eie planne nie ewigheidswaarde het nie. Miskien, as ons dit eendag wel ingesien het, sal ons ook insien dat ons onsself minder ernstig moet opneem, en God meer ernstig.

Amen