Markus 8:34-38

Die vreemdheid van die evangelie



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Die evangelie van Jesus Christus is ‘n evangelie wat vreemd is aan ons wêreld, want dit is ‘n evangelie wat in wese in druis teenalles wat sogenaamd normaal in ons lewe en wêreld is. Of inkort gesê: wat geld en werk vir die wêreld, geld en werk nie as dit kom by die evangelie nie.

In ons gedeelte van vanaand vind ons ‘n paar voorbeelde hiervan: as jy jou wil laat geld in die wêreld, moet jy sterk wees, jou laat geld waar dit moontlik is, en dikwels jou eie kop onwrikbaar en onverbiddelik volg. Anders loop ander oor jou. Daarteenoor sê Jesus, moet iemand, wat werklik deel wil wees van die koninkryk, swak word, hy moet homself verloën en hom nie wil laat geld nie, nie sy eie kop volg nie, maar wel agter Jesus aanstap. Ook: jy kan alleen oorleef, bly leef, as jy jou lewe weggee. Want, sê Jesus, wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar hy wat sy lewe weggee, sal dit behou. En kom ons wees maar eerlik: in terme van hoe ons dink en leef — om dikwels maar net te oorleef —maak dit nie eintlik sin nie.

Maar kom ek noem u nog ‘n paar voorbeelde: Wie eerste wil wees sal laaste wees. Of: wie die kleinste/minste onder julle is, hy is die grootste; wie bereid is om die onbelangrikste te wees is in die koninkryk die belangrikste; wie die swakkes ontvang, ontvang God, wie die eerste wil wees moet almal se dienaar wees.

En so kan ons aangaan. Maar kom ons erken maar: so ietwat van ‘n vreemde waardestelsel, ‘n vreemde soort van benadering tot die lewe. In elk geval, voel ‘n mens dadelik, ‘n lewenswyse wat dit vir jou bitter moeilik gaan maak om in hierdie lewe en in ons tyd te leef en te oorleef. So, sê ons maklik vir mekaar, gaan jy maar sleg tweede kom, boetie. Die wêreld gaan op jou trap. Nee wat, so sal jy nêrens kom nie.

Deur God se bril, broers en susters, lyk die wêreld en werk die wêreld egter anders. Werk die wêreld en die lewe op ‘n manier wat dikwels nie met die blote oog sigbaar is nie. Ons almal ken byvoorbeeld die gelykenis van die ryk man en Lasarus baie goed. Waar die ryk man in hierdie lewe alles gehad het, en Lasarus niks. Maar toe albei se lewens tot ‘n einde kom, het Lasarus alles gehad,en die ryk man niks. Ons ken die verhaal goed. Dalk te goed, daarom raak dit ons nie meer nie en spreek dit ons nie meer aan nie. Maar kom ons luister ‘n bietjie na ‘n moderne weergawe van hierdie verhaal, en dan dink ons weer:

Op ‘n dag het die rykste man in die dorp met sy perd in die woud gaan ry. Terwyl hy so ry, het hy ‘n stem gehoor, en toe hy tussen die bome deur kyk, sien hy ‘n ou man wat besig was om by ‘n boomstomp te kniel. Hy was besig om te bid, en in sy gebed het hy God gedank vir die karige stukkie brood wat hy in sy een hand vasgehou het en die beker water wat in sy ander hand was. Die ryk man het die ou man dadelik herken: dit was die ou man wat al ‘n paar keer by sy hek vir aalmoese kom bedel het.

Op ‘n manier het die gebed van die ou man die ryke ontstel. Nog nooit, het hy vir homself gesê, het hy daaraan gedink om God vir enigiets te bedank nie; nie vir sy geld, sy huise, al sy besittings of sy aansienlike beleggings nie. Onrustig het hy verder gery, en toe hoor hy ‘n stem wat sê: `In hierdie nag sal die rykste man in die dorp sterf’.

Ontsteld het hy huistoe gejaag en sy vrou van die vreemde stem vertel. En dadelik het hy aan die werk gespring. Hy het die beste dokter in die dorp laat kom om die hele nag by hom te waak. Rusteloos het hy die hele nag op sy bed rondgerol. Wanneer, het hy homself die hele tyd afgevra, gaan die doodsengel hom besoek? En hoe sal dit gebeur? Gaan hy ‘n hartaanval kry? Of sal daar dalk iets op hom val? Gaan sy dood vinnig en pynloos wees, of sal dit wees met baie pyn?

Uiteindelik het die dag gebreek met die son wat warm in sy kamer in skyn. Hy het verlig asem gehaal, want hy het die nag oorleef. Hy het so werklikwaar die doodsengel uitoorlê. En sy vrou het vir hom gesê:`Ek het jou mos gesê dit was alles net jou verbeelding.’

Maar sy het skaars gepraat, of ‘n boodskapper kom vra na die dokter. Iemand van die dorp het verlede nag gesterf. Wie kon dit wees, het hulle gevra? En toe kom die antwoord: dit is die arm man wat elke dag in die bos gaan bid.

Hoe vreemd, broers en susters, is die waardes van die koninkryk nie? So anders as wat ons aan gewoond is. Eintlik presies omgekeerd as waaraan ons gewoond is. Mense wat uit die hand van God leef, wat weet hoe afhanklik hulle van God is, is ryk. Al is hulle dalk arm. Maar mense wat sonder God leef, is arm. Al is hulle ryk, al het hulle alles wat nodig is om van te lewe.

Waar pas ons in, broers en susters? Kom ek sê vir u waar ons in pas,en as ek verkeerd is, dan moet u maar wat ek nou gaan sê ignoreer. Ek wil, en kan, in elk geval, nie namens u praat nie. Almal van ons wil gelukkig wees. En hoe span ons ons in om geluk te vind nie. Ons doen dinge, en jaag dinge na om geluk te vind. Ons werk hard, ons laat ons geld waar dit nodig is, ons staan ons man, ons dryf ons beginsels. Ons het soms selfs dapper en baie lofwaardige voornemens.

En wat gebeur met ons lewens? Voor ons ons kan kry, het ons malle roetine ons lewens totaal verinneweer. Het ons dag program ons baasgeword. Het die goed wat bysake is, na die bopunt van ons lysies geskuif, en die wat hoofsake behoort te wees, die onderste paar plekkies ingeneem. Of, het die belangrike dinge selfs van die lysie af verdwyn.

En voor ons ons kan kry, besef ons: ons doen al hierdie dinge om gelukte vind, maar ons is alles behalwe gelukkig. Inteendeel. Ons lewe het een stuk moeite geword. Alles het eintlik tot niks gekom. Want wat kan ons wys? Miskien maar net gebroke mense verhoudings, afgematte lywe, vermoeide siele, en bo alles, ‘n onbehae met my moeitevolle lewe. Maar ons byt maar vas, al is dit hoeveel moeite.

Wat wil Jesus vanaand vir ons sê? Vir die gelowige moet dit in sy/haar lewe gaan oor die regte prioriteite. Die regte prioriteite wat die lewe nie makliker gaan maak nie, juis so ‘n bietjie moeiliker en vol moeite. Waar ek met moeite my sal inspan om myself vir God te gee, en nie vir myself nie. Waar ek bereid sal wees om die kleinste te wees, waar ek bereid sal wees om myself te verloën en ander te dien. Waar ek bereid sal wees om laaste te wees, die minste onder almal.

Maar dink net aan al die moeite, sê ons as ons dit hoor. En u is reg as u so sê. Kom ons dink maar aan al die moeite. En kom ons dink waar ons die moeite wil hê en waar ons dit wil doen. En hier het ons net twee keuses:

Of ek jaag alles na wat ek dink vir my geluk sal bring, en vind na ‘n ruk uit dat my lewe een stuk moeite is, leeg, en eintlik nie die moeite werd nie. Of, ons sit die moeite in deur ons prioriteite dié van die evangelie te maak, met moeite begin ons te dien, met moeite is ons die minste, met moeite verloën ons onsself, met moeite is ons die kleinste. Om dan te ervaar dat ek alles weggegee het, maar so baie gewen het. Dat God by my is, my gelukkig maak, my sien, en dat die lewe een stuk vreugde is.

Wat, broers en susters, wil ek sê: moeite in die lewe sal ons altyd hê. Waar wil ons dit hê? As die einde van ons lewens, waar ons leeg en sonder God eindig, of aan die begin van ons lewens, waar ons vreugdevol en vervuld by God eindig?

As laasgenoemde ons keuse is, sal ons egter moet verstaan dat die evangelie ‘n vreemde evangelie is, dat die waardes van die koninkryk omgekeerde waardes is. Want alleen die een wat sy lewe weggee — met moeite — sal ryk wees in terme van die lewe voor God. Maar die een wat met moeite bly spartel om die lewe te behou, sal eindig waar hy/sy rusteloos in die bed rondrol met die vraag? Maar wat is in hierdie lewe nog die moeite werd? Niks nie!

Die waardes van die koninkryk, broers en susters, is vreemd. Anders as dié waaraan ons gewoond is. As ons nie wil leer om met nuwe oë na onsself en die wêreld te kyk nie, sal ons God nooit raaksien of vind nie.

Ens o, broers en susters, wil ek nie lewe nie. Hoe u wil lewe, kan u vir uself besluit. Maar miskien lê die groot besluit op ‘n ander plek: wil ons werklik God se kinders wees of wil ons nie? As ons wil, moet ons egter hoor: dit is nie maklik nie. Dit is moeite. Dit vra inspanning. Die uitkoms is egter heerlik. In elk geval, moeite sal ons altyd hê: of moeite as resultaat van ‘n lewe sonder God, of moeite vir en met God, moeite wat eindig by vreugde, vrede en geluk. En dit is tog waarna ons almal soek!

Amen