Markus 5:21-34

Die vrou met bloedvloeiïng — wat doen Jesus?



Votum: So spreek die Here: ‘Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is’. Amen

Lofsang: Psalm33: 1; 2 en 10

Na Wet

Na Belydenis

Skriflesing: Ons lees saam uit die evangelie volgens Markus, en daarvan lees ons uit hoofstuk 5 vanaf vers 21-34.

‘Wie ‘n kind van God is, luister na die woorde van God’.

Teksvers: Die teksvers vir die prediking, is vers 30b: Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: ‘Wie het aan my klere geraak?’

Gebed:

Sang: Gesang314: 1 en 3

Prediking:

(Begin met ‘n inleiding wat situasie- en gemeente gebonde is).

Daar word baie gepreek oor mense wat in nood verkeer. Vir sulke mense probeer die kerk hoop bring in hulle situasies. Ons hoor ons gereeld in die prediking dat mense uit sulke situasies die positiewe moet uithaal en geestelik daardeur moet groei. Vandag se preek handel nie oor mense wat in nood verkeer nie, maar gaan oor mense wat hulp moet verleen.

Die gedeelte wat ons gelees het handel oor twee persone wat elkeen baie desperaat is. In die eerste plek vind ons Jaïrus wat desperaat vir Jesus smeek om na sy dogtertjie te kom wat op sterwe lê. En tweedens vind ons ‘n vrou wat al vir twaalf jaar aan bloedvloeiïng ly, en wat desperaat na Jesus se kledingstuk gryp vir genesing. Ons gaan vanoggend stilstaan by hierdie vrou en haar nood.

Hoe sou u gevoel het indien niemand naby u wou kom nie? Jy mag nie saammet iemand anders slaap nie, jy mag nie saam met iemand anders eet nie, en jy mag nie aan iemand anders raak nie. Waar jy op ‘n stoel gesit het, wil niemand ná jou gaan sit nie. As jy aan iets geraak het, sal niemand anders ná jou daaraan raak nie. Vir almal rondom jou is jy eintlik ‘n baie groot oorlas. Jy moet ‘n kluisenaars bestaan voer, want niemand mag naby jou kom nie. Jy mag nie winkels toe gaan nie, jy mag nie na ‘n skool gaan nie, jy mag ook nie kerk toe gaan nie.

Vergesog sou u sê. So iets is nie moontlik nie. Maar weet u gemeente, hierdie skets is nie vergesog nie. Indien ons in die tyd van die Bybel geleef het, sou dit moontlik gewees het om só teen iemand op te tree, want ‘n handves vir menseregte het nog nie bestaan nie. Die vrou van wie ons so pas gelees het, was iemand wat só deur die samelewing uitgestoot is. Die siekte waaraan sy gely het, het veroorsaak dat sy in ‘n staat van voortdurende onreinheid was. Niks wat sy kon sê of doen kon haar vir die samelewing aanneemlik maak nie. Sy was verdoem om haar lewe in eensaamheid deur te bring. Verder het sy reeds al haar geld aan dokters spandeer sonder dat hulle haar kon genees. Hierdie vrou het inderdaad ‘n baie eensame, desperate bestaan gevoer. Sy was persoonlik, sosiaal en geestelik vereensaam.

Ons kan maar net dink hoe sy moes voel toe sy hoor dat Jesus daar verbygaan kom. Dit was miskien haar laaste kans op genesing. Persoonlik het sy Jesus nie geken nie, maar het al baie van Hom gehoor. Sy het gehoor dat Hy mense van hulle siektes kan genees. Hy het blindes weer laat sien, kreupeles laat loop. As Hy wil, het sy heelwaarskynlik gedink, sou Hy haar ook kon genees. Maar sy het ‘n groot probleem gehad. Sy sou nie naby aan die rabbi  Jesus kon kom nie. Die mense sou haar nie toelaat om met Hom te gesels nie, want dit sou beteken dat Hy ook onrein sou word. Sy was egter desperaat en sou enige iets doen.

Die mense van daardie tyd het geglo dat die krag van iemand aan sy klere afgee. As sy dus net aan Jesus se kledingstuk kon vat, sou daar van sy genesende krag na haar gevloei. Miskien sou dit genoeg wees om haar te genees, het sy heel waarskynlik gereken. Ons kan onsself indink hoe die vrou, onseker van haarself, maar tog vol hoop, na Jesus beweeg het. Hoe sy ongesiens haar hand uitgesteek het om die kleed aan te raak.

En toe gebeur die wonderwerk, sy kan voel hoe sy genees word van haar siekte. Maar nie net sy het dit gevoel nie, Jesus Christus het self onmiddellik agtergekom dat daar krag vanuit Hom na iemand gegaan het. U sien gemeente, God het deur Jesus gewerk en die vrou genees. Dit is nie omdat sy aan Jesus se klere geraak het dat sy genees is nie. Dit is omdat God dit so wou gehad het. God het dit goed gedink om hierdie vrou uit haar ellende te verlos. Haar geloof, alhoewel dit vermeng was met ‘n groot mate van bygeloof, was vir God genoeg om hierdie vrou te help.

Maar dan vind die interessante in die verhaal plaas. En dit is ook die gebeure wat vanoggend elkeen van ons moet aanspreek. Jesus steek vas, draai om en vra: ‘Wie het aan my klere geraak?’ Ons moet onthou dat Jesus op pad is om Jaïrus se dogtertjie se lewe tered. Maar hier staan Hy nou en tyd mors om met die vrou te gesels, selfs al weet Hy dat sy reeds genees is. Hoekom tree Jesus dan soop? Want Hy besef dat hierdie vrou nog nie werklik genees is nie.

Sy is miskien liggaamlik genees, maar geestelik het sy nog geen genesing ontvang nie. As Jesus die vrou nou agterlaat, sal sy dalk nooit vir Jesus, en dus ook vir God, ontmoet nie. Sy sal altyd maar bly glo dat dit Jesus se kleed is wat haar genees het. Daarom stop Jesus in sy haas om by Jaïrus te kom, en maak tyd om met die vrou te gesels. Want eers wanneer sy in ‘n persoonlike verhouding met God staan, sal daar vir haar volkome genesing wees.

En net soos wat Jaïrus op sy knieë geval en Jesus gesmeek het om saam met hom te kom, net so val hierdie vrou op haar knieë en dank Jesus vir wat gebeur het. Haar aanraking van Jesus se kleed, het twee sake met mekaar in aanraking gebring: Haar geloof en die krag van God wat deur Jesus Christus werk. En dit is wat aanleiding gegee het tot haar genesing.

Jesus antwoord haar toe met die woorde: ‘…dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees’. Jesus het die vrou nie gelaat met haar bygeloof nie. Hy het in ‘n ontmoeting met haar getree, sodat sy nooit weer alleen sal wees nie. Hierdie vrou het nie bloot net liggaamlike genesing ontvang nie, maar is ook na die geestelike heel gemaak. As mens was sy nou ten volle genees na liggaam en gees.

U sal seker vir my wil sê, maar ons het dit alles geweet. Ons het geweet dat dit nie Jesus se kleed is wat die vrou genees het nie. Ons het geweet dat God die gelowige se gebed beantwoord. Eintlik het hierdie verhaal vanoggend niks nuut vir ons geleer nie. Maar broers, susters en kinders, ons moet nie vanoggend stilstaan by die vrou en haar geloof nie. Dit is belangrik, ja, maar ons moet vanoggend gaan kyk na Jesus Christus se optrede. Wat het Jesus gedoen toe Hy bewus raak dat iemand in nood verkeer?

Dit is vir ons belangrik om daarvan kennis te neem, aangesien ons eiel ewenspad gereeld die van desperate mense kruis. Daar is in ons gemeenskap baie mense wat rondloop en om hulp roep. Mense wat miskien liggaamlik gesond is, maar geestelik is hulle verpletter. Mense wat dalk nie eens ‘n snytjie brood vir ete het nie. Ons moet dan ook soos Jesus omdraai na hierdie mense en betrokke raak in hulle lewens. Soos wat die genesende krag gewerk het toe geloof en Jesus Christus bymekaar kom met die aanraking, net so moet ons ook genesing vir mense bring deur die kerk, Jesus Christus, na hulle te neem.

God het sy gesig van liefde op ‘n keer op ‘n heuwel na ons toegedraai, daarom moet ons daardie gesig van liefde na ander draai. Soos Hy ons versorg, moet ons ander versorg. Soos Hy barmhartigheid aan ons bewys, moet ons barmhartigheid teenoor ander bewys. Jesus het in sy spore vasgesteek en omgedraai na iemand in nood. So het ons ook ‘n verantwoordelikheid om stil te staan en by mense in noodbetrokke te raak. Die liefde van God is te groot om vir onsself tehou, ons moet dit deel met alle mense wat ons pad kruis.

Ons kan nie maar net aangaan en maak asof mense se nood nie ons eie lewens raak nie. Ek het onlangs gehoor van ‘n vrou wat vertel van ‘n tragiese verhaal waarin ‘n man homself en sy vrou geskiet het. Sy vertel dat sy opgemerk het dat hulle gespanne was. Verder was hulle ook terughoudend en duidelik ontsteld oor iets. Sy het dit maar bloot afgemaak as iets kleins. As ons nou terug kyk, is ditduidelik dat dit nie maar net iets kleins was nie. Twee mense is dood, en verskeie ander se lewens tragies geraak deur hierdie gebeure. As sy maar net voor die tyd geweet het watter nood daar in hierdie mense se lewe was!

Ons leef dikwels by mekaar verby met dalk net ‘n terloopse ‘Hoe gaan dit?’ in die verbygaan. Ons is nie meer elke dag bewus van die mense rondom ons se doen en late nie. Ons weet nie dat Jan sy plaasverloor het nie. Ons weet nie dat San gediagnoseer is met ‘n terminale siekte nie. Ons gaan dus blind deur die samelewing en sien nie meer mekaar se nood raak nie.

Maar glo my gemeente, die nood is groot. Dit help nie ons dink aan verskonings hoekom ons dit nie raaksien nie. Jesus Christus het ‘n goeie verskoning gehad om die vrou te ignoreer. Hy was immers op padom ‘n klein dogtertjie se lewe te red, maar Hy draai om en raak betrokke. Ons wil somtyds voorwaardes stel voordat ons betrokkeraak. Ons wil vir mense vertel dat hulle eers ‘n teenprestasie moet lewer voordat ons hulle sal help, maar dit is heeltemal verkeerd. Jesus Christus het nie gesê dat die vrou eers moet wag, want Hy het belangriker dinge om te doen nie. Jesus Christus het nie voorwaardes gestel voordat Hy sy lewe aan ‘n kruis vir ons geoffer het nie. Ons hele Reformatoriese geloof berus juis op die gedagte dat ons nie ‘n teenprestasie kan lewer om gered te word nie. Uit genade alleen word ons gered. Hoekom verwag ons dan ‘n teenprestasie van mense voordat ons iemand sal help? Kan ons eie vereistes dan hoër as God s’ n wees? Wanneer ons iemand help, moet dit onvoorwaardelik geskied.

Ons gaan met oogklappe deur die lewe en sien nie mense se nood raak nie. Mense wat desperaat is en hulle oorgee aan drank en dwelms. Mense wat desperaat is en ‘n eensame bestaan voer. Mense wat soms so desperaat is dat hulle hulle eie lewens neem.

Dit is nie vir God goed genoeg om iemand maar net ‘n geldjie in die hand te stop sodat hy moet verdwyn nie. Dit is nie goed genoeg om kos by die kerk af te laai en te hoop die diakonie neem dit vir die behoeftiges nie. Dit is nie goed genoeg om te sê: ‘maar ek het nie geweet nie’. Broers, susters en kinders, ons moet betrokkeraak. Ons moet kyk waar ons mense kan help. Ons moet soos Jesus maak en kyk waar ons betrokke kan wees. Ons moet bereid wees om vir mense te wil sê: ‘Hier is ek ou maat, wat kan ek doen. Ek sien dat jy swaarkry, maar weet dat jy nie alleen is nie’. Wat meer is, in ons betrokkenheid, moet ons God self na die mense neem. Ons moet help om ‘n bydrae te lewer dat hierdie gebroke mense, geestelik gesond word.

Ons kan nie maar net aangaan en die skouers optrek en sê ons het nie geweet van die mense se nood nie. Wanneer ons leef met die gedagte om betrokke te wees, sal ons baie Jaïrusse sien: mense wat desperaat is op genesing vir hulle geliefdes. Sal ons baie vroue sien wat alleen deur die lewe gaan. Sal ons op baie mense se gesigte sien dat die desperaatheid hulle daartoe dryf om ‘n einde aan alles te wil maak.

Daar was goeie tye in ons gemeente en gemeenskap, miskien te goed, maar dit is aan die verbygaan. Meer en meer mense raak geestelik arm en siek. Meer en meer mense met materiële nood gaan ons pad begin kruis. Ons het ‘n verantwoordelikheid om betrokke te raak by hierdie mense. Wat meer is, ons het die verantwoordelikheid as Christene om Jesus Christus aan hierdie mense te verkondig. Kom laat ons waarlik kerk wees en uitgaan in die wêreld en betrokkeraak. Laat ons leef soos Christene wat ‘n opdrag ontvang het.

Ons moet besef gemeente, dat mense somtyds daarna smag om ons aan teraak. Dat hulle daarna smag dat ons sal omdraai en vra: ‘Wie is dit wat nood het?’ Ons kan nie langer wag nie, die nood in die wêreld is groot en God wil elkeen van ons gebruik. Ons moet onvoorwaardelik omdraai en sê: ‘Wie het aan ons kleed geraak? Wie is dit wat die hand uitsteek en om hulp smeek!’
Amen

Gebed

Slotsang: Gesang 260: 1-4

Seën: Mag die Here ons seën en ons beskerm; mag die Here tot ons reddingverskyn en ons genadig wees; mag die Here ons gebede verhoor en aan ons vrede gee”.

Amen.