Filippense 1:1-11

Doen die regte ding met dankbaarheid en liefde



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Nie een van ons is presies soos iemand anders nie. Mense verskil eenvoudig van mekaar En daar is baie redes daarvoor. Eerstens het God elkeen van ons uniek geskape. Verder het nie een van ons in dieselfde omstandighede groot geword nie. Ook was die invloede wat ons as jongmense gevorm het, nie dieselfde nie.

Meer nog: persoonlikhede van mense verskil doodeenvoudig. Dit is ‘n gegewe. Sommiges is ekstroverte, ander weer introverte. Ons almal dink nie dieselfde nie. En ook:almal leef die lewe nie op dieselfde manier nie. En kom ek noem een voorbeeld vanoggend om die verskille tussen mense te illustreer: sommige mense hou doodeenvoudig nie van verandering nie. Hulle is nie lief om te waag nie. Hulle is gemaklik om vas te hou aan wat hulle het en hoe dinge is. Wat gewerk het werk mos. Hoekom dan verander? Buitendien: alles in die lewe is in elk geval deesdae so deurmekaar en alles verander so vinnig. Daarom: hou liewer wat jy het.

Ander weer benader die lewe totaal anders. Hulle hou van verandering. Daarom waag hulle. Hulle benadering tot die lewe is duidelik: as jy heeltyd agter toe krabbel, net vasklou aan wat jy het en nie wil waag op dit wat die toekoms dalk vir jou mag inhou nie, gaan jy nooit êrens in die lewe kom nie. As jy  'n gaping sien, moet jy hom vat. Dit maak die lewe in elk geval minder eentonig en saai.

En omdat mense saam met ander mense op aarde leef, het ‘n mens feitlik in enige situasie met hierdie twee groepe mense te make: dié wat wil vashou en dié wat wil waag – ook in  'n gemeente. Om albei groepe te akkommodeer (wat beide bestaansreg het), is nie altyd so maklik nie. Wedersydse respek en akkommodering is nodig. Liefde vir die ander een met sy of haar anders wees is nodig. Maar veral baie gebed. ‘n Gebed vir wysheid, wedersydse liefde, ‘n gebed dat mense, ten spyte van verskille, mekaar altyd in liefde sal vashou, staande sal hou en sal verdra.

Dit is dan ook presies wat Paulus in die gedeelte doen wat ons vanoggend saamgelees het. Filippense was die eerste gemeente wat Paulus gestig het, en daarom het hierdie gemeente logies na aan sy hart gelê. Paulus is in die tronk wanneer hy hierdie brief aan die gemeente skryf, en ten spyte van sy negatiewe persoonlike omstandighede, roep hy regdeur sy brief die gemeente op om altyd bly te wees in die Here.

Maar voor hy hierdie boodskap aan die gemeente oordra, begin hy sy brief deur vir hulle te bid. Omdat hy hulle liefhet, omdat hy weet wat hulle nodig het. En belangrik is om raak te sien wat hy bid. Hy bid vir drie dinge: hy sê dankie vir die Here vir hierdie gemeente, hy bid dat hulle sal toeneem in liefde, en hy bid vir onderskeidingsvermoё.

Waarvoor sê hy dankie? Dat hulle, nadat hulle tot geloof gekom het, elke dag met hom saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. Met ander woorde, hierdie gemeente het die evangelie verkondig deur dit te leef. Hulle het mekaar in liefde vasgehou, mekaar gedra, tyd vir mekaar gehad, mekaar opgesoek, mekaar ondersteun. En al was daar heel waarskynlik verskille, met mekaar het hulle in liefde saamgeleef. En hiervoor dank Paulus die Here.

Ek dink dat ek met redelike sekerheid kan sê dat ons baie keer dankie sê as ons bid: ons is dankbaar vir lewe en gesondheid, vir vriende en familie. En noem maar op. Maar hoeveel keer sê ons dankie, opreg dankie vir die gemeente waaraan ons kan behoort? En ek wil dit vanmore met die grootste mate van beskeidenheid sê : dit is en dit bly 'n voorreg om deel van hierdie gemeente te wees. Nie omdat ons so oulik is nie, maar omdat God op  'n baie besondere manier met ons besig is. Waardeer ons dit altyd? Meer nog: is ons met mekaar besig omdat God met ons besig is. Of anders gesê: is ons met mekaar besig soos God met ons besig is?

Tweedens bid Paulus en hy vra die Here dat die gemeente sal toeneem in liefde. Dit gaan goed in die gemeente van Filippi en Paulus is baie dankbaar daaroor. Tog bid hy die Here dat hulle liefde sal toeneem. Veral in terme van begrip vir mekaar, maar ook in terme van daardie fyn aanvoeling om na ‘n ander een te kyk en te kan sien hoe die een se oë uitroep na hulp. Dat hulle sal groei in die lewe van die liefde.

Is so iets moontlik? Ek dink tog so. En ek wil dit met die volgende beeld verduidelik: dit is algemeen bekend dat ‘n vis (en kom ons gebruik maar ‘n haai as voorbeeld), net so groot word as wat sy omgewing hom toelaat. Neem jy ‘n kleinhaai en plaas hom in ‘n vistenk, sal hy volwasse word, maar nie veel groter nie. So kan jy 'n haai kry wat heeltemal volwasse is, maar net 30 sentimeter lank is. As so 'n haai egter in die wye oseaan vrygelaat word, sal hy groei tot sy normale grootte van om en by twee meter.

Dieselfde geld vir die kind van God. So maklik loop ons die gevaar om ook maar net 30 sentimeter Christene te wees. Omdat ons wêreldjies dikwels so klein geword het. Omdat ons omgee, ons betrokke wees by word beperk tot net die mense naby aan ons, net die mense wat ons ken, net die mense wat nie veel van my vra nie. Daarom groei ons nie in die liefde nie. Want die objekte van ons liefde bly beperk. En vir die mens van God, broers en susters, kan dit nooit goed genoeg wees nie. Al wat genoeg kan wees is om met nuwe oё na die liefde te kyk, en werklikte poog om te kyk hoe my liefde kan toeneem, veral in begrip en fyn aanvoeling.

Derdens bid Paulus dat die gemeente in Filippi groter onderskeidingsvermoё sal hê. Dat hulle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dit word vertel dat Michael Angelo, die groot beeldhouer en skilder, op ‘n keer  'n stukswaar rots teen  'n skuinste opgestoot het om dit so op sy werkoppervlak te kry sodat hy met sy beeldhouwerk kon begin. 'n Buurman het gestaan en kyk hoe hy vir ure gestoei het om die stukrots te kry op die plek waar dit moet wees. Uiteindelik het hygevra: ‘Michael Angelo, hoekom sukkel jy so met daardie stuk swaar en lelike stuk rots?’ Die antwoord wat hy gekry het was: ‘Omdat daar  'n engel daarbinne is wat wil uitkom’. ‘Hoe gaan jy die engel uitkry’, het die buurman gevra. ‘Maklik’, was Michael Angelo se antwoord, ‘ek gaan net alles afkap wat nie soos 'n engel lyk nie...’.

As ons dankbaar is vir die voorreg omaan n gemeente te kan behoort, as dié dankbaarheid ons daartoe bring dat ons liefde toeneem, dan is een manier hoe ons dit kan doen om alles van en uit ons lewens af te kap wat nie soos 'n kind van God lyk nie. Eenvoudig gesê: ons moet ontslae raak van dié dinge wat nie pas by die lewe van die mens van God nie, dinge soos skinder, dit wat ander mense seermaak, die koester van wrokke, jaloesie.

Of soos Paulus dit hier stel: dat ons die dinge sal onderskei waarop dit werklik aankom. Dat ons sal aandag gee en klem lê op die dinge wat opbouend is vir die geloof. En minder tyd sal verspil aan onbenullighede. Dat wat ons doen, werklik waarde sal toevoeg, en nie verdeeldheid sal saai nie. Meer nog: dat wat ons doen, tot die Here se eer sal wees, en nie tot my eie eer nie. So maklik, broers en susters, val ‘n mens in hierdie strik! Kom ons hoor weer wat Paulus hier bid: dat ons sal kan onderskei dié dinge waarop dit werklik aankom? Kry ons dit reg? Doen ons dit?

Ek sluit af: elke dag is ‘n gawe uitdie hand van die Here. En al dink ons die dae kom en gaan maar net met ritme, is dit nie so nie. Die verskriklike gebeure rondom daardie tsoenami golf aan die einde van 2004 het ons ten minste een ding geleer: die lewe en elke nuwe dag is nie maar net iets wat vanselfsprekend is nie. Elke nuwe lewensdag is 'n kosbare geskenk uit die hand van God.

Daarom, in die woorde van Efesiërs 5, kom ons maak die beste gebruik van elke geleentheid. Kom ons kyk met nuwe oё na dankbaarheid, na  'n liefde wat aanhou toeneem, kom ons fokus op dié dinge waarop dit regtig aankom! Sodat, in die woorde van vers 11, ons altyd in die regte verhouding met God sal wees, tot sy lof en eer!

Amen