Psalm 84

Één dag in U tempel is beter as ‘n duisend daarbuite


Geliefdes van ons Here Jesus, die teksvers vir vanoggend se erediens kom uit Psalm 84 vers 11: “Waarlik, ééndag in u tempel is beter as ’n duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God.”

Broers en susters, voordat ek met julle oor hierdie besonderse psalm gaan gesels, wil ek hê ons moet onsself eers in ’n verhaal inleef. Kom ons sê dat jy iewers op reis is in die Saharawoestyn. Die toerleier sê vir jou dat jy by die betrokke oase jou knapsak met kos en jou waterbottels met genoeg water vir ’n weeklange reis deur die woestyn moet volmaak. Boonop eet en drink jy ook vandag genoeg kos voordat jy môre in die pad sal val.

Die volgende dag, dit is nou die eerste dag, is julle vroeg uit die vere en pak julle die lang en vermoeiende pad aan. Die son brand gou-gou op julle en spoedig besef julle ook hoe belangrik daardie waterbottel raak. Maar, omdat julle gister so baie geëet en gedrink het, is jou kragte nog sterk en voel jy nog perdfris. Ja, jy sien kans vir hierdie weeklange woestyntog. Op die tweede dag sê die toerleier vir jou dat jy jou kos en water moet begin rantsoeneer, maar nie in so ’n mate dat jy later sal begin ly aan ontwatering nie. Nee, jy moet genoeg eet en drink om jou kragte sterk te hou. Dit is immers nog net vyf dae weg tot by die volgende oase.

Soos die dae kom en gaan, word jou knapsak al ligter en jou waterbottel leër ... maar dit is nie al nie. Jou kragte word ook minder en jy sien met verlange uit na die volgende oase. Ja, dit is so al asof die son al hoe skerper brand, asof die sand al hoe warmer word en die sandstorms al hoe feller. Sjoe, as jy net weer by die oase kan uitkom om jou moeë liggaam in daardie verfrissende water te gaan laaf. Jy is moeg vir blikkies en plastiese kos. Dink net hoe lekker sal ’n bord gekookte kos darem nou wees. Ja, jy het amper weer nuwe moed as jy besef die oase lê net om die volgende draai.

Uiteindelik kom julle op die sewende dag by die oase aan. Jy is so verlig en bly dat jy weer ordentlik kan eet en drink. Ja, jy is weer versterk in jou kragte en lewenslus. Jy sien sommer weer kans vir die wêreld en ... ja, ook vir volgende week se woestyntog. Nadat jy die dag goed by die oase uitgerus het, sê die toerleier dat jy jou knapsak weer eens moet hervul en jou waterbottel moet volmaak. Môre stap julle weer vir ’n weeklange woestyntog tot by die volgende oase. Vir jou is dit geen probleem nie, want na hierdie lekker ruskans by die oase sien jy vir enigiets kans wat die woestyn die volgende week na jou kant toe gooi. En so loop jy vir weke en weke van oase tot oase. Wat jy aanvanklik gedink het is nie moontlik nie, beleef jy nou eerstehands kan gedoen word, mits jy jou beplanning vir die reistog reg aanpak. So sal jy uiteindelik ook uit hierdie woestyn kom.

Maar kom ons sê dat jy wel besluit om ook deel te wees van hierdie ekspedisie in die woestyn, maar jy is so bietjie van ’n avonturier ... ’n waaghals ... jy hou daarvan om kanse te vat; jy geniet dit om jouself tot die uiterstes te beproef. Toe die toerleier sê dat jy net vir een week kosvoorrade moet saamvat, toe koop jy ’n groter rugsak sodat jy vir twee weke kan kos saamvat. Jy beplan dus vir twee weke se woestyntog. Toe die groep by die eerste oase na ’n week stop om hulle kragte te herwin, toe stap jy verby ... jy stap aan na die volgende oase. Na twee weke in die woestyn begin die wêreld vir jou nie meer so lekker lyk nie... die duine raak hoër en jou treë kleiner. Gereeld verbeel jy jou jy sien die eindpunt, die oase, maar as jy daar aankom dan besef jy dat dit maar net ’n lugspieëling was. Gelukkig hou jy kop en volg jy net die rigting aanwysers na die oase. Toe jy uiteindelik by die oase aankom, was jy baie dankbaar en verlig. Jy besef dat dit nie werklik nodig was om jouself so te beproef nie, maar jy het dit darem gemaak. Nou smaak daardie bord gekookte kos eers lekker. Jy weet nou ook dat jy, as jy wel in die toekoms vir langer as ’n week in die woestyn moet reis, jy dit sal kan doen, maar gelukkig hoef jy darem nie altyd nie. Daar is gereeld oases elke week uit mekaar.

Die ironie is dat daar wel baie mense is wat sterker is as jy. Hulle kan vir baie langer as jy met die minimum kos en water klaarkom. Hulle stap nie net een week of twee weke nie. O nee, hulle hou sommer aan stap. Hulle is so vol van hulleself dat hulle meen ’n oase is net ’n vermorsing van kosbare tyd. Hulle moet so gou as moontlik anderkant uitkom, daar is nie tyd vir nonsens nie. En die uiteinde van hierdie mense is gewoonlik ’n eensame graf daar iewers in die woestyn. Hulle kos en water het ewe skielik net opgeraak ... hulle het gedink daar is nog kos en water oor in die knapsak en waterbottel, maar toe is daar nie meer nie. Hulle het te veel oases verbygeloop, hulle het nie die knapsakke en waterbottels volgemaak nie. Hulle kon later nie meer ’n oase raaksien nie, selfs nie al was daar een nie! Hulle brein het met hulle woer-woer gespeel. Hulle het van die vasgestelde roetes af beweeg omdat hulle oases raakgesien het wat nie daar was nie ... hulle het agter skyn oases aan gehardloop. Ja, ’n woestyn kan lelik met ’n mens se verstand mors, veral as jy moeg en uitgeput, honger en dors is na uitkoms. Baie keer wens sulke mense, terwyl hulle besig is om te sterf in die woestyn, dat hulle eerder nie so dom was nie, maar tog die weeklikse oases bygewoon het. Spyt kom altyd te laat. So ’n persoon sterf ’n honger en dors mens ... smagtend na uitkoms uit sy benarde posisie ... meestal verniet!

Gemeente, hierdie psalm handel oor die gelowige se wens om gereeld in die huis van God te wees. En tog, die liefde vir God se huis en die verlange om gereeld in die tempel te kom, is hier nie die middelpunt nie. Nee, hierdie psalm gaan eerder oor God, en oor die psalmdigter se verlange om naby God te wees. Immers, wat sou die tempel gewees het sonder die teenwoordigheid van God? Dit sou maar net nog ’n gebou gewees het. Maar omdat God daar aanbid en vereer word, is dit sy woonplek. Daarom is die psalmdigter se verlange en begeerte so groot om juis dáár te kan wees,want dit is dan juis waar sy God is. Ja, daardie lewende God, wat hy met sy hele wese wil dien en oor jubel, woon in die tempel.

Eintlik is hierdie psalmdigter baie jaloers oor die voorreg wat die mossie en die swaeltjie het om nes te maak in die tempel. Die mossie en swaeltjie het die wonderlike voorreg om elke dag in die teenwoordigheid van God te leef, te broei en te slaap. Net so veilig soos wat die mossie en swaeltjie in die tempel voel, net so veilig en geborge voel die gelowige in God se huis. Daarom beny die psalmdigter hierdie wonderlike voorreg van die voëltjies wat hy nie kan geniet nie. Hy sou ook graag soos die mossie en swaeltjie in die tempel wou woon, groot word en slaap.

Geliefdes van ons Here Jesus, vir die psalmdigter is daar geen twyfel oor die voordele daaraan verbonde om gereeld in God se huis te wees nie. Juis omdat hulle so gereeld na die huis van die Here gaan, word dit vir hulle ’n (tweede) tuiste ... ’n plek waar hulle ook veilig en geborge kan voel. Die gelowiges wat graag na die tempel toe kom, kan nie ophou om God te loof en prys vir al die goeie ding wat hulle uit sy vaderhand ontvang nie. God skenk aan hulle krag en beskerming in hulle daaglikse lewe. En hulle lofprysings hou nie op die oomblik as hulle die tempel verlaat nie, maar selfs daarna loof hulle steeds vir God. Hierdie God, wat hulle loof en prys, is nie net ’n God van die tempel of van die Sabbatdag nie! Nee, Hy is die lewende God van elke dag van die week waarin jy leef!

Die psalmdigter verduidelik baie mooi in ’n beskrywing van hulle daaglikse omstandighede hoe goed die Here eintlik vir die gelowiges sorg en beskerm. In die droë Palestina was water altyd 'n simbool van die Here se seën en sorg vir die gelowiges. Ons lees byvoorbeeld in Jesaja 41 vers 18 die volgende: “Ek sal op die kaal bergtoppe riviere laat ontspring, en in die laagtes fonteine laat uitborrel. Ek sal die woestyngebied in rietvlei verander, dorland in fontein wêreld.”

Daarom sê die psalmdigter ook dat die gelowiges, wat gereeld in God se huis kom, in hulle daaglikse lewens God se liefde en beskerming ervaar. Wanneer hulle deur dorre laagtes moet trek, sal God sorg dat daar altyd water is. En nie net een keer nie ... nee, daar staan uitdruklik: “Keer op keer ontvang hulle nuwe krag ...” Ja, vir gelowiges wat weekliks deur die woestynwêreld moet swerf en reis, is daar keer op keer verkwikking uit God se Woord, jou knapsak en waterbottel.

Ja, broers en susters, hierdie psalmdigter kan maar net nie wegkom van die begeerte om naby God te wees nie. Al kan hy selfs net één dag in die tempel kom om naby God te kan wees, is selfs dít beter as duisend dae daarbuite. Die betekenis wat hy daaraan heg om saam met ander gelowiges sy geloof in die tempel te bely en saam met hulle God te loof en jubel oor sy goedheid, is vir hom die belangrikste. Weer eens hoor ons hoe hy diegene wat daagliks in die huis van God kan wees beny. Ja, hy sal glad nie omgee om selfs net by die drumpel van die tempel te kan staan nie.

Die tempelwagte het daagliks by die ingang gestaan om diens te doen. Selfs in reën en storms, op snikhete en vriesende dae het hulle nooit hulle poste verlaat nie. Al moet die psalmdigter dan ook soos die tempelwagte al daardie ontberinge hê, sal hy glad nie omgee nie solank hy net naby God kan wees. Eerder dít as om in ’n warm, snoesige huisie te sit waar God glad nie geken word nie. Hy begin nou werklik die mossie, die swaeltjie en tempelwagte beny.

Daarom is dit glad nie snaaks en vreemd dat die psalmdigter se belewenis en geestelike ondervinding wat hy in die tempel geniet het, uitloop op ’n belydenis nie. Ja, hierdie lewende God gee aan die gelowiges krag, beskerming, genade en eer, en al die goeie dinge wat hulle vir ’n menswaardige bestaan nodig het. Op grond van hierdie genadegawes uiter die psalmdigter die volgende uitspraak: “Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!”

Gemeente, die vraag is: Kan jy daardie selfde belydenis maak? Hierdie psalm gee meer as genoeg bewyse om ’n menste oortuig van die noodsaaklikheid om gereeld in God se huis, die kerk, te kom. Volgens vers 6 moet ’n mens graag kerk toe wil gaan; volgens vers 5 moet die kerk vir jou soos ’n tuiste voel, met ander woorde, jy moet veilig en geborge voel, jy moet kan ontspan en rustig wees; volgens verse 6 en 13 sal dit met jou goed gaan as jy gereeld in die kerk kom; volgens verse 7 en 8 wil God baie graag diegene wat kerk toe kom, seën met sy liefde en genadegawes; en volgens vers 11 is dit in elk geval beter om in die kerk te wees as om in 'n warm, snoesige bed te lê.

En ons kom ook nie erediens toe om met lang gesigte hier te sit nie. Nee, die erediens behoort in ’n gees van vreugde en blydskap plaas te vind, want dit is juis hier, in die erediens, dat daar ’n ontmoeting tussen God en ons plaasvind. Die erediens is juis daar sodat ek iets kan kry, maar ook iets kan teruggee. In die erediens skenk die Here aan ons sy genadegawes, ontvang ons geloof en word dit ook versterk, ons word vertroos in ons ellende en verdriet, ons ontvang krag en word verseker van God se beskerming vir die res van die week.

Ja, die wonderlike is dat ons verseker kan weet dat God met ons is en ons beskerm. Net soos die gelowiges krag in die huis van die Here vind, net so ervaar ons vandag ook daardie waarheid en werklikheid. Sondae kry die gelowige sy krag en energie by die kerk in die erediens, en al wil hulle ook graag soos die psalmdigter die heeltydin die tempel vertoef, weet hulle dat dit nie moontlik is nie. ’n Mens het ook 'n lewe buite die kerk, met ander woorde, jy moet ook jou daaglikse taak gaan verrig. Maar al moet ons dan in die week“deur dorre laagtes” trek, sal die Here ons beslis van beskerming en sorg voorsien. Net soos die reisigers destyds deur water in die barre woestyn verkwik is, net so sal God ons ook met sy Woord versterk deur die week, totdat ons weer Sondag in sy huis bymekaar kan kom. Ja, keer op keer sal God ons deur die week bemoedig en versterk.

Daarom, geliefdes van ons Here Jesus, is hierdie psalm ’n oproep tot dankbaarheid van gelowiges. ’n Gelowige bewys juis sy dankbaarheid deur sy optrede teenoor God. En waar anders as juis die erediens kan ons ons dankbaarheid beter bewys? Maar ons wil die erediens nie net bywoon omdat ons dankbaar is nie, maar ook omdat God dit so beveel het (vgl Deut 5:12).

Omdat die psalmdigter geweet het dat hy nie permanent in die huis van God kon bly soos die mossie en swaeltjie nie, het hy met ’n brandende begeerte uitgesien na die volgende Sabbatdag wanneer hy weer daardie geleentheid sal hê. En dieselfde geld vir ons! Ons weet dat ons nie elke dag in die kerk kan wees nie, want ons het ’n taak om te verrig. Ons moet in die wêreld gaan leef sodat die wêreld ons ook kan leer ken as gelowiges. Maar dit beteken ook nou nie dat ons ’n kerklike lewe en ’n alledaagse lewe het nie!

Ons het net ’n geloofslewe, dit is wat Jesus Christus van ons vra! Ons kan nie sê dat ons Sondae so sal lewe soos wat van gelowiges gevra word nie, maar die res van die week gaan ons tekere en doen ons sonde. Immers, ons beleef juis God se genade en beskerming deur die week omdat ons Hom op Sondae dien en eer.

Kom, broers en susters, laat daardie begeerte ook in julle hart wakker word om elke dag in die Here se huis, die kerk, bymekaar te kom. Maar omdat dit dan ook nie ’n moontlikheid is nie, laat ons dan eerder uitsien na die volgende wonderlike geleentheid, naamlik elke Sondag! Ja, laat ons ook verlangend uitsien na die volgende oase na ’n weeklange woestyntog. Ja, ons moet so gereeld kerk toe kom, dat dit vir ons ’n tweede tuiste word. Waarlik, een dag in die huis van God, is beter as duisend dae buite in die woelige en bedrywige wêreld.

Amen