2 Korintiërs 4:7-15

God gebruik ons net soos ons is


Geliefdes van ons Here Jesus, die teksvers vir hierdie prediking kom uit vers 13 van ons gelese gedeelte: “Daar staan in die Skrif: ‘Ek het geglo, daarom het ek gepraat.’ Ons het dieselfde Gees wat die geloof wek, en ons glo, daarom praat ons ook.”

Broers en susters, as julle so kyk na die lewensomstandighede waarin julle julle daagliks beleef – dáárby die werk, by die huis, by die skool, of waar ook al – wie van julle kan eerlik waar sê dat jy ’n verandering in jou omgewing gemaak het, en steeds besig is om te maak? En ek bedoel natuurlik ten goede, soos ons Here Jesus van ons verwag: “Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook gaan  doen” (Joh 13:15). Kan ons eerlik sêdat ons met ons woorde en ons dade die wêreld, waarin ons leef, in ’n beter plek verander? As ons dit nie kan sê nie, dan moet jy vandag vir jouself vra: “Hoekom nie?”

Kom ek probeer aan julle verduidelik wat ek bedoel met die volgende staaltjie: Daar was eendag ’n man wat as waterdraer by die koning gewerk het. Sy pligte was om te sorg dat daar gereeld vars water in die paleis was. Hy het twee erdekruike, wat presies dieselfde lyk, by die plaaslike pottebakker gekry. Die waterdraer het gereeld vir die koning vars water by die nabygeleë waterstroom gaan haal. Om sy taak te vergemaklik, het hy toe daardie twee groot erdekruike weerskante aan ’n paal vasgemaak, wat hy dan so oor sy skouers gedra het. Ongelukkig het een van die erde kruike ’n kraak in gehad, sodat, wanneer die waterdraer uiteindelik weer by die koning se paleis aangekom het, hy nie twee kruike vol water gehad het nie, maar slegs een en ’n halwe kruik water. Ja, die gekraakte kruik het die helfte van sy inhoud langs die pad vermors.

Vir jare lank het die waterdraer sy werk so gedoen ... Dag in en dag uit het hy met sy twee erdekruike afgeloop stroom toe. Daar aangekom, het hy hulle albei vol gemaak, net om op die ou end een en ’n halwe kruik water by die paleis afte lewer. Natuurlik was die heel erdekruik baie beïndruk met sy vermoë om altyd die regte hoeveelheid water te kan lewer. Immers, dit is tog waarvoor hy gemaak is. Daarteenoor het die gekraakte erdekruik baie sleg gevoel omdat hy nie sy kwota water konlewer nie. Hy het baie skaam gekry oor sy kraak ... oor die feit dat hy nie perfek was soos die ander erdekruik nie. Na ’n ruk kon hy nie meer hierdie vernedering vat nie ... hy was baie teleurgestelomdat hy net die helfte van sy vermoëns kon lewer as waarvoor hy gemaak is.

Toe hulle eendag weer afstap na die waterstroom toe, het die gekraakte erdekruik vir die waterdraer gesê:“Ek is baie skaam ... ek moet jou vandag om verskoning vra.”

“Hoekom?” wou die waterdraer verbaas by die gekraakte erdekruik weet: “Waaroor is jy skaam?”

“Omdat ek die afgelope paar jare net die helfte van my vermoëns gelewer het, as gevolg van hierdie kraak in my bodem. Dit is my skuld dat jy so baie moes afloop na die stroom toe, want helfte van die kosbare water lek uit my uit voordat jy nog by die koning se paleis aangekom het,” het die gekraakte erdekruik geantwoord.

Die waterdraer het die gekraakte erdekruik getroos: “As ons nou weer terugstap na die paleis toe,d an wil ek hê dat jy so bietjie na al die mooi blomme langs diepad moet kyk.”

Dit was toe inderdaad so gewees! Soos hulle al met die paadjie langs geloop het, kon ’n mens die pragtige blomme langs die pad sien ... blomme van verskillende kleure. Bloot deur na die blomme te kyk, hulle skoonheid te geniet,en die bye te hoor zoem, maak die lang en vermoeide pad terug paleistoe, sommer ’n plesier. Ja, die pragtige blomme langs die pad het die vaal en droë wêreld verander in ’n lushof ... Dit het ook die gekraakte erdekruik se gemoed so bietjie opgehelder. Toe hulle egter weer by die paleis aankom, het die gekraakte erdekruik weer eens sleg gevoel oor die feit dat hy net die helfte van sy kwota kon lewer. Onmiddellik het hy weer eens die waterdraer om verskoning gevra: “Kyk net hoe baie water het ek al weer langs die padvermors! Ek skaam my vir myself omdat ek nie my deel van die werk vir jou makliker maak nie.”

“Het jy toe al die pragtige blomme langs die pad opgemerk?” vra die waterdraer aan die gekraakte erdekruik. Toe die gekraakte kruik “Ja” antwoord, het die waterdraer verder gesê: “Het jy ook opgemerk dat daar net aanjóú kant van die pad blomme gegroei het?”

“Nee, ek het nie so opgelet nie,”het die gekraakte erdekruik geantwoord.

“Wel,” het die waterdraer virdie gekraakte erdekruik gesê, “dit is so. En ek het al die jare geweet van jou swakheid ... ek het geweet dat jy gekraak is en dat jy die helfte van jou kwota water uitlek, máár ek het jou swakheid juis tot voordeel van die koning gebruik. Ek het oor die jare langs die pad, waar jy die water gelek het, saad geplant. Elke dag as ons hierdie paadjie terugloop en jy so water lek, dan het jy sommer terselfdertyd die blomme langs die pad watergegee. Vir jare lank al is jy eintlik besig om my werk ligter temaak, want nou hoef ek nie ook die plante nog water te kom gee nie. Buitendien het ek oor die jare ook van hierdie pragtige blomme gepluk om die koning se etenstafel te versier. As dit nie vir jou was nie... as jy nie so gekraak was nie, sou ek nie die koning se paleis oor die jare met blomme kon versier nie.”

Gemeente, en dit is presies wat Paulus ook in ons Skrifgedeelte, meer spesifiek in ons teksvers, vir ons wil sê: Ons het iets in ons wat ’n verandering kan maakaan die wêreld daar buite. Dit is waarom die Bybelvertalers vir hierdie gedeelte ook die volgende opskrif gegee het: ’n Skat in kleipotte. Paulus begin ook onmiddellik sy argument inhierdie gedeelte met die woorde: “Ons wat hierdie skat in ons het,is maar kleipotte wat maklik breek ...” Nou kan ons onsself afvra:Wat is die “skat” waarvan Paulus hier praat? En waar pas dit in sy argument in dat ons “kleipotte is wat maklik breek”? As Paulus hierdie brief aan die gemeente in Korinte skryf, dan wil hy vir hulle iets vertel van die mens se eie feilbaarheid en swakheid. Ja, volgens hom is die mens niks anders nie as kleipotte. Nie staal-of koperpotte nie, maar kleipotte ... kleipotte wat maklik kan breek! En wat meer verbasend is, is dat hierdie feilbare en maklik-breekbare kleipotte ’n skat bewaar ... ’n skat van ongelooflike waarde.

Ons moet besef dat, net soos vandag waar ons allerhande goed in plastiek houers en blikke stoor, die mense in die Bybelse tye ook houers gebruik het om sekere dinge in te stoor of te bewaar. Die enigste verskil is die feit dat kleipottedie mees algemeenste houers was. Dit is selde dat persone iets soos staal- of koperpotte gehad het. Die voordeel van kleipotte was natuurlik dat dit baie maklik bekombaar en bekostigbaar was. Elke huishouding het kleipotte gehad ... ja, vir elke denkbare doel en funksie was daar ’n kleipot. Daarom is kleipotte destyds ookgebruik om skatte en kosbare items in te bewaar. Die enigste nadeel van die kleipotte was natuurlik die feit dat hulle net so maklik kon gebreek het.

En dit is waarom Paulus juis hierdie beeld van die kleipotte gebruik om die feilbaarheid en swakheid van die mens tebeskryf. Sy argument pas ook baie goed in by die Ou Testament se beskrywing dat ons soos klei in God se hande is: “Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie ...Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand ...”(Jer 18:6). As Paulus dus sê dat die gelowiges soos kleipotte is wat maklik breek, dan bedoel hy daarmee dat ons nie op ons eie kragte en sterkte kan staat maak nie. Al is ons ook self deur die hemelse Pottebakker se hande gevorm, soos wat Hy wou en met ’n spesifieke doel, beteken dit steeds nie dat ons volmaak en perfek isnie. Dit was wél die Here se bedoeling dat ons almal volmaak en sondeloos moet wees, maar Satan en die sondemag het hierdie skeppingsdoel van God kom verydel. Ons moet besef dat ons niks anders is nie as feilbare instrumente in God se hande. Tog, al besef God ook dat hierdie menslike kleipotte maklik kan breek, vertrou Hy ’n baie groot skat aan ons toe.

Geliefdes van ons Here Jesus, hierdie skat, wat God aan feilbare, menslike kleipotte toevertrou, is die geleentheid om die Evangelie van Jesus Christus te gaan verkondig. En juis dít is die onverstaanbare deel van God se liefde en genade. Hoe is dit tog moontlik dat Hy ’n feilbare en swak kleipot kán en wíl gebruik om sy skat in te bewaar? Hoekom, sal die mens seker nie maklik kan verklaar nie, maar dat God dit doen, is beslis waar. Ja, die Here vertrou die verspreiding van sy Evangelie toe aan die feilbare en swak mens. Daarom moet die gelowiges, as maklik-breekbare kleipotte, maar te deeglik daarvan bewus wees dat nie óns die belangrikste is, of as sodanig, die krag besit nie, maar dat die krag van ons behoud en bestaan juis van Gód af kom.

En hierdie feit dat ons krag, as breekbare kleipotte, van God af kom, maak dit vir ons moontlik om, soos Paulus dit pragtig gesê het, ook die volgende te ervaar: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie”(v 8-9). Ja, op ’n baie treffende wyse is Paulus besig om die waarheid van ’n Christelike lewenswyse te skets. Die alledaagse gevare dreig van alle kante af om God se kleipotte te vernietig, maar telkens kom daar ’n onverwagte ingrype wat maak dat die breekbare  kleipotte steeds behoue kan bly ... ja, ons, wat deur ons woorde en dade die Evangelie moet verkondig, kan alleen volhard en nie moedeloos word nie, wanneer ons ten volle leef uit die krag van God. Dit maak nie saak wat met ons gebeur of hoe ons ook moet ly nie –Christene se verkondiging deur hulle geloof en lewenswyse bring die lewe van die oorwinnende Jesus te voorskyn, soveel dat dit ons ook die Here Jesus se woorde herinner: “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Mat 5:16).

Daarom is elke vernedering, elke beproewing en elke probleem vir ons die wonderlike geleentheid én voorreg om Jesus Christus deur ons woorde en ons dade te verkondig. Maar dit is nie net die moeilikhede en probleme in ons lewens wat ons daardie geleentheid gee nie ... nee, ons moet juis ook deur die vreugdes en die blydskap van ons alledaagse lewe vir die Here Jesus verkondig.

Broers en susters, aanvanklik verstaan ’n mens nie wat Paulus vir jou in vers 12 wil sê nie, maar as jy mooi na sy woorde luister, dan hoor jy die waarheid daarvan. Hy sê:“Dit beteken dat in ons die dood aan die werk is, maar in julle die lewe.” Hierdie woorde is ook baie belangrik vir die verstaan van die simboliek agter sy redenasie van die skat in die kleipotte ...dit is ook belangrik vir ons verstaan van die staaltjie in ons daaglikse lewenswyse.

As Paulus hier praat van die dood wat besig is om in hom te werk, dan verwys hy na sy verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus. Paulus, as verkondiger, is besig om aan die heidenwêreld die blye boodskap van verlossing te bring, maar hierdie “skat” is besig om hom dood te maak. Die redenasie van hierdie argument moet gesien word teen die lig van ons staaltjie oor die waterdraer en die twee erdekruike. Paulus, as een van die Here se feilbare kleipotte, was ook gekraak ... inteendeel, volgens homself is hy sekerlik dié kleipot in die Here se huishouding met die grootste kraak (vgl 1 Tim 1:15 :– “Christus Jesus het indie wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste”). En tog het die Here hom juis gekies vir ’n spesifieke doel. En daardie doel was om die Evangelie na die heidene te versprei.

Met pragtige woordspel is Paulus dus besig om die aardse dood teenoor die ewige lewe af te speel. Terwyl hy besig was om die Evangelie van die Here Jesus te verkondig, het sy prediking terselfdertyd sy lewe bedreig. Hy sou op die ou end ook moes sterf vir hierdie geloof. Ja, terwyl Paulus se uurglas besig was om leeg te loop – soos daardie gekraakte erdekruik water langs die pad verloor het – was hy maar eintlik net besig om die wêreldom hom te voed met kosbare water ... daardie lewende water wat so broodnodig is in hierdie dooie en sondige wêreld ... daardie water wat sal maak dat ons nooit weer dors sal hê nie (vgl Joh6:35). Paulus was besig om, op die pad wat hy geloop het, deur sy prediking die lewe te bring vir diegene wat dit wou hoor en dit wou glo.

En dít is waarom Paulus nie kon stilbly nie. Hy was erger as ’n praatsiek papegaai ... hy het figuurlik gesproke gelek ... orals het die “skat” wat hy in hom gedra het, uitgelek langs die pad. As ’n mens so op sy lewenspad sou kon terugkyk, dan sou Paulus sekerlik die eerste een gewees het wat sou erken het dat hy maar ’n gekraakte kleipot is, een wat feilbaar en maklik breekbaar was. En tog het hy orals langs die pad lewe gebring ... ja, daar was ook, soos in die staaltjie, pragtige blomme wat orals langs die pad in die sondige wêreld opgekom het. Orals het hy gemeentes gestig wat tot eer van sy Koning gegroei het, sodat dit ook sy Koning vreugde verskaf het.

Daarom, gemeente, moet ons ook soos daardie gekraakte erdekruik toelaat dat die Here ons, met ons fout een swakhede, gebruik. Ons het natuurlik die keuse om, omdat ons besef ons is gekraakte kleipotte, eerder nie gebruik te wil word nie... ja, ons kan verkies om eerder op die rak gelos te word of onder’n doek weggesteek te word. Máár ... daar is natuurlik ook die ander keuse: Ons kan, ten spyte van ons feilbaarheid en swakheid, steeds die Here toelaat om ons te gebruik... Hy wíl ons graag gebruik! Immers, die Here ken elkeen van ons se krake en foute, maar dit verhinder Hom nie om ons doeltreffend te kan gebruik tot sy voordeel nie. Ons moet besef dat die krag nie in ons lê nie, maar dit kom van God wat ons bruikbaar maak, sodat Hy op die ou end al die lof en eer kan kry.

Ja, ons móét die Evangelie van die Here Jesus verkondig ... ons moet dit as’t warelangs ons lewenspaaie uitlek, sodat dit die barre en sondige wêreld kan gereed maak vir die saad wat God wil saai. Dit is óns verantwoordelikheid om ander mense ook te laat deelhê aan die ewige lewe. Soos die Here Jesus vir ons sy liefde bewys het, moet ons ook daardie liefde aan die wêreld gaan verkondig en dit uitleef. Ja, dít is die wonderlike skat in God se menslike kleipotte: Om nie net te glo in Jesus Christus nie, maar om Hom ook te gaan verkondig deur wat ons sê en wat ons doen! So sal God al meer en meer verheerlik kan word deur ons dankgebede. Vra jouself nog vandag die volgende vraag af: Hoeveel “blomgelowiges” het al op jou lewenspad opgeskiet en ’n verandering aan die wêreld en omgewing gemaak?
Amen