1 Petrus 1:10-16

God se groepfoto


Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Arnold van Ruler, die bekende Hollandse teoloog — wie se boeke gereeld aan ons studente voorgeskryf word — beskryf 1 Petrus 1:10-12 as ‘n groepfoto soos die van ‘n sportspan, die bestuur van ‘n direksie of kultuurvereniging.

Daar is heelwat figure op die foto: die profete, die apostels, die gemeente, die Heilige Gees en die engele (figure wat almal in hierdie twee verse genoem word). Daar is egter iets vreemds aan die groepfoto. Wat ons as die belangrikste figure sou reken, en wat dus in die middel van die foto behoort te staan of sit (soos die kaptein of voorsitter), staan of sit nie in die middel van die foto wat Van Ruler vir ons beskryf nie.

Met ander woorde: die apostels en die profete, hulle wat die tradisies oor Jesus Christus getrou oorgelewer het, as ‘t ware die persone aan wie die ontstaan en groei van die kerk op aarde sy danke het, neem nie die belangrikste stoele in nie — hulle staan as ‘t ware aan die kante van die groep.

Ook die engele oorweldig nie alles met hulle glans en heerlikheid nie. Trouens, hulle loer vanuit die boonste hoeke van die foto na diegene onder hulle, geboei deur alles wat voor hulle afspeel.

Selfs die Heilige Gees staan nie op die voorgrond nie. Hy word geskets as die Een wat op die agtergrond, wat verkondig, wat bekendmaak, wat in ‘n sekere sin agter die boodskap van die apostels en die profete staan. Dus, alhoewel Hy van die hemel af gestuur is, staan Hy op die agtergrond. En met ‘n bietjie verbeelding kan ‘n mens Hom sy hande van agter af vertroostend en beskermend — as die Trooster —oor die gemeente sien slaan.

En in die middel? Niks en niemand anders as die gemeente self nie. Nie die apostels, die profete, die engele of die Heilige Gees nie, maar die gemeente. En nie, broers en susters, omdat die gemeente iets besonders was nie. In 1 Korintiërs 1:26 lees ons byvoorbeeld dat volgens die opvattings van baie daar nie baie geleerdes, of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder hulle was nie.

Dit was mense wat moes werk vir hulle daaglikse brood. Hulle het in die huwelik getree, kinders gekry, oud geword, en doodgegaan. Net doodgewone mense. Niks spesiaals nie. ‘Een stelletjie simpele mensen’, sê Van Ruler.

Maar tog, broers en susters, mense met ‘n verskil. Want hulle is mense wat deel het aan die saligheid. Hulle is verloste mense. Hulle is mense wat die boodskap van die evangelie, die boodskap van die verlossing deur die lyding van Jesus Christus, wat deur die apostels en die profete aan hulle verkondig is, aangeneem en geglo het.

En juis hierin lê hulle andersheid, hulle identiteit. In die feit dat God in sy groot ontferming aan hulle die nuwe lewe geskenk het deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood — soos 1 Petrus1:3 dit pragtig stel.

God het alles in werking gestel, so kan ‘n mens dié groepfoto lees, om hierdie lewe aan hulle te kon skenk. Die apostels en profete staan soos nederige dienaars in sy diens, die Heilige Gees is van die hemel af gestuur om hulle woorde God se woorde te maak. Hoe bevoorreg is hulle nie — en terloops, almal wat vandag ook die voorreg het om hierdie evangelie te kan en mag verkondig.

Selfs die engele staan in bewondering oor hierdie bevoorregte posisie van die gemeente. Hulle kan slegs ‘n flou vermoede hê oor die wonder van God wat dit moontlik gemaak het dat hierdie eenvoudige mense in die middel van God se groepfoto kan staan. En eintlik kan dit nie anders nie. Die engele is immers nie mense nie. Hulle ken nie sonde nie, want hulle is nie sondaars nie. Van menswees en sondig wees begryp hulle niks, en van verlore wees en gered wees weet hulle nog minder. Soos 1 Petrus 1:12 dit stel: dit is dinge wat selfs die engele begerig is om insig in te kry.

Met ander woorde, broers en susters, soos enige goeie kunswerk dien alles op die foto om die fokuspunt van die foto uit te lig. ‘n Fokuspunt wat wil sê: sien julle hierdie mense in die middel van die foto? Kyk na hulle en sien eintlik iets anders: genade. Hulle sit en staan daar in die middel van die foto: nie op grond van verdienste nie, maar op grond van genade. Hulle is deur genade gered, deur die geloof.

Efesiërs 2:8-10 stel dit pragtig: ‘Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is’. En as ons sou vra, broers en susters, waarom, hoekom het God dit gedoen, hoekom is God vir ons so goed, dan antwoord Efesiërs 2:7 by implikasie so:‘...sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het’.

Met ander woorde, broers en susters, die gemeente word in die middel van die groepfoto geplaas as sigbare, konkrete bewys van God se goedheid. Wanneer iemand die foto optel en daarna kyk, is dit die eerste en oorheersende indruk wat hy of sy kry: eers sien ons mense raak wat in die middelpunt staan, sondige, beperkte mense soos ons almal, ‘n bietjie dieper sien ons raak dat hierdie mense verloste mense is, en ten diepste sien ons raak die Een wat verlos. En hierin lê die eintlike glorie van God se groepfoto: Jesus Christus wat verlos, wat mense nuut maak, wat mense anders maak, wat sondaarmense God se kinders maak.

En nou, broers en susters, nou het ons klaar na die groepfoto van God hier in 1 Petrus 1:10-12 gekyk. Wat moet ons nou maak? Moet ons maar die foto album toeslaan en aangaan met die lewe? Ons het mos nou kennis geneem van die foto. Moet ons nou, nou dat ons vir ‘n rukkie na die foto gestaar het na die gesigte van mense wat lank gelede geleef het, gaan leef net uit blote herinneringe? Soos wanneer ons na die foto van ons oupa of oumagrootjie kyk en sug ensê: ‘Ai, die goeie ou dae?’

Nee, broers en susters, want die goeie ou dae is nie verby nie. Die genade van God is nie verouderd soos ‘n gebleikte foto nie. Want vier maal in hierdie twee verse hoor ons: vir julle...vir julle...aan julle...aan julle. Natuurlik woorde wat gerig is op die eerste lesers van hierdie brief, maar beslis ook gerig op ons wat dit vandag ook lees.

Daarom, kyk weer mooi na die foto. Aan jou een kant staan ‘n profeet. Hy wat die woord van God eeue gelede gehoor het, die beloftes daarin verneem het, sê: hierdie woord is ook vir jou. Aan jou anderkant staan ‘n apostel. Hy was ‘n ooggetuie van Jesus Christus se kruisiging en opstanding, en hy sê: ook dit is vir jou.

Agter jou staan die Heilige Gees. Hy is van die hemel af gestuur om ook altyd by jou te wees. Bokant jou buk die engele neer, volverwondering dat God met sondaars so kan handel.

En kyk baie mooi. In die middel van die foto is jou gesig. Daar sit jy. Uit genade. Nie op grond van enige verdienste nie. Omdat God jou ken. Omdat Hy jou liefhet.

As God dan vra, broers en susters, in 1 Petrus 1:13-16, dat ons nugter, gehoorsaam en heilig moet gaan lewe, is dit enigsins onderhandelbaar? Wie sy gesig daar in die middel van die foto gesien het, kan mos nie anders as om uit dankbaarheid gehoorsaam voor God te gaan leef nie!

Amen