Lukas 17:26-33

God se oudstes was nog altyd van sy bestes


('n Preek gerig op die senior lidmate in die gemeente)

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Wanneer 'n mens jonk is, bekommer jy jou gewoonlik maar min oor die ouderdom. Ek wil amper sê: bekommer jy jou oor alles behalwe die ouderdom. Maar die lewe het  'n snaakse streep, broers en susters,wanneer dit by die ouderdom kom. Al maak die mens dit nou nie juis 'n stokperdjie om daaraan te dink nie, die lewe self laat jou soms baie vinnig en hard daaraan dink.

Eers is die boodskappe dat  'n mens begin oud word baie subtiel. Jy koop jou eerste lewensver-sekeringspolis met 'n dekking vir begrafniskoste. Jou vriende begin jou vra hoekom jy jou oë opskrefies trek wanneer jy padtekens lees. Of die vriendelike jongseun by die kruidenierswinkel wat aanbied om jou pakkies vir 'n geldjie te dra, noem jou tannie of oom.

En aanvanklik pla hierdie soort van goed  'n mens nie eintlik nie, broers en susters. Want eintlik is  'n mens mos nog jonk. Jy is net besig om ouer te word, en dit beteken tog nie oud nie, sê  'n mens vir jouself. So asof jonk in wese goed is en oud in wese noodwendig sleg (en hierby kom ek later terug).

Maar dan, broers en susters, kom staan die lewe soms op  'n manier voor  'n mens wat maak dat jy eenvoudig nie anders kan as om te erken dat jy besig is om oud te word nie: Jou haarkapper sê byvoorbeeld:`Die hare raak maar yl hierbo, ou Jan’. Of: `Ons sal volgende keer definitief iets aan die grys hare moet doen, of wat dink tannie’. Of jy kry  'n uitnodiging na jou veertigste hoërskoolreunie. Of, en glo dit maar as u wil broers en susters, dit het selfs ek al op my jeugdige ouderdom gehoor, die dokter sê vir jou: `Toemaar, niks om jou oor te bekommer nie, hierdie soort van goed gebeur maar op jou ouderdom’.

Kom ons sê maar, broers en susters, dat hierdie dinge die begin van oudword beteken. Dat dit die eerste bladsye van die laaste hoofstuk is. Dat dit die groen blare van jou lewe is wat besig is om geel te word. Maar darem is dit nog nie die laaste bladsy nie. En darem is die blare nog nie almal goudgeel nie.

Maar ewe skielik, broers en susters, vind baie van ons uit, is jy by die laaste bladsy van die laaste hoofstuk. En is al die blare goudgeel. Want wanneer jy opstaan pyn alles. En wat nie meer seer is nie, werkeenvoudig net nie meer nie. Wanneer jy nog krag oor het om te lag, bly die lagplooie agter. En party van ons kry hartaanvalle, sommiges kry hartomleidings, ander nuwe heupe en knieë. Of bifokalebrille.

En al probeer ons hoe hard, broers en susters, die kalenderblaaie word een vir een afgeskeur. Die horlosie hou eenvoudig net aan met tik. En die liggaam word ouer. En elke nuwe pil wat ons moet drink, herinner ons daaraan dat oud word ook maar soms 'n ander soort van pil is wat  'n mens moet sluk.  'n Pil, broers en susters, wat sommiges maklik aan sluk, en ander weer baie moeilik. Waarvoor daar baie redes kan wees, broers en susters.

Eerstens is daar die spieël. Waar eens baie hare was, is nou min. Waardie vel glad was, is nou net kommerplooie. Daar is niks so eerlik as 'n spieël nie, sê sommiges. Dit wat jy is, sien jy.

Tweedens, broers en susters, is daar mense wat swaar sluk aan die pil van oudword, juis omdat die woordjie oudword vir hulle mislukking spel. Jy het wat jy wou bereik het, nie bereik nie. Jy was van plan om iets waardevols met jou lewe te doen, maar die spore agter jou lyk -volgens jou - maar taamlik onbelangrik. En al wat jy doen is om te tob oor al die verkeerde keuses wat jy gemaak het, al die kanse wat jy deur jou vingers laat glip het.

Vir ander, broers en susters, strek die pyn van oudword egter verder. Want vir baie is dit leë sukses. Die lewe boaan die leer het ewe skielik eensaam geword. Die diplomas, grade en toekennings op die muur het vergeel. Die wêreld het iets geword wat jy nooit gedink het dit sal wees nie.

En so word berou en teleurstelling die meeste se grootste tydverdryf. Die loodgieter wens hy het eerder 'n dokter geword, en die dokter wens dat hy eerder 'n elektrisiën was. Die vrou met die loopbaan wens dat sy eerder by die huis saam met haar kinders kon wees, en die ma's tuis wens dat hulle eerder 'n loopbaan gehad het.

Wat wil ek sê, broers en susters? Eenvoudig: om oud te word, kan baie gevaarlik wees. Dit kan 'n pad vol slaggate wees. Daarom moet 'n mens jou daarop voorberei. En die raad volg wat God jou bied. En die beste raad wat God bied vir die ouderdom lees ons raak in Lukas17:33: `Elkeen wat sy lewe probeer behou, sal dit verloor, maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou’.

Jesus sê hier dat daar twee maniere is om na die lewe te kyk: jy kan die lewe beskerm of jy kan dit voluit lewe. Verder (en dit lei ekself uit die vers af): die wysste mense is nie die met die meeste jare in hulle lewe nie, maar dié met die meeste lewe in hulle jare.

Om die lewe te beskerm is om maar net tevrede te wees met hoe en soos die lewe is. Want hoe meer ek beskerm, hoe langer kan ek dalk lewe. Hoe minder ek waag, hoe minder word ek blootgestel. En hoe minder betrokke by ander en by ander dinge, hoe meer tyd vir myself. So dink baie wat ouer geword het soms.

Jesus sê egter dat daar ook 'n ander moontlikheid is. Daar is altyd iets ongerep en wonderlik in die lewe. Jag dit. Soek dit. Maak nie saak hoe oud jy is nie. Doen alles, natuurlik soos jou eie situasie dit toelaat, om die lewe te vind. Moenie luister na die wat 'n tweedehandse lewe aanvaar het en wil hê dat jy dieselfde moet doen nie. Jou doel is nie om lank te lewe nie, dit is om te lewe.

Met ander woorde, broers en susters, in Lukas 17:33 stel Jesus aan ons sekere keuses. Aan die een kant is daar die stem van veiligheid. Jy kan 'n kaggel bou, binne bly en warm en droog en veilig wees. Jy kan tog nie seerkry as jy nooit uitgaan en uitreik nie, dit is tog eenvoudig om te verstaan. Net so kan 'n mens tog nie gekritiseer nie word vir dinge wat jy nie probeer doen nie. Dus: moet dus nie probeer nie. Kies die veilige roete.

Of, sê Jesus,  'n mens kan luister na die stem van avontuur, God se avontuur. Pleks van vuur in jou kaggel maak, kan jy vuur in jou hartmaak. Pleks van jou eie weg, kan jy God se weg begin volg. Jy kan betrokke raak by dinge rondom jou: deels omdat jy weet jy kan 'n bydrae lewer, maar ook omdat jy nodig is (al dink ons nie altyd so nie).

Daarom: verf daardie muur wat u altyd wou verf (as u nog kan). Stap oor na die buurman en bied jou vriendskap aan - dalk is hy net so eensaam soos u. Raak betrokke by dinge in u gemeenskap. En by die kerk. Aanvaar byvoorbeeld die amp as God u roep. Ons wat jonk is kan baie by u leer. Deel met ander u lewenswysheid wat met u jare gekom het. Ons het dit nog nie, en is soms daarop jaloers, al dink u nie so nie.

Of alles saamgevat: maak 'n verskil, waar en hoe ook al, u kan nog, maak nie saak wat u situasie is nie. Of dit nou 'n verskil in een persoon se lewe is, of in baie se lewens.

En natuurlik, broers en susters, is dit nie die veilige weg nie. Maar wat is veilig? Natuurlik kan dit kritiek uitlok. Ook dit sal altyd daar wees. Maar dink u dalk dat om binne te bly, beter is? Want dit beteken veiligheid? Rustigheid? Jesus stem nie saam nie. Elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor.

Want 'n mens se laaste hoofstukke kan 'n mens se beste wees, broers en susters. Jou laaste poging kan dalk jou grootste ooit wees. Miskien het jou hele lewe jou voorberei op 'n grootste afsluiting. En as u vra hoe dit nou moontlik kan wees, is my antwoord aan u baie eenvoudig: Lees maar die Bybel. God se oudstes was nog altyd van sy grootstes en bestes.

Dit was Moses se optrede as tagtigjarige wat hom 'n plek in die Bybel gegee het. Die ou en rustige Abraham was byvoorbeeld baie wyser as die jong en vrypostige Abram. Kaleb het sy berg opgeëis toe hy reeds vyf en tagtig was. Anna, op haar beurt weer, was 'n weduwee van vyf en tagtig jaar wat genoeg krag gehad het om tot die Messiaste bid, en genoeg visie gehad het om te weet dat dit Hy was wat gekom het. En vat laastens vir ou Johannes. Die laaste van die apostels. Hy het tog gedoen wat van hom verwag was. Hy kon darem seker tog aan die einde van sy lewe 'n bietjie rus.

Maar moet dit nie vir God of Johannes sê nie. Nie een van hulle twee was klaar nie. Johannes het nog een hoofstuk gehad om te skryf. En wat 'n geïsoleerde eiland moes wees, 'n plek van verbanning en straf daar op Patmos, het 'n plek van inspirasie geword. Die plek waar die laaste boek in die Bybel geskryf is.

'n Mens se laaste jare, broers en susters, kan dus 'n mens se beste jare wees. Maar dit kan ook nie. Want party word oud en gaan vang vis. Ander weer word oud en gaan jag - hulle gaan jag dit wat hulle altyd nog wou doen, of gaan doen daardie dinge waar hulle sien hulle 'n bydrae kan lewer. En hulle gaan doen dit, op watter manier dit ookal vir hulle moontlik is. Hulle waag, maar hulle lewe ook. Al is hulle sestig, sewentig of vyf en tagtig.

Ek sluit af: Na Michel Angelo (die bekende skilder) se dood het iemand 'n stukkie papier in sy ateljee gekry waarop hy 'n boodskap vir een van sy leerlinge geskryf het: `Skets Antonio, skets, en moenie tyd mors nie’.

Michel Angelo was reg, broers en susters. Tyd skiet verby. Dae gaan om. Die jare gaan verby. Ons hare word min of grys. Ons loop stadiger as tien of twintig jaar gelede. Die oë is ook nie wat hulle was nie. Ons het seer op plekke wat ons nie eers geweet het plekke is nie. Maar ons is nog hier. En dit wat ons gekom het om te doen, en wat ons nog wil en kan doen, moet ons doen terwyl daar nog tyd is.

Want juis omdat u nog hier is, beteken dat God nog nie met u klaar is nie. Al dink u dalk nie so nie. Buitendien. God se oudstes was nog altyd Sy bestes. Maar dan moet ons bereid wees om te waag. Bereid wees om nog te doen. Wie dit doen, sê Jesus, sal sy lewe behou.

Of dalk kies u die ander moontlikheid. Om die lewe te probeer behou. Waak daarteen. Waak daarteen dat die lewe, en u ouderdom, een groot bitter pil word. Bo-op die berg beteken egter nog nie dat u u toppunt bereik het nie. Jou laaste poging kan dalk net jou beste wees, jou grootste ooit. Buitendien: God se oudstes was nog altyd van sy bestes.

Amen