Lukas 9:57-62

Nie om maar net te volg nie, maar om die verlange te hê om te volg

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

In ons gedeelte van vanoggend praat Jesus met drie mense oor dissipelskap, oor wat dit beteken om Hom te volg. Kom ons kyk vinnig daarna.

Die eerste persoon, broers en susters, wat die Here wil volg kom self, vertel Lukas ons, daag self op. HY kom om die Here te kom volg. Wat meer is, hy maak daarmee saam nogal 'n groot belofte ook: ‘Ek sal U volg waar U ook al gaan’.

Wat hier gebeur, broers en susters, is 'n droom vir enige predikant, gemeente of kerkraad. Iemand wat hom/haarself kom aanmeld. Dit gebeur sommer nie aldag. Iemand wat onmiddellik betrokke wil raak. Iets waaraan ons nie gewoond is. Waaraan ons gewoond is, is dat mense bepleit, genooi, gesoebat en gesoek moet word, selfs soms aangepraat moet word. Daarom, as so iemand aanmeld, is hy meer as welkom!

Maar nie by Jesus nie, broers en susters, sien ons in ons gedeelte. Want uit Jesus se antwoord lei 'n mens af dat Hy nie juis hierdie vrywilliger verwelkom en tuis laat voel nie. Ons sou, maar nie Jesus nie. Jesus, vertel Lukas ons, is so 'n bietjie skepties oor hierdie man se sterk voornemens en geesdrif. En met sy antwoord aan hom sê Hy eintlik so half kortaf: maar is jy seker? Wil jy dit nie maar liewer los nie? Wat meer is, Jesus waarsku hom selfs: Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eers'n rusplek vir sy kop nie.

Weet jy dus wat jy sê? Weet jy waarvoor jy jou inlaat? Weet jy watter opoffering dit is om My regtig te volg? Het jy al die somme gemaak? Sien jy regtig kans? Of, in ons terme: weet jy hoe gevaarlik dit is om gedoop te wees? Dat dit beteken dat 'n mens dood verklaar word om vir Jesus te lewe?

Met sy antwoord, broers en susters, vra Jesus dus vir hierdie vrywilliger, en vir ons, of ons enige werklike idee het van wat dit beteken om Jesus se dissipel te wees. Sy weg was 'n weg van lyding, van selfverloëning, van swaarkry, van opoffering, van geen rusplek. Dit, wil Jesus sê, is wat dit beteken om my te volg.

Iemand het hierdie ware navolging van Jesus op 'n keer pragtig soos volg beskryf. Mense wat Jesus volg, sê hy, val gewoonlik in een van drie kategorieë: bewonderaars, leerlinge en dissipels. Die bewonderaars van Jesus hou baie van wat Hy sê en waarvoor hy staan. Hulle stel daarin belang, praat daaroor, is hoogs geïnteresseerd en beïndruk deur wat Jesus gesê en gedoen het. Soos hulle beïndruk is met hoe ver Naas Botha 'n bal kan skop. Die leerlinge van Jesus staan so 'n entjie nader aan Hom. Hulle wil graag van Hom leer, Hom graag leer ken, verstaan wat Hy leer. Hulle glo selfs wat Hy leer. Hulle kan dit selfs aan ander verduidelik. Maar hulle hou dit op 'n afstand. Hulle wil deel in sy standpunte, maar net nie daarby betrokke raak nie. Dissipels, is hulle wat hulle lewe verbind met dié van Jesus. Hulle gooi hulle lot by Syne in. Hulle volg Hom waar Hy gaan. Al vra dit wat.

En dit is, broers en susters, wat Jesus hierdie vrywilliger met sy antwoord wil leer: as Ek iemand roep, as iemand homself aanmeld, is dit om te kom sterf: aan hulleself, aan die ou mens, die ou gewoontes en die ou lewe.. Daarom, dink baie mooi voor jy kom.

Die tweede persoon, broers en susters, kom nie self na Jesus nie, Jesus nader hom, en beveel hom direk: Volg My. Let op, broers en susters: hierdie man is nie 'n vrywilliger nie, hy bied nie aan nie. Hy is nie 'n aspirant dissipel nie. Nee, Jesus lê sy hand op hom, Hy gryp hom, dalk toe hy nie eers gegryp wil wees nie. En miskien, broers en susters, geld dit vir die meeste van ons.

Ons is geroep, getrek, gegryp, opgekommandeer, voor ons mooi geweet het wat aangaan. Gedoop voor ons nog ons verstand gekry het. Ons was eintlik nooit, voel ons, vrywilligers gewees nie. Ons doen diensplig in die koninkryk van die hemel, so half teen ons sin. En gereeld kom Jesus na ons toe, in verskillende gestaltes, en Hy roep: volg My! Gee aandag aan hierdie saak, lê daardie sonde af, sien, daardie een het jou nodig. Of, vergewe vir 'n slag daardie een. Ons kan dit eenvoudig nie ontwyk nie. Elke keer kom hierdie ongemaklike oproepinstruksie maar weer.

En dan antwoord ons soos hierdie man: Here, sê hy, laat my eers terug gaan om my pa te gaan begrawe. Nie, nee Here, ek wil nie kom nie, maar: ek sal kom, net nie nou nie. Eers dit, en dan dat, en dan sal ek kom. Ons beloof, ons verbind ons, maar net so half-en-half. Ons vra uitstel. Ja, en soms met 'n goeie rede.

Soos hierdie man 'n goeie rede gehad het. Want om 'n afgestorwe vader te begrawe was die een plig wat alle ander te bowe gegaan het. Omdat jou pa aan jou die lewe gegee het, was die reël, moes jy hom begrawe deur so aan hom jou laaste eer te betoon. Anders was 'n eerlose mens wat nooit weer as eerbaar gereken sou word nie.

Net soos ons verskonings, broers en susters, dikwels so redelik en logies is dat predikante en kerkrade en vriende dit goed verstaan en altyd aanvaar. Die probleem is net dat hierdie verskonings oor jare heen'n netwerk van oortuigings word. Want na die begrafnis van sy pa het daar heel waarskynlik nog iets opgeduik wat redelik was. En toe nog iets. En nog iets. En so met die verloop van jare word dit ons lewenstyl. Daarom, waar Jesus die eerste man met 'n vraag geantwoord het, antwoord hy hierdie man met 'n dringende eis. Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar kom jy en volg jy My. Waarmee Hy wil sê: navolging, gehoorsaamheid, is belangriker as enigiets anders. As Jesus roep, moet jy kom. Al sê jy wat. Want die besluit om te volg of nie te volg nie, is een van die belangrikste besluite wat jy ooit in jou lewe sal moet neem. Dus, soos in die geval van die eerste man wil volg, is Jesus se antwoord duidelik: dissipelskap eis radikale en onvoorwaardelike gehoorsaamheid, al kos dit wat.

Dan kom die derde man. Hy is in 'n sekere sin meer positief as die vorige een. Want al vra hy ook uitstel, hy is aan die kom. Graag Here, sê hy, maar net eers gou gaan groet. Dit sal vinnig wees. Ek is nou hier. Ek is u goedgesind, u boodskap goedgesind. Juis daarom wil ek kom. Ek sal gou hier wees.

Soos ons dikwels nie onwillig is nie. Ook ons is Christus, sy saak en sy boodskap goedgesind. Dit is immers 'n boodskap wat vir ons verlossing en toekoms beteken. Ons doen graag ons deel. Maar, net nie nou nie.

Hoe antwoord Jesus? Hy trek 'n streep deur wat hierdie persoon sê. Hy trek sy ja…maar dood, en skryf in die plek daarvan of…of. Jy kan nie vorentoe en terug nie, Jy kan nie ploeg en terug kyk nie. Dan ploeg jy skeef. Dus: weer 'n keer dieselfde boodskap uit Jesus se mond: dissipelskap eis radikale en onvoorwaardelike gehoorsaamheid, al kos dit wat. 'n Beperkte, voorwaardelike bereidheid is eintlik nie bereidheid nie. Dalk kan jy dit maar liewer los.

Maar ons weet dit mos eintlik alles goed, broers en susters. Dit is ook nie moeilik om hierdie gedeelte te verstaan soos ek dit pas uitgelê het nie. Ons sou dit almal, so met die eerste lees daarvan, ook heelwaarskynlik oor hierdie gedeelte kon sê. En tog, broers en susters, as ons in een sin moet sê wat Jesus hier vra, hoe sou ons antwoord? Miskien iets soos: Jesus vra onvoorwaardelike dissipelskap, radikale toewyding.

Ja, maar, en dit is juis die punt wat hierdie gedeelte wil maak, dan het ons nog nie werklik die punt waaroor dit regtig gaan, gesnap nie. Want Jesus vra hier meer as 'n blote gesindheid, 'n bereidheid tot selfverloëning, 'n gesindheid van positief wees nie. Nee, Hy vra meer. Hy vra dade.

En daar gaap dikwels, broers en susters, 'n geweldige kloof tussen ons gesindhede en ons dade. Presies die punt waarop ons soms die evangelie heeltemal misverstaan. Want solank Jesus van ons 'n gesindheid van selfverloëning en opoffering vra, is almal van ons dikwels heelhartig daartoe bereid. Ons sê self: ons is nie soos een van hierdie drie nie. Ons sê in ons harte: maar ons wil die Here volg. Ons sê selfs, met werklike opregtheid. Die Here weet ek wil, die Here ken my hart. Ek wil regtig. En Hy weet dit.

Indien Hy dus van my so vra om my eie klein ambisies te laat vaar ter wille van Hom, sal ek. As Hy my sou roep, sal ek bereid wees. Indien Hy,dan sou ek. Dit, broers en susters, terwyl ons heel waarskynlik weet dat die Here nooit sal kom en dit direk van ons sal vra nie. Dat Hy nooit sal kom en dit anders sal vra as wat Hy dit vanoggend vra nie. En ons is mos positief. En ons is mos bereid. As Hy vra, dan sou ons. En so, broers en susters, bluf onsself. Ons dink omdat ons gesindhede reg is, dat ons reg is. Maar dit is nie wat Jesus vra nie. Al drie hierdie persone in ons teks se gesindhede was ook reg. Maar daar was geen dade nie. Niks is gedoen nie. En dit is die punt wat Jesus hier wil maak. Alleen waar daar gesê en gedoen word, daar is ware navolging.

Kom ek stel dit prakties met 'n baie bekende verhaaltjie oor die kleinboer in die destydse Rusland. Die kommunistiese partyamptenaar het by die boer aangekom en gevra: as jy twee plase gehad het, sou jy bereid wees om, volgens goeie kommunistiese beginsels, een daarvan aan die staat af te staan? Onmiddellik was sy antwoord: maar natuurlik. En as jy twee trekkers gehad het, sou jy een afstaan. Natuurlik, het hy gesê. En as jy twee varke gehad het? Waarop die boer onmiddellik en beslis geantwoord het: nee, dit sal ek nie kan doen nie. En toe die verbaasde amptenaar vra maar hoekom nie, want 'n vark is tog baie minder werd as 'n plaas of trekker, het die man geantwoord. Sien kameraad, ek het wel twee varke.

Dit is wat Jesus wil weet: nie of ons die gesindheid of bereidheid in ons harte het om te doen wat nooit oor ons pad sal kom nie. Of ons bereid sou wees om daardie dinge, wat werklike opoffering vra en as heldedade in die geloof beskou sou kon word, wat almal raaksien en ons dalk heel waarskynlik daaroor 'n kloppie op die skouer sal gee, te doen nie.

Maar of ons bereid sou wees om elke oomblik van elke dag, hoe klein die daad mag wees, hoe klein die treetjies wat ons in die geloof gee mag wees, bereid sou wees om te doen. Elke dag. Sonder die vra vir uitstel. Sonder verskonings.

Of, kom ons sê dit anders. Wat God vra is dit: is ons honger om Hom te volg? Verlang ons na die welsyn en welwese van hulle wat God my op my lewenspad gegee het? Verlang ons om barmhartig te wees, of stem ons net saam dat kinders van God darem barmhartig behoort te wees. En die kere wanneer ons is, voel ons darem nie te sleg oor onsself nie.

Hier lê die verskil, sê Jesus. Om saam te stem, of om daarna te verlang. Daarna te smag om barmhartig te kan wees. Om daarna te verlang. So te verlang, dat dit sig­bare dade word. So sigbaar as die daad aan die kruis wat vir ons die lewe moontlik gemaak het.

Amen