3 Johannes 1-4

’n Preek op twee bene

Geliefdes van ons Here Jesus, die tema van ons prediking is: ’n Preek op twee bene. Daarmee saam wil ek hê ons moet luister wat staan in vers 2: “Ek hoop ... dat dit in alle opsigte so goed gaan met jou as wat dit geestelik met jou gaan.”

Broers en susters, as ’n mens hierdie woorde die eerste keer hoor, dan gaan dit sommer verby jou, sonder dat jy eers twee keer daaroor nadink. Maar wanneer ons besef waaroor hierdie brief geskryf is, dan maak hierdie woorde van Johannes sin.

Destyds was daar nie, soos vandag, groot gemeentes gewees nie, maar eerder iets soos ’n huisgemeente. Met ander woorde, Christene het bymekaar gekom in die huis van ’n leiersfiguur en dan daar kerk gehou. Soos Paulus en van die ander apostels rondgereis het en die verlossingsboodskap verkondig het, het mense tot bekering gekom, en is hulle gedoop. Hierdie groepie Christene het dan in een van die bekeerlinge se huis bymekaargekom en daar kerk gehou. Die gemeentes was ongeveer 10 tot 15 lidmate sterk. Onder hierdie groepie Christene was daar dan ’n geestelike leier wat die gelowiges voorgegaan het met skriflesing, onderrig en gebed. Gaius was moontlik só ’n geestelike leier in een van die huisgemeentes. Hierdie brief is persoonlik aan hom gerig, deur Johannes, om hom aan te moedig en te prys vir sy sigbare uitleef van die Christelike geloof.

Kom ons luister dus weer wat sê Johannes vir Gaius: “Ek hoop ... dat dit in alle opsigte so goed gaan met jou as wat dit geestelik met jou gaan” (v 2). Met ander woorde, Johannes bid sy geliefde vriend, Gaius, toe dat dit op elke terrein van sy persoonlike lewe so voorspoedig moet gaan, as wat dit in sy geloofslewe gaan.

Gemeente, kom ons sê dat die Here Jesus vandag vir elkeen van ons só ’n brief moes skryf,een wat nie aan die gemeente nie, maar aan jóú persoonlik gerig is ... ’n brief wat ook begin met die woorde: “Van die Here Jesus. Aan ... (en nou sit julle júlle eie naamdaarin), my vriend(in), wat Ek waarlik liefhet. Liewe ... (wat ookal jou naam is), Ek hoop dat jy gesond is en dat dit in alle opsigte so goed met jou gaan as wat dit geestelik met jou gaan”, wat dink julle sal die implikasies van só ’n brief gewees het? En as julle nou nie verstaan wat ek daarmee bedoel nie, luister dan na die volgende staaltjie.

Daar was eendag ’n ouerige man wat naby aftrede was. Hy het as ’n skrynwerker vir ’n baie groot maatskappy gewerk, wat juis op daardie stadium ’n staatskontrak gekry het om ’n klomp huise te bou. Sy taak was om al die ingeboude kaste, die deure, die kombuiskaste, en enige ander houtwerk in die huise te doen. Toe hy die omvang van die werk met die nuwe kontrak besef, het hy besluit dat dit te veeleisend sou wees. Die skrynwerker het toe besluit om eerder op vroeë pensioen te gaan.

Die man het toe na sy werkgewer toe gegaan en hom van sy voorneme vertel: hy sal graag vroeër wil aftree. Sy werkgewer was baie teleurgesteld om so ’n goeie werkerte verloor, aansien die man se werk altyd van uitmuntende gehalte was- daar was nooit enige rede om hom oor swak gehalte werk aan te spreek nie. Hulle het probeer om hom om te praat, maar die ou skrynwerker was egter vasberade om op vroeë pensioen te gaan.

Sy werkgewer het hom toe gevra of hy dan nie, as ’n laaste en persoonlike guns, net nog een huis sal bou nie. Hierdie huis sou nie deel van daardie staatskontrak wees nie, maar een vir ’n baie spesiale persoon. Hoewel die skrynwerker baie teësinnig was, het hy hierdie laaste opdrag aanvaar. Maar gou-gou kon ’n mens agterkom dat sy hart nie meer in sy werk was nie - so al asof hy so gou as moontlik met daardie huis wou klaarkry! Die afrondingswerk was slordig ... selfs die boumateriaal was van swak gehalte. Dit was werklik teleurstellend om te sien op welke manier die ou man sy baie begaafde en toegewyde loopbaan afgesluit het - so halfhartig ... so belangeloos ... so slordig ....

Die dag toe hy uiteindelik die afrondingswerk aan die huis afgehandel het, het sy werkgewer hom nadergeroep om die huis te inspekteer. ’n Mens kon sien dat die werkgewer ook teleurgesteld was in die ou man se laaste opdrag. Ja,’n mens kon duidelik sien dat hy geskok was in die gehalte werk wat die ou man gelewer het ... dit was nie soos hy die ou man geken het nie. Nietemin, hy het toe sy hand na die ou man uitgehou - die voordeursleutel van die huis in sy hand. “Hierso,” het die werkgewer in ’n sagte stem gesê, “dit is my afskeidsgeskenk aan jou vir die jare se goeie gehalte en getroue diens! Net jammer hierdie huis getuig nie daarvan nie!”

’n Mens kon die bejaarde skrynwerker met ’n veertjie omtik - ja, as hy maar net geweet het dat hy eintlik besig was om sy eie huis te bou! Trane van teleurstelling het oor sy wange gerol ... in skaamte het hy sy kop laat sak ... dit was egter te laat - almal het sy skande gesien!

Geliefdes van ons Here Jesus, so is dit maar ook met ons! Ons is daagliks besig om aan ons huisies te bou - dit is hartseer om te sien hoe sommige gelowiges ook maar tevrede is met afskeepwerk en minder goeie gehalte werk in hulle geloofslewe. En dan met ’n skok kom ons tot die ontdekking dat ons in daardie“geloofshuisie”, wat ons so swak en slordig, met geen entoesiasme nie, gebou het, moet gaan bly. En dit sal op ’n stadium ook die toets van gehalte moet deurstaan. Ja, hoor wat sê Paulus: “Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament [Jesus Christus] bou, elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dagkom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets”(1 Kor 3:12-13).

En hoe gaan party van ons nie ons koppe in skaamte laat sak nie?! Ja, dan gaan ons onsself verwens! Ag, as ek maar net die geleentheid kan kry om dit oor te doen, dan sal ek baie beter werk daarvan maak! Ongelukkig is dit dan nie meer moontlik nie ... ja, baie mense kry nie die geleentheid of kans om hulle brouwerk te gaan regmaak nie ... ja, soms kan ons nie teruggaan nie, want, soos die gesegde sê, ons het die brûe agterons afgebrand!

En dit is wat Johannes in hierdie brief vir sy geliefde vriend, Gaius, in soveel woorde probeer sê: Sorg dat jy híér en nóú besig is om ’n ordentlike geloofshuis te bou, en in die waarheid te leef! As ’n mens die brief verder lees, dan lees jy ook hoe daar gewaarsku word teen ’n optrede van ’n ene Diotrefes, wat presies, amper soos die bejaarde skrynwerker, besig is om sy lewe weg te gooi.

Broers en susters, kom ons kyk na die implikasie van Johannes se woorde aan sy vriend Gaius. As ons weer na ons teksvers luister: “Ek hoop ... dat dit in alle opsigte so goedgaan met jou as wat dit geestelik met jou gaan”, vra jouself vanoggend eerlik af: Hoe sal dit dan met mý persoonlike lewe gaan, as die Here Jesus mý so iets moes toewens?

Ja, dink nou so bietjie na oor jou geloofslewe ... en pas dit dan toe op jou persoonlike lewe. Hoe suksesvol sal jy in jou werk wees, as jy dit so entoesiasties moes doen soos wat jy jou geloofslewe uitleef? Hoe suksesvol sal jy in jou sport wees, as jy dit so halfhartig moes doen soos wat jy jou geloofslewe uitleef? En: hoe goed sal jy in die skool of opuniversiteit vaar, as jy dit so lui moes doen soos wat jy jougeloofslewe uitleef? En wat van jou huiswerk, jou kos kook en al daardie ander daaglikse, huislike takies? Met hoeveel toegewydheid sal dit gedoen word as jy dit moes doen soos wat jy jou geloofslewe uitleef? En jou liefdeslewe? Hoeveel passie en vuur sal daar in jou verhouding wees, as jy dit so lou en sonder emosie moes doen soos wat jy jou geloofslewe uitleef?

Ek dink nie ons het al ooit só oor die dinge gedink nie ... tog, dit is wat Johannes vir sy geliefde vriend Gaius toewens! Daarom moet ons vandag baie goed besef dat, as die Here Jesus vandag vir my sou sê dat Hy hoop dat dit in my persoonlike lewe net so goed sal gaan as in my geloofslewe, dan moet ek ernstig daaroor gaan nadink ... dan het ek dalk baie groot en ernstige probleme! Want, dan sal ek môre dalk nie meer ’n werk hê nie ... nie vir die eerstespan gekies word nie ... nie my standerd in die skool slaag, of al my vakke op die universiteit deurkom nie ... ja, dan sal my liefdesverhouding of huwelik dalk môre op die rotse loop!

Gemeente, ek dink die meeste van ons besef maar al te goed dat ons, soos daardie skrynwerker, in skaamte voor ons hemelse Vader vandag moet erken dat ons nie getrou aan die waarheid leef nie ... nee, ons het iewers langs die pad afgedwaal.

Ja, elkeen van ons is die skrynwerker van jou eie huisie. Elke dag is jy besig om ’n steen te lê, ’n spyker iewers in te slaan, ’n kas te installeer! Die vraag is net: hóé en met wátter gesindheid is ek besig om hierdie aftreehuisie te bou! Sal jy nie ook graag eendag wil hoor hoe God sê dat niks Hom groter vreugde verskaf het nie, as om te hoor dat jy, sy geliefde kind, in die waarheid gelewe het?

Ek sluit af deur julle die volgende staaltjie te vertel: In 1952 het die wêreld beroemde dr Albert Schweitzer - so terloops, hy was nie net ’n medikus nie, maar ook ’n sendeling-teoloog, die Nobelprys vir Vrede ontvang. Kort daarna het hy op uitnodiging Chicago besoek. Tientalle hooggeplaaste persone en persmanne was op die stasie toe sy trein binnegekom het... die kameras het sonder ophou geflits toe hy afklim. Die stadsvaders het hom welkom geheet, verskeie mense het gekom om hom te sien.

Hoflik het hy hulle almal bedank. Skielik het hy bo-oor die skare se koppe iets gesien: op die oorkantste perron was daar ’n bejaarde swart vrou besig om met twee swaar tasse van die trein af te sukkel. Sy het kort-kort benoud in die rigting van ’n bus, wat op die punt was om te vertrek, gestaar. Schweitzer het vinnig tussen die skare deur beweeg, die vrou se tasse opgetel, haar oor die straat en tot in die bus gehelp. Terug by die verwelkomingskomitee het hy gesê: “Baie jammer dat ek u laat wag het, maar as iemand haar nie dadelik gaan help het nie, het sy daardie bus verpas!” Vir die sendingdokter wat sy hele lewe gewoond was om die arm mense van Afrika te help, was daardie optrede niks ongewoon nie.

’n Geharde joernalis het daardie dag blykbaar aan sy kollega gesê: “Dit is die eerste keer in my lewe dat ek ’n preek op twee bene sien ...”

En dit is presies wat Johannes in soveel woorde bedoel het toe hy vir Gaius gesê het: “Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe” (v4). Ja, Gaius het deur sy lewenswandel sy geloofsbelydenis uitgelééf! Hy was ’n preek op twee bene! Dit is sulke optredes van Christene wat ons hemelse Vader groot vreugde verskaf as Hy sien hoe sy kinders in die waarheid lewe.

Amen