Johannes 9:1-38

Om blind te wees, al kan jy sien

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Johannes 9 is ‘n pragtige storie wat handel oor ‘n blinde man en Jesus, en vier groepe mense: die dissipels, die blinde man se bure, die dominees van daardie tyd, en die blinde man se ouers. Dit is verder‘n storie wat handel oor mense se vooropgesette idees, en reaksies op dit wat God doen en kan doen. Kom ons begin deur baie kort hulle een vir een te beskryf.

Die blinde man was van sy geboorte af so. Hy het dus nog nooit die son sien opkom nie, weet nie wat die verskil tussen pers en pienk is nie, en weet waarskynlik nie regtig hoe ‘n boom of ‘n huis lyk nie.

Die dissipels, tipies vanuit die denke van die Ou Testament (waar geglo is jy word beloon vir goeie dade en gestraf as jy sondig is), oordeel dat hierdie man se blindheid inderdaad sonde is. Hulle weet net nie wie se sonde dit is nie. Heel waarskynlik sy ouers s’n,  juis omdat hy van geboorte af blind was.

Nee, antwoord Jesus, sy blindheid is deel van God se plan. Dat Ek hom kan genees, en dat almal God daardeur kan verheerlik. Waarop Jesus dan spoeg neem (onrein), dit tot klei meng, en op die Sabbat (ontoelaatbaar) die man genees. Gaan was jou by die tempel, is sy opdrag aan die blinde man. En toe hy terugkom? Watter merkwaardige reaksie! Ek sou gejuig en gespring het, broers en susters, en ek glou ook. Maar al wat Johannes ons vertel, is dat toe hy terugkom, hy kon sien.

Hoe reageer sy bure? ‘n Mens sou kon dink dat hulle sou feesvier. ‘n Buurman se seun wat altyd blind was, kan ewe skielik sien! Maar hoe reageer hulle? Hulle voer debat oor wat gebeur het! Party sê dit is hulle buurseun wat nou kan sien, ander weer sê nee, dit is nie hy nie. Ander weer sê dit is iemand wat maar net soos hy lyk.

So wat maak hulle? Kom ons vat hom na die dominees toe om uit te vind wat hier aan die gang is. En wat is die Fariseërs se reaksie? Ja, dit lyk tog of die man nou weer kan sien. Maar daar is tog ‘n probleem. Jesus het nie die genesingshandboek geraadpleeg nie. Jy kan tog nie op die Sabbatdag vir iemand goed wees nie. So, maak nie saak wat gebeur het nie, hierdie man kan nie van God af kom nie.

Darem, broers en susters, is die blinde man se ouers nog oor. Hulle sal beslis bly wees oor wat gebeur het. Hulle seun wat van geboorte af blind was, kan immers weer sien. Enige iemand wat ‘n ouer se hart ken, sal mos weet watter blydskap daar in hulle harte moes wees. Maar watter teleurstelling!

Hulle weier om met hulle eie seun geïdentifiseer te word. Hulle weier om vir hom in die bres te tree. Vra hom self, sê hulle. Hoekom? Want hulle was bang hulle word van die kerk af weggejaag. Hulle was bang dat hulle nie weer in die kerk welkom sou wees nie. Want as hulle sou bely dat Christus hulle kind se blindheid genees het, sou dit die gevolg gewees het.

Verstommend, broers en susters, om die minste te sê. Die man wat blind was en nou kon sien, was die enigste een daardie dag wat kon sien. En die wat kon sien, was almal blind. Die dissipels maak van sy situasie ‘n teologiese vraag. Die bure sien niks meer as ‘n nuwigheid nie. Die dominees sien ‘n tegniese punt van die wet raak wat maak dat hulle hulle magsposisie kan behou. En die ouers sien ‘n sosiale probleem, hulle sien wat die gevolg van die ondersteuning van hulle seun vir hulle in die oë van die gemeenskap gaan meebring. Tragies, is die minste wat ons oor alles kan sê.

Gelukkig het die verhaal ‘n gelukkige einde. En enkel en alleen deur Jesus se toedoen. Wat maak Jesus na die gebeure en almal se reaksies? Hy gaan soek hierdie bedelaarseun. Dit sê vers 35 vir ons baie duidelik. En wat maak Hy toe Hy hom kry? Hy openbaar Hom so aan hierdie seun, dat hy Jesus aanbid.

En dit is die tweede wonder wat Jesus hier doen. Die eerste wonder was dat hierdie seun kon sien. Die tweede wonder is dat hy Jesus sien. Dat hy sien dat Hy God is, en dat God goed is. Dat God sondaarmense help, en weer help, sondaarmense soek en weer soek, tot hulle raaksien hoe goed en hoe groot God is.

Ook ons, broers en susters, is soms baie blind, al kan ons sien. Want wat maak ons ook maar dikwels? Ons is dikwels ook soos die dissipels. En seer om te sê, die kerk is soms ook soos die dissipels. Reëls en regulasies is soms belangriker as mense se nood. Teologiese vrae is soms belangriker as doodgewone gee van liefde en ondersteuning.

Ook is ons dikwels soos die jongman se bure. God doen goed aan anderrond om ons, maar ons aanvaar dit nie sommer nie. Die alkoholis hou op met drink, en ons staan maar skepties. Iemand kom waarlik tot inkeer, en ons lig die wenkbroue. Iemand word vergewe, en ons dink dit is darem te maklik.

Net so is ons dikwels soos die Fariseërs. Ons wil betrokke raak, maar het soveel verskonings. God gee alles, maar ons gee min. En wanneer ons gee, is dit soms met soveel moeite, en voel dit soos ‘n geweldige opoffering. God is vir ons goed, maar die verskonings is gelukkig baie om nie dieselfde aan ander te gaan doen nie.

Net so is die optrede van die man se ouers dikwels ook maar ons optrede. Wat sal ander sê as ek sus of so maak? Wat sal ander van my dink as ek vir die Here en sy gebod opkom waar dit vertrap word? Wat sal ander sê as ek standpunt inneem vir dit wat reg en goed is, as almal anders dink? Maak nie saak wat God van my dink nie, die oë van ander is darem altyd op my.

En tragies, broers en susters, is ons dikwels soos hierdie seun wat genees is. God is vir ons goed, Hy gee vir ons alles wat ons nodig het, Hy gee vir ons letterlik alles wat ons is en wat ons het, maar ons huppel nie. Ons is nie werklik bly nie.

Soos die seun ontvang ons, maar stap rustig aan deur die lewe. God se goedheid oorweldig ons, maar ons is blind daarvoor, al kan ons sien. En soos God met hierdie seun gemaak het, soek God ons op. Hy doen weer aan ons goed. Hy seën ons weer. En weer. En weer. En ons reaksie? Ons huppel nog steeds nie. Ons bokspring nog steeds nie van blydskap nie. Inteendeel. Ons beklaag ons lewe oor die dinge wat ons glo nog nie na ons kant toe gekom het nie, dinge wat ons darem al verdien het.

In kort: ons kan sien, maar eintlik is ons blind. God seën ons, God verlig ons lewe met sy teenwoordigheid, met sy vergifnis, met sy liefde, sy genade, sy oop hand, maar ons bly blind. En ons kla. Ons soek meer. Vanselfsprekende dinge soos om te kan sien, te kan werk, te kan eet, te kan beweeg, te kan hoor (en noem maar op), en alles is nie goed genoeg nie. Ons soek meer, ons soek die buitengewone. Ons soek die ekstras.

Weet u, my broer en suster, wat is die buitengewone? Dat die heilige God met sondaarmense omgaan. Dat Hy hulle liefhet, ten spyte van wat hulle is. Dat die heilige God ons bly opsoek, al lewe ons soms so ongelooflik ondankbaar. Dit is die buitengewone. Dat ons kan leef, eet en werk. Dat ons besig kan wees, verantwoordelikhede kan hê. Dat ons ‘n Vader kan hê wat ons innig liefhet.

Hoe weet ons wanneer ons werklik sien? Wanneer ons lewens een stuk aanbidding voor God word. Kom ons wys die wêreld dat ons kan sien, deur God en mekaar werklik lief te hê. Dit is tog immers wat God van ons vra!

Amen